Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ongelykheid: Sit SA op ’n kruitvat?

Daar sal dringend iets gedoen moet word aan die ontstellende sosio-ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika, anders gaan ons dieselfde paadjie as Zimbabwe loop, waarsku Pieter Labuschagne.

’n Treffende voorbeeld van die ongelykheid in Suid-Afrika. Op dié foto wat in 2018 geneem is, kan die informele nedersetting by Kya Sands in Johannesburg aan die regterkant gesien word en die middelklas-woonbuurt Bloubosrand aan die linkerkant. Foto: Getty Images

’n Mens wonder of politieke partye en ander rolspelers in Suid-Afrika aldag werklik die dringende erns en potensiële plofbaarheid van die politieke dinamika in die land besef.

Die toenemende stryd tussen die twee strydende faksies in die ANC oorheers tans die politieke toneel in Suid-Afrika.

In die een hoek van die kryt is propagandiste wat radikale ekonomiese transformasie (RET) voorstaan en in die ander hoek die meer gematigde pragmatiese kapitaliste.

Die RET-propagandiste wil hê die politieke transformasie van die land moet met radikale ekonomiese transformasie opgevolg word.

Dit is duidelik dat die toutrekkery tussen dié twee groepe kritiek vir toekomstige stabiliteit in die land gaan wees.

Die RET-propagandiste wil hê die politieke transformasie van die land moet met radikale ekonomiese transformasie opgevolg word.

Die doel daarvan is om welvaart van die bevoorregte groep, wat grootliks uit wit mense bestaan, na die behoeftige deel van die bevolking, wat grootliks uit swart mense bestaan, te skuif. Dit moet reggekry word met onder meer grondhervorming.

Ongelykheid in SA bly ontstellend groot

’n Duidelike boodskap op ’n T-hemp by ’n betoging in Februarie vanjaar in Johannesburg. Foto: Getty Images

Die RET-groep in die ANC met hul self-aangestelde leier, Ace Magashule (sekretaris-generaal), geniet bykomende steun van die militante EFF wat grootliks dieselfde oogmerke het.

Die ontstellende werklikheid is dat die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika ná bykans 30 jaar van politieke vryheid steeds ’n faktor bly wat tot destabilisering kan lei.

Suid-Afrika se sosio-ekonomiese ongelykheidsyfer is die hoogste in die wêreld.

Dit is boonop ’n groot probleem dat die gaping tussen ryk en arm al hoe wyer word en politieke suurstof aan die RET/EFF-groepering gee.

Suid-Afrika se sosio-ekonomiese ongelykheidsyfer (Gini- koëffisiënt) is 63, die hoogste in die wêreld. (Hoe hoër die syfer hoe groter die ongelykheid – 0 is absoluut gelyk en 100 absoluut ongelyk).

Dié gaping vernou ook nie, in 1993 was dit 59.

In ’n ontwikkelde en ryk land soos die VSA met sy risiko-kapitalisme is daar ook ’n groot gaping tussen ryk en arm, maar sy ongelykheidsyfer van 45 is steeds laer as dié van Suid-Afrika.

’n Informele nedersetting buite Stellenbosch. Foto: Getty Images

Volgens die Wêreldbank se verslag van 2019 besit 1% van die rykste mense in Suid-Afrika 71% van die totale welvaart en die armste deel (60%) van die bevolking (hoofsaaklik swart) net 13%.

In 2019 het amper 25% van die bevolking onder die armoede-broodlyn van $37 ’n dag gelewe, waarvan 64% swart, 40% bruin, 5% van Asiese en Indiese afkoms en 1% wit was.

Die gemiddelde salaris vir die onderskeie rassegroepe was; wit: R12 214, Asiërs en Indiërs R11 900, bruin R4 834 en swart R4 413.

Volgens Africa Check is grondbesit ewe ongelyk: 72% van alle plase het wit eienaars (dit is 22% van die totale grond in die land) en net 4% het swart (1% van totale grond in die land). Wat geregistreerde eienaarskap van hoewes en erwe betref, is die syfer vir wit eienaarskap 49% wit en vir swart eienaarskap 30%.

Die situasie in Suid-Afrika vertoon reeds ontstellende ooreenkomste met dié van Zimbabwe.

Dié materiële ongelykheid is vrugbare teelaarde vir opbouende ontevredenheid wat toenemend deur die RET-groep en die EFF uitgebuit sal word.

As die situasie onveranderd voortduur, soos wat ná onafhanklikheidswording in Zimbabwe gebeur het, sal dit ’n ernstige bedreiging vir politieke stabiliteit inhou.

Die situasie in Suid-Afrika vertoon reeds ontstellende ooreenkomste met dié van Zimbabwe wat hom uiteindelik in die spreekwoordelike diep donkertes van ekonomiese ellende ingetrek het.

Zimbabwe se ontwikkelingspad

’n Tekort aan kos is die werklikheid waarmee baie Zimbabwiërs daagliks te doen kry. Dié man maak mopaniewurms in sy blyplek in Bulawayo gaar. Foto: Getty Images

In die voormalige Rhodesië was die grondkwessie en die ongelyke verspreiding van welvaart die belangrikste rede vir die ontstaan van die bevrydingstryd.

In 1962, enkele jare voor die uitbreek van die insurgensie-stryd, was amper 80% van die swart bevolking in reservate wat sowat 21 miljoen hektaar beslaan het.

Die sowat 450 groot kommersiële boere het voorspoedig op 35 miljoen hektaar vrugbare landbougrond geboer.

Die onontwikkelde swart reservate het as bron van goedkoop arbeid gedien.

Die gaping tussen die ryk wit klas en die arm swart bevolking was van die grootste ter wêreld. Die sosio-ekonomiese omstandighede van die swart bevolking was desperaat, met grootskaalse armoede.

Die ongelyke besit van welvaart, veral grond, was deel van die koloniale bestuur met ekonomiese groei wat in die moderne en meestal wit sektor geleë was. Die onontwikkelde swart reservate het as bron van goedkoop arbeid gedien.

Ná Zimbabwe se onafhanklikheidswording in 1980 is daar probeer om dié probleme deur middel van ’n gematigde sosialistiese benadering op te los.

’n Plaas in Zimbabwe waar bestaansboerdery beoefen word. Foto: Getty Images

Die klem was op sterker sosialistiese vorme van produksie en verspreiding, asook ’n groter betrokkenheid van die gemeenskap in sosio-ekonomiese bedrywighede soos kollektiewe plase. Die pragmatiese oogmerk was om die kapitalistiese instellings se vermoë om ekonomiese groei te skep te behou.

Dié ontwikkelingstrategie, getiteld “Groei met regmatigheid”, was in wese ’n pragmatiese vorm van sosialisme waar die surplus van ekonomiese groei gebruik is om ’n einde aan armoede en ongelykheid te probeer maak.

Die herverdeling van landbougrond was die belangrikste element van dié strategie omdat dit ook swart kommersiële boere en swart kleinboere op vrugbare landbougrond wou hervestig.

Teen die vroeë 1990’s het die ambisieuse planne vir die hervestiging van arm swart gesinne op landbougrond en gematigde sosialisme grootliks misluk.

Die aanvanklike teiken was om 162 000 gesinne op sowat 10 miljoen hektaar grond te hervestig, teen ’n beraamde koste van ongeveer R500 miljoen.

Die nuwe Zimbabwiese regering se bykomende klem op sosio-ekonomiese hulp aan die behoeftige deel van die bevolking, het die staatskas egter binne die eerste vyf jaar gedreineer met die gevolg dat slegs 40 000 gesinne hervestig kon word.

In 1985 is fondse vir hervestiging met 20% gesny en in 1988 met ’n verdere 80%. Die hervestiging van arm swart gesinne op vrugbare landbougrond het só effektief tot stilstand geknars.

Einde van grondhervorming in Zimbabwe

Sake het op ekonomiese gebied erg agteruitgegaan onder die bewind van wyle Robert Mugabe. Foto: Getty Images

Teen die vroeë 1990’s het die ambisieuse planne vir die hervestiging van arm swart gesinne op landbougrond en gematigde sosialisme grootliks misluk.

Een rede daarvoor was dat die landbouproduksie op plase waar mense hervestig is baie laag was. Op een groot kommersiële plaas in die Makuvapasi-gebied is 43 gesinne hervestig, waar ’n wit boer in die verlede rekord-oeste gelewer het. Van die 20 000 hektaar landbougrond was net 3 000 hektaar bewerk met baie lae opbrengste.

Die 450 wit kommersiële boere het meer as 80% van die landbou-uitsette gelewer.

Die tweede belangrike rede was dat die regerende politieke en ekonomiese elite toenemend deel van die bevoorregte klas (bourgeoisie) geword het en informeel ’n blok van teenkanting teen hervorming gevorm het. Die 300 nuwe swart kommersiële plaaseienaars het die regerende elite gesteun en was teen die verdere herverdeling van grond gekant.

Die derde rede was dat die verdiening van buitelandse valuta belangrik was. Die 450 wit kommersiële boere het meer as 80% van die landbou-uitsette gelewer en die R2,2 miljard se buitelandse valuta wat dit opgelewer het, het 43% van die totale buitelandse verdienste gevorm.

Vervreemding van behoeftiges

’n Vrou dra ’n sak mielies op ’n plaas buite Harare in Zimbabwe. Foto: Getty Images

Die bevrydingstryd in die voormalige Rhodesië het swaar op die plaaslike bevolking gesteun.

Tussen 1965 en 1980 het Zanu en die Patriotic Front staatgemaak op die steun van die plaaslike bevolking – wat meestal grondloos was – en ’n klein werkersklas.

Die oogmerk van dié groep was die herverspreiding van landbougrond en die verbetering van die sosio-ekonomiese posisie van die armes deur die skepping van meer geleenthede en die verspreiding van welvaart.

Die regerende- en landbou-elite is toenemend deur die bourgeoisie ingetrek.

Die mislukking van die gematigde sosialistiese strategie en die groter klem op ekonomiese groei om buitelandse valuta te verdien, het die pendulum in 1985 weg van die arm deel van die bevolking na die bourgeoisie geswaai.

Die regerende- en landbou-elite is toenemend deur die bourgeoisie ingetrek. Dit het onder meer aanleiding gegee tot die immorele herverdeling van landbougrond deur politici aan hul familie en vriende.

Dit het tot die vervreemding en marginalisering van die plaaslike bevolking, die werkersklas en die klein middelklas gelei wat die kern van die aanvanklike bevrydingstryd gevorm het.

Dié groep se materiële agteruitgang en eise vir grond het toegeneem en hul afkeur in die heersende bourgeoisie en elite het opgebou.

Pieter Labuschagne

In 1997 het die staatsamptenare ’n grootskaalse staking geloods. Die kritieke oomblik was egter in 1998 toe dit geblyk het dat die fonds wat vir die kompensasie van oorlogsveterane bestem was, deur die regime van oudpres. Robert Mugabe geplunder is.

Die vakbondleier Morgan Tsvangirai het in 2000 met die steun van die werkersklas, klein middelklas en die plaaslike bevolking doeltreffende teenstand teen die heersende elite van stapel gestuur.

Mugabe het die referendum oor grondwetlike veranderinge verloor – die waterskeidingsoomblik vir voortgesette stabiliteit in die land.

Mugabe het oorlogsveterane ná die nederlaag in die referendum toegelaat om plase te beset as deel van ’n tweeledige strategie.

Mugabe het probeer om die grondlose armes te sus deur klandestien die besetting van wit kommersiële plase goed te keur. Die onstabiliteit het op sy beurt die ekonomie en die waarde van die plaaslike dollar in vryval geplaas.

Mugabe het oorlogsveterane ná die nederlaag in die referendum toegelaat om plase te beset as deel van ’n tweeledige strategie. Dit was aan die een kant ’n uitlaatklep vir behoeftige mense ná die mislukking van die grondhervestigingsprogram en ook om wraak teen wit boere en hul swart plaaswerkers wat teen hom gekant was te neem.

Die res is geskiedenis – die geleidelike ekonomiese verval en toenemende geweld en onderdrukking in Zimbabwe kan direk na dié gebeure herlei word.

Lesse vir Suid-Afrika?

Lede van die ANC se Radikale Ekonomiese Transformasie-groep op ’n mediakonferensie met Carl Niehaus aan die woord. Foto: Gallo Images

Die les vir Suid-Afrika is duidelik – daar moet dringend aandag gee word aan die groot sosio-ekonomiese ongelykhede in die land. As dit nie gedoen word nie, word die kans op politieke en maatskaplike onstabiliteit elke dag groter en word die posisie van die RET-groep en die EFF net versterk.

Die situasie sal beplanning op lang- en korttermyn verg, maar Suid-Afrikaners kan nie toelaat dat omstandighede – wat deur die Covid-19-pandemie vererger is – verder versleg nie.

Die eerste stap oor die korttermyn is om die plundering van die staatskas en ander bronne deur korruptes stop te sit sodat dié miljarde rand vir ontwikkeling gebruik kan word.

Die goue sleutel op lang termyn is volgehoue hoë ekonomiese groei in samehang met werkskepping.

Op medium termyn kan dié fondse doeltreffend aangewend word vir die opleiding van vakleerlinge en entrepreneurs. Dit kan in samewerking met die private sektor gebeur en ’n blaadjie kan uit Solidariteit se boek geneem word wat vakleerlinge by Soltech oplei.

Onbenutte grond en staatsgrond moet ook gebruik word vir die hervestiging van swart boere, maar eers nadat hul die nodige opleiding en tegniese steun ontvang het.

Die goue sleutel op lang termyn is volgehoue hoë ekonomiese groei in samehang met werkskepping.

Dit sal gewis nie maklik wees nie, maar komplekse probleme vereis komplekse antwoorde.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.