Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons agenda: Altyd feite eerste

Op die vooraand van die tweede hofverskyning op Senekal van die aangeklaagdes van die moord op Brendin Horner is joernaliste se werk en hul veiligheid ook in die kollig, skryf Gert Coetzee.

WAARHEID: Die man by die brandende polisievoertuig in Senekal is ’n opgeleide brandbestryder, soos mens aan sy baadjie, helm en handskoene kan sien. Foto’s: Mlungisi Louw

Paul Roux, Hartswater, Hennenman, Zastron, Petrusburg, Koffiefontein, Tweespruit, Vredefort, Marquard, Bothaville, Reivilo en Delportshoop . . .

Dit is van die plekke in Volksblad se streek van waar ons vanjaar oor aanvalle op plaasbewoners berig het, telkens met verslaggewers op die grusame en traumatiese tonele.

Volksblad se elektroniese argief wys dat ons sedert die begin van 2020 reeds 122 berigte met die woord “plaasaanval” en 24 met “plaasmoord” daarin gedra het.

Die woorde kom nie voor in alle berigte oor dié onderwerp nie – daar sal meer wees.

Desondanks hoor ek – of dit die waarheid is – dat ons nóóit oor plaasaanvalle berig nie. Al is ons die primêre nuusdraer ter plaatse oor dié euwel.

Omdat ons voluit oor plaasaanvalle berig, sou dit konsekwent en nuuswaardig wees om ook oor relevante gebeure te berig. Of hoe?

Die strydigheid is dat Volksblad en sy verslaggewers aangeval word omdat ons van Senekal oor die geweld en vandalisme by die hofverskyning van die aangeklaagdes vir die moord op Brendin Horner by Paul Roux berig het.

Die ou feit is dat die boodskapper geteiken word as die boodskap mense nie pas nie.

Die aanslag is te wagte en deel van die joernalistiek.

Die ou feit is dat die boodskapper geteiken word as die boodskap mense nie pas nie. Of die boodskap nou die ongemaklike waarheid is of nie. Wat hulle ontken, want hul waarheid is absoluut.

Die gewone aantyging is dat die “media” (daardie vae, veralgemeende, gerieflike, generiese term vir die onsigbare vyand, à la Donald Trump) ’n agenda teen hulle sou hê.

Dit is die konteks waarin joernaliste hul werk verrig. Soos Helen Zille in 2008 in die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekklas vertel het van Donald Woods, haar redakteur by Rand Daily Mail, se reaksie toe sy in die 1970’s by hom gaan kla het oor die druk op haar weens haar beriggewing oor Steve Biko.

“If you can’t take the heat, get out of the kitchen.”

Joernaliste se taak is dat hul beriggewing – ondanks talle uitdagings in die hitte van die stryd – die tydbeproefde toets van feitelike en akkurate beriggewing slaag.

“ ’n Reus in weermagdrag, vermoedelik ’n boer, het dit (haar foon) woordeloos oor sy knie geknak,” het ons verslaggewer op die toneel berig.

Dié skrywe is eerder om die kollig te sit op die veiligheid van ons – en ander – verslaggewers op tonele soos die “Slag van Senekal” (’n ongelukkige naam, dog raak).

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het die aanranding van twee joernaliste van The Citizen in Senekal ten sterkste veroordeel.

Buiten dat hulle te lyf gegaan is, is hul toerusting ook vernietig.

“ ’n Reus in weermagdrag, vermoedelik ’n boer, het dit (haar foon) woordeloos oor sy knie geknak,” het ons verslaggewer op die toneel berig.

Ook die Committee to Protect Journalists het van die VSA van die aanval op die joernaliste kennis geneem en die Suid-Afrikaanse owerheid gevra om dit te ondersoek.

Dit is nie juis dapper van ’n groot man om vroueverslaggewers aan te rand nie. Tog opmerklik het die aanrandings eintlik geen misnoeë elders ontlok nie – anders as die verbete besware oor die feitelik korrekte beriggewing van daar.

FOPNUUS: Op Facebook is die brandbestryder se gesig effe uit fokus gemaak en met dié boodskap daarby geplaas dat dit die eintlike brandstigter is. Foto: Facebook

Of dit reg is dat joernaliste gemolesteer mag word – en mense hulle daarin mag verlekker.

Aan eie front is foto’s van Volksblad-joernaliste op regse sosiale media gedeel om hulle as die teikens op te stel. Ons het met ons prokureur beraadslag, maar besluit pleks van om aan dié opswepers suurstof te gee, eerder op ons mense se veiligheid te fokus – ook op die vooraand van môre se tweede hofverskyning.

Ons verslaggewers het nie die luukse om nié te gaan verslag doen nie. Hulle sou in elk geval nie na só ’n opdrag wou luister nie.

Beskermende drag (as ons dit betyds kan kry) en attent daarop dat hulle konfrontasie moet vermy, omdat hul persoonlike veiligheid bowenal belangrik is, is die weg.

’n Vriendelike en redelike versoek: Hande van verslaggewers af. En help dié soort gedrag voorkom. Asseblief en dankie.

Dit sou vreemd wees indien vredeliewende beswaarmakers geen probleem daarmee sou hê wanneer die nuusdraers aangerand en hul toerusting beskadig word nie.

As jou gedrag onbesproke is, hoef jy nie te vrees as daaroor berig word nie. Inteendeel, die bewusmaking oor die wrede euwel van plaasaanvalle en die pyn, lyding, smart en skade moet wêreldwyd uitgebasuin word.

Raadsaam vir diegene wat beriggewing bevraagteken, is om klagtes – met voorbeelde en bewyse – by die persombud in te dien. Sien www.presscouncil. org.za en volg die stappe sodat besware getoets kan word.

Ons is onderhewig aan die regulasies van die Suid-Afrikaanse Perskode, uitsprake van die persombud en aan regspraak en stel graag reg indien daar teen ons bevind word.

Geloofwaardigheid is ons lewensbloed.

Net só sou ons nie sensuur toepas of eensydig berig om aan aandrang soos in hierdie geval toe te gee nie.

Moeilikheidmakers is nie verhewe daarbo dat oor hul misdadige optrede berig word nie.

Vir die rekord: Ons hét ’n agenda – feitelik korrekte en betroubare beriggewing. Wat veel meer genuanseerd en gekompliseerd is as wat geromantiseerde persepsies van die joernalistiek sou wou hê.

Die inwinning van inligting, veral op die toneel, is nie so eenvoudig nie, veral as jou persoonlike veiligheid bedreig word. En informasie kom nie eensklaps en trefseker nie, maar gefragmenteerd en gaan met tref en fouteer (en regstel) gepaard.

Dis nie so maklik om die “spieël van gebeure” te moet wees indien jy moet koes en gevloek en geskel word nie.

Die meeste ondersteuners van die landbougemeenskap téén plaasmoorde was vreedsaam.

Ek wil glo die groot, stille meerderheid wat in Senekal wenend, biddend en vreedsaam in hul rou opgeruk het, vereenselwig hulle nie met die aanhitsery en geweld van die klein minderheid moeilikheidmakers – meestal van elders? – nie.

Die mening van politieke partye en georganiseerde landbou dat die groepie wat ander planne as vreedsame protes het eerder môre van Senekal moet wegbly, is verblydend.

Laastens is dit gerade om nie deur fopnuus geflous te word nie. Soos die foto’s van ’n man in rooi drag met die gesig effens swart ge-blur (om die illusie van ’n EFF-lid te skep) by die brandende polisievoertuig in Senekal met die aanhitsende boodskap “Híér is die eintlike brandstigter” by.

Dit is gulsig geglo en versprei.

Soos dit elkeen se keuse is.

Coetzee is Volksblad-redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.