Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ons woede moenie net gemik wees op Zuma

Die afgelope weke se mobilisering teen pres. Jacob Zuma openbaar weer die diepe verdeeldheid tussen wit en swart in ons samelewing. Dr. Azille Coetzee vra wat sy as middelklas-, wit Suid-Afrikaner kan doen om te begin om by te dra tot die oorkoming van hierdie verdeeldheid.

Deelnemers aan verlede week se optog na die Uniegebou in Pretoria om te eis dat pres. Zuma bedank, kom met plakkate, vlae en baniere bymekaar. Foto: Felix Dlangamandla

Die afgelope twee weke het Suid-Afrikaners bymekaargekom in protes teen pres. Jacob Zuma, ’n boosdoener wat ’n bedreiging inhou vir die welstand van almal in Suid-Afrika. Hierdie protesaksies verteenwoordig ’n optimistiese oomblik waarin dit duidelik word dat ons as Suid-Afrikaners lief is vir ons land en dat ons bereid is om vir die toekoms daarvan te veg.

Maar hierdie mobilisering openbaar ook weer die diepe verdeeldheid tussen wit en swart in ons samelewing. Hoewel daar konsensus is oor die katastrofiese invloed wat Zuma op die toekoms van Suid-Afrika kan hê, kan ons dit nie regkry om as land, sáám, met één stem, hierteen te protesteer nie. Buiten ’n paar uitsonderings, protesteer wit en swart steeds meestal apart. Een van die hoofredes is dat baie Suid-Afrikaners wantrouig is teenoor wit Suid-Afrikaners wat nóú skielik die behoefte het om te betoog.

Daar word gevra: Waar was die wit Suid-Afrikaners elke keer as ons betoog het teen Marikana, of elke keer as ons protesteer teen die skending van menswaardigheid van die armes deur swak dienslewering?

Die betogings teen Zuma word gesien as ’n bevestiging dat die meeste wit Suid-Afrikaners net bereid is om die strate in te vaar as ons eie materiële welvaart in gedrang is.

Max du Preez het dieselfde waarneming gemaak op Twitter: “Imagine what could have been if we white South Africans were as outraged at apartheid, torture and death squads as we are at Zuma right now.”

Die betogings teen Zuma word gesien as ’n bevestiging dat die meeste wit Suid-Afrikaners net bereid is om die strate in te vaar as ons eie materiële welvaart in gedrang is.

Hierdie tweespalt belemmer die krag en oorredingsvermoë van die protesaksies van die Suid-Afrikaanse samelewing. En Zuma verstaan dit baie goed as hy hierdie verdeeldheid gebruik om die protesaksies bloot as ’n manifestasie van wit rassisme af te maak. Om hierdie rede, en vele ander, is dit noodsaaklik dat ons as Suid-Afrikaners harder moet werk daaraan om brûe te bou sodat ons sáám kan baklei vir ’n beter Suid-Afrika.

’n Lid van die EFF vra dat Zuma moet gaan.Foto: Thapolo Maphakela

Die onaantasbaarheid van die wit liggaam

Daarom het ek begin nadink oor die vraag: Wat kan ek, as ’n middelklas-, wit Suid-Afrikaner, doen om te begin om by te dra tot die oorkoming van hierdie verdeeldheid?

Dit was nie lank voordat ek met ’n kragtige antwoord gekonfronteer is nie. ’n Paar dae gelede het ek ’n lesing bygewoon deur die wêreldberoemde filosoof Judith Butler. Butler verduidelik dat ons in ’n wêreld leef waarin sommige mense (soos arm mense, swart mense en vlugtelinge) as onweerbaar bestempel word en dan aanvaar ons dat daar slegte dinge met hulle gebeur, en voel ons nie dat ons verantwoordelikheid daarvoor hoef te neem nie.

Dit sien ’n mens duidelik in die wêreldwye aanvaarding wanneer duisende vlugtelinge in die Mediterreense See aan die oewers van Europa verdrink, in teenstelling met die internasionale verdriet en verontwaardiging wat ontlok word as daar ’n terroristeaanval in Parys is.

Butler se idees resoneer sterk met Suid-Afrikaanse skrywer Njabulo Ndebele se bekende Steve Biko-gedenklesing in 2000 toe hy verduidelik het dat die wit liggaam wêreldwyd ’n soort onaantasbaarheid of onskendbaarheid geniet wat direk proporsioneel is tot die wêreldwye skendbaarheid of weerbaarheid van die swart liggaam. As die wit liggaam geskend word, is daar altyd ernstige gevolge vir die dader, terwyl swart liggame nie dieselfde beskerming geniet nie. Hierdie idee staan ook sentraal tot die Amerikaanse beweging Black Lives Matter.

As antwoord op hierdie probleem argumenteer Butler dat ons weerbaarheid moet herbedink as ’n relasionele predikament: Weerbaarheid is iets wat bestaan in verhoudings tussen mense, eerder as iets wat aan sekere soorte liggame kleef. Vir Butler word weerbaarheid dus ’n gedeelde toestand wat medepligtigheid, verantwoordelikheid en gesamentlikheid impliseer.

Butler se idee is vir my treffend omdat dit spesifiek resoneer met ’n sentrale tema in die Afrikafilosofie. In die werk van Afrika-filosowe uit ’n verskeidenheid lande in Afrika suid van die Sahara, vind ons ’n gesofistikeerde en oortuigende begrip van menswees as iets wat geanker is in ’n verbondenheid met ander. ’n Vereenvoudigde weergawe van hierdie idee is gepopulariseer as deel van die reënboognasie-narratief in postapartheid-Suid-Afrika: Ubuntu. Ek is ’n mens deur ander mense.

Ek is, want ons is

In die Westerse filosofie word die menslike vermoë om rasioneel te dink en rasioneel met die wêreld om te gaan as die kern van menswees geag (“Ek dink, daarom is ek,” aldus Descartes). In kontras hiermee skryf die Keniaanse filosoof John Mbiti in 1970: “I am because we are.” In die denke van filosowe in Afrika suid van die Sahara gaan dit dus daarom dat menswees nie ’n individualistiese toestand is nie, maar dat die mens iets is wat inherent in verhouding tot ander bestaan.

Hierdie idee kom sterk na vore in Desmond Tutu se woorde: “We say, ‘a person is a person through other people’. It is not ‘I think therefore I am’. It says rather: ‘I am human because I belong.’ I participate, I share.”

Die Nigeriese filosoof en digter Ifeanyi Menkiti verduidelik dat dit beteken dat die self ’n verlengde of uitgebreide self is, wat onlosmaaklik verstrengel is met die ander. Die gevolg is dat menswees nie ’n voltooide gegewe is nie, maar ’n voortgaande projek wat verwesenlik moet word in verhoudings met ander.

Watter antwoord bied hierdie idee van weerbaarheid as gedeelde toestand van menswees op my vraag oor wat ek as wit, middelklas-Suid-Afrikaner kan doen om by te dra tot die oorkoming van die verdeeldheid in ons land? Dit impliseer dat as ander gebuk gaan onder armoede, polisiegeweld, beperkte toegang tot regshulp en skending van hul sosio-ekonomiese regte, dit dinge is wat ook mý menswaardigheid skend en menswees beïnvloed. Dit gaan dus oor die besef dat my verantwoordelikheid teenoor ander mense nie te doen het met liefdadigheid nie, maar direk deel is van en relevant is tot my eie strewe na menswees en welstand.

Die Afrikafilosofie leer dus vir ons dat as ons ons pynlike verlede wil oorkom, ’n beter toekoms wil bou en wil floreer as mense in ’n egte demokrasie, moet Suid-Afrikaanse wit liggame begin déél aan die weerbaarheid van swart liggame.

In Ndebele se Steve Biko-gedenklesing doen hy ’n beroep op wit Suid-Afrikaners om ’n nuwe hoofstuk in die wêreldgeskiedenis te skryf deur te verklaar dat die menswaardigheid van die wit liggaam nie geskei kan word van die menswaardigheid van swart liggame nie. Die Afrikafilosofie leer dus vir ons dat as ons ons pynlike verlede wil oorkom, ’n beter toekoms wil bou en wil floreer as mense in ’n egte demokrasie, moet Suid-Afrikaanse wit liggame begin déél aan die weerbaarheid van swart liggame.

Daarom, as ek as middelklas-, wit Suid-Afrikaner wil bydra tot die demokratiese vereniging van wit en swart stemme in Suid-Afrika, moet my woede en protes nie net gemik wees teen Zuma se presidentskap nie.

Ek moet, saam met die res van die mense van Suid-Afrika, baklei teen armoede, teen swak dienslewering, teen xenofobie, en vir ekonomiese hervorming, vir gelyke menswaardigheid en vir radikale demokratiese gelykheid.

* Dr. Azille Coetzee het pas haar doktorsgraad in filosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf.

Meer oor:  Optogte  |  Zuma  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.