Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AFRIKAANS EN SY MENSE: WAARHEEN?
Olifant in die vertrek

Die term ‘Afrikaner’ moet weg van die eng assosiasie met kleur beweeg om bruin mense in te sluit, sê Wannie Carstens, terwyl Christo van der Rheede die gebruik van Afrikaans op etniese grondslag betreur.

 

Wannie Carstens

Wannie Carstens skryf: Een van die sake wat gedurig in bydraes in die ­debat na vore gekom het, is wat en wie die spesie Afrikaner is.

Wat is dit in dié term wat daartoe bydra dat lede van die bruin Afrikaanse gemeenskap feitlik deurgaans sê dat hulle nie hierdie benaming wil dra nie?

Dit is amper asof hierdie term dié onderskeidende faktor tussen wit en bruin is. Jy is ’n Afrikaner as jy wit is en jy is nie ’n Afrikaner nie as jy bruin of swart is.

As ’n mens teruggaan op die herkoms van die term, dan vind jy dit is aan die begin gebruik vir mense wat hulself gebonde aan die land en die vasteland gevoel het.

Besope Afrikaander

Die bekendste gerapporteerde geval is toe die besope jong man Hendrik Biebouw reeds in 1707 op Stellenbosch aan landdros Starrenburg gesê het: “Ik ben een Afrikaander,” bedoelende dat hy wat Biebouw is gebore is in die land en dat Starrenburg ’n buitelander (Duitser) is.

Dit maak hom dus ’n Afrikaander, ’n eienskap wat Starrenburg as buitelander hom nie kan toeëien nie.

Hierdie siening is in talle publikasies oor die geskiedenis van Suid-Afrika oor en oor bevestig. Die konsensus in al hierdie publikasies is ruweg dat “almal wat in die land woon en daaruit ’n bestaan put, Afrikaners (is)” (al in 1830 in De Zuid-Afrikaan).

Die gebruike hierbo neem die engheid van die definisie weg: Dit beperk dit nie net tot mense wat Hollands of Afrikaans praat nie.

Dit maak dan dat enigeen wat hier gebore is, hom of haar die term kan toeëien: wit, bruin, swart, Engels- of Hollandssprekend.

Die wye insluitende betekenis van die term kom dus al van ver. Wat het dan gebeur dat hierdie term so uitsluitend geraak het, dat dit net vir wit Afrikaanssprekendes gebruik is?

Soos ’n briefskrywer in 2014 in Beeld gesê het: “Almal weet die Afrikaner is ’n inheemse blanke Afrikaanssprekende volk van Suid-Afrika, met sy eie unieke kultuur, tradisies, geskiedenis en sy Gelofte.”

Die oorsaak van die verengde betekenis is polities. Uit ons geskiedenisbronne kry ons dat die term sedert die begin van die 20ste eeu al hoe meer gekoppel geraak het aan Afrikanernasionalisme, en hierdeur vereng geraak het tot wit, Afrikaanssprekende mense. En apartheid in sy volle konsekwensie het bygedra om hierdie term verder te stigmatiseer as die heerser, die een wat gesag afdwing op grond van sy witheid.

In swart geledere is “Boer” en “Afrikaner” negatiewe terme. Praat ’n bietjie met swart mense en hoor wat hulle van dié terme dink – gegrond op hulle ervaring met wit Afrikaanssprekendes.

Die historikus Jackie Grobler skryf hieroor: “Apartheid het daartoe gelei dat die Afrikaanse taal ’n simbool van onderdrukking geword (het) en dat swart mense Afrikaners as die wreedste en arrogantste mense in die wêreld beskou het.” Dit is nie iets om op trots te wees nie.

Afrikanerskap vir wit mense

Daarom: Hoe kan ons nog vandag in 2016 steeds Afrikanerskap net vir wit mense toe-eien? Dit is besonder eiegeregtig om Afrikaans en alles wat daarmee saamgaan, net as jóú eiendom te beskou.

Want hiermee sê ons vir 3,4 miljoen bruin sprekers van Afrikaans hulle is nie ook Afrikaners nie. En dit is juis die groot sprekersgroep van Afrikaans.

Dit is wat Danie van Wyk en Danny Titus vra: ook die denke oor die samestelling van die totale Afrikaanssprekende gemeenskap moet verruim word. Bruin mense deel ook unieke Afrikaanse tradisies en kulturele gebruike. Bruin mense is dus ook Afrikaners of ons dit nou wil weet of nie.

Ek weet egter nou reeds dat as ek van my bruin vriende vra om hulle met hierdie term te assosieer, hulle daarvan sal wegstaan weens die seer wat hierdie term vir hulle meegebring het.

Dit sê vir my wit Afrikaanssprekendes het toegelaat dat die gaping so groot word dat ons nie eens dieselfde term wil deel nie.

Ek is van oordeel ons moet daarom eerder die term “Afrikaner” herdefinieer deur terug te beweeg na die oorspronklike betekenis van die woord.

Dan beweeg ons weg van die eng assosiasie met kleur. As ons hierdie stap geneem het, dan is ons ook gereed vir ander belangrike verruimende stappe.

Prof. Carstens is die direkteur van die skool vir tale aan die Noordwes-Universiteit.

Christo van der Rheede

Christo van der Rheede skryf: Die Afrikaanse gemeenskap is allesbehalwe ’n homogene gemeenskap. Dit word gekenmerk deur uiteenlopende etniese identiteite, geskiedkundige belewenisse, opvoedkundige vlakke, ideologiese standpunte, kulturele agtergronde en ekonomiese belange. Wat laasgenoemde betref, is daar dié met omvattende ekonomiese belange, maar ook baie wat ’n sukkelbestaan voer. En omdat hul leefwêreld so ver verwyderd is van mekaar, is dit geen verassing dat hul lewensbeskouinge en politieke lojaliteite ook wat inhoud, interpretasie en die uitleef daarvan betref dramaties verskil nie.

Uitsluit en vervreem

Verder sukkel baie om aan te pas by die nuwe demokratiese orde. Hulle ervaar dit eerder as ’n massokratiese opset wat hulle uitsluit en vervreem. Simptomaties van hierdie vervreemding is die “nuwe” subidenti-teite wat daagliks deur Afrikaanssprekende individue en groepe op velerlei terreine uitgekerf word om ook hul stem te laat hoor.

Ander is egter is heel tuis binne die massokratiese opset en benut hul talente en netwerke tot voordeel van hulself en die breër gemeenskap.

Wat Afrikaans as taal aanbetref, is daar baie in die Afrikaanse gemeenskap wat die behoud daarvan op velerlei terreine as ’n integrerende deel ag om hul ekonomiese voortbestaan en oorlewing as ’n unieke etnokulturele gemeenskap te help waarborg.

Vir baie ander Afrikaanssprekendes lê die geleenthede egter opgesluit in ’n oop ekosisteem waarin Afrikaans ’n beperkte aandeel het. Lojaliteite teenoor, vir en deur Afrikaans wissel van huis tot huis, van ­familie tot familie en ook binne die groter maatskaplike orde.

Op ekonomiese terrein skep Afrikaanssprekendes nie net produkte en dienste vir verbruiksdoeleindes nie, maar in vele ander sektore speel hulle ’n leidende rol om die Suid-Afrikaanse ekonomie en staatskas aan die gang te hou, want hulle het ’n ekonomiese belang daarby.

Afrikaanse mense en Afrikaans is ’n bron van kreatiwiteit, vitaliteit en produktiwiteit wat ’n fenomenale bydrae lewer tot ons land, ons vasteland en al sy mense.

Dit is dus in niemand se belang om dié bron te vernietig nie, maar eerder in almal se belang dat onderrig daarin behou en ­uitgebou word om groter welvaart en meer werksgeleenthede te skep.

Wat diensbaarheid betref, woel en werskaf baie op vele terreine om die groter bevolking tot diens te wees. Vele nieregeringsorganisasies, kerke, kultuurorganisasies, individue en die maatskaplike arm van sakeorganisasies is besig met bemagtiging deur Afrikaans, want hulle het ’n maatskaplike belang daarby.

Op dié terrein skep Afrikaanssprekendes wedersydse begrip en nuwe vennootskappe om Suid-Afrikaners te verenig in die stryd teen allerlei maatskaplike euwels.

Hierdie aksies word deur middel van aktiewe burgery gedryf om kwessies soos korrupsie, rassisme, diskriminasie, swak dienslewering, werkloosheid, misdaad en ongeregtigheid te beveg. Afrikaanssprekendes help dus aktief mee om in vennootskap met hul medeburgers Suid-Afrika se status as ’n liberale demokrasie te versterk.

Die rol van Afrikaans as taal is egter in dié verband uiters ambivalent.

Etniese benadering

In kringe waar die klem sterk val op gemeenskapsbou met ’n sterk parogiale onderbou, word Afrikaans dikwels ingespan om aktiewe burgery op ’n etniese grondslag te bedryf. Dit skep konflik en dryf mense uitmekaar. Gegewe die bagasie waarmee Afrikaans opgesaal is, moet die vraag gevra word of so ’n benadering enigsins tot voordeel is van die Afrikaanse gemeenskap.

In dié verband het die Afrikaanse media ’n kritieke rol te vervul. Dit is óf om hierdie parogiale aanslag as somtotaal van die Afrikaanse gemeenskap en Afrikaans aan die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap voor te hou en wanpersepsies in dier voege te stook. Óf om die groter en diverse prentjie van die Afrikaanse gemeenskap en die ekonomiese, maatskaplike en nasiebourol van die sprekers van Afrikaans aan die groot klok te hang en deur Afrikaanse Suid-Afrikaners oor grense heen te verenig.

Hierin lê die toekoms van die Afrikaanse gemeenskap asook die behoud van Afrikaans.

Van der Rheede is die uitvoerende adjunk­direkteur van Agri SA.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.