Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Ons moet heilige respek vir vuur ontwikkel'

Daar behoort ook ’n minimum vonnis vir brandstigting te wees, skryf Gustaf Pienaar. En dit moet séérmaak, sodat Suid-Afrikaners ’n heilige respek vir vuur kan begin ontwikkel.

Brandbestryders, soos dié mans wat vlamme in Kaapstad probeer blus het, kry nie altyd erkenning vir hul rol in die samelewing nie. Foto: AP

Wanneer die slaap my soms snags ontwyk, kom daar ’n beeld van verskrikking by my op: ’n TV-nuusberig van ’n paar jaar gelede oor protesoptrede iewers in ons land.

Daar was ’n video-insetsel van ’n jeugdige protesganger wat ’n buiteband met petrol vul, dit aan die brand steek en dan met ’n vinnige skop straataf stuur.

Die stomme man had klaarblyklik geen begrip van wat “verlies” beteken nie: Sy buite-beheer-brandende-band kon tot die allerverskriklikste gevolge gelei het – soos dat dit ’n vulstasie kon binnerol en teen ’n petrolpomp tot stilstand kom. Dis dalk net ’n kwessie van tyd voordat so iets wel gebeur.

Internasionale Brandweerdag word jaarliks vroeg in Mei gevier om ’n bietjie erkenning te verleen aan die dapper mense wat brandbestryding as loopbaan kies.

Vanjaar word dit op Dinsdag 4 Mei wêreldwyd gevier.

Ons betoon nie naastenby genoeg waardering vir die manne – en deesdae ook vroue – wat die gevaarlike beroep van brandbestryding beoefen nie.

’n Paar jaar gelede het die bekende Amerikaanse weekblad Time ’n grafiese voorstelling gepubliseer van watter beroepe in die VSA die meeste persoonlike stres veroorsaak teen, terselfdertyd, die minste salaris.

Dié beroepsrigtings is met sulke rooi kolle uitgebeeld. Die kolle het gaandeweg na die onderkant van die bladsy van kleur verander tot by ’n reeks hemelblou kolle, heel onder, wat beroepe uitbeeld wat die minste stres teen die beste vergoeding verteenwoordig.

Die eerste rooi kol, bo, het brandbestryding as beroep verteenwoordig. As ek reg onthou, was ’n brandbestryder in die VSA se jaarlikse salaris destyds gemiddeld in die omgewing van $13 000, maar dis ook die beroepslui wat die hoogste stresvlakke ervaar.

Een van die blou kolle onderaan die bladsy het die beroep van oogkundige verteenwoordig: Dáár is die stresvlakke gering, maar die beloning groot – destyds meer as $100 000 per jaar. Vir seker het Suid-Afrika ook sy “rooikol”- en “bloukolberoepe.”

Brande met protesoptrede

Brandbestryders wat vlamme in die verwoestende brande in Kaapstad onder beheer probeer bring het. Foto: AP

Ons betoon nie naastenby genoeg waardering vir die manne – en deesdae ook vroue – wat die gevaarlike beroep van brandbestryding beoefen nie. Dink maar aan 11 September 2001 toe die Wêreldhandelsentrum in New York deur terroriste aangeval is. Daar was altesaam 2 977 ongevalle wat 343 brandweerpersoneellede ingesluit het. Dit was mense wat téén alle hoop in nogtans hul werk gaan doen het – en oplaas hul lewens verloor het toe die geboue ingetuimel het.

Dit gaan maar knor

JP Smith, Kaapstad se burgermeesterskomiteelid belas met veiligheid, het Maandagmiddag aan verslaggewers gesê dat ’n hawelose man in hegtenis geneem is en van “brandstigting” aangekla word.

Daar sal oplaas bewys moet word dat die beskuldigde die opset gehad het om ’n gebou (of geboue) aan die brand te steek. Hy is na bewering deur lede van die gemeenskap betrap terwyl hy plantegroei (let wel, roerende sake) aan die hange van Tafelberg aan die brand gesteek het.

Opset het in die strafreg verskillende verskyningsvorms. In die spesifieke geval kom minstens twee daarvan ter sprake: Die man kon beoog het om, te midde van ’n sterk Suidooster, op ’n besondere plek plantegroei aan die brand te steek in die hoop dat dit daarna ook ’n gebou (of geboue) in vlamme sal laat opgaan. Dan sou direkte opset ter sprake wees.

Die alternatief is dat hy die plantegroei aan die brand sou steek met die vaste wete dat dit ook daaropvolgend geboue kón beskadig – en hy versoen hom met dié moontlikheid. Dit sou opset by moontlikheidsbewussyn – die bekende dolus enventualis van die Oscar Pistorius-sage – daarstel. Die ondersoek na opset is ’n subjektiewe toets – met ander woorde, die vraag is nie wat ’n redelike mens onder die omstandighede sou doen nie, maar wat werklik in die verdagte se “kop aangegaan het.”

Dit kan oplaas blyk dat hy bloot nalatig was – straks gróf nalatig. In so ’n geval is die misdryf nie brandstigting nie, want daarvoor moet opset bewys word.

En om dit te bewys gaan maar knor.

Dit bring ook ’n ander regsdilemma rondom brandstigting na vore: As daar nie ’n onderskeid tussen die aan die brand steek van onroerende eiendom (brandstigting) en roerende eiendom (opsetlike saakbeskadiging) was nie, kon die stomme man skuldig bevind gewees het aan “brandstigting,” bloot omdat hy plantegroei aan die brand gesteek het.

En sal dit nou so verkeerd wees?

Plaaslik gaan die gedagtes terug na die vernietigende brande wat die Suid-Kaap – en veral die Knysna-omgewing – ’n paar jaar gelede getref het.

Gedenk ook vandeesweek se wegholbrande aan die hange van Tafelberg; die swart geraamte van die bekende Mostert-meul; die verbysterende skade aan ons land se oudste universiteit; die minstens vyf beseerde brandbestryders.

Die dapper optrede van die brandweerpersoneel by sulke rampe is vlak in ons gedagtes.

Maar terug na die paragraaf waarmee ek hierbo begin het. Dit is nou al ’n paar jaar lank wat Suid-Afrika deur protesoptredes geteister word wat dikwels tot verbysterende skade lei.

Sulke protesoptredes gaan byna sonder uitsondering gepaard met die brand van motorbande, voertuie en infrastruktuur. Op eentonige reëlmaat word veral vragmotors op die land se hoofweë geplunder en aan die brand gesteek.

As mense ongelukkig is oor gebrekkige dienslewering, onbekostigbare tersiêre onderrig, die afbakening van munisipaliteite, treindienste wat nie betyds is nie, ensovoorts, het hulle die volste reg om daaroor protes aan te teken.

Maar om skole, klinieke, biblioteke, treine, polisietoerusting, voertuie, paaie, verkeersligte – ag, die lys het g’n einde nie – in brande te verwoes, gaan my verstand te bowe.

Die gemeenregtelike misdryf “brandstigting” word omskryf as die wederregtelike, opsetlike aan die brand steek van die onroerende eiendom van ’n ander, gepleeg met die oogmerk om die eienaar skade te berokken.

Regstegnies is dit ’n verskyningsvorm van die misdryf opsetlike saakbeskadiging. Na my oordeel is dit ’n argaïese indeling.

Die regsposisie soos dit tans daar uitsien is egter duidelik: Wanneer roerende eiendom – soos droë grasvelde, motorvoertuie en treine - opsetlik aan die brand gesteek word, is dit nie “brandstigting” nie, maar saakbeskadiging. Jan en alleman sukkel egter om dié onderskeid te verstaan.

Die gemeenregtelike omskrywing van brandstigting – wat beperk word tot onroerende eiendom – behoort myns insiens uitgebrei te word om ook die vernietiging van roerende eiendom (soos die veld, voertuie, treine) in te sluit. As etlike treinwaens in een voorval aan die brand gesteek word – soos dikwels op die Kaapstadse stasie gebeur – is die gepaardgaande skade en ontwrigting vir seker gróter as wanneer, byvoorbeeld, ’n kleinerige gebou in vlamme opgaan. Ek skat dieselfde geld die vernietiging van ’n swaar vragmotor. Sonder sy vrag kos so ’n voertuig maklik meer as R2 miljoen.

Slaan epidemie van brandstigting hok

Die bekende Mostert-meul in Kaapstad wat feitlik vernietig is. Foto: Reuters

Om die gemeenregtelike misdryf brandstigting tot onroerende eiendom te beperk is na my beskeie oordeel klaarblyklik ontoereikend vir die onstuimige tye waarin ons leef. Ek het dit al voorheen bepleit en herhaal dit weer: Die gemeenregtelike omskrywing van brandstigting behoort deur wetgewing gewysig te word sodat enige vorm van die maak van vure met die oogmerk om iemand daardeur skade te berokken, of die gemeenskap te verontrief, “brandstigting” sal wees.

Dit sluit die alewige erg ontwrigtende brand van motorbande op paaie as ’n vorm van proteslewering in. Daar behoort ook ’n minimum vonnis vir brandstigting te wees – en dit moet séérmaak, sodat Suid-Afrikaners ’n heilige respek vir vuur kan begin ontwikkel.

Nog iets: die skuldvereiste vir sowel brandstigting as opsetlike saakbeskadiging is opset. Om op ’n nalatige wyse ’n brand te veroorsaak is op sigself nie – binne die besondere strafregtelike konteks – ’n misdryf nie.

Ook dit behoort hersien te word: As jy op ’n nalatige wyse ’n brand versoorsaak, behoort daar strafregtelike gevolge vir jou te wees. (Jy kan wel vir skadevergoeding aanspreeklik gehou word, maar sulke aksies is binne die domein van die privaatreg, nie die strafreg nie.)

’n Brandbestryder in Kaapstad word deur ’n makker bygestaan met oogdruppels. Foto: AP

Opsommend: Brandstigting behoort as ’n selfstandige misdryf – dit wil sê buite die kader van opsetlike saakbeskadiging – erken te word.

Die opsetlike veroorsaking van ’n brand waardeur die eienaar van onroerende óf roerende bates skade ly, of waardeur die “openbare orde” (by gebreke aan ’n beter generiese begrip) versteur word, behoort as “brandstigting” strafbaar te wees.

Insgelyks behoort die nalatige veroorsaking van ’n brand wat oplaas skade aan enige vorm van eiendom berokken, of wat die openbare orde versteur, ook as “brandstigting” strafbaar te wees. Dit spreek vanself dat die straf vir opsetlike brandstigting veel erger behoort te wees as wanneer ’n brand op ’n nalatige wyse veroorsaak word: Byna soos met moord en die “mindere” misdryf strafbare manslag.

Wat nodig is, is die politieke wil om die grondliggende redes vir geregverdigde protes uit die weg te ruim, maar ook om die epidemie van brandstigting in ons land permanent die nek in te slaan.

Ons skuld immers drasties verskerpte optrede aan die brandbestryders wat ons jaarliks in Mei met Internasionale Brandweerdag vereer.

• Bron: Shannon Hoctor: The Nature of the Crime of Arson in South African Law (Unisa Press: Fundamina 19 (2) 2013 pp 321-332)

• Pienaar is ’n nie-praktiserende advokaat van Vleesbaai. Dié artikel het oorspronklik op Saterdag 5 Mei in 2018 in Die Burger se Eiendomsbylae verskyn. Dit is aangepas om met onlangse verwikkelinge tred te hou.

• Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Jp Smith  |  Kaapstad  |  Brandweer  |  Brandstigting  |  Vuur  |  Protesoptrede  |  Brandbestryders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.