Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ombud gee The Weekly pak
Die voorbladberig van The Weekly waarvoor die koerant nou op sy voorblad vir Volksblad om verskoning moet vra.

Die persombud het ’n klag van Volksblad teen The Weekly gehandhaaf. ’n Teenklag van The Weekly teen Volksblad is afgewys. Gert Coetzee gee die besonderhede.

Volksblad het ’n klag by die ombud ingedien oor The Weekly se voorbladberig “Volksblad clandestine agenda exposed; A cloak and dagger smear campaign against Dr Ace Magashule looms” en oor die koerantplakkaat “Volksblad covert agenda exposed” (10.11.2017). Volksblad het aangevoer die berig en plakkaat beskuldig dit valslik van ’n rasse- en politieke agenda; geen kommentaar is gevra nie; The Weekly verstaan nie die waghondrol van die media en die belangrikheid van spraakvryheid nie, en dat strydig met die SA Perskode opgetree is.

Die berig stel dit ook dat “lekkasie aan die wit media” gestaaf word deur beriggewing oor die Vrede-suiwelplaas “waar die voormalige LUR vir landbou, Msebenzi Zwane beskuldig is van ongegronde korrupte aktiwiteite”.

Inhoud

Die fokus van

The Weekly-berig was dat dit ’n geheime agenda onthul van Volksblad wat vertroulike inligting oor die Vrystaatse provinsiale regering (VPR) en die premier, dr. Ace Magashule, wou uitlap.

’n Vrystaatse LUR sou glo die inligting verklik en is deur bronne as die “meesterbrein” agter die “gemene uitlekkery” bevestig.

Die oogmerk is om Magashule se gewildheid te ondermyn en ’n smeerveldtog te dryf teen swart sakelui wat werk van die regering kry asof die regering werk onregmatig en op korrupte wyse aan swart mense toeken.

Luidens The Weekly word Volksblad as ’n “anti-Magashule-spreekbuis” ingespan.

Voorts is Letlaka Media, as uitgewer van The Weekly en eienaar van ander besigheide, “geïdentifiseer as ’n groot bedreiging vir die agenda teen die regering wat die media onder wit eienaarskap dryf”. Volksblad is ’n “voertuig om The Weekly en ander ondernemings van Letlaka te diskrediteer sodat hulle nie werk kry nie”.

Klagte

Volksblad
se beswaar was dat die berig die koerant beskuldig van ’n rasse-agenda en dat dit ’n smeerveldtog teen swart sakelui sou voer.

Die berig opper lekkasies aan “die wit media”, ’n “agenda teen die regering deur mediahuise in wit besit”, “wit propaganda wat teen ons werk”, “wit monopolie-magte” en ’n “propaganda-arm van wit media-monopolie”.

Dit lyk asof The Weekly ’n wrok teenoor Volksblad koester omdat laasgenoemde oor wanadministrasie, tender- en ander bedrog en oor swak regering berig, en sy werk doen soos dit ’n behoorlike nuusmedium betaam.

“Ook opvallend is dat The Weekly geen poging aanwend om Volksblad-beriggewing verkeerd te bewys nie . . . maar eerder beswaard is oor beweerde fluitjieblasers wat inligting gee.”

Volksblad voeg by The Weekly se grootste, of dalk enigste, inkomste is regeringsfinansiering, wat strydig met artikel 3 van die perskode is, en daarop neerkom dat “The Weekly ’n prostituut vir die ANC-beheerde Vrystaatse regering van premier Magashule is”. Tapera Chikuvira, redakteur van The Weekly, sê hierop sy bronne in die VPR sê die samesweerders beoog om “sommige swart sakelui” te teiken.

Volgens hom benut Volksblad deurlopend gelekte inligting vir die doel. Volksblad se beriggewing oor Letlaka Media oortuig hom die koerant het ’n agenda om swart sakelui aan te val, die eienaar van The Weekly (Tumi Ntsele) inkluis. Hy sê: “Bronne het bevestig die VPR is weens die lekkasies toegegooi onder media-navrae oor die werksaamhede van verskillende regeringsdepartemente.” Volgens hom staaf Volksblad se beriggewing oor Letlaka Media ’n patroon van negatiewe beriggewing oor hoë swart mense en regeringsdepartemente. Hierteenoor is The Weekly se berig feitelik korrek en spruit uit omvattende ondersoeke gegrond op inligting wat deur ’n bron in die premierskantoor gegee is.Volksblad het al telkens inligting gepubliseer wat net gelek kon gewees het. “Dit is uiters kommerwekkend dat Volksblad glo en insinueer dat hy al geloofwaardige koerant in die provinsie is.”The Weekly het al telkens korrupsie in die VPR blootgelê, sonder enige eksterne motief of ’n spesifieke agenda. Rakende regeringsadvertensies, sê Chikuvira, is Volksblad jaloers en afgunstig oor die stand van The Weekly. Volgehoue, desperate en verbete aanvalle op The Weekly staaf dit.

Repliek

In sy repliek sê die

Volksblad-redakteur The Weekly se respons wys sy “ondersoek” was daarop gerig om lekplekke in die premierskantoor aan Volksblad op te spoor, eerder as op wanadministrasie en tender- en ander bedrog, wat ware waghondkwessies is.

“Dit herinner aan die heksejag in die Watergate-skandaal en ander gevalle van toesmeerdery.”

Vir Volksblad is “bronne” en “fluitjieblasers” deel van joernalistieke werk. Nogtans het Volksblad nie bronne in Magashule se kantoor nie weens die hegte hegemonie daar.

The Weekly se bestaansrede is dat dit ’n propagandistiese mondstuk is, wat die deuntjie van sy meester fluit. Pleks daarvan dat dit ware kwessies ontbloot, val dit die boodskapper aan wat dit doen.”

Gert Coetzee

Sessie

Die ombud, dr. Johan Retief, het ’n gesprek in Bloemfontein op 12 Desember belê om die partye aan te hoor.

In sy bevinding wys hy daarop dat hy daar die erns van die aantygings teen Volksblad benadruk het, en bewys gevra het van die beskuldiging dat Volksblad ’n koverte of klandestiene agenda teen swart mense en sakelui voer.

Ntsele (eienaar van Letlaka) was nie bereid om sy bronne vertroulik aan die ombud bekend te maak nie.

Ook het Ntsele in die gesprek ontken dat die berig Volksblad van ’n rassistiese agenda beskuldig.

Tog is Retief se eie indruk as ’n redelike leser dat die berig juis dit doen. Die gepubliseerde teks is al wat geld.

Ook die aanbieding van die berig, insluitende die kontrastering van swart teenoor wit, as feitelik (eerder as eie mening) wek die indruk dat wit amptenare inligting aan wit mediamaatskappye (Volksblad) lek om Magashule te diskrediteer en swart sakelui aan te val. Voorts is dit nie te wagte dat ’n lid van die Vierde Stand die lekkasie van inligting bevraagteken nie, maar eerder dat dit in die openbare belang verwelkom sou word.

Al moontlike slotsom is dat die berig op ’n aantyging van ’n rassistiese agenda neerkom. Retief het in die gesprek aangebied om al Volksblad se moontlike beriggewing wat volgens The Weekly ingevolge ’n rasse-agenda sou wees, self (gratis) deur te gaan en daaroor ’n oordeel te vel. The Weekly het sy aanbod geweier.

Bevinding

Die ombudsman het bevind The Weekly se plakkaat, opskrif en inleiding bied die beweerde smeerveldtog as ’n feit aan, sonder rugsteunende bewyse. Dit is strydig met die bepalinge van die SA Perskode dat “eie mening” duidelik so aangetoon word; slegs na ras verwys word wanneer dit in openbare belang is, en dat onnodige skade (aan Volksblad) berokken is. 

Al drie oortredinge is ernstig.SanksieThe Weekly moet op sy voorblad verskoning teenoor Volksblad aanteken daarvoor dat hy: die beweringe van ’n “geheime agenda” en ’n “smeerveldtog” teen Magashule op sy plakkate, in die opskrif en in die berig as feitelik korrek aangebied het;) deur die herhaalde verwysing na ras die indruk wek dat die beweerde “veldtog” rasgedrewe is; en) dat hy Volksblad onnodig skade berokken het.

Geen party het appèl aangeteken nie. Die Valke ondersoek nou die beweerde korrupsie met die Vrede-suiwelplaas. Die batebeslagleggingseenheid het ’n bevel vekry vir batebevriesing van die suiwelplaas van die VPR waarvan glo slegs 1% van die R220,2 miljoen aan die landbouprojek bestee is.

Gert Coetzee is die redakteur van Volksblad.

Meer oor:  Volksblad  |  Ace Magashule  |  Klag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.