Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Om die Bos gelei

Die optrede van die rektor van die Universiteit Stellenbosch en oudregter Edwin Cameron tydens Gelyke Kanse se hofstryd oor Afrikaans by dié universiteit het die uitspraak onherroeplik besmet, skryf Jan Heunis.

Prof. Wim de Villiers

Die briefwisseling en gesprekke tussen die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) en die voormalige regter van die konstitusionele hof Edwin Cameron – terwyl die saak tussen Gelyke Kanse en die universiteit in die konstitusionele hof aan die gang was – het enorme implikasies vir sowel die universiteit as die regbank.

Daarom moet Donderdag se besluit van die universiteitsraad se uitvoerende komitee – om die afgetrede regter Burton Fourie aan te stel om die bewerings te ondersoek – verwelkom word. Dit is inderdaad in die openbare belang dat al die feite hieroor aan die lig kom en niks verswyg of verdoesel word nie.

Prof. Wim de Villiers het tot dusver gepoog om homself hoofsaaklik op grond van twee argumente te verontskuldig.

Die eerste is dat nadat Cameron sy aanvanklike versoek dat hy (Cameron) homself as kanselier verkiesbaar stel van die hand gewys het, daar geen verdere korrespondensie tussen die twee was nie.

Sy tweede argument is dat Gelyke Kanse toestemming verleen het dat Cameron hom as kanselier verkiesbaar mag stel.

Die eerste van hierdie verwere is onvolledig en misleidend en die tweede nie korrek nie

Die rektor se verweer is problematies.

Gelyke Kanse se aansoek om die universiteit se taalbeleid ongrondwetlik te verklaar is op 8 Augustus in die konstitusionele hof aangehoor. Cameron het reeds op 2 Augustus aan De Villiers geskryf dat sedert hul gesprek twee weke vantevore dit vir hom onteenseglik duidelik geword het dat hy nie die benoeming kan aanvaar nie omdat dit sy posisie as regter hopeloos sou kompromitteer. In dié e-pos spreek Cameron sy spyt uit “dat ons aangrypende bespreking van die identiteits- en ander issues wat op die kanselierskap betrekking het op hierdie bot wyse moet eindig, maar ek sien nie enige realistiese wyse waarop ons die gesprek kan voortsit nie”.

Die blote feit dat so ’n gesprek tussen De Villiers, as eerste respondent in die hangende hofsaak, en een van die voorsittende regters gevoer is, is hoogs on­reël­matig.

De Villiers antwoord agt dae later om te sê dat hy teleurgesteld is oor Cameron se besluit, maar dat hy sy standpunt verstaan. Op 30 Augustus skryf Cameron weer aan De Villiers dat “in die lig van die positiewe verwikkelinge” (dit wil sê die “toestemming” deur Gelyke Kanse) hy wel beskikbaar was vir die benoeming.

Uit die verdere korrespondensie blyk dit dat daar ook ’n persoonlike ontmoeting (daar is selfs sprake van ’n ete) tussen die regter en die rektor was. Om persoonlik met ’n regter te ontmoet terwyl hy besig is om ’n uitspraak te skryf waartoe jy ’n party is, is – nodeloos om te sê – hoogs on-reëlmatig. Die ander punt om te maak is dat Gelyke Kanse geen idee gehad het van die korrespondensie en pogings om te ontmoet nie.

Oudregter Edwin Cameron

Die rektor se verdere verweer, dat Gelyke Kanse ingestem het tot Cameron se kandidatuur, is eweneens problematies.

Ek het vir die eerste keer van Cameron se kandidatuur gehoor toe De Villiers my op 26 Augustus (amper drie weke nadat die saak gedien het, maar nog voordat uitspraak gelewer is) bel. Tydens dié oproep het hy my laat verstaan dat verskeie mense Cameron se kandidatuur steun en dat dit ’n uitgemaakte saak was dat Cameron tot kanselier verkies sou word. Dit was ook my indruk dat hy verwag het dat ek my invloed moet gebruik om Christo van der Rheede, wat deur my en ander lede van die US-konvokasie as ’n kandidaat benoem is, se kandidatuur terug te trek. In dié gesprek het De Villiers ook vir die eerste keer verwys na gesprekke tussen hom en die regter wat my genoop het om te vra wanneer dié gesprekke plaasgevind het. Sy antwoord: “ ’n Hele paar keer gedurende die afgelope twee weke.”

Dit was so ’n beduidende erkentenis dat ek dieselfde oggend nog die feit aan die leier van die universiteit se regspan oorgedra het. Nodeloos om te sê, het ek ook nie Van der Rheede versoek om sy kandidatuur terug te trek nie.

My gesprek met die universiteit se advokaat is ’n dag later opgevolg met ’n brief van Gelyke Kanse se prokureur, Danie Rossouw, aan die universiteit se prokureur waarin Rossouw gevra het wie met Cameron in verbinding was, wat aan hom gesê is, wanneer die gesprekke plaasgevind het en wat die uitkoms daarvan was. Daarbenewens wou Rossouw weet wat, indien enigiets, die US se prokureurs van oordeel was omtrent die saak gedoen moes word. Volgens Rossouw se skrywe kon dit, byvoorbeeld, nodig gewees het vir die twee leiers van die onderskeie regspanne om ’n ontmoeting met die hoofregter en ook met Cameron aan te vra.

Die brief sluit af met die versekering dat Gelyke Kanse graag die saak sou wou oplos in ooreenstemming met wat openbare belang vereis en die vereistes van reg en regverdigheid. Die universiteit se prokureurs het nooit hierop geantwoord nie.

Ná Rossouw se skrywe het die universiteit se senior advokaat my gevra om, op Cameron se versoek, aan te dui of ons beswaar sou hê indien die regter benoem sou word as ’n kandidaat vir die kanselierskap. Ek het aan Cameron geskryf dat daar nie beswaar sou wees teen sy aanvaarding van ’n benoeming nie – en nie dat daar toestemming of goedkeuring verleen word nie, soos wat De Villiers nou voorgee nie. Die tweede paragraaf van daardie skrywe sê presies wat Gelyke Kanse se siening omtrent die saak was.

Vry vertaal lees dit soos volg: “Soos dit is, het ’n aantal alumni wat self verbintenisse met Gelyke Kanse het, dit oorweeg om u te benoem as ’n kandidaat, maar daarteen besluit omdat ons tot die gevolgtrekking gekom het dat dit nie toepaslik sou wees om u in hierdie verband te nader nie in die lig van die feit dat u ’n lid is van die hof wat Gelyke Kanse, aan die een kant, en die universiteit, aan die ander kant, se saak moet bereg.”

Op 2 September – meer as ’n maand voordat die Konstitusionele Hof sy uitspraak sou lewer – skryf die registrateur van die konstitusionele hof, in opdrag van Cameron, aan die partye se prokureurs waarin hy onder meer sê dat hy deur verskeie persone genader is om ’n benoeming as kanselier van die US te aanvaar, wat hy van die hand gewys het as gevolg van die hangende litigasie en ander redes.

Hierdie pogings, skryf Cameron, het voortgeduur en, nadat die saak aangehoor is, het hy aangedui (sonder om te sê teenoor wie) dat hy sy besluit sou heroorweeg onderhewig daaraan dat Gelyke Kanse nie beswaar sou hê nie. (Let wel dat Cameron nooit persoonlik enige sodanige versoek aan Gelyke Kanse gerig het nie).

In die registrateur se brief word die partye verder uitgenooi om die korrespondensie tussen Cameron en De Villiers en tussen Cameron en adv. Jean Meiring, ’n lid van die universiteitsraad, te ondersoek en te oorweeg. Weens ’n paar redes het die Gelyke Kanse-regspan besluit om nie van die aanbod gebruik te maak nie.

Toe Cameron se uitspraak egter uiteindelik op 10 Oktober gelewer is en dit duidelik geword het dat die onderbou van die uitspraak waarin Gelyke Kanse se appèl van die hand gewys is, wesenlik gebrekkig was en aanduidend van vooroordeel kon wees, het Rossouw op 14 Oktober ’n skrywe aan die registrateur van die hof gerig waarin hy versoek is om die korrespondensie beskikbaar te maak.

Nadat hy geweier het, het die registrateur van die Universiteit Stellenbosch, op versoek van Cameron, die korrespondensie beskikbaar gestel.

Op 18 Oktober het Rossouw ’n skrywe aan hoofregter Mogoeng Mogoeng gerig waarin die verwikkelinge wat hierbo uiteengesit is, onder sy aandag gebring is. Rossouw skryf dat daar geen aanduiding is dat hy (Mogoeng) vooraf oor die kwessie ingelig is nie en dat dit sekerlik getuig van onreëlmatige en ontoepaslike gedrag aan die kant van die regter wat die hof se uitspraak in die Gelyke Kanse-saak gelewer het – om nie van die rektor, ’n litigant, te praat nie. Rossouw sluit af deur te sê dat sy kliënt dankbaar sal wees om ’n aanduiding te kry van wat die hoofregter beplan om daaromtrent te doen. Mogoeng het tot op datum nog nie gereageer op dié brief nie, hoewel ’n woordvoerder van die hof verontskuldigend gereageer het op medianavrae.

Soos Rossouw dit egter aan Mogoeng duidelik gemaak het, behoort dit duidelik te wees dat die optrede van die betrokke partye die uitslag van die saak onherroeplik besmet het.

Al wat nou oorbly is vir die universiteit se eie ondersoek om te bepaal tot hoe ’n mate De Villiers se optrede oneties en onreëlmatig was en of hy onder omstandighede kan voortgaan om die universiteit as rektor te dien.

  * Adv. Jan Heunis SC is president van die US-konvokasie en leier van Gelyke Kanse se regspan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.