Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Om jou naaste lief te hê

Die NG Kerk se oomblik van waarheid oor die gay-kwessie het aangebreek, skryf Chris Jones en Laurie Gaum.

Sondagaand begin die 17de vergadering van die algemene sinode van die NG Kerk in die eMseni-konferensiesentrum in Benoni. Dit duur tot 11 Oktober.

Verskeie belangrike sake gaan op dié sinode ter sprake kom. Maar ná die NG Kerk se rondvallery oor selfdegeslagverhoudings die afgelope paar jaar – en 'n hofsaak daaroor – val die kollig veral op die sinode se hantering van dié kwessie. Dit is ongetwyfeld vir die NG Kerk 'n oomblik van waarheid.

Nadat die algemene sinode van 2015 'n positiewe besluit oor selfdegeslagverhoudings geneem het en in die kerk daarvoor ruimte gelaat is, het 'n buitengewone sinode wat net oor hierdie saak gegaan het, in 2016 'n streep deur die 2015-besluit getrek.

Aangesien daar groot onduidelikheid was oor die regsposisie van die 2016-besluit – en dit duidelik neergekom het op onbillike diskriminasie – het 12 lidmate van die NG Kerk die hooggeregshof in Pretoria genader om uitsluitsel daaroor te kry. 'n Volbank regters het in Maart vanjaar die 2016-besluit eenparig om prosedurele sowel as substantiewe redes ter syde gestel.

Jy moet vir jou medemens en medegelowige gun wat jy vir jouself opeis.

Die 2016-sinode het nie alleen nié volgens sy eie kerkordelike reëls opgetree nie, maar het ook onbillik teenoor gelowige gay lidmate (of meer korrek: LGBTQIA+-lidmate) gediskrimineer deur hulle nie in alle voorregte van kerklidmaatskap te laat deel nie, is beslis.

Die NG Kerk, wat in die laaste dekades van die vorige eeu 'n worstelstryd gevoer het om finaal van apartheid af te sien – en dit uiteindelik met groot beslistheid gedoen het – het hiermee voor die dilemma te staan gekom dat die kerk opnuut onbillik teen gelowige mense diskrimineer. Die 12 lidmate is verwyt dat hulle die “wêreldse hof” genader het om uitsluitsel te kry en nie die “kerklike weë” gevolg het nie.

Daar is deur die mense wat so geredeneer het egter vergeet dat die 2015-besluit die kulminasie was van dekades lange gesprekke en verslae en besluite in die NG Kerk en dat alle moontlike “kerklike weë” gevolg is om die kerk te help om, soos met apartheid, onbillike diskriminasie te laat vaar.

Die 2016-besluit was 'n bittere teleurstelling en klaarblyklik 'n ernstige fout. Ook lede van die moderatuur van die NG Kerk was van mening dat net die hof regsekerheid kan gee, en daarom het die 12 lidmate teen hul sin en bewus van die groot verantwoordelikheid wat hulle op hulle neem, die hof genader.

Dit is egter eers gedoen nadat die betrokke kerklike liggame gedien is met regsmenings van voorste advokate wat uitgewys het dat die kerk besig is om teenstrydig met sy eie kerkorde op te tree. Ds. Thys van der Merwe, voorsitter van die appèlliggaam wat met die appèlle teen die 2015-besluit gewerk het, het egter gesê dat die regsmenings “ongetoetste opinies” is. Die enigste uitweg was dus om die “ongetoetste opinies” deur die hof te laat toets. Die hof se toets was ondubbelsinnig.

Hoe gaan die kerk die wonde verbind wat toegedien is?

Afgesien van die regsargumente, is die punt natuurlik dat onbillike diskriminasie van watter aard ook al altyd onaanvaarbaar is. Die Grondwet van Suid-Afrika laat so iets nie toe nie, maar meer nog druis onbillike diskriminasie lynreg in teen die evangelie van Jesus Christus en die groot gebod dat jy jou naaste moet liefhê soos jy jouself liefhet. Jy moet vir jou medemens en medegelowige gun wat jy vir jouself opeis! En as jou medegelowige gay of lesbies is, mag jy nie aan hom of haar eise stel wat jy nie bereid is om aan jouself te stel nie – soos selibaatskap en die vereiste om sonder 'n lewensmaat wat by jou pas, deur die lewe te moet gaan.

Die 2015-besluit van die algemene sinode lui onder meer dat “hetero- en homoseksuele persone wat in 'n verhouding van persoonlike gehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap”. Die hooggeregshof se uitspraak sê in regstaal presies wat die sinode in kerklike taal gesê het: “It is unfair to exclude members of the Church of their full and equal enjoyment of all rights and freedom the Church offers.”

Vir die NG Kerk het die 2015-besluit onder meer beteken dat burgerlike verbintenisse van gelowiges van dieselfde geslag in die kerk deur predikante “wat hul weg oopsien” bevestig kan word – een van die voorregte (oftewel “full and equal enjoyment”) wat die kerk aan sy lidmate bied. Maar die 2015-besluit het nie gewetensdwang uitgeoefen nie en het ook verklaar: “Die algemene sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ? gees van liefde te doen.”

Die besluit van die algemene sinode in 2015 staan dus in die teken van Christelike liefde en gebied nie, maar gee ruimte. Ongelukkig is dié besluit nooit uitgevoer nie. Kort ná die 2015-sinode is die besluit vanweë appèlle wederregtelik opgeskort, en daarna het die 2016- buitengewone sinode dit, weer eens wederregtelik, ongedaan gemaak.

By die sinode wat vanaand begin, gaan daar ongetwyfeld pogings wees om die 2015-besluit (wat ná die hooggeregshof-uitspraak die geldende besluit van die NG Kerk is) omver te werp. Gelukkig is daar ook diegene in die sinode wat hard sal werk om dit nie te laat gebeur nie en om die inhoud van die 2015-besluit te handhaaf.

Aangesien die 2015-besluit sedert die hooggeregshof se uitspraak in Maart (weer) van toepassing is, was dit die verantwoordelikheid van die kerklike leierskap om daaraan uitvoering te gee. Dit moes onder meer gebeur deur by die departement van binnelandse sake aansoek te doen dat predikante van die NG Kerk wat hul weg oopsien, burgerlike verbintenisse kerklik kan bevestig. Alhoewel daar enkele pogings vanuit die kantoor van die algemene sekretaris van die NG Kerk in hierdie verband was, het dit egter nog nie gebeur nie en die vraag is of daar met genoeg erns probeer is om dit te laat gebeur.

Sedert 2015 het die kerklike voeteslepery meegebring dat nog bitter min gedoen is om amptelik uitvoering te gee aan die besluite oor die regte van LGBTQIA+-lidmate!

Die 12 lidmate wat met die kerk hof toe gegaan het, het ná die uitspraak by twee geleenthede gevra om met lede van die moderatuur te vergader. Die gesprekke was oop, eerlik en pynlik.

Die lidmate het aan die moderatuur 'n voorlegging gedoen en onder meer gevra dat die algemene sinode wat vanaand begin, aandag moet gee aan regstellende geregtigheid.

Hoe gaan die kerk regmaak wat deur die jare verkeerd gedoen is aan LGBTQIA+-lidmate en hul families? Hoe gaan die kerk met dade – nie net mooi woorde nie – vergoed vir die feit dat versuim is om uitvoering te gee aan die inhoud van die 2015-besluit? Daar is mense wat ná jare se studie nie as predikante toegelaat is nie omdat hulle nie wou wegsteek wie hulle is nie. Daar is gay en lesbiese mense wat wel toegelaat is, maar nooit in die kerk werk gekry het nie.

Hoe gaan die kerk die wonde verbind wat toegedien is?

Die moderatuur het laat weet dat die voorlegging waarna hierbo verwys is, nie voor die sinode sal kan dien nie, maar wel later aandag sal kry. Dis blykbaar te gou om nou al konkreet oor herstellende geregtigheid te praat!

Intussen het dit bekend geword dat, terwyl die NG Kerk 'n bevel van die hooggeregshof gekry het om ook die regskoste van die 12 aansoekers te betaal – wat 'n aansienlike bedrag kan wees, want senior advokate is betrokke – die aansoekers se advokate besluit het om net 'n beperkte bedrag van die kerk te vra. Die geld wat as gevolg hiervan indirek deur die kerk “gespaar” gaan word, kan gerus gebruik word vir 'n gestruktureerde program van herstellende geregtigheid in die kerk waarmee kundige gay lidmate sal kan help.

Elders in Rapport word vandag berig oor 'n ope brief wat 'n aantal Suid-Afrikaanse gelowiges aan die algemene sinode gestuur het en waarin gevra word dat die sinode nie moet afwyk van die hoopgewende besluit van die 2015-sinode nie.

Die NG Kerk het 30 jaar gelede die moed gehad om van sy ondersteuning van 'n diskriminerende stelsel met die naam apartheid af te sien. Dieselfde moed en profetiese getuienis word nou weer van die NG Kerk gevra – dié keer oor die “gay-kwessie”.

Vir die NG Kerk is dit 'n oomblik van waarheid.

  • Dr. Chris Jones, hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap in die teologiefakulteit aan die US, en prop. Laurie Gaum is twee van die 12 lidmate wat die hooggeregshof genader het.
  • Lees ook hier.
Meer oor:  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.