Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onheilspellende wending ná moorde in Mosambiek

Die geweld in die noorde van Mosambiek het vandeesmaand ’n onheilspellende wending geneem toe die Islamitiese Staat (IS) gesê het hy is betrokke. Joan Swart ontleed dié aansprake en wat dit vir die Suider-Afrikaanse streek inhou.

Soldate staan wag in Colombo, Sri Lanka, waar terreuraanvalle oor die Paasnaweek meer as 300 slagoffers geëis het. Foto: Reuters

Sedert Oktober 2017 word Cabo Delgado, die mees noordelike provinsie van Mosambiek, geteister deur gewapende groepe wat kollektief as Ahloe Soenna Wal Jamaa (ASWJ) bekend staan.

Ondanks gereelde bespiegelinge, het die IS eers vandeesmaand sy betrokkenheid amptelik erken nadat hy verantwoordelikheid vir ’n aanval op 28 Mei naby Quiterajo in die Macomia-distrik aanvaar het.

Mosambiek gaan onder ekonomiese druk gebuk sedert die skandaal van geheime lenings en die uiteindelike gevolg van massiewe staatskuld die voorblaaie gehaal het.

Hoewel dit allerweë bevraagteken word of IS regstreekse verteenwoordiging of ’n bevelsinvloed in Mosambiek geniet, is die aanspraak weens verskeie redes kommerwekkend vir die land en sy bure.

Mosambiek gaan onder ekonomiese druk gebuk sedert die skandaal van geheime lenings en die uiteindelike gevolg van massiewe staatskuld die voorblaaie gehaal het.

Ondanks beloftes van miljarde dollar se inkomste uit gas- en olie-reserwes, het knaende produksievertragings, natuurlike rampe soos die onlangse sikloonskade en politieke onstabiliteit die land in ’n ernstige humanitêre krisis gedompel.

Groot gapings in welvaart, werkgeleenthede, opvoeding en dienslewering tussen die meer welvarende suide en gemarginaliseerde noorde laat frustrasies verder opvlam. Sulke persoonlike griewe en ’n gevoel van magteloosheid is die algemeenste oorsake van radikalisering en die oortuiging dat geweld as die laaste opsie geregverdig is.

Die toneel van ’n terreuraanval verlede jaar in die Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek. Foto: Twitter

Jare lange terreur het al meer as 300 lewens geëis

Die ASWJ het klaarblyklik sy oorsprong in ’n terroriste-beweging onder leiding van ’n radikale prediker, Aboed Rogo, in Somalië en Kenia. Dit word verbind met Al-Sjabaab, ’n organisasie wat bande met Al-Kaïda het en na bewering in 1998 by die bomaanvalle op die Amerikaanse ambassades in Nairobi en Dar es Salaam betrokke was.

Ná die sluipmoord op Rogo in 2012 het van sy volgelinge suidwaarts uitgewyk en uiteindelik in die Tanzanië/Mosambiek-grensgebied geëindig, waar hulle arm en werklose mans aangemoedig het om na madrassas – Islamitiese geloofskole – in die buiteland te reis waar hulle aan radikale ideologieë blootgestel word.

Die ASWJ se terreurveldtog het op 5 Oktober 2017 in die hawedorp Mocimboa da Praia begin toe ’n groot groep van ongeveer 30 tot 40 mans drie polisiekantore van dagbreek af beset het. Gedurende die beleg van 48 uur is twee polisiebeamptes en 14 aanvallers doodgeskiet en vyf ander offisiere gewond.

In die daaropvolgende week is 52 mans in hegtenis geneem. Sommige van hulle het beweer dat die belhamels hulle ongeveer R600 vir hul deelname belowe het. Daarna het aanvalle in die provinsie met reëlmaat plaasgevind.

Die omvang, veranderende aanvalsmetode en beweerde betrokkenheid van die IS in die mees onlangse aanval wek wyd kommer onder veiligheidsontleders.

Die databank van ACLED, ’n VSA-gebaseerde nieregeringsorganisasie wat wêreldwye konflik karteer, verbind 130 voorvalle in die Cabo Delgado-provinsie met ASWJ wat die lewe van 312 mense, meestal burgerlikes, sedert Oktober 2017 geëis het.

Die omvang, veranderende aanvalsmetode en beweerde betrokkenheid van die IS in die mees onlangse aanval wek wyd kommer onder veiligheidsontleders.

In die voorval – die dodelikste tot dusver – het aanvallers tuisgemaakte ploftoestelle agterop ’n vragmotor gegooi wat passasiers en goedere op ’n grondpad in die kusdistrik van Macomia vervoer het. Daarna het hulle met gewere losgebrand op die insittendes, van wie drie soldate wat die trok moes beveilig. Sestien mense, onder wie die soldate, het in die aanval gesterf.

Die Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek gaan gebuk onder veel erger armoede as die suidelike dele van dié land. Foto: Twitter

IS verklaar sy betrokkenheid in Mosambiek

Die IS het op 4 Junie ’n verklaring uitgereik waarin die groep verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

“Die soldate van die kalifaat het ’n aanval deur die Kruisvaarder-Mosambiekse weermag by Metubi in die Mocimboa-streek afgeweer,” lui ’n vrye vertaling van die Arabiese bewoording.

“Hulle het verskeie wapens in die skermutseling gebruik en verskeie vyand gedood en gewond. Die moedjahideen (Islamitiese vegters) het outomatiese gewere, ammunisie en vuurpyllanseerders gebuit.”

Islamitiese ekstremiste beskou sekulêre regerings en hul instellings – soos die weermag en polisie – as vyandige ongelowiges, van daar die verwysing na die Kruisvaarte.

Op die hoogtepunt van IS se relatiewe kort bestaan het hy grondgebied so groot soos Brittanje in Sirië en Irak beset.

’n Reeks vernietigende nederlae teen ’n VSA-geleide koalisie en die Russies-gesteunde Siriese weermag het die IS egter teen die planke gehad met die laaste veldslag in Baghoez, Sirië, waartydens die laaste paar vierkante kilometer in Maart van die terroriste teruggeneem is.

Die leier, Aboe Bakr al-Baghdadi, het met ’n hoë losprys op sy kop na die afgeleë woestyngrensgebied tussen Sirië en Irak gevlug.

Hoewel daar van sy handelsmerk-leuse “baqija wa tatamadad” (voortbestaan en uitbrei) blykbaar min oorgebly het, kan terroriste-groepe baie weerstandig wees – selfs al ly hulle oorweldigende verliese en kry hulle hewige teenstand.

Sikloon Idai het onlangs verwoesting in Mosambiek gesaai en die gevolge daarvan sal erger wees in die armer noordelike dele van dié land. Foto: Felix Dlangamandla

IS desentraliseer

Daar is reeds onheilspellende tekens dat Isis van taktiek verander het ten einde te oorleef. Die aanvaarding van verantwoordelikheid vir die bloedige aanval in Mosambiek is een voorbeeld van die aanpassing en ontplooiing van die “nuwe” staatlose IS.

Nou meer oproermaker as regeerder, adverteer die groep homself as ’n wêreldwye fasiliteerder vir die bevryding van onderdrukte Moslem-gemeenskappe deur die desentralisasie van geweld.

In Maart, pas ná die terreuraanvalle in Sri Lanka waartydens bykans 300 mense gesterf het, het internet- media-kanale van die organisasie ’n video van 18 minute versprei waarin Aboe Bakr al-Baghdadi in gesprek met sy adjudante is.

Al-Baghdadi, geklee in beskeie Midde-Oosterse drag met ’n AK47-aanvalsgeweer staangemaak teen die muur langs hom, is statig dog gemaklik en ietwat vaderlik.

Die toneel is informeel en huislik, soos wat die titel “Die Gasvryheid van die Bevelhebber” aandui. Die mans sit in ’n sirkel op geborduurde kussings terwyl hul leier woorde van dank en motivering uitspreek en hulle operasionele terugvoering aan hom gee.

Reeds met die openingskote is die professionaliteit en gehalte van die beplanning en vervaardiging duidelik. Al-Baghdadi, geklee in beskeie Midde-Oosterse drag met ’n AK47-aanvalsgeweer staangemaak teen die muur langs hom, is statig dog gemaklik en ietwat vaderlik.

Dit is moeilik om hom te vereenselwig met die wrede geweldpleging teen burgerlikes in Sirië en Irak, hoewel die vuurwapen daaraan herinner.

Betogers in Srinigar in die Indiese staat Kasjmir hou ’n IS-vlag omhoog. Foto: Getty Images

IS is nie verslaan nie

Al-Baghdadi begin deur IS-aanhangers daaraan te herinner dat hul stryd teen die “barbaarsheid en wreedaardigheid” van Christene en ander “ongelowiges” nie verby is nie, desnieteenstaande die nederlaag in die Stryd van Baghoez teen die einde van Maart.

Die vermelding van die Stryd van Baghoez dien ’n driedubbele doel.

Die mees onlangse gerugte van sy dood het in 2017 die ronde gedoen en het ná sy afwesigheid in Baghoez toegeneem.

In die eerste plek bevestig dit die tydraamwerk van die video-opname wat baie belangrik is in die konteks van verskeie media-aansprake dat Al-Baghdadi vroeër in aanvalle gesterf het.

Die mees onlangse gerugte van sy dood het in 2017 die ronde gedoen en het ná sy afwesigheid in Baghoez toegeneem. Dít, asook stories dat hy deur beserings vermink is, is nou die nek ingeslaan.

Tweedens verdiskonteer Al-Baghdadi se woorde die impak van die IS se verliese deur aanhangers te verseker dat hul stryd ondanks hewige teenstand en aansprake van finale oorgawe voortduur. Die organisasie en sy ideale is dus nog relevant en lewend.

Hiermee blaas hy nuwe hoop en stukrag in almal wat saamstap op die pad van stryd.

Die strewe na betekenis in die lewe is ’n kragtige dryfveer vir die meeste mense, maar self meer vir die tipiese IS-kandidaat.

Die organisasie is ’n trekpleister vir mense wat onderdruk, gemarginaliseer en vervreemd voel in hul gemeenskappe, betekenis en erkenning soek, en glo dat alle ander opsies en geleenthede om te vorder uitgeput is. As sodanig is hulle kwesbaar vir ekstremistiese ideologieë as ’n oplossing en ontvlugting.

’n Blik op Pemba, hoofstad van die Cabo Delgado-provinsie. Foto: Getty Images

Wat hou aansprake vir streek in?

So wat beteken die IS-aanspraak vir Mosambiek en die res van Suider-Afrika?

IS vestig wêreldwyd Wilajat (provinsies) en het duidelik groot aspirasies vir Afrika. IS koördineer reeds twee aktiewe groepe in Afrika suid van die Sahara, naamlik die Islamitiese Staat in Wes-Afrika (ISWAP) in Nigerië en die Sentraal-Afrika Provinsie in die Kongo. Die getalle van vegters is besig om vinnig toe te neem en IS het in die afgelope klompie maande verantwoordelikheid vir verskeie aanvalle, waaronder die hinderlaag en massamoord in Macomia, namens die twee groepe aanvaar.

Sulke ontevredenheid skep ’n ideale omgewing vir ’n groep soos IS.

Hoewel die aanspraak van IS opportunisties mag wees en sy teenwoordigheid in Mosambiek steeds bevraagteken word, moet die verwikkelinge as gevaartekens gesien word. Die gemarginaliseerde gemeenskappe in Cabo Delgado is gefrustreerd, glo nie die regering sien na hul belange om nie en moet toekyk hoe hulle van enige ekonomiese ontwikkeling uitgesluit word.

Sulke ontevredenheid skep ’n ideale omgewing vir ’n groep soos IS.

Hoewel die aanvalle tot dusver tot Cabo Delgado, Mosambiek se mees noordelike provinsie, beperk is en dus duisende kilometer van Suid-Afrika is, is onrus in enige buurland kommerwekkend.

Nie alleen het politieke en gemeenskapsdestabilisering die neiging om georganiseerde misdaad en terroristegroepe te lok nie, maar die negatiewe ekonomiese impak versprei maklik na ’n groter omgewings weens die wegdryf van investering en die migrasie van mense.

* Swart het ’n doktorsgraad in forensiese sielkunde en is ’n senior navorser by die teen-terrorisme-dinkskrum Islamic Theology of Counter Terrorism (ITCT) wat in Londen gebaseer is. Sy is ook ’n meestersgraadstudent in krygskunde aan die American Military University. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mosambiek  |  Islamitiese Staat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.