Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons regte in 'n pandemie: Dis 'n konstante dans

Die opweeg van individuele regte teenoor dié van die gemeenskap tydens ’n pandemie soos Covid-19, is ’n konstante dans, skryf Elmien du Plessis.

Ons moet almal maskers dra. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Bandile Masuku, Gauteng se LUR vir gesondheid, tydens ’n onlangse besoek aan die Steve Biko-hospitaal in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die Covid-19-pandemie het baie van ons die tyd gegun om uit die staccato van ons gewone lewensritme te ontsnap, stil te sit en na te dink oor verskeie dinge.

Een daarvan is hóé ons regte sien in ’n buitengewone tydperk, soos dié tydens ’n pandemie.

Gesondheidswetgewing maak voorsiening daarvoor dat mense met sekere aansteeklike siektes in kwarantyn moet bly. Maar met Covid-19 is ook gesonde mense gevra om tuis te bly. Tog was die inperking nie ’n tydperk van volslae kwarantyn (vir gesonde mense) nie – jy kon steeds uitgaan vir sekere noodsaaklikhede. Die fokus is dus nie op ’n siek individu wat afgesonder moet word nie, maar op die doen en late van die hele samelewing.

Dié koronavirus het ons voor unieke uitdagings te staan gebring op dié gebied. Die Wet op Rampbestuur is vir die eerste keer tot die uiterste beproef, en dit blyk dat dit plek-plek tekort skiet wat die bestuur van ’n pandemie betref.

Ons kennis van die virus is beperk, en dit ontwikkel byna daagliks.

’n Noodtoestand voel dalk oordrewe. En op ’n persoonlike vlak is ons individuele regte beperk, al word ons nie direk geraak deur die koronavirus nie.

Verder is ons kennis van die virus beperk, en ontwikkel dit byna daagliks. Maskers? Eers ja, nou nee.

Versprei dit in die lug? Eers nee, nou dalk ja.

Ons weet nog minder van die invloed op lang termyn en boonop weet ons nie hoeveel vlae van infeksies ons sal moet deurleef voordat daar ’n kuur of ’n entstof is nie.

Dit is nie ’n ideale omgewing om beleid of wetgewing te maak nie, wat beteken enige wetgewing sal ’n work in progress wees.

Regte kan slegs beperk word

Rokers meen die inperkingsmaatreëls maak inbreuk op hul regte. Foto: Deaan Vivier

Met die kennis wat ons in Maart tot ons beskikking gehad het, blyk dit dat die aanvanklike vlak 5-inperking die regte ding was om te doen.

Die regering moes deurgaans ’n stel reëls maak wat vir al die burgers in die land geld – vir dié wat in informele nedersettings bly en vir dié wat in voorstede bly. Dié wat met taxi’s moet ry en dié wat hul eie voertuie het. Dié wat gesond is en dié wat onderliggende siektes het wat hulle kwesbaar maak.

Verder hang die sukses van baie van die maatreëls daarvan af dat mense dit vrywillig moet volg. Dis moeilik om sosiale distansiëring konstant te monitor. Maskers in die publiek dalk meer. Gereelde was van hande? Vergeet dit.

Mense wat by mekaar kuier. Moeilik. Kwarantyn binne ’n huis. Onmoontlik.

Groepsdruk, groepsgedrag, en mense se interne kompas om te besef dat jou optrede ’n impak het op diegene om jou, is al wat oorbly in dié gevalle.

Geen individuele reg word weggeneem nie. Regte kan nie weggeneem word nie, selfs nie in ’n noodtoestand nie. Regte kan slegs beperk word.

Dit is in dié komplekse landskap waar sekere regte beperk word en waarin die pandemie bestuur word.

Daar word dikwels gesê dat dit neerkom op die opweeg van individuele regte teenoor die algemene welsyn. Of dat ons moet seker maak dat die belange van die meerderheid nie te veel op ons burgerlike vryhede (om nou Amerikaanse konsepte aan te haal) inbreuk maak nie.

’n Ander moontlikheid is om dit eerder te sien as ’n opweeg van individuele regte teenoor mekaar om ’n openbare doel te bereik.

Geen individuele reg word weggeneem nie. Regte kan nie weggeneem word nie, selfs nie in ’n noodtoestand nie. Regte kan slegs beperk word. So, die pandemie verander nie die regstelsel nie – as ’n liberale demokrasie waak ons steeds teen die misbruik van die individuele regte. Die vraag is eerder hoe ons die regte teen mekaar opweeg.

Want individuele regte het beskerming nodig, veral in tye waarin daar ’n kollektiewe bedreiging is.

Wanneer sekere individuele regte beperk word, word dit gemeet teenoor ander individuele reg en nie die regte van die kollektief nie. Ons is interafhanklik van mekaar, maar ons elkeen behou nog ons regte.

’n Konstante dans

Dié kennisgewing het Kapenaars aangemoedig om maskers te dra. Foto: AP

Met elke besluit is daar ’n verskeidenheid regte wat ter sprake is.

Ons vryhede soos gewaarborg in artikel 1; ons reg tot gesondheid (deur nie die gesondheidstelsel te oorlaai nie). Tot lewe (soms indirek). Die reg van vryheid van beweging. Liggaamlike integriteit. Privaatheid. Bedryf, beroep en professie. Toegang tot kos. Tot behuising. Kinderregte. Vergadering, betoging. Assosiasie.

Nie een van dié regte staan onafhanklik van ’n ander nie, en elkeen van dié regte mag beperk word.

Soms is dit ’n kompromie.

Die beperking en opweeg van regte is iets wat die Duitse howe besonders duidelik doen. ’n Beierse hof het byvoorbeeld bevind dat daar genoegsame bewyse is dat maskers infeksie verminder en dat die regte van ander mense tot lewe en liggaamlike integriteit, die regte van die eiser se persoonlike vryheid (om nie die masker te dra nie) in dié stadium troef. Veral ook omdat die reël slegs geld in die publiek.

Die konstitusionele hof het bevind dat die beperking op kerkdienste regverdig is: geloofsregte is opgeweeg teen die regte van mense se reg tot lewe. Maar die hof het dit ook duidelik gemaak dat dit gegrond is op die destydse stand van sake en die mediese kennis van tóé, en dat dit wel kan verander in die toekoms. Dit is ’n konstante dans.

Die reg tot betoging is opgeweeg teen die reg tot lewe en die hof het bevind dat die reg nie in die algemeen beperk kon word nie, maar dat sosiale distansiëring gehandhaaf moet word.

’n Man stap verby ’n drankwinkel wat die bier met ’n ironiese naam adverteer. Die drankverbod krap baie mense om. Foto: AP

Op een dag het die hof twee sake aangehoor oor die staat van inperking: een eiser wat beweer die staat moet meer beperkings opskort omdat dit te veel inbreuk maak op vryhede en ’n ander wat beweer dat indien die staat meer beperkings verslap, sy reg as iemand bo 65 jaar geskend sal word.

In albei gevalle het die hof die regte opgeweeg en bevind dat die staat se regulasies ’n voldoende balans verseker.

So, soms is dit ’n kompromie.

Op vlak 5 het die reg op vryheid tot beweging teruggestaan sodat die regering die reg tot gesondheid kan probeer verseker. En hoe verder ons gegaan het, hoe minder regverdigbaar het só ’n vlak van inperking geword kragtens die opweeg van regte.

Soos wat ons verder oopmaak en daar verskillende apps ontwikkel word, sal die reg tot privaatheid opgeweeg word teen die reg op gesondheid. En soos die omstandighede verander, sal die opweging verander. Maar die individuele regte sal bly staan, beperk tot die mate wat die bestuur van die pandemie, in die belang van ons almal, dit verlang.

Regering besluit oor balans

Elmien du Plessis

Dis met die opweeg van regte in gedagte, wat die regering moeilike politieke besluite neem. Die vraag oor waar die balans val, is ’n besluit vir die regering. Die bestuur van die pandemie is meer ’n kwessie van beleid as ’n regskwessie.

Howe kan wel beleid toets teen die Grondwet. Indien die regering laat blyk dat die doel van die beleid is om infeksiekoers laag te hou sodat die gesondheidstelsel nie in duie stort nie, dan is die vraag tot hoe ’n mate die beperking van individuele regte regverdig kan word vir daardie doel.

Maar howe oral in die wêreld, sal nie sommer inmeng in ’n beleidsbesluit oor hoe om die pandemie te bestuur nie. Dit is vanweë respek vir die skeiding van magte, en ook omdat howe nie die plek is waar sulke besluite geneem word nie – howe het bloot nie al die inligting om ’n doeltreffende besluit te maak nie.

Die Covid-19-pandemie maak dit duidelik dat ons meer interafhanklik is as wat ons dink. Dink daaraan – stede en lande moes mense dwing om in hul huise te bly en ’n veilige afstand van mekaar te handhaaf om die verspreiding van die virus te vertraag.

Dit was drastiese maatreëls om ons net uit mekaar te hou, want ons lewe is, onwetend soms, só vervleg.

Ons regte ook.

• Du Plessis is ’n medeprofessor in regte aan die Noordwes-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.