Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Om denke te bevry

Ben du Toit maak die hek oop tot vrugbare grond, skryf George Claassen.

Die debat sedert Ben du Toit se bevrydende boek God: Is daar ’n ander antwoord? gepubliseer is (Lapa Uitgewers), laat my dink aan die woorde uit Twelfth Night wat op die voetstuk van William Shakespeare se standbeeld op Leices­terplein in Londen gegrafeer is: “There is no darkness but ignorance.”

Du Toit het een van die bakermatdokumente in die Afrikaanse denkwêreld geskep wat oor meer as drie eeue in dié “wye en droewe land, alleen onder die groot suidersterre” strek. Dit bied ’n blik op ’n geskiedenis van gevangenisskap deur die knellende borstrok van religie, ’n ironiese bevestiging van Rousseau se woorde dat die mens vry gebore maar oral in kettings geslaan is.

Vir Afrikaanssprekendes van alle kleure is die geskiedenis deurspek van die kettings van religie: die Nederlandse Protestantisme het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van ’n nedersetting aan die Kaap en religie met al sy kulturele artefakte het die grondslag van die lewe aan die Kaap en die uitbreiding na die binneland geword. Ry deur die Suid-Afrikaanse platteland en van ver al is die torings van kerke sigbaar.

Die Moslem-slawe wat van die Ooste ingevoer is, het hul eiesoortige onderdanigheid aan ’n gewaande skeppergod in die nuwe kolonie kom vestig, soos ook die Franse Hugenote, wat as Protestante gevlug het van religieuse onderdrukking deur die Rooms-Katolieke Kerk – net om hul hande uit te strek om hier eiesoortige boeie gewilliglik om hul polse te laat slaan en dit dan “vryheid” te noem.

Die duisternis van onkunde bly ’n versmorende kleed werp oor die psige van Afrikaanses.

Vandag, drie eeue later, is die ironie van hierdie verbeelde vryheid onmiskenbaar. Du Toit, ’n teoloog wat op die sendingveld as predikantseun grootgeword het en oor dekades as ketter gebrandmerk is toe hy verskil het van verstarde denke in die NG Kerk, ploeg nuwe, vars sooie oop waarin saadjies van werklik vry denke in Afrikaanse geledere kan ontspring.

My vraag by die lees van die boek en die stroom aanvallende briewe van lesers was of Du Toit se “bevrydende reis” enigsins ’n indruk sou maak op sy lesers.

Du Toit ondersoek op persoonlike vlak die geskiedenis van die NG Kerk, wat wemel van voorbeelde van versteende denke – van die skrifgefundeerde ondersteuning van die onmenslike apartheidstelsel tot die verbanning en verguising van die Beyers Naudés in eie geledere; van ’n geslote denkraamwerk wat die vergrype van apartheid nou wil voortsit met vergrype teenoor gays – alles, natuurlik, selektief skriftuurlik “verdedigbaar”. Of ’n mens liefdeloosheid kan verskans en dan kerkskeuring as oplossing bied . . .

Die duisternis van onkunde waarop Shakespeare wys – dikwels gewillige en gekose onkunde – bly ’n versmorende kleed werp oor die psige van ’n groot persentasie Afrikaanssprekendes wat steeds verknog is aan en verweef is in religieuse denke. In ’n groot mate bewys die reaksie op Du Toit se boek juis dit, soos dreigemente dat hy onder sensuur geplaas kan word.

Hy kan nie; hy is nou vry, buite die vangnet van die kerk se verstikkende denke. Vir hom het die hek waarna Uys Krige verwys in sy gedig “Plaashek” oopgegaan: “Die stilte in my’s volkome met / niks troebels, niks verward. / Ek lig die knip . . . ek maak / ’n hek oop in my hart.”

Maar die vraag bly: Hóé dig toe is die hek van Afrikaner-denke; hóé sterk die ketting wat die oopmaak van die hek keer?

Dat Du Toit se boek hoegenaamd gepubliseer is, is ’n welkome ontwikkeling. Toe ek in 2007 my boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite aan Human & Rousseau voorlê, is dit afgewys omdat die bemarkers te bang was om “ons lesers wat gelowiges is aanstoot te gee”. As dit nie was vir Protea Boekhuis se Nicol Stassen nie, is dit nooit gepubliseer nie.

Ek noem dit omdat ek in my voorwoord daarin gewys het op die verskynsel wat Du Toit ook aanraak en wat tot die wese sny van waarom Afrikaanssprekendes steeds so in kettings geslaan is met hul geloof in ’n skeppende godheid:

“Die groeiende invloed van wetenskaplikes se ontdekkings en bewysbare bevindings sedert die 16de eeu, en wat in die 20ste en 21ste eeu toenemend ernstige vraagtekens oor godsdienstige aansprake plaas, het die gesag en houvas van geestelikes oor die menslike psige begin aantas. Het dit egter die rede en rasionele denke wat staatmaak op nugter bewyse, eerder as geloof en wonderwerke, laat seëvier? Nee, want hoewel hoofstroomkerke veral in die Ou Wêreld begin leegloop het en in Europa in ’n ongekende tempo in museums, kunsgalerye en vlooimarkte omgeskep word, het godsdienstige fundamentalisme halsoorkop begin groei.

“In die VSA en heelwat ontwikkelende lande, veral ook in sekere Arabiese lande, maar ook hier in Suid-Afrika, staan godsdiens en pseudowetenskap sterker as ooit, swig die menslike rede in vele opsigte voor emosie en televangeliste (dink aan pastore Bushiri, Lukau en Omotoso en die Moreletapark-sindroom in die NG familie) wie se boodskap een groot waarskuwing bevat: Vir die ongelowige wag daar ewige verdoemenis en die Groot Vuur.”

Steeds klou soveel Afrikaanssprekendes (luister net na die godsdiensbehepte RSG en PretoriaFM, wat uitsaai of alle luisteraars gelowiges is) aan die vertroosting van dominee, eerwaarde, biskop en pastoor, wat almal steeds sterk steun op die antroposentriese wêreldvisie dat God Adam in beheer geplaas het van al sy aardse skepsels; dat hy die mens na sy beeltenis geskape het; dat hy, nadat die mens sy reëls in die Tuin van Eden verontagsaam het, self mens geword het en na die aarde gekom het om sy hoogste skepping van sy sondes te verlos, soos A.N. Wilson dit verwoord in sy boek God’s Funeral.

Maar, soos hy tereg opmerk, “ . . . human beings continued to pray, and to need to pray”.

Wat maak mense – en my eie taalgroep oor kleurgrense heen – so bang om van die kettings van onkunde en die donkerte van religie bevry te word? Toe dr. Frits Gaum en ek in 2012 onderhoude met gelowige en ongelowige Afrikaanssprekendes gevoer het vir die boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg Uitgewers), was dit opvallend hoe negatief baie lesers gereageer het op die onderhoude wat ek, as ongelowige, gevoer het met die groep wat die bestaan van ’n skeppende godheid krities bevraagteken; mense soos Jurie van den Heever, Dave Pepler, Antjie Krog, Breyten Breytenbach en Willemien Brümmer.

In hierdie tyd van die Covid-19-pandemie en kits-preparate om dit hok te slaan, is die waarskuwing van die kosmoloog Carl Sagan in sy boek The Demon-Haunted World: Science as a Candle in the Dark (Headline Books) oor ’n wêreld van onkritiese denke en onkunde besonder gepas. Sagan waarsku dat elkeen van ons, tensy ons ’n onsin-verklikker in ons brein het, sal swig voor bygelowe en pseudowetenskaplike denke.

Hy noem ’n magdom voorbeelde op: astrologie, die Bermuda-driehoek, “Big Foot”, die Loch Ness-monster, spoke, meerkleurige stralekrans-agtige “auras” wat elke mens se kop kwansuis omring en persoonlikheid kleur, buitesensoriese waarneming (ESP) soos telepatie, voorafkennis, telekinese, afstandswaarneming van afgeleë plekke, die geloof dat 13 ’n ongelukkige nommer is, bloeiende standbeelde, heilige rotse wat siekes kan genees, piramidologie, telefoonoproepe van die doderyk (wie betaal daarvoor, vra Sagan).

Ook die profesieë van Nostradamus, by ons dié van Siener van Rensburg, palmlesery, numerologie, komete wat slegte nuus voorspel, dieet-kwakke, die emosionele lewe van plante en veral malvas, buite-liggaamlike ondervindings soos byvoorbeeld nabydoodervarings en geloofsgenesingsbedrog (wie onthou nog die Suid-Afrikaanse histerie met die Nigeriese “profeet” Joshua en die “profeet” David Francis, wat op Hertzogville die oorlede Paul Meintjies in ’n lykshuis se koelkas laat bêre het omdat hy van God sou gehoor het Meintjies gaan op 29 Julie 2004 uit die dode opstaan?).

Of gesprekke met dooies (op televisie deur bedrieërs soos John Edward en Marietta Theunissen en haar dogter, laasgenoemde lank op kykNET en kortliks op die lewenstylkanaal VIA), driesiklus-bioritmes, ewige-bewegingsmasjiene wat ’n onbeperkte voorraad energie beloof, einde-van-die-wêreld-profete en vele ander. En, kan ’n mens byvoeg, die ritse pseudowetenskaplike kitsoplossings wat mense laat gryp na ’n teenvoeter vir Covid-19.

Ben du Toit maak die hek oop om die plaas van bygelowigheid en religie te verlaat en die vrugbare grond van rasionele denke en die wetenskap, met al sy eie foute, te betree. Hy bevry nie net homself nie, maar hopelik ook duisende Afrikaanse mense.

Covid-19 het baie aaklighede en hartseer gebring, maar tog die waarheid beklemtoon dat wetenskap ’n rasionele denkproses is wat mense kan bevry van leed en vals verwagtings en hoop.

Ons is gebind aan die wetenskap.

Maar bygeloof en pseudowetenskap maak die hek toe, lei ons aandag af, verskaf maklike oplossings, ontduik skeptiese ondersoek, druk ons ontsagknoppies en maak van ons geroetineerde en gemaklike beoefenaars en slagoffers van liggelowigheid.

Wat Du Toit se boek ook so bevrydend maak is dat dit die kettings van religieuse en irrasionele onderdanigheid middeldeur kerf. Dit bevestig die onderskeid wat die genetikus Jerry Coyne tussen religie en rasionele denke tref: Dat die werklike oorlog van ons daaglikse bestaan – en Covid-19 bewys dit – ’n stryd is tussen rasionele denke en bygeloof.

Die wetenskap is maar een vorm van rasionele denke, terwyl religie die algemeenste vorm van bygeloof is.

Du Toit se boek voldoen volledig aan Uys Krige se uiteensetting aan Jan Rabie oor wat die rol van die skrywer in die samelewing nou eintlik is: “ . . . in party opsigte is die lewe soos die Oranjerivier wanneer hy in volle vloed verbyjaag. Hy is vol blikke en takke en goeters, daar’s ’n dooie donkie in of ’n skaap of ’n aasvoël of ’n jakkals en dit stroom alles verby en die ou rivier bly geel en troebel en onstuimig.

“Maar die skrywer of digter neem ’n deel van daai stroom en hy verstil hom tot ’n poel wat kalm en helder en deurskynend is en wat die son en die hemel en die sterre weerkaats.”

* George Claassen is ’n wetenskapjoernalis en media-etikus.

Meer oor:  Ben Du Toit  |  Godsdiens  |  Wetenskap  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.