Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ons hou duim vas vir julle in SA’

Jaco Kirsten het verlede jaar na Amerika geëmigreer. Hier is sy storie.

Jaco en Annalize in die dorpie Leadville, Colorado
Jaco en Annalize in die dorpie Leadville, Colorado, saam met Arrie Rossouw, sy voormalige redakteur by Die Burger, en sy vrou, Ronelle. Foto’s: Verskaf

Ek draai vir oulaas om en kyk na die leë huis waarin ons die afgelope 17 jaar so gelukkig gewoon het. Dan stap ek uit en sluit die deur agter ons toe. Ons weet nie wat op ons wag nie. Ons rygoed is verkoop, die hond is weggevat in ’n paneelwa en vanaand slaap ons by vriende. Al wat ons by ons het, is ’n paar tasse. Gister het ek totsiens gesê vir my twee broers en amper in trane uitgebars. Wat de hel is ons besig om te doen?

Ek wou nooit geëmigreer het nie. Ten spyte van my vrou wat jare gelede al daaroor begin skimp het, was my antwoord altyd min of meer: “Nee wat, só maklik gaan hulle nie van my ontslae raak nie.”

Ná nege geslagte in Afrika lê jou voorsate oral in Suider-Afrika begrawe. As kind van ’n ambisieuse onderwyser het ons baie getrek. Ek was op skool in KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap. As joernalis by Weg en WegRy het ek baie van Suider-Afrika gesien. Sonsondergange in Moremi, koue biere en k*kpraat op die stoep van die Koës-hotel, of ’n peri-peri-hoender by Johnson’s Bar in Inhassoro.

Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Was ek bereid om rond te hang en te kyk hoe dinge die volgende 20 of 30 jaar sou uitspeel? Is hoop ’n goeie strategie?

Maar iewers gedurende Jacob Zuma se heerskappy het ek ernstig bekommerd begin raak. En het ek begin vermoed dat ons dalk nie in ons leeftyd die Beloofde Land sou ervaar nie.

Ons het gewoon op ’n gholflandgoed teenaan Kaapstad. Met toegangsbeheer en gereelde patrollies. Tog het diewe by twee van ons bure ingebreek terwyl hulle geslaap het. Die daaglikse roetine van sluit jou buitedeure en skakel aan die alarmstelsel se “strale” het normaal geraak. As my vrou laataand op die Kaapstad Internasionale Lughawe geland het, het ek haar gaan haal met my pistool, ’n ekstra magasyn en ’n sterk flits. Just in case.

Want die N2.

Ek het vyf ouens geken wat vermoor is. Die laaste een was Jannie van der Schyff, wat op die Puk saam met my in die Hombré-manskoshuis, gang 7 was. Ek het ’n paar jaar voor dit nog met hom by die Aardklop-kunstefees gesels. Toe’s hy weg. Geskiet terwyl hy sy vrou en kinders probeer beskerm het.

Jaco Kirsten, sy vrou, Annalize, en Coco die biewe
Jaco Kirsten, sy vrou, Annalize, en Coco die biewer-terriër gaan stap vir oulaas saam op die strand naby die huis. Coco is die volgende dag deur die troeteldier-vervoermaatskappy kom oplaai.

In 2014 het ek en my vrou Turkye besoek. Wat ons opgeval het, is hoeveel kulture al daar geheers het, net om later deur iemand anders verdelg en vervang te word. Daar was die oorblyfsels van die antieke stad Xanthos waar die inwoners eers hul vroue, kinders en slawe verbrand het en toe verniet tot die laaste man teen die Persiese magte van Harpagos geveg het.

Ek het besef dat alle kulture en instellings ’n tyd het om te kom en ’n tyd om te gaan. Die vraag was: Was ek, as iemand in my laat 40’s, bereid om rond te hang en te kyk hoe dinge die volgende 20 of 30 jaar sou uitspeel? Is hoop ’n goeie strategie?

Kort ná ons terugkoms het ek ’n hoëoktaan-immigrasieprokureur in Los Angeles gekontak. Voor my was ’n proses wat minstens twee jaar sou duur. Intussen het my pa terminaal siek geword met kanker. My liewe ma is jare gelede al van ons weggeneem.

Toe sê ek vir hom daar waar hy op sy bed in Dwarskersbos besig was om weg te kwyn: “Pa... ons kop staan Amerika toe.”

“Nee, maar dis reg so,” het hy geantwoord. Ons het tot sy dood ’n maand of twee later nie weer daaroor gepraat nie.

Toevallig het ek in hierdie tyd die aanbieder van Megaboere se vierde seisoen geword. Ek het dit geweldig geniet, maar kon nie anders as om diep medelye met die situasie van die boere te hê nie. Hul positiwiteit onder ongelooflik vyandige omstandighede het my diep getref. Terwyl ons in die omgewing van Tzaneen verfilm het, het ek verneem die Amerikaanse immigrasie-owerhede het my aansoek goedgekeur. Die res van die burokratiese proses was hopelik net ’n (senutergende) formaliteit.

’n Eg Amerikaanse ‘truck’
’n Eg Amerikaanse ‘truck’

Van nou af sou amper alles ’n laaste wees. My laaste keer in Zambië. My laaste kyk vanaf Vanzylspas oor die Marienfluss. My laaste besoek aan die Klein-Karoo. Ons laaste kabelkarrit uit teen Tafelberg. Ek het ’n draai gaan maak in Bloemfontein. Gaan foto’s neem by die kerk waar ons getroud is. Blomme gaan koop en op my ouers se graf gaan sit.

Uiteindelik het ek met rooi­gehuilde oë teruggery na my skoonouers se huis in ’n aftreeoord.

Intussen het ons amptelik permanente verblyfreg in die VSA gekry. Ons kon nou huis verkoop en begin inpak. Ek het begin krap in bokse en goed gekry soos my oupa Koos se myn-gesondheidskaart van die tyd toe hy as arm jong man op die myne in die ou Transvaal moes gaan werk om kop bo water te hou. Liefderyk het ek my oupa John van Mariental in Namibië se ou tikmasjien ingepak.

En so beland jy in ’n nuwe land met ’n paar tasse en ’n hond. Jy maak bankrekeninge oop. Koop rygoed. Jy voel dom in ’n plek met ander reëls en gebruike. Dis soveel moeiliker as wat dit in Seinfeld gelyk het.

Ek, die ervare motorjoernalis, pluk my eerste bestuurstoets omdat ek in ’n oomblik van sotlikheid aan die verkeerde kant van die pad begin ry het. Ek verlang na kerrie-afval by die Firemans Arms en ’n prego roll by die Da Gama Tavern.

As mens van vlees en bloed kan jy nie lojaliteite aan- en afskakel soos ’n ketel nie. Die pendulum swaai amper daagliks tussen die besef van hoe gelukkig ons is om in Amerika te kan woon en werk – en die verlange na geliefdes en die behoefte na ’n gevoel van “dis my land”.

Wat ons opval, is dat die Amerikaners nés ons lyk. Hulle praat egter ’n ander taal. Hulle eet ander kos. Maar hulle is minder aggressief as die mense in Suid-Afrika. Jy sien nie eintlik padwoede nie, al bestuur baie soos morone. Mense is amper oor-hoflik.

Kinders baljaar daagliks in die parke. Mense hou strykdeur beskaafd piekniek.

Ek leer dat dit oukei is om goed op my bakkie se agtersitplek te los. Niemand sal die ruit uitslaan en dit steel nie. Dan is daar die stratosferies goeie diens van inbelsentrums. Aanvanklik kry jy ’n hol kol op jou maag as jy hoor jy moet een bel, maar ná ’n ruk besef jy dat dinge hier heeltemal anders werk.

“Where y’all from?” hoor ek gereeld. Dan vertel ek maar. “Oh South Africa, how cool!” antwoord hulle soos klokslag. Baie ken van Charlize Theron, Elon Musk en Trevor Noah. Dan kom Brian, my afgetrede buurman, nader na die heining en sê grootoog: “Oh my gosh, I just read about the wine farmer from Stellenbosch that got murdered this week. Is it that bad?”

Intussen luister jy gereeld na Piet Botha in jou Amerikaanse bakkie en dink hoe radikaal anders jou verwysingsraamwerk is as dié van almal om jou. Goed soos skaapribbetjie, Tolla-stories en Namakwaland-humor sal hulle nooit ken nie. Maar ook nie die konstante omkyk-omkyk om potensiële aanvallers te probeer identifiseer nie.

Jaco se laaste foto saam met sy broers, Bert (link
Jaco se laaste foto saam met sy broers, Bert (links) en Tiaan (regs).

As mens van vlees en bloed kan jy nie lojaliteite aan- en afskakel soos ’n ketel nie. Die pendulum swaai amper daagliks tussen die besef van hoe gelukkig ons is om in Amerika te kan woon en werk – en die verlange na geliefdes en die behoefte na ’n gevoel van “dis my land”.

Intussen kom kuier Reenen en Shana uit Milwaukee, maak ons bredie saam met Arrie en Ronelle van Fort Collins, of vlieg ons na Piet en Brenda in Los Angeles. En so herinner ons onsself, nes Bart Nel, dat ons nog ons is.

Geen besluit wat jy neem, is ooit 100% korrek nie. Alles is ’n kompromie. So ook emigrasie. Ons hou duim vas vir julle in Suid-Afrika. Mag die boosheid tot ’n einde kom en julle die vrede en voorspoed kry wat julle verdien. En mag ek iewers in hierdie moerse land tog net goeie braaihout opspoor.

Salani kahle.

Meer oor:  Jaco Kirsten  |  Arrie Rossouw  |  Colorado  |  Emigrasie  |  Emigrante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.