Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ons gaan al ons renosters uitskiet...’

Die wreedheid en hebsug van die mens is sentrale temas in die internasionaal bekroonde dokumentêre rolprent ‘Stroop’ oor die uitwissing van renosters vir hul horings. Charles Smith het die vertoning in Bloemfontein bygewoon en met , die vervaardiger, gesels.

Die gesig van wreedheid. ’n Renoster lê met geslote oë in die veld nadat stropers sy horing wreed afgesaag het.Foto’s: Verskaf

“Niemand wil die renosters hê nie. As hulle nie vir ons van ekonomiese waarde is nie, gaan ons hulle almal uitskiet.”

Daar is ’n geskokte stilte nadat Randy Westraadt, ’n renosterboer van Boshof, die stelling gemaak het. Dit is pas nadat die dokumentêre rolprent Stroop oor die uitwissing van ons renosters in Bloemfontein vertoon is.

Bonné de Bod, vervaardiger en verteller, en Susan Scott, regisseur, is besig om die vrae van die gehoor in die Nu Metro-teater in die Waterfront in Bloemfontein te beantwoord.

Die kykers se emosies kook oor. Die fyn kermgeluide van babarenosters wat na die slagting van hul ma’s om die karkas dwaal, bly ’n mens by lank nadat die rolprent verby is. Maar dis ’n woede wat in jou kook oor hoe wreed en geldgierig die mens is.

Dis nie net ’n oorlog wat hom in die bos afspeel nie waar ’n handjievol veldwagters en die K9-eenhede met geslepe, honger stropers en slinkse en korrupte Chinese en Viëtnamese geldwolwe gewikkel is oor die oorlewing van ’n weerlose oerdier.

Hier in die teater kom die oorlog tussen die twee kante van die debat oor renosterhorings oor uit: Moet Suid-Afrika sy renosterhorings wettiglik verkoop of Cites se verbod handhaaf?

Renosterboere soos Westraadt en John Hume, Suid-Afrika se grootste renosterteler, pleit dat hulle geld moet verdien uit hul diere. Dit is te duur om die diere aan die lewe te hou vir bewaring.

Dié boere het verlede jaar nuwe hoop gekry dat internasionale verkope in Mei by die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) goedgekeur kan word.

Die hartseer geluide van ’n klein renostertjie wat getraumatiseerd is nadat sy ma doodgemaak is vir haar horing, is een wat ’n mens lank bybly na die rolprent Stroop. Hier word so ’n weesrenostertjie deur die wildlewe-rehabiliteerder Karen Trendler gevoed wat nou vir die wildlewe-eenheid by die Nasionale Dierebeskermingsvereniging werk.

Suid-Afrika moes teen 25 Desember kennis gee van die voorstel om witrenosterhoring vanaf bylae 1, van hoogs bedreigde spesies, na bylae 2 te verskuif sodat internasionale handel in dié horing moontlik kan wees.

Dit het nie gebeur nie.

Scott het gesê al hoe meer renosters gaan na die Ooste. Veral met China wat dreig om sy eie verbond op die verbruik van renosterhoring op te hef, sal dit die diere net meer bedreig.

Intussen word elke dag drie renosters vir hul horings doodgeskiet.

Die vorige dag se skrikwekkende nuus is steeds vars in almal se geheue: Altesaam 7 737 renosters is in 12 jaar in Suid-Afrika gestroop. En in 2018 alleen is 769 van dié diere doodgemaak vir hul horings.

“Ek het besef, eerstens, hoe ons as mens, die menslike spesie, so ongelooflik wreed kan wees. En tweedens, hoe kan ons as Suid-Afrikaners dit toelaat. Dit is tog ons erfenis. Ek het daar en dan besluit ek moet iets meer doen, iets groters doen,” sê De Bod later.‘Binne in my was ’n vuur!’Hoewel die tonele verskriklik grusaam is, het De Bod besef sy sal ’n tree moet terugstaan om nugter verslag te kan doen.

“Ons was moeg. Ons het min geslaap in die vier jaar. Ons het geëet en ge-alles. Dit was net Stroop, Stroop, Stroop. Ons moes uit helikopters spring en Susan het haar enkel beseer.”

“Toe ons terugkom uit Asië het ons nogal depressief gevoel, want jy besef waarteen jy baklei – hierdie massiewe, massiewe vraag na renosterhoring. Dit is maar net ’n produk vir hulle. Dit is nie hoe jy en ek renosters ken nie.”

’n Renoster lê op sy rug in ’n teater terwyl veeartse spook om hom aan die lewe te hou nadat stropers sy horing wreed afgekap het.

Het sy kwaad geword?

“Ek het. Ek dink my moeilikste onderhoud in my loopbaan was met ’n gebruiker van renosterhoring, ’n vooraanstaande vrou, ’n nice mens. Dit het dit nog moeiliker gemaak. Ek was baie kwaad toe sy vir my wys hoe sy die renosterhoring gebruik het in kombinasie met chemoterapie en hoe dit sou gehelp het.”

“Daar (in die Ooste) is geen konneksie met ons wildlewe nie. Dit was vir my moeilik om rustig te bly. En neutraal te staan daaroor. Binne my was ’n vuur! Ek wens ek kon haar ’n klap gee. Maar ek kan dit nie as joernalis doen nie. Ek moet in so ’n mate met hulle gesels dat hulle op hul gemak voel. Ek is nie daar om te oordeel nie, ek is daar om ’n storie te vertel.”Vroue is die helde in ‘Stroop’Die meeste van die karakters, die helde, in Stroop is vroue: De Bod en Scott, die aanklaers, die vroue wat die renosters versorg.

“Ek dink ek en Susan vertel ’n storie op ’n ander manier. Die emosionele kant van hoe ons die storie vertel is anders. Oorsee het dit verskil gemaak met die Me Too-beweging dat ons vroue is.”

Hulle het dadelik ’n band met die vroulike aanklaers Isabet Erwee en Ansie Venter gevorm.

“Wat vir my wonderlik is, is om te wys hoe vroue kan opkom vir iets waarin hulle glo en onafhanklik kan kyk waarin hulle glo en daardie ongelooflike passie het, daardie vreesloosheid.

En deursettingsvermoë.

Die rolprent Stroop het begin toe Bonné de Bod en Susan Scott ’n insetsel vir die program 50/50 oor renosterstropery gemaak het. Hier is De Bod tussen die karkasse van renosters in die Krugerwildtuin.

Om na die wesies te kyk is harde, harde werk. Dis 24 uur en sewe dae ’n week.

Dan is daar die wildlewe-rehabiliteerder Karen Trendler wat nou vir die wildlewe-eenheid by die Nasionale Dierebeskermingsvereniging werk.

Hoe het De Bod die renosterboer Westraadt se stelling hanteer van as renosterboere nie hulp kry nie, gaan “ons hulle uitskiet . . .”?

“Dit is vir my baie erg om te hoor. As jy gaan kyk na die noordelike witrenoster-subspesie, die laaste bul in Kenia is verlede jaar dood. Daar is net twee koeie oor van die subspesie op die planeet.

“So as ek hoor hulle gaan almal uitskiet, is dit iets wat ek nie myself kan voorstel nie. Die getal lewende renosters oor in die Krugerwildtuin het met tussen 47% – 56% gedaal. Ek verstaan hul punt oor befondsing. Die koste om renosters op te pas, is enorm. Maar dit is vir my verskriklik om te hoor hulle sal die renosters uitskiet,” sê De Bod ernstig.

“Kom ek wees eerlik. My pa en oupa jag. Ek is Afrikaans. Dit is deel van ons kultuur. Maar hulle jag vir die pot. Hulle sal ’n rooibok skiet. Hulle sal nie raak aan die groot vyf of enige bedreigde spesie nie. Amerikaners kom skiet ’n renoster om die kop in sy huis te hang. Dit gaan oor ego, om mense te beïndruk.”

Hoewel die kwessie van jag moeilik is, omdat die boere geld móét verdien, is sy heeltemal gekant teen die jag van renosters.

’n Ryswynkelkie wat in China van renosterhoring gemaak word. Die bygeloof is dat as siekes hieruit drink, jy gesond sal word.

Die helfte van die witrenosters is reeds doodgemaak, sê sy.Pres. Ramaphosa moet ‘Stroop’ sienDe Bod wil die rolprent by pres. Cyril Ramaphosa kry en wil as wildboer met hom oor die bewaring van renosters gesels.

“Die film is reeds gewys vir mense in hoë poste, ook in ander Afrikalande. Hulle hou nie daarvan dat dit openlik bespreek word nie, want dit word agter toe deure gedoen. Ek verstaan dit. Maar die rolprent moet deur mense in magsposte gesien word.”

Die Bitse regering het dit gewys op die konferensie oor onwettige wildlewe in Londen. Die Wêreldbank en die omgewingsprogram van die Verenigde Nasies wil dit wys, sê sy.

“Maar belangrik vir my is om die rolprent vir ons president te kan wys en ’n oop gesprek te hê.

“As jy dit visueel sien, sien wat op die grond gebeur en jy sien die groot aanvraag oorsee, kan jy nie nié geraak word nie.”

Die joernalis Bonné de Bod met die bekendstelling van die rolprent Stroop oor renosterstropery verlede naweek in Bloemfontein..Foto: Charles Smith
Renosterhoring, waarvoor die wêreld se renosters uitgewis word.
Bonné de Bod en Susan Scott met die prys wat hulle vir hul rolprent Stroop by ’n rolprentfees in Kalifornië ontvang het.
Bonné de Bod by ‘n Oosterse mark op soek na renosterhoring.

Sy sê die grootste probleem rakende renosterstropery is die regstelsel.

“Ons het ’n regstelsel wat werk vir die misdadiger. Jy kry stropers wat ’n vierde, vyfde keer gevang word. Daar is sake wat al vir sewe jaar lank sloer. Hulle is almal uit op borgtog.

“Die smokkelaars betaal ’n boete van R500 000, maar die horings is R12 miljoen werd. ’n Boete moet nie ’n opsie wees nie. Ons moet ’n minimum tronkstraf instel. Ek hoop dat die rolprent ’n uitwerking gaan hê hieroor. Daarom hoop ons dat die mense wat die besluit neem, die rolprent sien.”

Hulle hoop dat die rolprent in Mei by Cites se konferensie sal wys waar besluite oor die handel in renosterhoring en lewendige renosters geneem sal word.

En dat mense se oë oop sal gaan oor wat gebeur.

Net dálk raak ’n renosterkalfie se kermgeluide langs sy bloeiende ma daardie besluitnemers.

Meer oor:  Omgewing  |  Renosterstropery  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.