Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Nuwejaar: Is dit moontlik om by daai vrome voornemens te hou?

Onthou, jy gaan nie jou Nuwejaarsvoornemens bereik deur jouself met ’n sweep te slaan nie. Hier is sewe wetenskaplike strategieë om jou wilskrag ’n hupstoot te gee en om daai voornemens na te kom, skryf Jelena Kecmanovic.

Wil jy jou Nuwejaarsvoornemens hou? Omring jou dan met mense met dieselfde doelwitte as jy. Foto: Luis Quintero

Dis daai tyd van die jaar wanneer mense Nuwejaarsvoornemens maak – ’n volle 93% van mense doen dit, aldus die Amerikaanse Vereniging vir Sielkundiges. Die mees algemene voornemens het te doen met gewigsverlies, om gesonder te eet, gereeld te oefen of geld te spaar.

Navorsing toon egter 45% van mense het reeds teen Februarie van hul vrome voornemens vergeet en slegs 19% hou dit vir twee jaar. Die gebrek aan wilskrag of selfbeheersing is die redes wat meestal aangevoer word hoekom die voornemens nie deurgevoer word nie.

Hoe kan jy jou wilskrag verhoog en jou Nuwejaarsbeloftes aan jouself nakom? Hierdie sewe strategieë is gegrond op die gedragswetenskap en my kliniese werk met honderde mense wat probeer om hul langtermyndoelwitte te bereik.

1. Eer jou waardes

Vra jouself af hoekom ’n sekere doelstelling vir jou belangrik is. Wil jy gewig afskud sodat jy weer kan tyd bestee aan ’n gunsteling-tydverdryf soos stap – of is dit weens die verwagtinge van die samelewing en groepsdruk? Mense wat gelei word deur outentieke waardes is dikwels meer geneig om hul doelwitte te bereik. Hul wilskrag taan ook nie, want hulle weet dit is ’n onbeperkte hulpbron. Besluit wie jy is en kies doelwitte wat konsekwent is met hierdie waardes.

2. Formuleer doelwitte en jou lewe in positiewe terme

Die gedragswetenskappe kan vir jou riglyne gee oor hoe om jou beloftes aan jouself gestand te doen ná Januarie. Foto: Shutterstock.com

Fokus op dit wat jy wil bereik, nie wat jy nie wil bereik nie. In plaas daarvan om te besluit om nie alkohol te gebruik op weeksdae nie, belowe jouself jy gaan jou geliefkoosde vonkelwater nuttig saam met jou aandete vanaf Sondae tot Donderdae. Dit verg baie energie om te stoei daarmee om gedagtes te onderdruk en dit het ’n manier om later by jou te kom spook.

Dit help ook om te dink oor die aspekte van jouself en jou lewe waarmee jy reeds tevrede is. Hoewel jy mag bang wees dat dit kan lei tot selfvoldaanheid en traagheid, wys studies dat dankbaarheid en ander positiewe emosies lei tot beter selfbeheer op die lange duur.

3. Verander jou omgewing om dit vir jou makliker te maak

Navorsing wys dat mense met baie wilskrag uitsonderlik goed is daarmee om hul omgewing so in te rig dat hulle nie in die versoeking gelei word nie. Verban alle kredietkaarte uit jou beursie indien jy wil geld spaar. En moenie ’n bakkie lekkers op jou werklessenaar hou indien jy wil gesond eet nie.

Indien jou medewerkers gereeld soetgoed werk toe bring, vra hulle om jou te help met jou doelwitte (jy mag hulle dalk net inspireer om jou voorbeeld te volg!) en om net vir jou koekies aan te bied op spesiale geleenthede. Ondersteunende vriende en familie kan jou kanse dramaties verhoog om jou voornemens te bereik. Om by ’n groep aan te sluit waar die lede gedrag beoefen wat jy wil aanneem, is nog ’n fantastiese manier om jou wilskrag te onderskraag, want rolmodelle verbeter selfbeheer.

4. Wees voorbereid in geval van teenspoed.

Selfs die beste voornemens stort in duie wanneer ’n besige skedule en uitputting oorneem. Maak planne vir wat jy gaan doen wanneer struikelblokke opduik. Hierdie “indien-dan”-planne verbeter selfbeheer en die verwesenliking van doelwitte.

Elke keer wanneer jy in die middel van die nag wakker word en smag na lekkers of skyfies kan jy besluit om in plaas daarvan ’n skuldige-plesiertjie-tydskrif te lees of om te klik op jou aanlyn gemeenskap van gesonde eters vir inspirasie. Of jy kan ’n appel stadig en gedagtig eet en elke happie geniet. Wanneer jy moeg is en daaraan dink om daardie gimnasium-klas te kanselleer waarvoor jy bespreek het, bel jou ondersteunende suster wat altyd daar is vir jou. Antisipeer so baie situasies as wat jy kan en maak spesifieke planne terwyl jy jou die situasie en wat jy sal doen op daardie oomblik indink.

5. Nie alles op een slag nie

Indien dit voel of die beloning te ver in die toekoms is, wat van ’n klein geskenkie aan jouself langs die pad?Foto: Shutterstock.com

Wanneer jy vir jouself ’n nuwe doel stel, begin klein en bou op vroeë suksesse. Gooi een minder teelepel suiker in jou koffie. Uiteindelik sal jy dit dalk regkry om sonder enige versoeter klaar te kom. Indien dit aanvanklik te moeilik is om daai kolwyntjie te weerstaan, probeer om tien minute te wag. Teen die einde van die tien minute sal jy die impuls waarskynlik onder beheer hê.

Jy mag dalk verbaas wees om te besef verandering in een domein van jou lewe – soos om soet, geprosesseerde kos uit te sny – is geneig om ’n invloed op ander aspekte van jou lewe ook te hê. Jy mag vind jy kan skielik langer fietsry of dat jy minder koffie drink. Indien dit voel of die “beloning” te ver in die toekoms is, dink aan ’n klein geskenkie vir jouself langs die pad.

6. Dink aan die belonings en geniet dit

Dink aan daardie endorfiene wat deur jou lyf stroom nadat jy gaan hardloop het, of die son wat op jou vel neerbak wanneer jy op die kruin van ’n berg is. Gee aandag aan al jou sintuie: reuk, sig, gehoor, gevoel en smaak. Indien jy die beloning visualiseer, verhoog dit jou kanse om aan die aktiwiteit deel te neem wat daartoe lei.

Indien dit aan die begin moeilik is om hierdie belonings te visualiseer, besluit op klein, betekenisvolle geskenke wat jy vir jouself kan gee totdat die positiewe effekte van die nuwe gedrag inskop. Byvoorbeeld, verbeel jou dat jy elke maand ’n halfdag se verlof neem van die werk nadat jy jou skuld op jou kredietkaart vereffen het: Visualiseer presies wat jy sou doen en hoe jy sou voel. Dóén dit dan.

7. Wees gaaf met jouself, selfs ná terugslae

Mense wat hulself blameer vir selfs die kleinste “sondetjie” is minder geneig om hul doelwitte op lang termyn te bereik.Foto: Pixabay

Die meeste mense glo jy kry meer wilskrag deur jouself te straf totdat jy byvoorbeeld gewig verloor, want om gaaf te wees met jouself is te toegeeflik en dit dui op ’n gebrek aan selfdissipline. Maar die teenoorgestelde is eintlik waar: Mense wat hulself blameer vir selfs die kleinste “sondetjie” is minder geneig om hul doelwitte op lang termyn te bereik.

Probeer eerder om meegevoel met jouself te hê. Onthou, om menslik te wees beteken om onvolmaak te wees. Indien jy swig vir daai koekie, moenie moed opgee nie en moenie jou spreekwoordelike hardloopskoene ophang nie. Benader jouself met sorg en begrip en probeer weer die volgende dag.

Onthou, jy gaan nie jou Nuwejaarsvoornemens bereik deur krities te wees en jouself te straf nie. Gee jou wilskrag ’n hupstoot met ’n reeks klein en strategiese stappe wat jou sal help om jou doel te bereik.

* Jelena Kecmanovic is ’n medeprofessor in sielkunde aan die Universiteit van Georgetown.

* Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.