Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons land het vroue nodig
Vroue by ’n betoging teen geslagsgeweld wat vroeër vanjaar in Durban gehou isFoto: Gallo

Ons leef in ’n seisoen van aktivisme, met die 16 dae-veldtog teen geweld teen vroue en kinders wat aan die gang is en op 10 Desember (Internasionale Menseregtedag) ten einde loop.

Terwyl dit belangrik bly om alles in ons vermoë te doen om die aandag op geslagsgeweld in ons land te vestig, loop ons ook die gevaar om mishandeling te normaliseer. Dit is asof ons bloot aanvaar dat mishandeling so onvermydelik is as die eksamens aan die einde van die jaar of die komende vakansietyd.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar gesê geslagsgeweld is net so pandemies soos Covid-19, wat dit sinvol kan maak om die reaksie op geslagsgeweld te meet aan die reaksie op pandemies.

Daar is kritiek oor regerings wêreldwyd se hantering van die Covid-19-pandemie, maar daar is ook belangrike lesse wat ons daaruit kan leer.

Die eerste les is die mag van prioriteite. Sodra ’n ernstige bedreiging geïdentifiseer word, geniet dit voorkeur bo die meeste ander prioriteite. Optrede om die bedreiging die hoof te bied, is gewoonlik onmiddellik en ingrypend en daar is meestal algemene steun van die oorgrote meerderheid van burgers. Eers daarna volg kwessies soos wetgewing, finansiering, kommunikasie en word ’n plan van aksie duidelik.

Naledi Pandor het in Mei 2019 ’n ministeriële taakspan aangewys om seksuele teistering en geweld by universiteite te ondersoek.

Die tweede les is die mag van onderbreking. Die prioritisering van ’n pandemie word gewoonlik gevolg deur die onderbreking van die status quo. Die onderbreking is soms gedeeltelik, soms onbeperk, maar byna altyd onmiddellik en word gebore uit die besef dat sake nie gewoon kan voortgaan nie. Nuwe maniere om dinge te doen en oor dinge te dink, word aanvaar – en vinnig ook. Praktyke en gewoontes wat die bedreiging laat sweer en groei, word summier verander of laat vaar.

Kyk nou na die pynlik stadige vordering wat gemaak word in die bekamping van geslagsgeweld. Toepaslike hantering daarvan in die hantering van ’n pandemie skiet ver tekort.

Bemoedigende vordering is wel voor die inperking gemaak. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het in Mei 2019 ’n ministeriële taakspan aangewys om seksuele teistering en geweld by universiteite te ondersoek. Die taakspan moes ook raad gee oor ’n beleidsraamwerk om instellings te help om geslagsgeweld te hanteer. Dié raamwerk is vroeg in Augustus bekend gestel.

Nog ’n positiewe ontwikkeling is die beroep in 2019 deur die 26 hoofde van openbare universiteite tot daadwerklike optrede om geweld teen vroue die hoof te bied.

Prof. Ahmed Bawa, uitvoerende hoof van die universiteite se visekanseliersliggaam, het die noodsaaklikheid van ’n soort “onderbreking” – soortgelyk in die hantering van ’n pandemie – bepleit. “As ons wil hê dat ons samelewing ten goede moet verander, moet ons anders reageer op die verval wat ons toenemend in ons samelewing sien. Universiteite moet Suid-Afrika na daardie verandering lei,” sê hy.

Daar is nie eenvoudige oplossings nie, maar dis belangrik om te fokus op voorkoming en nie op reaksie nie.

Maar hoe doen ons dit? Daar is nie eenvoudige oplossings nie, maar dis belangrik om te fokus op voorkoming en nie op reaksie nie. Ons moet ons pogings daarop toespits om die soort landsburgers te skep vir wie mishandeling eenvoudig nie ’n opsie is nie.

Ons skool- en tersiêre kurrikulums word soms gekritiseer omdat dit nie genoeg praktiese lewensvaardighede bevat nie. En hoewel daar die laaste paar jaar baie vooruitgang gemaak is om aandag daaraan te gee, meen ek ons moet krities kyk na die waarde wat ons aan hierdie leerareas heg.

Onderwys is meer as onderrig in feite, syfers en konsepte. Ons moet ’n grondige begrip van respek, gelykheid en verdraagsaamheid saam met ons akademiese programme oordra.

By die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ons nou al ’n paar jaar ’n verpligte module vir alle studierigtings wat daarop gemik is om nie net te verseker dat studente suksesvol is in die werkplek nie, maar dat hulle ook op verskillende maniere deel sal vorm van die volgende geslag verantwoordelike landsburgers. Inisiatiewe soos dit moet nagevolg, voortgesit en versterk word.

Om ’n vrou in Suid-Afrika te wees, is om reeds met een voet in die graf te staan.

Die derde les is die mag om aan te pas. By ’n onlangse betoging teen geslagsgeweld buite die parlement in Kaapstad het een van die plakkate my opgeval. “Om ’n vrou in Suid-Afrika te wees, is om reeds met een voet in die graf te staan,” het dit gelui. Dit het my geweldig bedroef en ontstel.

In ’n samelewing wat sterk op vroue in ’n maatskaplike, professionele en leierskapskonteks staatmaak, kan ons eenvoudig nie bekostig dat vroue aan dié vreeslike werklikheid blootgestel word nie.

Te oordeel aan al die toesprake en uitsprake uit alle sektore, lyk dit of geslagsgeweld geprioritiseer is. Wat ons nou nodig het, is ’n onderbreking in die status quo, ’n beduidende en doelbewuste wegbreek van die oorsien van toksiese manlikheid en verwronge paternalisme; van oë sluit vir selfs die kleinste voorval van mishandeling; van die aanvaarding van afknouery en ’n magswanbalans; van die versuim om ons plig as opvoeders te doen bloot omdat dit veiliger is om op suiwer akademiese leerinhoud te fokus.

En dan moet ons aanpas – stelselmatig en vinnig ’n kultuur van menseregte, respek en gelykheid in elke sfeer van die samelewing in werking stel.

Ons moet na ’n “nuwe normaal” beweeg waar vroue nie voel dat hulle met een voet in die graf leef nie. Waar albei hul voete op stewige grond geplant is, aan weerskante ondersteun deur die regering en die burgerlike samelewing – om gebalanseerde lewens as versorgers, sake­- en bedryfsleiers, en as agente vir verandering te lei.

Ons moet doen wat nodig is om ons vroue uit die kloue van ’n pandemie te red. Want Suid-Afrika het hulle nodig.

  • Prof. Petersen is kanselier van die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Francis Petersen  |  Vroue  |  Pandemie  |  Geweld  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.