Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Omkoopwors en vroue in hoë plekke

“Omkopery” met wildswors, ’n “tikkie vroulikheid” in die mynbedryf, en die “diefstal” van ’n hele maatskappy, is waaroor Adriaan Basson skryf in dié vertaalde uittreksel uit sy boek Blessed by Bosasa.

Gavin Watson, ontslape grootbaas van Bosasa, saam met oudpres. Jacob Zuma. Foto: Verskaf

Hildagarde (Hilda) Nikiwe Ndude moes, soos haar struggle-eweknieë Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Baleka Mbete en Nomvula Mokonyane, ’n bekende naam in die Suid-Afrikaanse politiek gewees het.

In die beroemde foto van Nelson en Winnie Mandela wat die Victor Verster-gevangenis op 11 Februarie 1990 met gebalde vuiste omhoog verlaat, is sy in haar blou baadjie en groen bloes in die middel agter hulle. As die ANC se destydse hoof van protokol was sy daardie week in elke groot koerant en TV-kanaal ter wêreld.

Ndude was ’n veteraan van die United Democratic Front (UDF) wat nog jonk was toe sy as gemeenskapsaktivis in die destydse Kaapprovinsie by die struggle betrokke geraak het. Sy was een van die ANC-leiers wat nou betrokke was by die reëlings rondom Mandela se vrylating en was een van ’n handjievol mense wat hom daardie oggend ingelig het oor wat hy buite die tronk te wagte kon wees terwyl hy besig was om hom daarop voor te berei om vir die eerste keer in 27 jaar ’n vry man te wees.

Nog iemand wat daardie dag ’n belangrike rol gespeel het, was brig. Patrick Gillingham, ’n senior apartheidsera bewaarder in beheer van die bestuur van die gevangene Mandela. Hy was by toe Mandela sy vrylatingsdokumente onderteken het.

Die lys van aanwesiges laat ’n mens dink aan dié van ’n latere kabinentsvergadering, maar in 1996 was dié vroue nog provinsiale politici, LP’s of sakelui.

Ndude het dus daardie oggend die “nuwe” Suid-Afrika verteenwoordig en Gillingham die ou apartheidsregime. ’n Paar jaar later sou Gavin Watson en Bosasa ’n dramatiese impak op hul lewe hê.

Ndude het in 1994 ’n lid geword van die Wes-Kaapse wetgewer as ’n ANC-opposisielid nadat die NP daarin geslaag het om beheer oor dié provinsie te verkry in die land se eerste demokratiese verkiesing.

Sy was in daardie stadium ’n senior leier in die ANC se Vroueliga (ANCVL) en het in die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gedien. Twee jaar later is sy na ’n ontmoeting ontbied by die Nqakulas se huis in Cyrildene, Johannesburg.

Die lys van aanwesiges laat ’n mens dink aan dié van ’n latere kabinentsvergadering, maar in 1996 was dié vroue nog provinsiale politici, LP’s of sakelui: Mbete, Mapisa-Nqakula, Mokonyane, Lindiwe Maseko, Lindiwe Zulu, Nozuko ‘Girly’ Pikoli, Mavivi Myakayaka-Manzini, Nomatyala Hangana en Makho Njobe. Adelaide Tambo was daar in ’n raadgewende hoedanigheid.

Ronnie, Charles en kameraad Hani

Hilda Ndude was nou betrokke by die vrylating van oudpres. Nelson Mandela. Hier gee Mandela sy eerste treë na vryheid saam met sy destydse vrou, Winnie. Foto: Argief

Volgens Ndude het Nosiviwe Mapisa-Nqakula se man, Charles Nqakula, die vroue aan Ronnie Watson [broer van Gavin] voorgestel. Mapisa-Nqakula is ook deur haar man aan Ronnie voorgestel wat hom in die ANC se ondergrondse netwerk ontmoet het.

“Hulle het saamgewerk en het saam in die land aangekom. Hy [Ronnie] was baie na aan Charles en kameraad Chris [Hani]”.

In sy boek The People’s War het Charles Nqakula vertel hoe hy Ronnie Watson in 1985 in ’n hotel in Lusaka deur Hani ontmoet het wat in daardie stadium sekretaris-generaal van die SAKP was. Nqakula was beïndruk deur die “bondige en skerp” inligtingsverslae wat Watson aan die ANC gelewer het. Hy het die vermoë gehad om vooruit te dink en die toekoms te voorspel, het Nqakula geskryf.

Volgens die boek het Ronnie Watson “saam met kaders van Mbokodo [die ANC se intelligensie-instelling] saam met kaders soos Linda Mti (Richman) en Lizo Njenje (Gibson Makhanda) gewerk”.

’n Foto van Gavin Watson, ontslape grootbaas van Bosasa, by ’n roudiens wat vir hom in Johannesburg gehou is. Foto: Gallo Images

Mavivi Myakayaka-Manzini het bevestig die vroue se eerste kontak was met Ronnie en nie Gavin nie: “Hy was die een in die ANC, nie Gavin nie,” het sy gesê.

“Ronnie Watson is ’n nabye familievriend. Is, nie was nie,” het Nosiviwe Mapisa-Nqakula gesê – sy wat minister was van twee regeringsdepartemente, binnelandse sake en korrektiewe dienste, waaruit Bosasa en dus die Watson-clan ryklik voordeel getrek het.

“Hy is die peetpa van my oorlede seun. Ek gaan my nie van hom distansieer nie; hy is báie na aan ons.”

Maar ondanks die feit dat Ronnie betrokke was by ’n aantal sleutelgebeure in Bosasa, insluitende om met [Angelo] Agrizzi te onderhandel om in die maatskappy aan te bly en nie in 2018 ’n fluitjieblaser te word nie, het Mapisa-Nqakula voet by stuk gehou dat ek nie haar baie noue en persoonlike verhouding met Ronnie met Gavin Watson se ondernemings moet verbind nie.

“My verhouding met Gavin is baie anders,” het sy gesê en dit later ’n “liefde-haat”-situasie genoem.

’n Broer in die poskantoor

Dan is ’n verdere skakel tussen die families Nqakula en Watson: Mapisa-Nqakula se broer, Siviwe, was hoof van sekuriteit by die Poskantoor toe Bosasa Security in die vroeë jare 2000 ’n multimiljoenrand tender gewen het om sekuriteit aan poskantore regoor die land te verskaf.

Agrizzi het voor die Zondo-kommissie, die openbare ondersoek na bewerings van staatskaping wat in 2018 op die been gebring is, getuig Siviwe Mapisa en Maanda Manyatshe, destydse uitvoerende hoof van die Poskantoor, is deur Gavin Watson omgekoop sodat die tender aan hom toegeken sou word.

Buiten kontant het Watson na bewering ook tydens ’n besoek aan Dubai aan Mapisa ’n Cartier-pen en -mansjetknope gegee. Agrizzi het getuig “hoe baie [Mapisa] die geskenk waardeer het”.

Om alles te kroon het Mapisa Ronnie Watson vergesel op jagtogte op sy plaas in die Oos-Kaap.

“Ek moes die trokke reël om die vleis van die Oos-Kaap af na Mapisa se huis in Gauteng te voer – op die maatskappy se onkoste,” het Agrizzi getuig.

Mapisa-Nqakula was geskok om te hoor Agrizzi verwys na die vleisaflewerings as omkopery. Hoewel sy, haar man, Charles, en hul volwasse kinders gereeld op Ronnie Watson se plaas jag “behoort die diere wat ons skiet aan Ronnie en nie aan die staat nie,” het sy gesê.

“Wanneer ons vir ’n naweek soontoe gaan, los ons die vleis ná ’n jagtog daar by Ronnie wat dan wors daarvan maak en die vleis verpak. Dit word dan aan ons afgelewer. Agrizzi het gesê die vervoer van die vleis word deur Bosasa behartig – ek weet nie wie sou die vleis vervoer nie.”

‘Karaktermoord of eliminasie’

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamndla

Mapisa-Nqakula se verhouding met Ronnie Watson was van so ’n aard dat dit nooit eers by haar opgekom het dat wie vir die vleis en die vervoer daarvan betaal het as ’n voordeel beskou kon word nie, het sy gesê.

Ronnie Watson het in die vroeë 1990’s aan Charles Nqakula en Hani gesê die ANC sal Suid-Afrika regeer, maar dat sommige leiers van die beweging aan “karaktermoord blootgestel gaan word en indien dít nie daartoe lei dat hulle gemarginaliseer word nie, sal hulle geteiken word vir eliminasie”.

Dit is dus te verstane dat Nqakula ná die sluipmoord op Hani na Watson sou luister, so toe Watson vra Nqakula en sy vrou moet hom aan leiers van die ANC-vroueliga voorstel om ’n “tikkie vroulikheid”, in Ndude se woorde, aan die mynboubedryf te verleen, het hulle ingestem.

Hilda Ndude het gesê Ronnie Watson het aan hulle gesê daar is sakegeleenthede in die tradisioneel manlik oorheersde mynboubedryf.

“Hy het gesê dit was ’n geleentheid vir ons dames om onsself in ’n maatskappy te groepeer . . . Daar was baie wat ons kon doen; spyseniering en skoonmaakdienste by die mynhostelle is wat ons sou doen. Ons het gesê: ‘Ons weet niks van besigheid af nie en ons is nie seker dat ons hiervoor tyd het nie want ons is leiers in die ANC-vroueliga.’”

Mapisa-Nqakula het Nozuko Pikoli in die vroeë 1990’s genooi om by Dyambu aan te sluit.

“Die mynbedryf het in daardie stadium harde bene gekou en baie mynmaatskappye het ontslae geraak van ondernemings wat nie met hul kernbesigheid verband hou nie,” het Pikoli gesê. “Terselfdertyd was baie ondernemings besig om daadwerklik professionele swart mense te soek en veral diegene wat in verskeie hoedanighede in die swart gemeenskap betrokke was. Ondernemings was gretig om hul beeld op te kikker deur te wys dat lede uit die swart gemeenskap by hulle betrokke is deur direkteurskappe en een of ander vorm van aandeelhouding.

“Baie van ons het destyds gedink daar is niks mee verkeerd om deel van die sake te wees nie noudat daardie wêreld besig was om oop te gaan; ons kon immers só leer en eendag selfstandige entrepreneurs wees.

“Ons was ook daarvan bewus dat die politieke organisasies ons niks geskuld het nie en dat ’n mens op een of ander stadium ’n selfstandige bron van inkomste moet hê.”

‘Wou myners help’

Die Watson-broers in die 1980’s: Van links is Ronnie, Valence en Gavin. Foto: Gallo Images

Myakayaka-Manzini het beklemtoon die Dyambu Operations-transaksie het niks met die ANCVL te doen gehad nie.

“Ons het dit gesluit as vroue wat wou deel wees van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ons eerste besorgdheid was die kwessie van trekarbeid wat baie families verwoes het. So toe ons deur ’n maatskappy genader is wat op mynwerkers toegespits is, het ons gedink dit is ’n projek wat sou kon help om families te herenig.

“Ons het daarvan gedroom om vir mynwerkers huise te bou waar familie-eenhede in ordentlike huise gehuisves kon word.”

Ons was baie onkundig; ons het geen benul van besigheid gehad nie.

Mapisa-Nqakula het beklemtoon dit was nooit veronderstel om ’n frontmaatskappy van die ANCVL te wees nie, maar was ’n maatskappy wat deur ’n groep leiers van die vroueliga in hul persoonlike hoedanigheid gevorm is.

“Ons was baie onkundig; ons het geen benul van besigheid gehad nie. Ons was nie direkteure nie, maar aandeelhouers. Ons was aandeelhouers van ’n maatskappy wat as Dyambu bekend gestaan het. Die verdeling tussen operasies en beheer het eers later plaasgevind.

“In daardie stadium het Hilda [Ndude] persoonlike probleme gehad en moes ons haar uit die Wes-Kaap kry, so sy is toe as die uitvoerende hoof van ons maatskappy aangestel.”

‘Geen botsing van belange’

Hilda Ndude en Nolithu Vukuza kom by die parlement aan vir oudpres. Jacob Zuma se staatsrede in 2010. Foto: Gallo Images

Terwyl die meeste van die ander vroue in Kaapstad gebly het as parlementariërs het Ndude Gauteng toe getrek om Dyambu uit haar Sandton-kantoor te bestuur.

Ndude het bevestig die vroue was bedag daarop dat die Dyambu-transaksie nie gesien moes word as die ANCVL wat die sakewêreld betree nie.

Meritum, die maatskappy wat hulle gekoop het, het kontrakte gehad om skoonmaakwerk en spyseniering in die myne te doen en hulle het geen botsing van belange tussen dít en hul rol as politici gesien nie.

“Ons het dit uit die staanspoor met Ronnie uitgeklaar dat ons as individue en nié as lede van die ANC-vroueliga nie by die transaksie betrokke sou raak.”

Die vroue het geglo hulle is die eienaars van die Dyambu-onderneming en Gavin Watson die bestuurder.

Maar Ronnie Watson het hulle omgehaal om nie te huiwer om hul politieke invloed te gebruik nie, deur te sê: “Nee man, julle ouens weet hoe om te praat, julle is leiers, julle sal die werkers kan oortuig.”

Buiten vir die kontrakte in die myne het die koopkontrak ook die Lindela-eiendom ingesluit wat by die spoorwegstasie in Krugersdorp was. Volgens Ndude het Ronnie Watson aan hulle gesê hulle kan by dié deportasiesentrum betrokke raak en “’n tikkie vroulikheid” daar inbring.

Die vroue het geglo hulle is die eienaars van die Dyambu-onderneming en Gavin Watson die bestuurder. Drie jaar later, in 2000, het Gavin Watson vir Hilda Ndude beveel om ’n brief te onderteken wat effektief die volle eienaarskap van Dyambu Operations – wat later Bosasa Operations geword het – aan hom oor te dra.

Vandag, 19 jaar later, glo Ndude Gavin Watson ‘het die maatskappy gesteel”.

* Adriaan Basson is die redakteur van News24. Blessed by Bosasa het pas by Jonathan Ball-Uitgewers verskyn.

Meer oor:  Bosasa  |  Gavin Watson  |  Adriaan Basson  |  Angelo Agrizzi  |  Patrick Gillingham  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.