Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Obsessie lei tot bloedige rugbystryd
Dawie Ackermann en Daan Retief. Die foto is waarskynlik geneem ná die Springbokke se oorwinning in die tweede toets van 1956. Foto: Die Burger

Die rugbytoere tussen die Springbokke en Nieu-Seeland van 1956 en 1960 was van die intensste reekse tussen dié twee rugbylande, vertel Bun Booyens.

Die 1956-reeks is berug vir die bakleiery, maar voor die toer was daar ook ’n voorval in die Springbok-kamp?

Ja, ten tyde van die proewe was daar ’n onderonsie tussen die twee sterkste kandidate vir die kapteinskap, Salty du Rand en Jan (Bull) Pickard, in die Avalon-hotel in Tuine. Daar is ’n hele paar weergawes van wat gebeur het, maar die uiteinde was dat die Vrystaatse heelagter Basie Vivier kaptein geword het. ’n Hele paar kenners sê dié voorval het die Springbokke die reeks gekos.

En stem jy saam?

Dalk nie die voorval op sigself nie. Du Rand en Pickard het later dieselfde aand mekaar weer die hand gegee – Pickard weliswaar met ’n gebreekte neus.

Maar Vivier was waarskynlik nie die regte soort kaptein vir so ’n moeilike toer nie en beslis nie meer die beste heelagter in Suid-Afrika nie. Die hele Nieu-Seeland was opgesweep om die Springbokke te klop. Die intensiteit was ongekend.

Meer so as in vorige reekse?

Beslis. Ek het ’n dekade of wat gelede vir Chris Laidlaw, wat in 1970 skrumskakel vir die All Blacks gespeel het, ontmoet. Hy was gedurende die toer van 1956 nog op skool en het vertel dat dit ’n nasionale obsessie was om die Springbokke te klop. Nieu-Seeland móés daardie reeks wen. Die druk op die All Blacks was enorm.

Colin Meads op sy plaas. Dié skaapboer van Nieu-Seeland het ’n legenda­riese All Black geword. Foto: Gallo Images

En dit als net omdat hulle in 1949 in Suid-Afrika teen die Springbokke verloor het?

Ja, en omdat die Springbokke hulle in 1937 op hul eie werf geklop het en bowenal kon hulle sedert die heel eerste toer in 1921 nog nie een reeks teen die Springbokke wen nie. Ek het op ’n Nieu-Seelandse dokumentêre rolprent afgekom – ek raam dit is in die 1990’s gemaak – waarin hulle hul eie land van die 1950’s in beskeie terme beskryf: destyds nog nie eintlik ’n Eerstewêreldland nie, nog nie werklik welvarend nie, nog sonder TV en met min eetplekke en flieks. Hul nasionale tydverdryf was om rugby te speel en rugby te gaan kyk. Hul hele nasionale identiteit was verweef met rugby en toe klop die Springbokke hulle twee keer ná mekaar.

Die eerste All Black se naam wat in enige gesprek oor die ’56-toer opduik, is natuurlik Kevin Skinner.

Ja, toe ek ’n kind was en die grootmense praat rugby, het die gesprek altyd vasgehaak by “die bokser” Kevin Skinner, wat spesiaal vir die derde toets gekies is om ons voorrymanne, Jaap Bekker en Chris Koch, mak te slaan. Dis nooit eintlik genoem nie dat Skinner ’n ervare All Black was wat toe al in ’n stuk of 20 toetse gespeel het, twee daarvan as kaptein, en ook in 1949 hier in Suid-Afrika getoer het. Hy was ’n puik speler.

Maar teen 1956 was Skinner wel al uitgetree . . .

Ja, vir omtrent 18 maande. Skinner is op kort kennisgewing teruggeroep en beslis nie om as ’n gelukbringertjie op die veld te draf nie. Die reeks was met 1-1 gelykop en die All Blacks het swaar geleef in die skrums. Skinner moes plan B toepas.

En in daardie derde toets het hy nogal baklei . . .

Daar is ingeklim met gebalde vuis en geskoende voet, soos die koerante dit destyds graag gestel het. Appels is geswaai, uit alle oorde, vermoed ek. Skinner het ná die tyd wel gesê hy het Bekker en Koch elk “net een keer” geslaan omdat Bekker hom glo gedreig en Koch iets ongeoorloofs gedoen het. Skinner was beslis nie ’n gewilde man by die Suid-Afrikaanse publiek nie. Die feit dat hy ’n opgeleide slagter was, het ook nie sy reputasie hier gehelp nie.

En die skeidsregter het niks gesien nie?

Wie weet, maar uit die grepies beeldmateriaal wat ek kon opspoor, is dit opvallend hoe openlik daar oor en weer geruk en gepluk is. Kyk, as 30 spelers besluit hulle gaan mekaar probeer uitwis, is daar min wat ’n skeidsregter daaraan kan doen, veral destyds, toe jy nog nie iemand ná die tyd kon uitwys nie. Daar was ook ’n lelike voorval in die vierde toets toe die All Black-slot Tiny White erg beseer is ná ’n skop in die rug. Dit het oop en bloot gebeur en die skare was woedend, en ná die tyd het hulle gekla dat al 62 000 mense dit gesien het, behalwe die skeidsregter.

Die naaste aan ’n apologie wat die Springbokke gekom het, was om so half te kenne te gee hulle het eintlik vir Skinner gemik. Maar die feit is die All Blacks het die reeks met 3-1 gewen.

Dit is wel vir my ’n vreemde reël dat jy destyds nie ’n beseerde speler ten tyde van ’n wedstryd kon vervang nie. Dit was mos nou ’n ope uitnodiging om jou opponente doelbewus te probeer “afhaal”.

Daar was een wedstryd op die ’56-toer waar die Springbokke met net 11 spelers op die veld geëindig het.

’n Mens wonder hoeveel beseerde spelers in daardie jare maar vasgebyt en op die veld gebly het om nie die span in die steek te laat nie en dan hulself in die proses verder beseer het. Reserwes is eers in 1968 toegelaat. Vreemd.

Die All Blacks se volgende toer in 1960 hiernatoe was dalk nie heeltemal so intens nie?

Dit was beslis nie ’n piekniek nie en die Springbokke het die reeks gewen, maar vir my is dit asof daar ’n asterisk by al die toere hierheen geplaas moes word: Die All Blacks is nie toegelaat om hul Maori-spelers saam te bring nie.

Die keerpunt was wel in 1960. Nieu-Seeland het dit duidelik gestel dat dit die laaste toer sou wees sonder hul volle span. Die gety het begin draai, want hulle het ’n maand of twee ná die Sharpeville-slagting hier aangekom en Suid-Afrika se lidmaatskap van die Statebond het ’n verleentheid begin word.

Dit gesê, die toer was ook ’n kans vir Suid-Afrika om twee van die beste All Blacks tot nog toe te sien speel: die heelagter Don “The Boot” Clarke – ses voet drie en die swaarste speler op die veld, maar ’n dodelike stelskopper, en natuurlik Colin Meads.

Wat staan vir jou uit van Meads?

Daardie wonderlike Skotse kommentator Bill McClaren het dit so mooi gestel: “I look at Colin­ Meads and see a great big sheep farmer who carried the ball in his hands as though it was an orange pip.” Ander beskrywings was minder poëties. Iemand het gesê as Meads aan die een kant van ’n losskrum instorm, kom hy ’n sekonde of wat later aan die ander kant uit met die oorblyfsels van sy teenstander se onderbroek tussen sy tande. Daar was ook ’n vlagman wat rustyd aan die skeidsregter gevra het om net weer die spelers te tel, want hy vermoed Meads het sy opponent opgeëet.

Hy was ’n puik speler, veral op Suid-Afrika se harder velde. Hy en Frik du Preez was besonder atletiese slotte.

Ek dink dit was ook McClaren wat gesê het Du Preez “leaps like­ a gazelle and runs like a back” of so iets. Pragtig.

Luister vandag op Netwerk24 na episode 5 van Booyens en Marco Botha se podsending Bloed, sweet & modder. Episode 6 word Donderdag uitgesaai.

Booyens is ’n voormalige redakteur van Die Burger.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Rugby  |  Podcast  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.