Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons skuld onsself méér menslikheid

Ons kan ná 4 000 jaar steeds baie uit die oudste bekende werk in die wêreldliteratuur leer. Soos onder meer dat ons onsself méér menslikheid skuld, skryf Chris Jones.

Kliptablette wat ’n deel van die “Gilgamesj-epos” vertel. Foto: Getty Images

Die Gilgamesj-epos is meer as 4 000 jaar oud. Dit is die oudste bekende werk in die wêreldliteratuur en ’n insiggewende verhaal, ook vir óns tyd.

Gilgamesj heers oor die stad Oeroek en is ’n bomenslike halfgod. Twee derdes god, en een derde mens. Die verhaal beskryf ’n indrukwekkende stadsmuur wat deur Gilgamesj laat bou is.

Omdat hy sy arbeiders en onderdane hardvogtig behandel het, stuur die gode die natuurmens Enkidoe na hom om hom te straf. Die twee word egter vriende en vorm saam ’n onoorwinlike paar wat verskeie heldedade verrig. Uiteindelik span hulle saam teen die gode.

Later sterf Enkidoe, en Gilgamesj begin soek na onsterflikheid. Hy probeer alles, maar dit bly hom ontwyk. Die verhaal eindig waar dit begin het, met ’n lied wat die muur om die stad besing.

Maar kom ons kyk in ’n bietjie meer detail na hierdie verhaal. Daar sou heelparty ander interessante aspekte van hierdie epos ook uitgelig kon word, maar hier word met die volgende volstaan.

Die vriendskap met Enkidoe help Gilgamesj om hom buite die stad te begeef; buite die beskerming van die stad se mure, die beskawing van daardie tyd, sy bekende omgewing.

Hierdie 'wedergeboorte' tot ’n menslike wese is onherroeplik, want die natuur laat niemand wat hom van haar losruk, weer terugkeer nie.

Gilgamesj het later, vanweë sy vriendskap met Enkidoe, afgesien van sy bouplan en laat die stadsmuur onvoltooid. In die proses ontdek hy wat die oprig van mure aan mense en hul verhoudinge doen.

Albei hierdie mense verander danksy hul ontmoeting en vriendskap. Gilgamesj van ’n kille, gehate tiran, wat van mense “robotte” gemaak het, in ’n mens met gevoel. Hy laat sy trots binne die mure van Oeroek agter, en gaan leef sy “siel” in die natuur uit.

Enkidoe was weer die teenpool van Gilgamesj: onvoorspelbaar, onbeheerbaar, wild, dierlik.

Nou kruis Enkidoe se pad met dié van ’n prostituut, Sjamhat. Ná hierdie ontmoeting (wat ses dae en sewe nagte geduur het!) verloor hy sy dierlike natuur en wys sy kudde hom af.

Hy word nou na die stad gebring, aangetrek, en hier word brood en bier vir hom voorgesit. Op hierdie wyse word hy mens, in die wieg van die beskawing. Welvarend, veilig, vol genoegdoening.

Enkidoe sluit hom aan by ’n “gespesialiseerde maatskappy” wat die onbewerkte natuur nie aan hom kon bied nie. Hierdie “wedergeboorte” tot ’n menslike wese is onherroeplik, want die natuur laat niemand wat hom van haar losruk, weer terugkeer nie.

Verbruikersgenot word onderstebo gekeer

’n Bebaarde Gilgamesj veg teen ’n leeu in hierdie afbeelding. Foto: Getty Images

Beide Gilgamesj en Enkidoe word op hul eie manier méns. Eintlik, in ’n psigologiese sin, is Enkidoe Gilgamesj se alter ego. Dit dui daarop dat albei hierdie twee nature in elkeen van ons skuil.

Uiteindelik is die stad nie net die tuiste van die mens nie, maar ook van allerlei gode.

Gilgamesj tree weg hiervan. Hy begeef hom buite die stad om sy heldedade te maksimaliseer.

Hy streef nie langer na nóg meer besittings of wins nie, maar wil eerder vir sy dade van heldhaftigheid onthou en geëer word.

In hierdie verhaal ontmoet Gilgamesj ’n vroue herbergier, Sidoeri, wat vir hom sê hy sal nooit onsterflikheid besit nie, en nooi hom uit om hom oor te gee aan die “tuin van bevrediging” – waar hy hom kon versoen met sy sterflikheid, en sy aardse genot kon maksimaliseer. Verrassend genoeg, wys hy dit van die hand.

Dit waartoe die hedendaagse samelewing ons steeds motiveer naamlik verbruikersgenot, word deur hierdie epos onderstebo gekeer.

Selfs die grootste werke van kultuur en beskawing kon nie die mens se verterende verlangens bevredig en oerdrifte hokslaan nie.

Daar is so baie in hierdie verhaal waarmee ons kan identifiseer. Die ruimte ontbreek om dit uit te wys. Hoe ons steeds van mense “robotte” maak. Hulle (gesofistikeerd) verontmenslik. Uitbuit. Vervreem van hulself en ander.

Met die bou van daardie muur skei Gilgamesj die stad af van die wilde natuur, en skep só ruimte vir die eerste menslike kultuur. Tog kon selfs die grootste werke van kultuur en beskawing nie die mens se verterende verlangens bevredig en oerdrifte hokslaan nie.

Alhoewel ons die natuur die rug toegekeer het om in die beskaafde (en kunsmatige?) stad te woon, het die “wilde natuur” saam met ons getrek. Die irrasionele. Die onredelike. Die gewelddadige. Die hartstogtelike.

Enkidoe volg ons oral. Ons staan digby die dier, ook in die stad. Dit beweeg, dryf en spoor ons aan, al verstaan ons nie presies hóé nie. Hierdie oerdrif. Onverdoofde instinkte.

Is die rede nie maar net ’n slaaf van innerlike wellus, hartstog en hebsug nie? Ons word dikwels heen en weer tussen hierdie spanningsvelde, waarvan ons in die Gilgamesj Epos lees, rondgeslinger. Ons kry net nooit volkome beheer hieroor nie.

Die aard van ménswees

Chris Jones

Met Gilgamesj en Enkidoe wat mekaar vind, word dit vir ons duidelik dat twee “prinsipes” of nature mekaar nie hoef te beveg nie, maar mekaar eerder tot ’n indrukwekkende lewensverhaal moet (probeer) voltrek.

Die “wilde natuur” skuil nie net in die verlede, in heroïese verhale en films en in verafgeleë stede en oerwoude nie, maar in elkeen van ons. In ’n sekere sin leef ons hieruit, maar vrees ons ook sy oerkrag.

As ’n mens die koerant lees en die nuus op die radio en televisie volg, wonder jy partymaal oor die aard van ménswees. Die moorde, verkragtings, misbruik, plundering, uitbuiting?

Ons sukkel so om dit te spel. Vriendskap. Menslikheid. Deernis. Omgee.

Gestorwe mense in rame. Dít is te dikwels die storie van die lewe nadat die slagaar van vreedsame naasbestaan op wreedaardige wyse met geroeste ou messe van waansinnigheid en stomp knipmesse van diaboliese wreedheid afgesny is.

Hoe lank moet ons nog kyk hoe die polsende membraan van lewe in Suid-Afrika deur die skerp vingers van geweldenaars geskeur word?

Ons sukkel om by wyse van vriendskap, met deernis en omgee, sielvol meer te word as wat ons vroeër was. Hierna moet ons egter bly streef. Ons skuld onsself méér menslikheid.

Niks het eintlik verander nie. Eintlik was daar geen werklike vooruitgang nie. Die epos eindig waar dit begin het – met die bou van ’n muur.

Ego’s wat nie voor die diep, verkwikkende soeke van die siel kan/wil buig nie, word so maklik vasgedraai in klampe van veragtelike gedagtes, ingebed in oerinstinkte. Ongelukkige slagoffers van hul eie ingegroeide, droë siele.

Die Gilgamesj-epos eindig op ’n (effe) ontmoedigende sikliese noot: Niks het eintlik verander nie. Eintlik was daar geen werklike vooruitgang nie. Die epos eindig waar dit begin het – met die bou van ’n muur.

Is dit nie maar hoe die geskiedenis werk nie? Herhaal alles nie maar net hulself nie? Dalk net met geringe variasies?

* Bron: Tomás Sedlácek, De economie van goed en kwaad (2012).

* Dr. Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Chris Jones  |  Deernis  |  Geskiedenis  |  Kultuur  |  Natuur  |  Gilgamesj-Epos  |  Menslikheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.