Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
1 000 woorde
O, die ge-oink in die moddertrog

Die taalbulgilde weerspieël kwalik die land se demografie. Waar is die gekleurde Afrikane? Om nie eens van vroue of die jeug te praat nie. Oënskynlik is daar geen einde aan die groepies bejaarde wit mans wat uit die dampkring van Afrikanernasionalisme hul verskyning maak nie, skryf M.C. Botha.

Eendag was daar ’n land. Allerhande soorte mense het daarin gewoon, saam met die diere van die veld en die voëls van die hemel. Net, die diere van die veld en die voëls van die hemel het nie gesukkel om met mekaar te kommunikeer nie, want hul huistaal was nie Afrikaans nie.

Enkeles in die voorste gestoeltes van Afrikanerdom, soos inheemse en uitheemse professore, het beangs begin raak dat hul geliefde moedertaal, Afrikaans, by wyse van spreke aan die agterspeen suig.

Die tyd raak min om te oink in die moddertrog. Vergun my dus, o Grote Skerpregter, enkele opmerkings.

Enigeen wat in enige taal probeer kommunikeer (soos die oorgrote meerderheid van ons) en op ’n ander se moedertaal neersien of dit verkleineer, is per definisie stom. Natuurlik nie as gevolg van die tong of die pen nie.

Sommiges redeneer dat omdat byvoorbeeld Adolf Hitler ’n Duitser was en Benito Mussolini ’n Italianer, kan jy nie sonder meer ’n smet werp op Duits en Italiaans onderskeidelik nie; dieselfde geld egter nie D.F. Malan et al en Afrikaans nie.

Waarom nie? Hitler en Mussolini was nie vir hul uitdelgingsbeleid uitsluitlik van hul moedertaal afhanklik nie. Daarenteen het Malan et al hul ganse beleid van afsonderlike ontwikkeling geskoei op die lees van daardie beminde begrip waarmee die Broeders mekaar in hul donker selle gekoester het: moedertaal-nasionalisme.

Dus: Sonder Afrikaans was apartheid niks. Overgeset synde: Sonder apartheid was Afrikaans niks. Afrikaners het vir hierdie klaarblyklike sonde (hulle leef steeds in ’n oorwoë morele wêreld) tot dusver amper skotvry daarvan afgekom, soos Lovelyn Nwadeyi op 26 Januarie op die jaarvergadering van die Universiteit Stellenbosch se konvokasie uiteengesit het; helaas te subtiel vir die taalbulle wat net die samboktaal van hul vaders ken.

Wat ook nie uit die oog verloor kan word nie, is dat die dodelike sweer wat as gevolg van die simbiose tussen Afrikaans en apartheid ontstaan het, in 1976 deur die jeug van Soweto geprik is.

Die gepaardgaande opstand kan nouliks as voortydig beskou word en het trouens die geboorte van die nuwe Suid-Afrika verhaas. Ironies is dat die pyn en lyding van die opstand net aan die swart bas gevoel is, dalk met die uitsondering van enkele Engelse simpatiseerders.

Die taal van die koloniseerders van Suid-Afrika was nie Engels nie, maar sy sussie in die familie Germaanse tale, naamlik Nederlands – Afrikaans se stamtaal. Die latere begrip colonisa­tion is wel Engels, maar het eers in Suid-Afrika posgevat nadat die VOC reeds anderhalf eeu die land in Nederlands geregeer het.

Dis ’n moeilike een om te sluk – baie moeiliker as wat dit vir ouers is om hul kinders se babataal te aanvaar.

Akademici kan liggelowiges mal toor met wetenskaplik gefundeerde statistieke,

Terwyl mites aan bod is: Wanneer sekere swart mense sê wit mense het hul grond gesteel, verswyg hulle dat hul eie voorsate die Khoi- en San-groepe se grond in die noorde en ooste van die land begin steel het al voordat Jan van Riebeeck sy nedersetting begin het.

Vandag is egter só min Khoi en San oor dat hulle as ’n onbeduidende minderheid geag word.

Die noodlot (of wat ’n mens na dese “die geskiedenis” noem) het hulle en hul tale, waaronder Nllu!ke, doodgetrap. Volgens ’n Unesco-publikasie van 2010, Atlas of the World’s Languages in Danger, is daar tallose ander tale wat ook reeds in Afrika uitgesterf het of nog net deur enkelinge gepraat word, soos Kim, Kuk, Mani en Mlomp.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is ’n utopiese dokument wat Afrikaans net so min kan beskerm soos enige ander moedertaal – ook Engels, wat ongestoord kan aanhou draf omdat niemand in eie geledere paranoïes te kere gaan oor sy deelname in die morbiede Wedloop van die Praat­siekes nie.

Hoekom sal die gebruikers van ’n moedertaal in die eerste plek ’n wet nodig wil hê om hul taal te beskerm? Dink hulle op dieselfde manier aan die liefde, geluk?

Word dit hulle ontneem, hardloop hulle hof toe – net om ’n geveggie te probeer wen in die oorlog wat hulle verloor.

Onder “History of Language” by die gesaghebbende www.­historyworld.­net staan dat “the French neurosis about being tainted by English” die Franse regering soms noop om wetgewing deur te voer om Engelse woorde uit Frans te weer, byvoorbeeld snob en cad, maar dat sulke wetgewing nouliks in die praktyk deurgevoer kan word. Jy kan net so goed mense in enige taal probeer dwing om op te hou vloek.

Akademici kan liggelowiges mal toor met wetenskaplik gefundeerde statistieke.

Dis ’n verskynsel wat ons wat al lank hier woon en alles tot dusver oorleef het, onwillekeurig maar ook neerslagtig laat terugdink aan NP-ministers van weleer wat op soortgelyke wyse met die uitpluk van persentasies en breuke probeer bewys het hoe regverdig hul beleid ten opsigte van eers die naturelle, toe die Bantoes, daarna die nieblankes en laastens die plurale was.

Nou wil dese en gene met hul ewe indrukwekkende feite en gepaardgaande swaarwigtigheid en haarklowery bewys Afrikaans is saam met hulle in die afgrond. Wie behalwe hul mee­lopers – meevallers! – hoop hulle om te oortuig?

Die teelaarde is in elk geval nie die afgrond nie, maar die bogrond waar ander Afrikaanssprekendes, nodeloos om te sê ook feitlik alle bruin mense, hul lewe slyt.

Die taalbulgilde weerspieël kwalik die land se demografie. Waar is die gekleurde Afrikane? Om nie eens van vroue of die jeug te praat nie.

Oënskynlik is daar geen einde aan die groepies bejaarde wit mans wat uit die dampkring van Afrikaner­nasionalisme hul verskyning maak nie, tot reg in die 21ste eeu in.

En dan daal die seën van die heer Coetzee uit Australië nog op hulle neer, dog nie sonder om ’n klankie nepotisme agter te laat nie.

Afrikaans sal sy plek in die samelewing behou – nie as gevolg van taalstryders nie, maar ten spyte van hulle. Net soos almal laas ná die oorlog noodgedwonge die mas moes opkom ten spyte van die Bittereinders se geween en gekners van tande. Vandag is dit bekend wat húlle op die lange duur nagelaat het: twisgierigheid, agterdog en bitterheid. Tragies.

Hoe billik en opreg ook al die Nieu-Bittereinders binne die raamwerk van hul sluimerende arrogansie probeer wees, hul strewe kan nie anders gemeet word nie as in die konteks van die tyd wat hulle ingehaal het.

Eendag sal daar nog ’n land wees.

Meer oor:  Hitler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.