Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons is verby normaal

Covid-19 het die hele wêreld ontwrig en laat ons in ’n ‘postnormale’ era. Philip Spies en Chris Jones verken die nuwe landskap aan die hand van drie metafore.

Foto:

Die Covid-19-pandemie is aanvanklik gekenmerk deur lewensgevaarlike griepagtige infeksies, maar later het grootskaalse ontwrigting die toon begin aangee.

Vorige pandemies, soos die Groot Griep van 1918, word, agterna beskou, oorwegend onthou ten opsigte van die aantal mense wat siek geword en gesterf het. Hierdie een gaan anders onthou word omdat dit tot die verbrokkeling van bestaande wêreldordes aanleiding gegee het.

Die inperkingsmaatreëls vir infeksiebeheer het mense van hul werkplek, hul vriende, hul familie en hul ontspanningsgeriewe afgesny. Voorsieningskettings het verbrokkel, sakeondernemings het ineen geplof en werkloosheid het toegeneem. Die uiteindelike maatskaplike en ekonomiese gevolge hiervan is vandag onpeilbaar en dit bring groot verwarring mee: dit is ’n golf van verandering wat nie beheer kan word nie; dit kan hoogstens verstaan en gestuur word.

Jordi Serra del Pino, Christopher Jones en Liam Mayo, drie toekoms­navorsers by die internasionale Centre for Postnormal Policy and Futures Studies beskryf die Covid-19-pandemie as ’n “perfekte postnormale storm” en voeg daarby dat ons vandag in “postnormale tye” leef.

Postnormale tye word beskou as ’n tussen-periode waarin ou ortodokse sienings aan die uitsterf is, nuwes nog gebore moet word en baie min dinge oënskynlik sin maak. Of, soos die Italiaanse joernalis Ezio Mauro dit in sy gesprek met die ontslape Britse sosioloog Zygmunt Bauman gestel het: “We are hanging between the ‘no longer’ and the ‘not yet’ ”. Daarom is ons noodwendig in ’n tyd van onsekerheid en onstabiliteit.

By nabetragting het mense ook besef daar is reeds dekades gelede waarskuwings gepubliseer oor die moontlikheid van ontwrigtende globale griepagtige pandemies. Waarom is tóé nie daarop ag geslaan nie? ’n Tweede vraag: Waarom het die pandemie die bestaande wêreldorde sodanig ontwrig dat mense sukkel om oplossings daarvoor te vind?

Een verklaring daarvoor is ’n kognitiewe dissonansie by leiers, kundiges en oor die algemeen, binne ’n samelewing. Kognitiewe dissonansie is ’n toestand van verwarring in mense se bestaande denke en oortuigings en hul houding teenoor nuwe omstandighede wat hul bestaande denke en oortuigings uitdaag. Wanneer hulle skeppende besluite moet neem en hulle benadering teenoor die bestaande omstandighede verander, kan kognitiewe dissonansie hul kortwiek.

Swart olifante

’n Optrede wat met opset vermy word omdat dit bestaande magsverhoudings kan ontwrig, is ’n beginsel wat as ’n “swart olifant” beskryf word.

Die metafoor is gebaseer op die metafoor van die “olifant in die kamer”, wat verwys na iets waarvan almal weet, maar niemand oor wil praat nie. Die toekomsgerigte Indiese wetenskaplike Vinay Gupta verwys daarna as ’n gebeurtenis wat kundiges voorheen voorsien het, en ook as hoog waarskynlik geag het, maar om gerieflikheidshalwe uit hulle gedagtes geskuif het.

As die bom uiteindelik bars en mense dwing om daaraan aandag te gee, word die gevolge met verbasing en ongeloof begroet, asof dit iets onvoorsien is. Gewoonlik is dit dan te laat vir skadebeheer.

Swart olifante word ook gerugsteun deur eng en groepsdenke, asook die onverskilligheid van die breë samelewing wat neig om Gods water oor Gods akker te laat loop, sodat hulle kan aangaan met hulle lewe.

Die uitgangspunt is om nie iets reg te maak wat nog nie stukkend is nie – al is die prognose van ’n opdoemende katastrofe vir almal duidelik.

Kundige waarnemers besef dit en ingeligte mense kan dit aanvoel, maar die ontwikkelende katastrofe word verban uit Suid-Afrikaners se gemeenskaplike bewustheid.

Kognitiewe dissonansie kan ook in verband gebring word met ’n breuk tussen ons begrip, emosies en wilskrag. Nietemin kan die skakels tussen ons denke, emosies en aksies versterk word deur goeie leierskap.

Die swart olifant-verskynsel is dus ook ’n simptoom van swak transformerende en etiese leierskap en swak beplanningsprosesse.

’n Ineengestrengelde magstelsel speel dikwels ’n groot rol indien politici verloopte denke en korrupte gedrag by samelewings of organisasies in stand hou om hulle politieke oogmerke te bevorder. Swart olifante is ook geneig om as “swart swane” onderspeel te word.

We are hanging between the ‘no longer’ and the ‘not yet’.
Swart swane

Die statistikus en risiko-analis Nassim Nicholas Taleb het die swart swaan-metafoor in 2007 in sy topverkoperboek The Black Swan: The Impact of the Highly Improbable geskep.

Die metafoor verwys na gebeurtenisse wat uit die bloute, buite ’n waarnemingslandskap of verwysingsveld verskyn. Die onderliggende boodskap van die swart swaan-metafoor is dat dit wat jy nie weet nie, dikwels baie meer ter sake is as dit wat jy weet.

Taleb omskryf dit as ’n hoogs ontwrigtende gebeurtenis wat sodanig buite mense se kennis, begripslandskap en verwagtinge lê. Wanneer iemand wel na so iets sou verwys, beskou hulle dit as algeheel onmoontlik.

Taleb se waarskuwings hou verband met “onoorwinlike onkunde”. Hy verduidelik dit aan die hand van die ontdekking van swart swane in Australië, toe daar nog vas in Europa geglo is dat alle swane wit is.

Taleb voeg ook by dat as dit gebeur, mense geneig is om goeie verduidelikings te gee waarom dit vir hulle by nabetragting, “verklaarbaar” is, en “voorspelbaar” was. Dit wil sê, hulle word skielik “slim” vanuit hulle terugskouing.

As mense by nabetragting glo dat ’n swart swaan voorheen verklaarbaar en voorspelbaar was, waarom dan nie ook in vooruitbetragting nie?

Die ooglopende antwoord is dat jy nie vooraf geweet het wat jy nie geweet het nie. Ons kundigheid is slegs ’n klein aspek van ons veel groter onkundigheid: soos 1 Korinthiërs 13:9 dit stel, ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Eers wanneer ’n swart swaan verskyn, kan jy deur middel van navorsing en “terugskatting”, begin ontdek hoe en waarom dit gebeur het – en die omvang en aard van jou vorige onkunde begin besef.

Die moontlikheid van swart swane neem toe namate ’n onderneming of ’n land se toekomsnavorsing agteruitgaan.

Swart jellievisse

“Swart jellievis” is ’n metafoor wat deur Jordi Serra del Pino, Christopher Jones en Liam Mayo in hul artikel “The Postnormal Perfect Storm” geskep is om normale verskynsels met ’n “postnormale potensiaal” te identifiseer.

Swart jellievisse ontstaan wanneer ’n alledaagse verskynsel met ’n ander alledaagse verskynsel paaie kruis en in wisselwerking met mekaar tree. Skielik sneeubal dit en het die vermoë om die bestaande stelsel in ’n postnormale toestand te dompel.

Die rede hiervoor is tweevoudig. Eerstens kan veranderings ’n kettingreaksie aan die gang sit, wat met ’n rimpeleffek groot ontwrigting veroorsaak. Tweedens kan die onvermoë en tekort aan hulpbronne om die veranderings aan te spreek ook ’n rol speel, indien verskillende elemente binne die bestaande stelsel eensydig reageer teenoor veranderings.

Die ontnugtering en groot ontwrigting wat die Covid-19-pandemie wêreldwyd veroorsaak, is in ’n aansienlike mate toe te skryf aan swart jellievis-verskynsels wat vanuit teenmaatreëls om die virus te beheer, gespruit het.

Dit is dan ook ’n goeie voorbeeld van hoe eensydige en kortsigtige besluitneming deur ’n bestuur of owerhede tydens groot krisisse lei tot onbedoelde nadelige gevolge. ’n Swart jellievis is daarom ’n metafoor vir ’n uitkoms van swak besluitneming wat uiteindelik erger gevolge kan inhou as óf ’n swart olifant óf ’n swart swaan. Die nagevolge van reaksionêre besluitneming in die bekamping van die Covid-19-pandemie is ’n klinkklare bewys hiervan.

Gebrekkige stelseldenke in die beheer en bestuur van pandemies of ander soortgelyke krisisse kan tot erger gevolge lei as wat die krisis op sigself kan oplewer.

Tyd vir ’n kopskuif

Die Covid-19-pandemie se mensgemaakte gevolge is ’n produk van 60 jaar se ongelyke “vooruitgang” in die wêreld.

Ons leef nou in “postnormale tye”: ’n “tussen-inperiode” waar ou sienings aan die uitsterf is, nuwe sienings nog moet ontwikkel, en baie min dinge vir mense sin maak.

As die wêreld se omstandighede aan die begin van 2020 onvolhoubaar was, dan nog des te meer die situasie in Suid-Afrika.

Die land was reeds in Maart 2020, toe die Covid-19-bom ook hier gebars het, polities, maatskaplik en ekonomies diep in die knyp. Die land leef dus nou al 26 jaar lank in postnormale tye, wat in 2020 met die Covid-19-pandemie ’n nuwe, selfs meer verwarrende, betekenis gekry het.

Suid-Afrikaners ervaar ’n diep onsekerheid oor die pad vorentoe – en oombliklik ook ’n gevoel van diepe magteloosheid en “onoorwinlike onkunde” oor waar die oplossings lê.

Intussen weet ingeligte mense wat die uiteinde vir Suid-Afrika sal wees indien daar nie onverwyld doelmatig en dringend opgetree word om oplossings buite (en bo) bestaande Suid-Afrikaanse wêreldbeskouings, paradigmas, houdings en ideologieë te vind nie.

Daar staan ’n swart olifant in Suid-Afrikaanse raadsale wat trompop benader moet word, anders kan sake vorentoe baie skeef loop.

Voorkoming is beter as genesing. Toekomsbewustheid, oftewel ’n “geheue van die toekoms” kon beter beplanning en ’n meer ingeligte bestuur van die Covid-19-pandemie tot gevolg gehad het. Goeie beplanning 30 jaar gelede sou vandag minder verwarring, ontwrigting en ekonomiese skade veroorsaak het. Nabetragting sal egter nie help nie, want gedane sake het geen keer nie.

Ongelukkig gaan die maatskaplike en ekonomiese gevolge van hierdie pandemie nou baie meer, en langer, ons lewe verontrief as die infeksies self.

Daar is nie meer die luukse van ’n tydspeling nie. Dit is nou tyd om bo verdelende denke, verdelende houdings en verdelende politiek uit te styg, om deeglik ontwerpte kantelbestuurprosesse deur te voer en dan met nuwe houdings en denke nuwe, skerp gefokusde planne te beraam.

Die Covid-19-pandemie is aanvanklik gekenmerk deur lewensgevaarlike griepagtige infeksies, maar later het grootskaalse ontwrigting die toon begin aangee.

Vorige pandemies, soos die Groot Griep van 1918, word, agterna beskou, oorwegend onthou ten opsigte van die aantal mense wat siek geword en gesterf het. Hierdie een gaan anders onthou word omdat dit tot die verbrokkeling van bestaande wêreldordes aanleiding gegee het.

Die inperkingsmaatreëls vir infeksiebeheer het mense van hul werkplek, hul vriende, hul familie en hul ontspanningsgeriewe afgesny. Voorsieningskettings het verbrokkel, sakeondernemings het ineen geplof en werkloosheid het toegeneem. Die uiteindelike maatskaplike en ekonomiese gevolge hiervan is vandag onpeilbaar en dit bring groot verwarring mee: dit is ’n golf van verandering wat nie beheer kan word nie; dit kan hoogstens verstaan en gestuur word.

Jordi Serra del Pino, Christopher Jones en Liam Mayo, drie toekoms­navorsers by die internasionale Centre for Postnormal Policy and Futures Studies beskryf die Covid-19-pandemie as ’n “perfekte postnormale storm” en voeg daarby dat ons vandag in “postnormale tye” leef.

Postnormale tye word beskou as ’n tussen-periode waarin ou ortodokse sienings aan die uitsterf is, nuwes nog gebore moet word en baie min dinge oënskynlik sin maak. Of, soos die Italiaanse joernalis Ezio Mauro dit in sy gesprek met die ontslape Britse sosioloog Zygmunt Bauman gestel het: “We are hanging between the ‘no longer’ and the ‘not yet’ ”. Daarom is ons noodwendig in ’n tyd van onsekerheid en onstabiliteit.

By nabetragting het mense ook besef daar is reeds dekades gelede waarskuwings gepubliseer oor die moontlikheid van ontwrigtende globale griepagtige pandemies. Waarom is tóé nie daarop ag geslaan nie? ’n Tweede vraag: Waarom het die pandemie die bestaande wêreldorde sodanig ontwrig dat mense sukkel om oplossings daarvoor te vind?

Een verklaring daarvoor is ’n kognitiewe dissonansie by leiers, kundiges en oor die algemeen, binne ’n samelewing. Kognitiewe dissonansie is ’n toestand van verwarring in mense se bestaande denke en oortuigings en hul houding teenoor nuwe omstandighede wat hul bestaande denke en oortuigings uitdaag. Wanneer hulle skeppende besluite moet neem en hulle benadering teenoor die bestaande omstandighede verander, kan kognitiewe dissonansie hul kortwiek.

  • Spies is ’n emeritus professor in toekomsstudies by die Universiteit Stellenbosch en Jones is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir morele leierskap. Die artikel is ’n verwerking van hul bydrae ‘Eksplorasies in ’n postnormale landskap: Suid-Afrika duskant en anderkant Covid-19’ wat in die Desember 2020-uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het.
Meer oor:  Chris Jones  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.