Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons het ’n 2de kans in SA gekry – kom ons gebruik dit

Apartheid is volgens die internasionale reg ’n misdaad teen die mensdom. JJ du Toit verduidelik hoe dit gebeur het en waarom niemand in Suid-Afrika daarvoor vervolg is nie.

Oudpres. FW de Klerk getuig in 1996 voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Foto: Gallo Images

Die internasionale strafreg het oor die afgelope 25 jaar baie verander en verbeter.

Ek was bevoorreg om van laat 1994 deel te wees van ’n internasionale span van juriste wat deur die Verenigde Nasies (VN) na Den Haag, Nederland, gestuur is om die internasionale strafregtelike tribunaal vir die destydse Joego-Slawië van die grond te kry – die eerste internasionale strafhof sedert die Neurenberg-verhore van 1945 tot 1946.

Dit was nie ’n maklike taak nie. Daar is baie geskryf oor die internasionale strafreg sedert 1945, maar dit was die eerste poging om ’n internasionale strafhof op die been te bring. Dit was tot ’n groot mate ’n proefneming in internasionale strafreg.

Joego-Slawië en Rwanda se regstelsels kon nie die vele misdade wat gepleeg is, hanteer nie.

Een van die basiese beginsels in die internasionale reg is dat elke land se reg op soewereiniteit erken moet word. Dit beteken, onder meer, dat elke land sy eie onderdane moet ondersoek en vervolg sonder buitelandse inmenging. In uiters buitengewone omstandighede sal ’n hof van buite saamgestel word om dit te doen.

Joego-Slawië en Rwanda was twee uitsonderings op die reël – die bestaande regstelsels in dié lande kon nie die vele misdade wat gepleeg is, hanteer nie en die internasionale gemeenskap, by monde van die Veiligheidsraad van die VN, het besluit dat internasionale howe daargestel moet word om die misdade te ondersoek en persone te vervolg.

Personeel vir die howe, insluitend die regters, is deur die VN aangestel. ’n Verhoorhof het bestaan uit drie regters met geen jurie nie. Die appèlhof het bestaan uit vyf regters. Die statuut wat die misdade uiteensit, is deur die Veiligheidsraad opgestel en goedgekeur.

Dit het volksmoord en misdade teen die mensdom ingesluit – apartheid was nie een van die misdade teen die mensdom in dié statuut nie aangesien dit nie toepaslik was om dit in daardie stadium in te voeg nie.

Apartheid as misdaad teen die mensdom erken

Apartheidstekens word op stasies verwyder in dié ongedateerde foto uit die argiewe. Foto: Gallo Images

Die werksaamhede van die ad hoc- internasionale strafregtelike tribunale in Joego-Slawië en Rwanda was ’n sukses en teen dié agtergrond het lede van die internasionale gemeenskap in 1999 in Rome byeengekom om ’n permanente internasionale strafhof op die been te bring.

Op 17 Julie 1998 is die misdade wat deur die hof ondersoek kon word deur verskeie lande, insluitend Suid-Afrika, goedgekeur.

Dit het ook volksmoord en misdade teen die mensdom ingesluit. Dit is belangrik om daarop te let dat apartheid as een van die misdade teen die mensdom ingesluit is.

Op 1 Julie 2002 het die statuut van die hof in werking getree en dit het onder meer beteken dat apartheid nou ’n misdaad was.

Dit is egter belangrik om te verstaan dat die hof nie ’n hof van eerste instansie soos in Joego-Slawië en Rwanda is nie. Die internasionale strafhof kry eers jurisdiksie as bewys kan word dat ’n spesifieke land wat ook die Statuut van Rome onderteken het, nie bereid is om persone binne sy jurisdiksie self te vervolg nie.

Daar is meer as 16 jaar gewag voordat Ratko Mladic in hegtenis geneem is nadat hy aangekla is.

Daar is wel ’n uitsondering op die reël – ’n geval kan direk deur die Veiligheidsraad van die VN na die hof verwys word.

Omar al-Basjir, voormalige Soedannese diktator, is onder meer van volksmoord aangekla nadat die Veiligheidsraad gebeure in Suid-Soedan na die hof verwys het.

Dit lyk nou of die nuwe Soedannese regering Al-Basjir wel aan die hof in Den Haag gaan uitlewer. Die wiel van geregtigheid draai soms stadig, maar geregtigheid sal uiteindelik seëvier.

Ons moes ook meer as 16 jaar wag voordat Ratko Mladic byvoorbeeld in hegtenis geneem is nadat hy aangekla is.

Hy het egter pa gestaan vir sy oortredings en is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Sy appèl word op 17 Maart 2020 in Den Haag aangehoor.

Statuut van Rome deel van ons reg

Die internasionale strafhof in sitting. Foto: Getty Images

Lande wat die statuut van die internasionale strafhof in Rome onderteken het, waaronder Suid-Afrika, is ook versoek om die internasionale misdade in hul plaaslike regstelsels as misdade te erken.

Op 16 Augustus 2002 het Suid-Afrika die Statuut van Rome deel van sy reg gemaak. Dit beteken dus dat ’n Suid-Afrikaner wat hom/haar aan enige van die internasionale misdade, insluitende apartheid, skuldig maak, hier aangekla kan word.

Die wetgewing is egter nie terugwerkend van krag nie.

’n Verdrag oor volksmoord is eers in 1948 deur verskeie lande onderteken, insluitende deur Suid-Afrika.

Tydens die Neurenberg-verhore in 1945 was volksmoord nog nie ’n misdaad nie, tog is mense daar onder meer vir misdade teen die mensdom aangekla.

’n Verdrag oor volksmoord is eers in 1948 deur verskeie lande onderteken, insluitende deur Suid-Afrika. Dit het volksmoord tot ’n misdaad verklaar.

Maar geen redelike mens sal vandag probeer redeneer dat die uitwissing van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog nié ’n volksmoord was nie, selfs al was dit regstegnies nie ’n misdaad toe die oortredings gepleeg is nie.

In sommige lande is dit vandag selfs ’n misdaad as die volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog ontken word.

SA besluit teen Neurenberg-verhore

’n Gedenkteken vir die Joodse volksmoord in die voormalige Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Duitsland. Foto: Getty Images

Apartheid was en is ’n misdaad – laat ons geen doekies omdraai nie.

By Kodesa het ons deur onderhandelinge besluit dat daar nie Neurenberg-verhore in Suid-Afrika sal plaasvind nie en ’n Waarheid-en-Versoeningskommissie is eerder voorgestel.

Dank die Vader dat ons dit gedoen het.

My ondervinding oor baie jare het my geleer as ’n ongeregtigheid plaasvind, in watter vorm ook al, sal mense verwag dat geregtigheid later geskied. Dit kan bewerkstellig word deur byvoorbeeld ’n hofsaak, ’n kommissie of enige ander forum waar mense die geleentheid gegee word om hul stories te vertel.

As dit nie gebeur nie, kan ’n ongeregtigheid waaraan daar nie aandag gegee is nie, later gebruik word as motivering om ’n ander ongeregtigheid te pleeg.

JJ du Toit

Van 1991 tot 1994 was ek ook die getuienisleier by die Goldstone-kommissie. Suid Afrika was op ’n meskant gebalanseer en ’n burgeroorlog kon maklik uitgebreek het.

Dit het weens verskeie redes nie gebeur nie. ’n Demokratiese regering vir alle Suid-Afrikaners het byvoorbeeld tot stand gekom en die idee van Neurenberg-verhore is laat vaar.

Almal was nie tevrede oor dié besluit nie. Dit is verstaanbaar, veral as jy of jou familie ’n slagoffer van die beleid van apartheid was.

Vandag sou dit anders gewees het omdat die internasionale strafhof apartheid as ’n misdaad beskou.

Ons het ’n tweede kans gekry om die onreg van die verlede reg te stel waaronder die oorgrootte meerderheid van ons mede-Suid-Afrikaners vir baie jare gely het.

Kom ons gebruik dié kans.

Jy kan nooit die verlede vergeet nie, maar jy kan vergewe soos baie van ons mede-Suid-Afrikaners gedoen het.

Die uitdaging vir ons as Suid-Afrikaners is om saam te staan teen nuwe vyande soos korrupsie wat dreig om ons land te vernietig.

Dit sal weer moeilik wees, maar ons bly nou in ’n Suid-Afrika waar almal stemreg het en deur die Grondwet beskerm word – waar daar vir ons almal ’n plekkie onder die Afrika-son gegun word.

* Adv. JJ du Toit is ’n voormalige getuienisleier by die Goldstone-kommissie en spanleier en aanklaer by die internasionale strafhof vir die voormalige Joego-Slawië. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.