Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons mense was nié ryk

Die Stellenbosse professor wat reken die meeste Afrikaners was veel welvarender as wat historici beweer, gaan selektief om met sy feite, reken Leopold Scholtz.

Boerevroue en -kinders in ’n konsentrasiekamp in 1901. Met die aanbreek van die 20ste eeu was die Afrikaners ekonomies platgeslaan. Foto: Getty Images

Prof. Johan Fourie, hoogleraar in ekonomiese geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, skryf verlede week in Sake-Rapport dat die Afrikaners “oor die algemeen nie brandarm bestaansboere (was) nie. Daar was wel armoedige boere. Maar die meeste van hulle was boere wat geproduseer het vir ’n mark . . .”

Hy verwys spesifiek na die onlangse boek van die sakejoernalis David Meades, Afrikaner-kapitalisme: Van brandarm tot stinkryk, en sê sowel hy as die historikus Hermann Giliomee (wat uitvoerig oor Afrikaner-armoede skryf) “sit die pot mis”.

Fourie sê sy gevolgtrekking berus op sy navorsing vir sy doktorale proefskrif. Hy het meer as 2 500 inventarisse van boere se besittings ontleed en dit met dié in ander gebiede van die Nuwe Wêreld vergelyk. “Dit dui op ’n samelewing wat baie welvarender was as wat historici ons wil vertel.”

Ek het die proefskrif nie onder oë gehad nie, en ek kan dus geen oordeel daaroor vel nie. Ek het wel ’n soortgelyke akademiese artikel gelees, wat hy in 2012 op Litnet Akademies gepubliseer het.

’n Derde van die Afrikaners was arm-blankes.

Dit is basies op dieselfde navorsing gegrond. Daaruit blyk dat sy navorsing veral gegrond is op die VOC-tydperk (1652-1795). Sy gevolgtrekking, dat “die gemiddelde Kaapse setlaarshuishouding relatief welgesteld was aan die begin van die 18de eeu”, kan geredelik aanvaar word.

Fourie se basiese fout insake metodiek, so lyk dit, is om dié gevolgtrekking summier na die 20ste eeu te ekstrapoleer. Jy kan nie gevolgtrekkings oor die 20ste eeu op navorsing insake die VOC-tyd grond nie.

Sy gevolgtrekking druis in teen ’n oorweldigende konsensus van historici. Dit sluit in mense soos Giliomee (beslis nie die eerste die beste nie), Dan O’Meara, David Welsh, Anton Ehlers, Grietjie Verhoef, Sampie Terreblanche en talle ander.

Dis waar dat sómmige boere in veral die Wes-Kaap al in die 19de eeu behoorlik vermoënd was, soos Giliomee oortuigend in verskeie geskrifte aantoon. Maar die Groot Trek, die runderpes van 1896 en veral die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en die Rebellie (1914-’15) het die ekonomiese posisie van die Afrikaners ’n groot knou gegee.

In ’n akademiese artikel wat in 2007 in die tydskrif Management Decision verskyn het, noem Fourie self die skattings van die Carnegie-kommissie van Ondersoek na die Armblankevraagstuk (1932) “probably the most reliable estimate of the magnitude of the poor White problem”. Volgens daardie ondersoek was die getal armblankes teen 1916 106 000, en het dit teen 1926 tot 260 000 en teen 1932 tot 300 000 toegeneem.

Dis mense wat beskryf is as “baie arm”, mense wat eintlik nie in hul eie lewensbestaan kon voorsien nie.

As in aanmerking geneem word dat minder as ’n miljoen wit mense in die sensus van 1926 aangedui het dat hul huistaal Afrikaans is, kan ’n mens skat dat ’n derde van die Afrikaners inderdaad armblankes was.

Wyle prof. Sampie Terre­blanche meen selfs twee derdes van die Afrikaners in die 1930’s kan as deel van die “underclass” beskou word.

Onmiddellik hierna bevraagteken Fourie die Carnegie-getalle in sy artikel weer, sonder dat dit duidelik is waarom. Tog word hulle in die breë deur talle ander statistieke bevestig.

Teen 1935 was die gemiddelde inkomste van die Afrikaners sowat 40% laer as dié van nie-Afrikaanssprekende wit mense. In 1939 was Afrikanerondernemers vir slegs 0,45% van die bruto binnelandse produk verantwoordelik. Daarby het Afrikaners slegs 3% van die mynsektor, 1% van die vervaardigingsektor, 8% van die handel en 5% van die finansieringsektor beheer. Slegs 3% van die land se maatskappydirekteure en 8% van bestuurders was Afrikaners.

Daarteenoor, as jy slegs na die wit mense kyk, was 82% van die ongeskoolde werkers juis Afrikaners. Waarom anders het Langenhoven in 1932 na die stedelike Afrikaners verwys as “verongeluktes, haweloses, gebreklydendes” – omdat hulle rýk was?

Teen dié agtergrond was dit veral die Helpmekaarfonds en Reddingsdaadbond wat ’n beduidende rol in die ekonomiese bemagtiging van die Afrikaners gespeel het.

Soos dr. Anton Ehlers van die Universiteit Stellenbosch dit in sy uitstekende en omvattende studie oor die Helpmekaarfonds stel: “Tot voor die Helpmekaar was die steeds groeiende armblankeprobleem vir Afrikaners ’n bewys van hul onvermoë om aan te pas en vordering te maak in die meer stedelik georiënteerde ekonomiese en sakewêreld. Die ekonomiese minderwaardigheidskompleks waaraan Afrikaners in dié verband gelei het, is deur die Helpmekaar se sukses oorbrug.”

Sy eindgevolgtrekking is dan ook dat die Helpmekaar “as bemiddelaar in opheffing, selfrespek en respektabiliteit ’n vroeë wegbereider en bydraer in die uiteindelike skepping van ’n substansiële Afrikaner-middelklas was wat veral teen die 1960’s tot hul reg gekom het”.

Die Reddingsdaadbond se uitgesproke benadering was om geen liefdadigheid te praktiseer nie, maar om die Afrikaners te bemagtig om die bastion van die Engelse kapitalisme storm te loop en te verower.

Syfers wys dan ook dat die Afrikaners in die loop van die 1960’s en ’70’s op beduidende skaal begin deurbreek het.

Terug by Meades en Giliomee: Meades is ’n joernalis, geen akademikus nie. Maar Giliomee is onder Suid-Afrikaanse historici ’n egte swaargewig. Jy kan sy werk nie sommer so afmaak met die – nogal kru – uitdrukking dat hy die “pot mis sit” nie. Dan verwerp jy ook die werk van ’n klomp ander swaargewigte.

Die gevolgtrekking van Giliomee en ander bly staan: Met die aanbreek van die 20ste eeu was die Afrikaners ekonomies platgeslaan. Die strewe om die volk ekonomies te bemagtig was ’n kragtige aansporing vir die radikalisering van die Afrikanernasionalisme, veral in die jare 1933-’48.) Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke kommentator.

* Lees ook prof. Jannie Rossouw se artikel in Sake.

Meer oor:  Johan Fourie  |  Welvaart  |  Afrikaners  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.