Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Om stry se angel te kan trek

Waarom verskil Amerika en Brittanje se politieke kultuur so hemelsbreed van dié van die Europese vasteland, wonder Leopold Scholtz.

In Londen heers ’n chaos in die laerhuis oor Brittanje se beplande uittrede uit die Europese Unie (EU) met geen meerderheid vir enige van die Brexit-opsies nie. Oorkant die Atlantiese Oseaan dreig pres. Donald Trump die leiers van die Demokratiese Party met ’n noodtoestand indien hy nie sy sin kry oor ’n Mexikaanse muur nie.

Die skrille politieke debat kontrasteer skerp met die relatiewe stabiliteit in Berlyn, Den Haag en die Skandinawiese hoofstede. Dis nie asof dáár geen politieke mededinging of teenstellings is nie, maar dit lei nie tot dieselfde soort chaos soos in die Angel-Saksiese lande nie.

En selfs in Frankryk, waar die sogenaamde geelhemde se betogings taamlik ontwrigting veroorsaak het, kan die angel getrek word deur ’n nasionale debat van etlike weke, wat pres. Emmanuel Macron onlangs van stapel laat loop het.

Lê die antwoord dalk in ’n fundamentele verskil in politieke kultuur tussen die vasteland van Europa en die Engelssprekende wêreld?

In Nederland is daar ’n wonderlike woord hiervoor, die “poldermodel”. Die poldermodel kom daarop neer dat daar gepraat en vergader word totdat almal omval van moegheid en verveling. Uiteindelik word daar dan maar op ’n kompromis besluit waarin almal gee en neem, maar waarmee almal tog kan saamleef. Dis nie dat die Nederlanders sodanig meer rasioneel as ander is nie, dis ’n kwessie van bittere noodsaak. Dit het nog nooit in die land se parlementêre geskiedenis gebeur dat een politieke party met ’n volstrekte meerderheid in die Tweede Kamer – die laerhuis – gekies word nie. Koalisies is áltyd noodsaaklik.

Duitsland het om ander redes iets soortgelyks.

Voor 1933 was die politiek daar kliphard met uiterste polarisasie. Die gevolg was politieke onstabiliteit sonder weerga, wat Adolf Hitler se magsgreep in 1933 en sy totalitêre diktatuur tot 1945 moontlik gemaak het. Vir die Duitsers was dit ’n uiters pynlike les. En hoewel jy in die demokratiese Wes-Duitsland duidelike verskille tussen die gematig-regse Christen-Demokrate en gematig-linkse Sosiaal-Demokrate gekry het, het hulle naby genoeg aan mekaar gebly dat hulle al verskeie kere saam in koalisies gedien het.

Interessant is dat dié kultuur minder geld in die ses deelstate, wat vroeër deel van die kommunistiese Oos-Duitsland was. Die politieke kultuur daar is bepaal deur drie agtereenvolgende outoritêre stelsels – die keiserryk, Nazi-Duitsland en die kommunistiese diktatuur – met die gevolg dat polarisasie daar nie so ’n vloekwoord soos in die weste is nie.

In die polder-model gee en neem alle partye.

Dit is één van die redes (daar is meer) waarom die regs-populiste in die ooste relatief meer steun as in die weste geniet.

In Brittanje se Angel-Saksiese politieke kultuur is klipharde politieke gevegte, waar geen genade gevra of gegee word nie, ’n normale saak. Koalisies is ’n uitsondering, en dus kan jy na hartelus polariseer, ook omdat daar slegs twee groot partye is – die Tories en die Arbeiders.

Teenstellings word dus eerder vergroot as beperk. En Brexit het gemoedere nóg verder opgejaag, soos gesien kan word in die wilde geskreeu wat vir ’n debat in die laerhuis aangesien word.

Dis nie dat dit ooit vreeslik ordelik was nie, maar daar is blykbaar min grense van welwillendheid wat nog oorgebly het.

Eintlik moedig die Amerikaanse grondwet ook versoening en samewerking tussen die twee groot partye aan. As een party die Withuis beset, en ’n ander een of albei huise van die kongres, kan dinge slegs deur kompromis bereik word.

Tans, met die onstabiele populis Donald Trump as president en ’n Demokratiese Party, wat na links beweeg het, in beheer van die huis van verteenwoordigers, is daardie verstandhouding aan die verbrokkel. En dus knars die hele Amerikaanse politieke stelsel tot stilstand, omdat die takbokbulle slegs met ’n totale oorwinning tevrede is.

Die verstandhouding het eintlik al dekades gelede begin verbrokkel, maar die proses het nou orkaansterkte bereik.

Die polarisasie word deesdae aangehelp deur die sosiale media en die vermoë om fopnuus binne minute wyd te versprei. Ook sommige tradisionele media is nie onskuldig nie.

As ’n mens die twee stelsels vergelyk, val dit jou op dat die Britse stelsel op kort termyn doeltreffender is. Die opposisie voel vryer om die regering oombliklik aan die bors te gryp en swakhede in wat hy ook al doen of beplan aan die kaak te stel.

Besluitneming verloop makliker.

Daarteenoor loop die Germaanse model (wat eintlik ook by implikasie in die Amerikaanse grondwet bepleit word) nie oor van doeltreffendheid nie. Selfs klein besluite verg soms dae, selfs weke se eindelose geklets voordat ’n – dikwels onvolkome – kompromis te voorskyn kom.

Maar as jy verder dink as wat jou neus lank is, as jy verder as die onmiddellike saak na die breë werking van die demokrasie kyk, is die Germaanse model uiteindelik verstandiger as die Britse model van voortdurende klipharde konfrontasie. Dit skep ’n staat wat stabiel is, waar die bevolking en instellings mekaar oor ’n tydperk heen in ewewig hou.

Wat spesifiek ook in Duitsland help, is dat die mense daar, interessant genoeg, nie juis lief vir die sosiale media is nie. Peilings wys dat veel minder Duitsers van Facebook, Twitter of ander sosiale media gebruik maak.

Dis dalk ’n insig wat mense in ander lande ook ter harte kan neem. Ook in Suid-Afrika sien jy hoe mense hul haat en frustrasie in die kuberruim uitspoeg – omdat hulle kán. Maar dit daar gelaat.

Frankryk is ’n aparte geval. Frankryk is die land van straatgevegte, barrikades, revolusies. Dis basies wat tans weer met die sogenaamde geelhemde-opstand gebeur.

Maar Macron pak dit baie verstandig aan: enersyds word die bandelose vernielsug van baie geelhemde kliphard aangepak (die stok); andersyds het hy ’n gestruktureerde nasionale debat van verskeie weke aangekondig (die wortel). Op dié wyse, hoop hy, word die angel getrek. Uiteindelik vind Frankryk, ondanks die Franse se opgewonde aard, ook altyd weer sy ewewig.

Daar is nog veel meer wat oor die onderwerp gesê kan word. Ons het nie plek om Italië en Sentraal-Europa – Pole, Hongarye, Tsjeggië en Slowakye – te behandel nie, lande wat ’n eiesoortige agtergrond het wat afwyk van dié in Wes-Europa.

Hoe ook al, dat die chaos in Londen en Washington minstens gedeeltelik deur hul politieke kultuur beïnvloed word, kan nie ontken word nie. Dis deel van ons interessante wêreld.

*Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Donald Trump  |  Emmanual Macron  |  Brittanje  |  Europa  |  Vsa  |  Frankryk  |  Withuis  |  Brexit  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.