Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Offerhandeling op Clifton
Jaco Marais
Lede van onder meer die Black People’s National Crisis Committee en #FeesMustFall-beweging by die skaap wat op Clifton se Vierde Strand geslag is om die strand van rassistiese geeste te reinig. Foto: Jaco Marais

Hy is, met apologie aan die Dierebeskermingsvereniging, dankbaar vir daardie skaap wat onlangs op Clifton se Vierde Strand geslag is en dalk tot tyd en wyl tussen ons en veel groter probleme gekom het, skryf Cas Wepener.

Laat verlede jaar het lede van onder meer die Black People’s Na­tional Crisis Committee en #FeesMustFall-beweging ’n skaap op Clifton se Vierde Strand geslag.

Die ritualistiese toneel waaroor daar berig is, die beelde van die vasgebinde dier voordat dit geslag is, en ook die foto van die vars afgeslagte skaapvel wat oor die reling by die strand gehang is, het my laat dink aan tonele uit ’n roman van Karel Schoeman.

In Die uur van die engel (1995) tref die leser ’n Griekwa-skaapwagtertjie genaamd Danie Steenkamp aan wat in die jaar 1838 skape op ’n klip slag of “offer”.

Hoe erger die situasie rakende geweld in ’n gemeenskap is, hoe kosbaarder moet die slagoffer wees.

Meer nog as net die slag van die skape – die een op Clifton se strand en dié in die roman wat in die Suid-Vrystaat afspeel – dink ek het die ooreenkomste tussen die twee kontekste waarbinne albei skaapslag-taferele voorgekom het, my ’n assosiasie tussen die twee laat maak.

Die gebeure na aanleiding waarvan, en konteks waarbinne, die Clifton-skaap geslag is, is kortliks: Op Sondag 23 Desember is ’n groep mense glo deur ’n private veiligheidsmaatskappy gevra om die strand te verlaat. Daar is glo aan hulle gesê die strand sluit vanaf 16 Desember om 20:00 en dat ’n munisipale verordening toegepas word.

Hierop is heftig gereageer deurdat van diegene wat gevra is om die strand te verlaat, die optrede as rassisties gesien het.

Verskillende groepe, soos die ANC en EFF, het op verskeie maniere gereageer byvoorbeeld deur protesoptogte en om deurnag-piekniek daar te hou.

Lede van onder meer die Black People’s National Crisis Committee en #FeesMustFall-beweging het op hul beurt ’n skaap op die strand geslag om die strand van rassistiese geeste te reinig.

Die somers van 1838 en 2018

Die konteks waarbinne Danie Steenkamp die skape geslag het in Schoeman se roman, is die stelselmatige verdringing van die Griekwas vanaf die grond waar weiding en watergate vir hul vee was.

Soos wat die wit boere hul grensdrade in die eerste dekades van die 19de eeu gespan het, is die Griekwas uitgesluit en stelselmatig van die land verdryf.

In albei gevalle is die offer gebring teen die agtergrond van verdringing wat ’n vorm van geweld is.

Wat die Griekwas aangedoen is, is niks minder nie as ’n vorm van geweld. En wat besoekers aan Clifton se Vierde Strand in Desember aangedoen is, hoort ook in dieselfde kategorie.

Waarmee ons op Clifton in die somer van 2018 en in die Vrystaat in die somer van 1838 te make het, is nie net geweld nie, maar geweld in samehang met skaapslag as ’n soort offerhandeling.

Dit is belangrik om te sien dat slag of offer op sigself ook ’n vorm van geweld is.

Die geweld van die uitsluiting van mense word hier dus begroet deur geweld teen ’n hulpelose dier.

Hierdie offers is gewelddadige handelinge wat uitgevoer is teen die agtergrond van die gewelddadige uitsluiting van mense.

In kommentaar op sosiale en ander media is dit betekenisvol om te sien hoeveel mense die daad van die uitsluiting van die mense van die strand afkeur, en ook die slag van die skaap op die strand afkeur.

Die geweld van die uitsluiting van mense word hier dus begroet deur geweld teen ’n hulpelose dier.

Van die kommentaar op die internet rakende die slag van die skaap sluit in “teen die reëls” en “wreed”, “barbaars”.

Miskien moet ons dalk eers in ons uiters diverse land, waar soveel kulture saam leef, net vir ’n oomblik stilstaan en die gebeure fyner verken.

Offers herstel die harmonie

Die Franse antropologiese filosoof René Girard se denke kan dalk help in ’n poging om hopelik iets te verstaan van wat hier gebeur.

In onder meer Violence and the Sacred skryf Girard dat samelewings inherent gewelddadig is. Hierdie geweld kan oor tyd opbou en soos ’n dam sy walle oorstroom, wat dan ’n ramp afgee.

Dit is egter hier waar offers inkom, naamlik dat die geweld wat opbou deur die gebruik van geweld afgelei word deurdat ’n onskuldige (dier) geoffer word.

Die offer beskerm dus die hele gemeenskap teen sy eie geweld.

’n Slagoffer buite die geledere van die gemeenskap word gekies, byvoorbeeld die skaap van Clifton, en daardie offer dien om al die interne struwelinge, tweedrag, twis, jaloesie en rusies te onderdruk.

Die doel van die offers is om die potensiële golf van geweld te keer en ook om harmonie in die gemeenskap te herstel en die sosiale vesel te versterk.

Hoe erger die situasie rakende geweld in ’n gemeenskap is, hoe kosbaarder moet die slagoffer wees.

Volgens Girard speel sulke offers veral ’n belangrike rol in gemeenskappe waar juridiese stelsels nie optimaal funksioneer nie, alhoewel dit nie daardie stelsels vervang nie.

Balans en ekwilibrium

Natuurlik is hierdie verskynsel baie kompleks en gelaag en open Girard se teorie slegs een klein venstertjie op die saak.

Denkers uit ons eie vasteland se gedagtes oor slag en offer moet ook ingetrek word.

Die Keniaanse godsdienstige filosoof John Mbiti verduidelik byvoorbeeld dat die balans of die ekwilibrium wat daar behoort te bestaan tussen God, die mens, die ontslape mense wat ons voorgegaan het op aarde en die kosmos, soms ontwrig word.

Dit is juis hier waar offers inpas, te wete as ’n poging om die balans weer te herstel.

Ja, die arme skaap, en ja, as almal nou op elke strand begin skape slag, dan het ons vir seker probleme.

Die uitdryf van slegte geeste waarna van die slagters verwys het, sal pas binne die ideaal van die soek na balans en ekwilibrium.

Mbiti betrek nie soseer Girard se gedagtes rondom geweld wat geweld keer in sy teorie nie, maar daar is sterk ooreenkomste tussen die twee se sienings.

Hierdie gedagtes is ook nie vreemd tot die Christelike tradisie nie, alhoewel ’n mens dalk die punt kan mis deur te gou idees uit die Protestantse en charismatiese teologie hier nader te hark, al sal daar ’n gepaste plek daarvoor gevind kan word.

Girard wys byvoorbeeld dat die beste voorbeelde wat sy teorie ondersteun, nie uit die Bybel (byvoorbeeld die bok vir Azazel) kom nie, maar uit klassieke tekste en ander bronne van regoor die wêreld.

Diepliggende probleme

Ja, die arme skaap, en ja, as almal nou op elke strand begin skape slag, dan het ons vir seker probleme.

Tog, en ek dink dis belangrik, in die lig van hierdie idees is daardie skaap ook ’n positiewe simbool dat daar mense is wat graag wil sien dat die ekwilibrium in ons land en op ons vasteland herstel, dat ons verby polariserende optrede beweeg en besef dat, solank as wat ons in Suid-Afrika woon, ons almal deel is van een uiters komplekse en delikate geheel.

Daardie (fiksionele) skape in die Suid-Vrystaat en die een op Clifton is ook negatiewe simbole van hope opgekropte woede en geweld.

Danie Steenkamp het hom daartoe gewend in die konteks van onteiening en sy skaapwagterstaf het, soos dié van Aäron van ouds, gebot en geblom.

Cas Wepener

Daardie (fiksionele) skape in die Suid-Vrystaat en die een op Clifton is ook negatiewe simbole van hope opgekropte woede en geweld.

Girard merk tereg op wanneer mense nie meer in harmonie saamleef nie, skyn die son en val die reën om die waarheid te sê steeds, maar die landerye is dan nie so goed versorg nie en die oeste is minder oorvloedig.

Dus, en met apologie aan die Dierebeskermingsvereniging, is ek dankbaar vir daardie skaap wat dalk tot tyd en wyl tussen ons en veel groter probleme gekom het.

Hierdie offer op Clifton wys ook dat daar diepliggende probleme in ons land is en dat ons dringend leiers benodig.

Ons sal egter moet sien wie dit is wie se staf in 2019 gaan bot om ons met onderskeiding in hierdie komplekse land van ons te lei.

Wepener is hoof van die departement praktiese teologie van die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Cas Wepener  |  Clifton  |  Skape  |  Strand  |  Rassehaat  |  Skaap  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.