Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ons het geweet ons gaan sterf’

Sy het al haar aardse besittings in die Knysna-brande verloor, maar dit was nie die ergste wat ooit met haar gebeur het nie, het die 82-jarige Lucy Stawiszynski aan Sarie Marais-Nell vertel.

Tonele soos hierdie herinner Lucy aan die verskrikking van laasjaar se brand.Foto: Deon Raath

Op 7 Junie 2017, terwyl Wes-Kaapse skole gesluit is in afwagting op stortreën en fratsgolwe, kon niemand die Knysna-verskrikking voorspel nie: vernietigende brande, aangejaag deur stormsterk winde, wat uiteindelik sewe lewens geëis het en honderde wonings en
12 000 hektaar plantasies in puin gelê het. Die skade in randwaarde word op R5 miljard bereken.

Daardie Woensdagmiddag het enorme vlamme Lucy Stawiszynski se huis teen die hooggeleë Welbedacht-landgoed van Knysna afgesny.

“Ek het inderhaas my kosbaarste besittings in my kar gegooi. Teen 16:00 was dit nagdonker; die teerpad onbegaanbaar.”

Ek was verward, paniekerig. Bewebang.

Stawiszynski (82) is veldlangs na die aangrensende Simola-woonbuurt, maar ruwe terrein het haar 2 x 4-ryding laat vasval. Handsak oor die arm en troeteldiere onder baadjiepante ingedruk, vlug sy verder. “My hart wou breek oor my oorlede man se laaste geskenk; pragtige pêrel-oorkrabbetjies. Sóveel belangrike aandenkings moes agterbly.”

Smagtend na suurstof val Stawiszynski byna oor ’n afgrond terwyl vuurkooltjies gate in haar skoenskole en baadjie brand.

“Siel-alleen praat ek heeltyd met Czili, my papegaai, en Pysio, my yorkie. Deur my baadjiepante beloof ek om ter wille van hulle deur te druk. Sonder hulle het ek geen tree verder gevlug nie.”

Lucy Stawiszynski se huis en al haar besittings is heeltemal vernietig in die brand. Foto: Alexander Stawiszynski

Haar verligting toe ’n voertuig van agter nader ry, verdamp vinnig. Te volgepak om haar in te laai, gryp die bestuurder slegs vir Pysio en jaag verder. ’n Gevoel van verlatenheid oorval haar, maar ’n volgende ryding stop en laai haar op. Toe onbeheerde vlamme net hierna albei voertuie vaskeer, word Stawiszynski met haar bewende yorkie herenig.

“Binne die twee motors het ons gewéét ons gaan sterf; die suurstoftekort en afwesigheid van selfoonontvangs was skrikwekkend.

“Terwyl kroonhoë vlamme rondom ons woed, ontplof iets soms links van ons, sodat ons regs vlug. Totdat nog ’n naby-plofskoot ons weer in ’n ander rigting dwing. Ek was verward, paniekerig. Bewebang.”

Serp oor die mond, probeer sy rookinaseming beperk; stuur sy stemboodskappe na haar George-vriende en kleinseun Alexander in Frankryk: Ek is lief vir jou, maar ek gaan sterf.

Stawiszynski en Alexander, haar kleinseun, in haar nuwe huis saam met Harold Francis, links, en Anand Gounden, regs, van Bathopele-konstruksie. Foto: Stefan Goosen, Knysna-Plett Herald

“Ons oorlewing was ’n wonderwerk. Toe die vlamme om tweeuur die oggend effe afneem, het verstomde reddingswerkers deurgebreek en ons aangetref. Hulle het geen oorlewendes verwag nie.”

By ’n versorgingspunt in Knysna moes bekertjies whisky die getraumatiseerdes versterk.

“Czili, wat altyd saam uit my beker drink, het ook ’n bietjie gekry. Pysio ook.”

Ná 13 spannende ure slaap Lucy van 04:00 tot 07:00. Vroegoggend reël sy dat iemand haar na haar uitgewiste huis en motor neem.

“Dit was belangrik om dit weer te sien, want ek kon die gebeure beswaarlik glo!”

Was my lewe onsuksesvol omdat ek nie my briljante kind kon red nie?

Haar vriende in Kaapstad wou haar kom haal, maar voortdurende brande
versper die N2. Uiteindelik kon George-vriende haar oplaai en medikasie reël vir haar angstigheid. Alexander, wat uit Parys paniekerig Facebook inspan vir nuus oor sy ouma; ’n vriendin wat Woensdag uit Kaapstad ’n helikopter wou organiseer om haar te red; haar “groot niks” aan aardse besittings – gefragmenteerde verhale wat haar bietjies-bietjies begin integreer.

Die George-vriende se nommerpas-aftreehuis kon egter hul ekstra gas met twee gestresde troeteldiere slegs vir ’n paar dae huisves. Met 973 brandbeskadigde wonings in Knysna was huisvesting ’n reusedilemma.

Stawiszynski – ’n opgeleide onderwyseres, voorheen eienaar van verskeie winkels en ’n Constantia-huis, die weduwee van ’n internasionaal gerekende kernwetenskaplike – was skielik haweloos.

Lucy Stawiszynski en Pysio. Hy het ook ’n slukkie whisky vir die skok gekry.

“Toe neem hulle my na ’n plek vir tweedehandse klere.

“Ek was uiters verleë.”

Sy kies slegs een stel gemaklike klere en ’n sagte serp. “Almal was só liefdevol. Maar ek wou nie gulsig wees nie; baie ander mense sou ook nog klere benodig.”

Alexander sluit kort hierna by Lucy aan en reël vir hulle ’n klein wooneenheid. Hy begin dadelik reddingsaksies vir voëls en kleiner diere organiseer.

Stawiszynski se betrokkenheid by Alexander se kos- en waterpunte vir voëls bring geleidelik nuwe sin in haar lewe. Teen Septembermaand is sy van die eerste inwoners wat haar nuutgeboude huis betrek – langs die Eastford-natuurreservaat, waar Alexander 100 inheemse bome plant om die natuur te ondersteun.

Deesdae bestee Stawiszynski graag tyd op hul stoep, waar soet geure uit Alexander se nuwe, geil tuin die sintuie bederf.

Lucy Stawiszynski en haar dogter, René, kort nadat hulle uit Pole gevlug het.

Dis hier waar Czili oudergewoonte slukkies oggendkoffie uit haar beker pik terwyl Stawiszynski retories vra: “Was die Knysna-brand waarlik die ergste ding in my lewe? Dit het my tog dieselfde geaffekteer as elke ander Knysna-inwoner?”

Met nagmerries en die gebrande ruïnes van buurhuise as daaglikse herinnering aan daardie vreeslike Woensdag, is al die tekens van posttraumatiese stres steeds daar: “My geheue is aangetas, ek doen alles stadiger. Iemand het ’n boek met brandverhale hier aangebring, maar ek vorder nooit verder as bladsy twee nie. Ek sukkel steeds om te glo wat gebeur het.”

Oor haar Poolse agtergrond vertel Stawiszynski: Sy was getroud met ’n briljante wetenskaplike in die destyds kommunistiese Pole, maar het selde kennis van sy projekte gedra. Hy is selfs een nag geheimsinnig per helikopter weggevlieg vir ’n opdrag met streng sekuriteitsmaatreëls.

Lechoslaw Stawiszynski was ’n briljante wetenskaplike.

“Tydens ’n volgende taak, waarvoor hy as hoof van baie personeellede elektroniese toerusting ontwerp het, waarsku ’n vriend hom: ‘Wees waaksaam. Jy’s in gevaar. Hulle wil jou opsluit.’

“My man wou nooit ’n lid van die Kommunistiese Party word nie; dalk was dit waarom hy toe verdink is van spioenasie. Soos talle ander Pole het ons snags nátgesweet wakkergeskrik weens angsdrome van vlug, wegkruip, wrede inhegtenisnemings en tronkondervindings. Daar was baie spanning.

“Die krisispunt kom toe die spesiale polisie-eenheid hom inroep vir intense ondervragings. Hierna het ons berekend ’n gesinsvakansie in Brittanje as rookskerm gebruik en vir die eerste keer saam paspoortaansoeke ingedien. Weens streng Poolse beheermaatreëls moes ons altyd buitelandse besoeke op aparte tye aanpak.

“Toe die departement se reaksie by ons aanland, besef ons watter beslissende resultaat in daai twee koeverte skuil. Om die spanning te verlig, het ons mekáár se koeverte oopgemaak.

“Eerstens kon hy my goeie nuus vertel: Ek mag Londen toe reis. Die spanning was hoog; hoe sou ons reageer as sy aansoek geweier word?

“Tot ons verligting kon ons sáám na Londen vertrek.”

Die dag ná die brand wóú Lucy Stawiszynski teruggaan na haar uitgebrande motor, want sy kon skaars glo wat gebeur het.

Suutjies beplan die egpaar om landuit te vlug, elkeen met slegs een tas. Hulle vlieg spesiaal op ’n Sondagoggend, wanneer staatskantore gesluit en dubbele kontroles moeiliker is. Met die akute vrees dat lughawepersoneel hulle gaan terughou of daarop aandring om eers hul huis te deursoek, pak hulle min kosbaarhede in. Hul bedankingsbriewe sal eers die Maandag op kantoor ontdek word.

“Ons was baie onseker oor ons toekoms; geweldig gespanne oor die lughawesituasie. Word ons uitgevang, sou dit tronkstraf beteken.

“Toe kies die beampte goedsmoeds daardie 1974-oggend uit vir ’n grappie: Jammer, meneer, jy kan nie deurgaan nie. Ons kon beswaarlik ons angs beheer. Eers toe die vliegtuigmotore aangeskakel word, kon ons effens ontspan; my man teen daardie tyd sopnat gesweet.

“Dit was moeilik om hierdie intense emosies weg te steek vir ons tienjarige dogter, René.”

Maande later kon Lechoslaw Stawiszynski kies uit werksaanbiedinge in Suid-Afrika, Australië of Kanada. Uiteindelik vertrek die gesin per boot na Suid-Afrika, waar hulle geleidelik weer hul lewe opbou.

“Lechoslaw was gelukkig in Pretoria. Hy het ’n goedtoegeruste laboratorium bestuur, kon die nodige personeel aanstel en toerusting aankoop. Ons kon ’n lieflike huis bou. Op papier was alles perfek. Maar ek was sielsongelukkig.”

Vir ’n Kaapse vakansie reis die gesin deur die Karoo. “Ek was byna dood toe ek brakwater proe, maar Kaapstad was hemels!”

Ná ’n besoek aan die Universiteit Stellenbosch kry Lechoslaw ’n werksaanbod by die Faure-versnellersentrum (vandag iThemba Labs).

“Ek was baie jammer vir Lechoslaw. Ná vier jaar in Pretoria offer hy die volmaakte laboratorium op ter wille van my. Hy stuur my per vliegtuig om ’n mooi Kaapse huis te kom koop. Die Kaapse agent kon skaars glo ’n vrou skryf in die 1970’s sélf die depositotjek vir ’n Constantia-huis!”

Vir die eerste keer glimlag sy: “My arme man was geskok toe ons in dié huis intrek: ‘O Lucy, wat het jy gekoop?’ Onder baie stof en verwaarlosing het ek die potensiaal van die imposante huis met sy dubbele deure en swembad gesien. Na hárde werk het ons dit mooi omskep.”

Saam met die aangenamer humiditeit, haar nuwe winkel en René se nuwe skool begin sy uiteindelik die Suid-Afrikaanse ondervinding koester.

Totdat die drankduiwel hul dogter op 19 beetpak.

Jare se pleit, trane, gebede en rehabilitasie-koste oorheers hul lewe. Bly wees in goeie tye, treur oor elk van die 101 terugvalle.

“Ek kom uit ’n akademiese familie, maar het nie geweet alkoholisme is ’n siekte nie. Die feit dat ek haar nie suksesvol kon help nie, was dié grootste ramp van my lewe.

“Ek het jare lank tot uiterstes gegaan om haar te help; eenkeer selfs teen Lechoslaw gekies sodat ek haar vir die 102 de keer kon bystaan. Toe ook dít misluk, moes ek handdoek ingooi. En Lecho­slaw om vergifnis smeek dat ek hom tweede gestel het.

“Die lewe voel soos een reuse-gestoei om my lewensvrag bo-op ’n stéil bult uit te stoot.” Sy demonstreer met arms hoog bokant haar kop:

“Ek stoot en stoei, ek val terug, staan op en stoei van nuuts af, maar ek kry nooit hierdie lewensgewig heel bo nie. Was my lewe onsuksesvol omdat ek nie my briljante kind kon red nie?

“Ek het haar vergewe, maar as ek besef sy het álles in die lewe gehad – ondersteuning, geld, geniale brein – raak ek bitter.

“Alexander, haar seun wat ek en Lechoslaw wetlik aangeneem het – as dit nie vir hom was nie, was ek sonder ’n anker. Ek is trots op hom. Hy’s ’n slim, liefdevolle 28-jarige.

“René bel steeds sporadies met ‘Mammie, help my asseblief’ – dan red ek dikwels weer. Al het Lecho­slaw op sy sterfbed geskok verneem ek het nogeens geswig en R200 000 na haar rekening oorgeplaas. Vir ’n onderneming wat ook intussen misluk het.

“Ek het so baie vir haar genesing gebid. Tevergeefs. Die dae van kerkgaan was heerlik, daardie uitstap en vrediger voel. Maar ná vele onbeantwoorde gebede het ek nou selfs my geloof verloor.”

Stawiszynski gaan haal die volgende asemteug diép. Stadig. Gestroop soos die swartgebrande stamme weerskante van die dorp: “Was die Knysna-brande werklik die ergste ding in my lewe?”

Stawiszynski en Alexander verhuis binnekort na Pole. Haar suster – die enigste wat in 1974 geweet het hulle vlug – is ernstig siek. Alexander is as student aanvaar by ’n Poolse universiteit, maar hy wil sy ouma nie alleen agterlaat nie.

“Ek sal enigiets vir hom doen, daarom gaan ek saam. Ons huis is verhuur; ons sal oor drie jaar ons toekomsplanne herevalueer. Ek is bang my Poolse familie se euforie oor my terugkeer is tydelik. Ek is bang Alexander en ek groei weg van mekaar wanneer hy nuwe vriende maak, sy studie geniet.

“Jare lank was ek ’n verplaaste in Suid-Afrika. Op 82 raak ek weer ’n immigrant in my geboorteland. Hoe omskryf ek myself? Waar hoort ek rêrig?”

Haar gesig verhelder. “Maar skryf dít neer: Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners is die béste! Hul hartlikheid, openheid, vriendelikheid het my lewe hier makliker gemaak, élke dag.”

  • Knysna Fire Stories is ’n koffietafelboek wat dié 2017-ramp kleurvol en akkuraat herdenk. Meer inligting hieroor is by orders@knysnafirestories.co.za
Meer oor:  Knysna-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.