Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onteiening: Daar ís gronde vir hoop

Wanneer dit kom by die debat oor onteiening sonder vergoeding, is die kalf nog nie in die put nie. Die beroering onder gematigde leiers binne die ANC is dalk nie vir ieder en elk sigbaar nie, maar dit bestaan wel meen Jan-Jan Joubert. Hy het minstens vier redes gevind om versigtig optimisties te wees en kalm te bly.

Die kabinet het in sy laaste vergadering van verlede jaar konsepwetgewing aanvaar om die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding drasties te beperk.

Dit is die jongste ontplooiing van ’n reusagtige poging agter die skerms sedert Desember 2017 deur gematigde Suid-Afrikaners van uiteenlopende politieke en gemeenskapsagtergronde om te verhoed dat grondhervorming lei tot die soort ekonomiese katastrofe wat in baie ander lande wêreldwyd, onder meer Zimbabwe, afgespeel het.

Dit het derhalwe duidelik geword dat gematigdes se terugvegpoging teen die aktivistiese bewoording van die ANC-konferensie se besluit by Nasrec in 2017 (oor ’n grondwetwysiging om onteiening sonder vergoeding ) tans ’n groter as verwagte mate van sukses bereik, met vier uiters groot, belowende verwikkelinge en ’n string kleiner positiewe aanduidings om te verreken:

1. Die ANC en die EFF is haaks

Dit lyk tans uiters onwaarskynlik dat die Grondwet verander gaan word. So ’n afleiding berus nie op ’n waarde-oordeel nie, maar op ’n wiskundige som. Wat in November verander het, is dat die ANC en EFF albei amptelik aangekondig het hulle gaan mekaar nie ondersteun in die verandering van die Grondwet nie, want hoewel albei, om verskillende redes, ontevrede is met die huidige bewoording van die Grondwet, stem hulle glad nie saam oor die oplos van hul onderskeie besware nie.

Die eerste salvo in dié verband het gekom van die EFF-leier, Julius Malema.

Hy het gesê die EFF sal geen duim toegee aan die ANC-standpunt nie – die EFF staan vierkant by sy standpunt dat grond genasionaliseer en deur die staat bestuur moet word.

Hy het so ver gegaan as om in die openbaar op ’n mediakonferensie te verklaar dat hy bewus is daarvan dat daar sommiges in die EFF is wat met die ANC wil onderhandel hieroor, maar dat hulle eers van hom as EFF-leier ontslae sal moet raak voordat dit kan gebeur. Sterker kon hy dit nie gestel het nie.

’n Paar dae later het Jackson Mthembu, ie ANC-hoofsweep, op ’n nuuskonferensie in sterk taal geantwoord dat die ANC op sy beurt ook nie ’n duim sal toegee aan die EFF oor die nasionalisering van grond nie – ’n punt wat ook reeds vroeër in die parlementêre debat gemaak is deur die senior ANC-LP Vincent Smith.

Ons is nie die EFF nie. Ons verskil van hulle oor grond en ons maak gereed vir ’n groot stryd met hulle oor die grondkwessie.

Mthembu het, sonder om Zimbabwe by name te noem maar in ’n kwalik verskuilde verwysing na dié buurland, pertinent onderneem dat Suid-Afrika nie die foute sal maak wat ander lande gemaak het nie – spesifiek met die toewys van grond aan politiek gekonnekteerdes en familielede van magshebbers.

Oor die EFF het hy gesê: “Ons is nie die EFF nie. Ons verskil van hulle oor grond en ons maak gereed vir ’n groot stryd met hulle oor die grondkwessie.”

Die wiskundige gevolg wat ’n grondwetwysiging tans onmoontlik maak, is dat ’n mens ’n meerderheid van twee derdes in die Nasionale Vergadering moet hê om die Grondwet te wysig. Solank die DA, IVP, VF Plus, ACDP en Cope vas staan in hul oortuiging om nie die Grondwet te wysig nie (en alle aanduidings is dat dit die geval is), het die ANC en die EFF mekaar nodig om by twee derdes uit te kom en die Grondwet te wysig.

Dit gaan duidelik nie gebeur nie, so die Grondwet kan nie nou gewysig word nie – dit is wiskundig onmoontlik. Al manier waarop die ANC die Grondwet kan wysig soos hulle wil, is om in vanjaar se verkiesing aansienlik beter te doen as hul huidige posisie.

2. Die regering kies sy woorde versigtig

Die tweede sterk aanduiding van gematigde gedrag is die bewoording van die nuwe Wetsontwerp op Onteiening wat die kabinet aanvaar het. Dit is grootliks dieselfde as die Onteieningswetsontwerp wat vroeër vanjaar aan die parlement onttrek is en wat wye byval gevind het omdat dit deur die instel van behoorlike prosedurele en tydraamwerke vir die hantering van grondeise heelwat meer sekerheid bring vir die landbougemeenskap.

Die belangrike byvoeging tot die wetsontwerp wat die kabinet goedgekeur het, is in art. 12 (3). Dit handel oor onteiening sonder vergoeding, en perk dit omvattend in.

In die oorspronklike Engelse teks is dit 137 woorde lank en ’n vertaling lui as volg:

“12 (3) Dit kan billik en regverdig wees om nul vergoeding te betaal waar grond in die openbare belang onteien word, met inagneming van alle relevante omstandighede, insluitend maar nie beperk nie tot

Die hof sal daarvolgens die arbiter bly oor wat billike en regverdige vergoeding in elke geval behels.

(a) Waar die grond bewoon of gebruik word deur ’n arbeider wat op die plaas woon, soos gedefinieer in die Wet op Grondhervorming (Arbeiders/Bewoners) wet 3 van 1996;

(b) Waar die grond slegs vir absoluut spekulatiewe doelwitte gebruik word;

(c) Waar die grond besit word deur ’n maatskappy in staatsbesit of enige ander entiteit in staatsbesit;

(d) Waar die grondeienaar die grond geabandonneer het; of

(e) Waar die markwaarde van die grond gelykstaande of minder is as die huidige waarde van regstreekse staatsbelegging of -subsidie vir die aankoop of voordelige kapitaalverbetering van die grond.”

Hoewel die bewoording sekerlik nie beperkend genoeg is nie (en die slim ding om hieroor te doen, sal nogmaals wees om dit rustig deur gevestigde kanale agter die skerms te takel eerder as om jou ontevredenheid van die dakke af te skree), is dit beslis ’n stap in die regte rigting in hierdie delikate en belangrike skaakspel.

3. Heethoofde staan opsy

Die derde sterk aanduiding dat gematigdes in die ANC beheer oor die proses oorgeneem het, lê in die keuse van die mense wat hulle ontplooi het om die bewoording van die ANC-voorstel vir ’n grondwetlike verandering in die parlementêre ad hoc-komitee (wat nog gestig moet word) op te stel.

Die aangewese voorsitter is Thoko Didiza, die uiters gematigde voorsitter van die Nasionale Vergadering.

Jan-Jan Joubert

Die ander ANC-lede van die komitee is ook baie senior.

Hulle is Vincent Smith, wat ’n sterk gematigde rol in die gronddebat speel, Stanford Maila, wat tot dusver medevoorsitter van die proses was, Rosina Semenya, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, die gewese regspraktisyn Lindiwe Ma­seko en Phumzile Mnguni, ANC-sweep in die portefeuljekomitee oor landelike ontwikkeling en grondsake.

Mthembu het as ANC-hoofsweep reeds vroeër ’n sterk aanduiding van die beperkte, beplande bewoording van die grondwetlike voorstel gegee.

Hy voorsien dat die ANC se voorstel op ’n baie eenvoudige manier die moontlikheid van ’n nulwaarde (onteiening sonder vergoeding) sal invoeg as moontlikheid – maar beslis as een van verskeie en geensins as voorkeurmoontlikheid nie.

Die hof sal daarvolgens die arbiter bly oor wat billike en regverdige vergoeding in elke geval behels.

4. Die raasbekke kry raas

Die vierde sterk aanduiding is dat gematigde ANC-leiers die ANC-agterbankers wat in verlede jaar se parlementêre debat deur hul luidrugtige en by tye amper rassistiese gedrag bykans soos die EFF oorgekom het, intern ernstig voor stok gekry het.

Die gedrag deur sommige ANC-agterbankers het gematigde lede van die ANC en die opposisielede sodanig ontstig dat iemand soos die gerespekteerde liberaal Anchen Dreyer, voor­sitter van die DA-koukus, in die openbaar verklaar het dat sy die gedrag ontstellend gevind het en dat dit ’n slegte smaak in die mond laat.

Daardie gevoel was nie tot die DA beperk nie en het daartoe gelei dat die ANC-agterbankers in baie duidelike taal intern daaraan herinner is dat hulle nié die EFF is nie, en dat sulke gedrag nié geduld sal word nie.

Hoewel daar dus nog ’n lang en swaar pad voorlê, was die mees onlangse verwikkelinge by tye goed vir gematigdes in die gronddebat, en ’n aanduiding dat middelpuntsoekende kragte die kalf tog moontlik kan terugruk waar dit op die rand van die put huiwer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.