Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onse Bram, Molly en ek

An Act of Defiance, die rolprent oor Bram en Molly Fischer tydens die Rivonia-verhoor, is van Woensdag tot vandag op die Silwer-skermfees in Kampsbaai te sien. Die rol van Molly word vertolk deur Antoinette Louw, wat van haar ervaring vertel.

Sylvaine Strike as Hilda Bernstein en Antoinette Louw as Molly Fischer.

Kovsie-kampus. 1994. My eerste jaar. Vinnig het ek agtergekom die koelste ouens bly in die manskoshuis Vishuis. Daarby was dit ook die mooiste gebou op die kampus – ’n ekstra romantiese bekoring. Én dis die oudste. Gebou in 1907 uit sandsteen. Eg uit die Vrystaatse grond.

’n Koshuis vol tradisie. En broederskap. ’n Koshuis van mense soos oud-staatspresident C.R. Swart. Of sommer “onse oom Blackie”, soos geliefd in die volksmond genoem en onthou.

Nie dat ek aan die begin geweet het waarom dit Vishuis genoem is nie. Dit was net vir my vreemd. Want as ek aan vis dink, dink ek aan water. En dis nie asof die Vrystaat juis vir sy massas water bekend is nie. Die Loch Logan-waterfront tel nie.

Eers later het ek uitgevind Vishuis is genoem na Abraham Fischer – formidabele eerste minister van die Oranjerivierkolonie. ’n Man van inbors. ’n Vredemaker. Wat alles in sy vermoë gedoen het om vrede tussen Boer en Brit te bewerkstellig, om oorlog te voorkom. En toe dit nie gebeur nie, persoonlik na kommando’s gery het om hulle moed in te praat. Briewe geskryf het aan vroue wat agtergebly het. En waar hy kon, van sy eie geld na behoeftige families gestuur het.

Uit die rolprent: An Act of Defiance
“Onze Abram,” soos hy later onder mense bekend gestaan het, was inderdaad geliefd.

“Onze Abram,” soos hy later onder mense bekend gestaan het, was inderdaad geliefd.

Maar terug by my jare op Kovsies.

As student het ek alles bevraagteken. Godsdiens. Politiek. My kultuur. Die onregverdige en hartseer sosiale omstandighede in ons land. Die inkonsekwentheid van mense se gedrag binne die kerk teenoor hul gedrag buite die kerk. Ek kon net nie die kloutjie by die oor bring nie. Ek het al hoe meer vervreemd van my omgewing, my herkoms gevoel. ’n Eensame reis inderdaad

Ek het Londen toe gevlug. Op die vliegtuig geklim. Alleen. Vir myself gesê ek gaan nie met ander Suid-Afrikaners meng nie. Maar ek was jonk en naïef. En die lewe maak interessante draaie . . . Op die ou einde was my selfbehoud en oorlewing ander Suid-Afrikaners. Ek deel ’n huis met hulle. En die adres? 1 Bloemfontein Road. My tuisdorp.

Oos wes tuis bes. Dit was ’n teken.

’n Nuutgevonde diepe liefde vir hierdie land en al sy mense het my oorweldig. Dit doen nog steeds. En my mooie, beeldskone taal het my opnuut ’n knop in die keel gegee. Maar die belangrikste – dit het my waardering geleer. En empatie – selfs met die deel van my herkoms wat ek nie verstaan het of mee kon identifiseer nie. Dit help nie om te vlug en ontsteld te raak met dit waarmee ek nie saamstem nie. Wat ek wel kan doen, is om te bly en ’n verskil te probeer maak.

Willie Esterhuizen as lt. Swanepoel en Morné Visser as kapt. Dirker in die fliek oor Bram en Molly Fischer.

Sal ek belang stel om vir die rol van Molly ’n oudisie te doen? Ek kry hoendervel . . .

Suid-Afrika is waar ek hoort.

Druk die fast forward-knoppie. Dis 2016 en my agent laat my weet die Nederlanders maak ’n fliek oor Bram Fischer en sy vrou, Molly: An Act of Defiance. Sal ek belang stel om vir die rol van Molly ’n oudisie te doen? Ek kry hoendervel . . . Ek en my ouers het destyds Harry Kalmer se toneelstuk Die Bram Fischer Wals in Bloemfontein gaan kyk. Ook Bram se geliefde tuisdorp. Ek was 90 minute lank vasgenael. Ingesluk deur Bram se storie. Die ligte in die ouditorium is aangeskakel en ons het net gesit. En gehuil . . .

So, my antwoord was ja. Ek wil beslis die oudisie doen – al is ek 12 jaar jonger as wat Molly toe was, gaan ek nog steeds probeer. Want hierdie is juis die soort storie waarvan ek deel wil wees.

Die oudisie-proses is senutergend. Jy is bang en weerloos. En ’n magdom mense gaan vir dieselfde rol . . . Weke van stilte het daarna gevolg. “Dinge moet gebeur soos dit moet,” het ek myself gepaai. Tot een oggend toe ek ’n e-pos van my agent ontvang. “Goeie môre, mev. Fischer.” Ek was lam. En het ’n kersie van dankbaarheid aangesteek. My herinner aan die doel daarvan. Ek sou dit met hart en siel eer.

Nee, ’n nuwe tipe skeiding het sy lelike en skadelike kop uitge­steek . . .

My navorsing het begin

Ek het alle inligting wat ek oor Bram kon kry, verslind. En hoe meer ek uitgevind het, hoe nader het ek gevoel aan Bram en Molly. Ek gaan die leser nie verveel met historiese feite nie. Dis hoekom Google daar is.

Al wat ek kan deel, is my ervaring. Die oorweldigende hartseer (en teleurstelling) wat in my lyf kom sit het oor ’n man en vrou wat met hul hele wesens hierdie land liefgehad het. Lief vir die grond. Lief vir hul taal. Gesinsmense. Familievas. Bram was, nes sy oupagrootjie Abraham Fischer na wie hy genoem is, ’n man van inbors. ’n Vredemaker.

Hy het die familietradisie voortgesit . . . Dit was in sy gene. Nie meer tussen Boer en Brit nie. Daardie oorlog was lankal verby. Nee, ’n nuwe tipe skeiding het sy lelike en skadelike kop uitge­steek . . .

En soos die leser weet, is wit Suid-Afrikaners herhaaldelik teen die “Swart Gevaar” en die “Rooi Gevaar” gewaarsku.

Bram Fischer was deel van die “Rooi Gevaar”.

Bram Fischer was deel van die “Rooi Gevaar”. Maar vir Bram was kommunisme in daardie stadium die enigste logiese maatskaplike bestel. ’n Bestel wat die skeiding tussen swart en wit sou oplos en die geweldige armoede sou uitwis. Maar ook ’n bestel waarbinne jy steeds jou kultuur en herkoms kon uitleef. Vir hom, as Afrikaner, was dit van kardinale belang.

Die Fischers was gebrandmerk. Verwerp. Deur hul eie mense. En toe hy in die Rivonia-verhoor Madiba, Oliver Thambo en ander se hoofadvokaat word, het dit net vererger. Die staat het hulle die heel tyd dopgehou. Hulle het geen privaatheid gehad nie en was deurentyd in ’n staat van spanning. Maar die Fischers het voet by stuk gehou. Hulle sal nie die land verlaat nie. Dit help nie om te vlug van dit waarmee hulle nie saamstem nie. Hulle hoort hier. Al wat hulle kon doen, was om te bly en ’n verskil te probeer maak.

En hulle het.

Danksy Fischer en sy span is Madiba en die agt ander beskuldigdes lewenslange tronkstraf en nie die doodstraf nie, waarop die regering gehoop het, opgelê. Die doodstraf kon Suid-Afrika in ’n burgeroorlog dompel.

Hoop, wanhoop, hoop

Die dag ná die hofuitspraak het Bram, Molly en ’n vriendin gery na Kaapstad vir hul dogter Ilse se 21ste verjaardag.

Op pad deur die Vrystaat het Bram vir ’n dier uitgeswaai. Die motor het gerol en in ’n rivier beland.

Molly het verdrink – sy wat so lief vir water was. Op die dag van haar begrafnis in Johannesburg het dit gesneeu – vir die eerste keer in dekades. Bram is later weens sy politieke aktiwiteite in hegtenis geneem. Hy was lewenslank in die tronk en as ’n “verraaier” is hy ekstra swak behandel. Slegs twee besoeke per jaar – en dan net een persoon per besoek – is toegelaat. Hy is ook nie toegelaat om sy seun se begrafnis by te woon nie. Toe kanker by hom gediagnoseer is, het hy nie die regte mediese behandeling ontvang nie. Hy is ná sy dood veras en die regering het beweer dat sy as “verloor” is. Ek het nog nooit soveel kameraderie tussen akteurs ervaar soos op die filmstel van An Act of De­fiance nie. Ons het geweet hierdie storie is nog nooit op so ’n wyse vertel nie. Ons het geweet dat hierdie projek ekstra spesiaal is.

Antoinette Louw as MollyFischer in An Act of Defiance.

Ek het ingestap. En ek het gesien. En ek het gevoel.

Hoewel An Act of Defiance fokus op die verhouding tussen Bram en Molly en op die mense wie hulle was, is ook tonele van die Rivonia-verhoor verfilm. Die verfilming was in die Paleis van Justisie in Pretoria in die presiese hofsaal waar die verhoor was. Ek het ingestap. En ek het gesien. En ek het gevoel.

Op hierdie bank het die beskuldigdes gesit. Op hierdie einste trappe het onse Madiba gestap. Maande lank omtrent elke liewe dag. Hulle het onder uit die koue aanhoudingsel gekom en op hierdie harde bank gesit en wag om te hoor of hulle gaan lewe of nie. Hier is die aanhoudingsel, waar die manifesto wat later die grondslag van ons merkwaardige Grondwet sou word, uitgekerf is.

Maar sit het die vroue gesit. Kaalvoet oor die Drakensberge . . .

Hier. Net hier. En bo in die galery, op hierdie einste ongemaklike bank, het Molly en haar goeie vriendin, Hilda Bernstein, hul mans ondersteun. Elke dag. Ure aaneen. Molly vir Bram. En Hilda vir Rusty. En hel, dit was warm daarbinne. Nêrens ’n luggie wat trek nie. ’n Mens wil flou word. Maar sit het die vroue gesit. Kaalvoet oor die Drakensberge . . .

Omdat Bram se as nooit opgespoor is nie, moes sy familie hom daarsonder groet. ’n Kovsie-koshuis is nooit na hom genoem nie. Maar later jare, in sy geliefde Vrystaat, is die Bloemfonteinse lughawe wel, asook ’n hoofpad in Johannesburg. So, wanneer jy weer Bloemfontein toe vlieg. Of op Bram Fischer ry om inkopies te gaan doen, sien sy naam. Onthou die man wat hy was. Suid-Afrikaner. Afrikaner. Gesinsman. Vredesman. ’n Man van inbors. Hy was “Onse Bram”.

  • An Act of Defiance word later vanjaar internasionaal en nasionaal uitgereik.

Meer oor:  Antoinette Louw  |  An Act Of Defiance  |  Akteur  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.