Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ongewilde Corbyn, swak boodskap kelder Arbeiders

Om te verstaan wat verkeerd geloop het met die Arbeidersparty se verkiesingsveldtog, moet ons kyk na die drie faktore wat sukses waarborg, skryf Eric Shaw. Die kommunikeerder, die boodskap en die oordra van die boodskap.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, het ’n nagmerrie-verkiesing beleef. Foto: Getty Images

Die Arbeidersparty het vanjaar se algemene verkiesing in Brittanje met twee struikelblokke om die been tegemoet gegaan.

Brexit het baie van die kiesers weggelok wat in 2017 vir hom gestem het, veral onder die werkersklas in die noorde van Engeland en die westelike Middellande.

Jeremy Corbyn was ook erg ongewild – en persepsies oor watter leier die beste eerste minister sal wees, speel ’n groot rol onder kiesers.

Albei faktore het die Arbeidersparty in die noorde van Engeland en in die westelike Middellande vernietig en die Arbeiders se sogenaamde “rooi muur” het verkrummel. Die Arbeidersparty se lot was waarskynlik verseël nog voordat die verkiesing uitgeroep is.

Dié agterstand is verder vererger deur die Arbeidersparty se verkiesingsveldtog wat swak genoeg was om ’n nederlaag in ’n ramp te verander.

Om te verstaan wat verkeerd geloop het met die veldtog, moet ons terugstaan en vra wat is die bestanddele van ’n suksesvolle veldtog. Daar is drie verskillende faktore: die kommunikeerder, die boodskap en die oordra van die boodskap.

Die kommunikeerder

Boris Johnson, Britse premier en leier van die Konserwatiewe Party. Sy party het vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog die steun van die grootste deel van die werkersklas gekry. Foto: Getty Images

Baie hedendaagse kiesers is instinktief skepties oor enigiets wat van partye afkomstig is, veral van hul leiers.

Navorsing dui daarop dat kiesers se standpunte oor wat politici sê kwaai beïnvloed word deur die mate waartoe hulle as betroubaar beskou kan word, dit wil sê, kan hulle vertrou word om stellings te maak wat waar is en het hulle die persoonlike kwaliteite en bevoegdhede wat nodig is vir leierskap.

Corbyn het swak gevaar wat dié twee aspekte betref, selfs in verhouding met Boris Johnson wat sy eie goed gedokumenteerde probleme het.

Die lae dunk van Corbyn was deels die gevolg van onophoudelike vyandige mediadekking. Tog sal selfs die mees simpatieke waarnemer sukkel om sy kommunikasievermoë sowel as sy vermoë om vertroue en selfvertroue in te boesem as enigiets anders as middelmatig te beskou.

Corbyn was reeds vooraf die ongewildste opposisieleier in ’n halfeeu.

Twee ooglopende voorbeelde was sy weiering om amper tot op die einde om verskoning te vra vir anti-semitisme en sy lompe reaksie op ’n vraag of hy na die koningin se Kersboodskap gekyk het. Dit het gewys dat hy nie flink kan dink nie, verbaal nie baie vloeiend is nie en ’n gebrek aan emosionele intelligensie het.

Die beeld wat kiesers reeds van ’n leier het, beïnvloed ook die manier waarop hy tydens ’n verkiesingsveldtog beoordeel word.

Corbyn was reeds vooraf die ongewildste opposisieleier in ’n halfeeu – hy is gesien as onpatrioties, iemand wat nie gewillig is om in Brittanje se belange op te tree nie en vyandiggesind is teenoor geliefde instellings soos die weermag en monargie en boonop sag is op terrorisme.

Gevolglik is beleidsrigtings wat andersins goed ontvang sou gewees het met minagting of ongeloof begroet. Dit het nie gehelp dat die Arbeiders lojaliste soos Laura Pidcock, Rebecca Long-Bailey en Andy McDonald na vore gestoot het vir media-onderhoude ten koste van meer bedrewe woordvoerders soos Keir Starmer nie.

Die boodskap

Die Konserwatiewe Party se eenvoudige slagspreuk oor Brexit het die verbeelding van Britse kiesers aangegryp. Hier sit Boris Johnson, premier en leier van die Konserwatiewe Party, agter die stuur van ’n stootskraper wat deur ’n simboliese muur breek. Foto: AP

’n Beleidsrigting sal as geloofwaardig beskou word as dit as bekostigbaar en uitvoerbaar gesien word. Die Arbeidersparty het skynbaar gesukkel om dit te begryp.

Daar het kwalik ’n dag verbygegaan waarop dié party nie miljarde vir die een of ander verdienstelike saak belowe het nie: vir die nasionale gesondheidsdiens, onderwys, salarisse vir staatsamptenare, voordele, pensioen-vergoeding vir die sogenaamde “Waspi-vroue” (wat kapsie maak teen geslagsdiskriminasie met pensioene), nasionalisering, gratis internetverbinding, ensovoorts.

Dit lyk of strateë van die Arbeidersparty gedink het die blote omvang, gulhartigheid en radikalisme van die program sal kiesers wat desperaat is vir transformerende sosiale hervormings geesdriftig stem. Maar in fokusgroepe het dit geblyk dat kiesers geweldig skepties was oor die Arbeiders se vermoë om hul beloftes te befonds en na te kom.

Die Arbeiders het tussen beleidsrigtings rondgespring en nooit lank by een stilgestaan nie.

“Waar gaan hulle die geld vandaan kry?,” was ’n deurlopende refrein. Dit het geklink soos die stokou Konserwatiewe idee dat die Arbeiders nie met jou geld vertrou kan word nie en die ekonomie bankrot sal maak.

Die Tories het verstaan dat kiesers hulle selde steur aan die besonderhede van beleid en dat ’n party onophoudelik moet hamer op ’n paar versigtig uitgesoekte boodskappe: bowenal “kry Brexit gedoen”.

Die Arbeiders het met donshael geskiet. Eerder as om klem te lê op belangrike swakpunte van die Tories soos die nasionale gesondheidsdiens en bejaardesorg, het hulle tussen beleidsrigtings rondgespring en nooit lank by een stilgestaan nie.

Die Arbeidersparty moes veel meer gemaak het van een van die Konserwatiewe Party se swakpunte: die bestuur van die nasionale gesondheidsdiens. Foto: AP

Baie kiesers was skynbaar amper obsessief daaroor om Brexit gedoen te kry. Die Arbeidersparty en sy ondersteuners van 2017 was erg verdeel oor of dit wenslik was.

Die leierskap het deur middel van “konstruktiewe meerduidigheid” ’n balans probeer kry tussen dié teenstrydige knelpunte, maar dit het hulle besluitloos, weifelend en verward laat voorkom.

Daar is beslis nie ’n maklike oplossing vir ’n party wat nie met die Tories kan meeding oor kwessies soos immigrasie en reg en orde nie.

Maar die Brexit-kwessie het veel dieper gesny. Dit verteenwoordig ’n botsing tussen burgerlik-geneigde sosiaal-liberales wat wil hê Brittanje moet deel van die Europese Unie bly en volksnasionalistiese sosiaal-konserwatiewes wat Brexit voorstaan.

Dit sny oor die verdeling van links-regs en veroorsaak dat die Arbeiders al vir jare lank stemme in hul tradisionele hartlande verloor. Vir baie sosiaal-konserwatiewes in die werkersklas versinnebeeld Corbyn en sy binnekring die “metropolitaanse liberale elite”.

Daar is beslis nie ’n maklike oplossing vir ’n party wat nie met die Tories kan meeding oor kwessies soos immigrasie en reg en orde nie. Maar die feit dat die Arbeidersparty beleidsrigtings voorstaan wat lyk asof dit spesifiek bedoel is om sulke mense die harnas in te jaag – byvoorbeeld die belofte om lesse oor Britse imperialisme by skole se leerplanne in te sluit en om verskoning te vra vir Britse koloniale wandade – het nie gehelp nie.

Die oordra van die boodskap

Verkiesingsuitslae word aangekondig op ’n elektroniese bord by die BBC se hoofkantoor in Londen. Foto: Getty Images

Dit is gewoonlik vrugteloos om ingesteldhede in ’n kort verkiesingsveldtog te probeer verander.

Partye probeer eerder om toe te sien dat kwessies wat tot hul voordeel strek deurentyd onder die publiek se aandag gebring word deur oorvloedige mediadekking.

Die Arbeidersparty is erg gekniehalter in dié “lugoorlog” deur die oorwegend regse rigting wat die Britse drukmedia inslaan. Dit het ’n uitkringeffek op die BBC omdat dit lyk asof die redaksionele agendas van sy nuusprogramme uitermatig deur die pers beïnvloed word.

Die Arbeidersparty het verkies om rykes en die korporatiewe elite op ’n simplistiese manier die kop te was.

Dit beteken dat die Arbeidersparty veral doeltreffende en gesofistikeerde tegnieke moes gebruik om sy idees oor te dra. Jy doen dit deur ’n oorkoepelende narratief te ontwikkel wat probleme identifiseer, gebeure interpreteer en waardes op só ’n manier benadruk dat dit openbare steun vir sy beleidsagenda mobiliseer. Die voormalige Konserwatiewe premier Margaret Thatcher het dit baie goed gedoen met begrippe soos “jy kan nie uitgee wat jy nie verdien het nie”, en deur sedeprekies oor huishoudings en die balanseer van begrotings te gebruik.

Die Arbeidersparty het nie só ’n narratief gehad nie en eerder verkies om rykes en die korporatiewe elite op ’n simplistiese manier die kop te was.

Die onderliggende rede was die Corbynista-oortuiging dat mense se standpunte hul klas weerspieël en dat die werkersklas van nature links is. Dié redenasie skryf die Arbeidersparty se wankelende steun onder die werkersklas in onlangse jare toe aan twyfel oor sy vasbeslotenheid om ’n werklik radikale beleid in belang van die werkers te volg.

Britse koerante kondig die uitslag van die onlangse algemene verkiesing aan. Foto: AP

Die Arbeidersparty het dit as sy belangrikste taak beskou om dié kiesers te oortuig dat die kompromieë van die verlede verby was en dat hulle voortaan op die party kon steun om die beloofde radikale sosiale veranderings in werking te stel.

Daarom was ’n program van volgehoue politieke opvoeding, oortuiging en betrokkenheid nie nodig nie. Die gevolg was dat die Tories vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog die grootste deel van die werkersklas-stem op hom verenig het.

Dit wou voorkom asof die Arbeidersparty se ideologiese vooroordele nie rekening gehou het met ’n kille, emosielose ontleding van die feite nie. Om ander te mislei is verkeerd, om jouself te mislei, is fataal.

Corbyn se span moes vir alle praktiese doeleindes staatmaak op gebeure om die opposisie te ontspoor. Sonder enige noemenswaardige veranderings, was hul lot bepaal.

Die vraag vir die toekoms is watter lesse die Arbeiders uit dié ramp gaan leer?

* Eric Shaw is ’n senior lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Stirling. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Arbeidersparty  |  Konserwatiewe Party  |  Bbc  |  Boris Johnson  |  Jeremy Corbyn  |  Brittanje  |  Verkiesing  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.