Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onteiening: Wat het gebeur terwyl virus woed?

Watter invloed het Covid-19 op die landskap van grondhervorming en die verandering van die Grondwet? Elmien du Plessis het ondersoek ingestel na wat gebeur het met die Onteieningswetsontwerp en die voorgenome wetgewing om artikel 25 te wysig.

’n Plaastoneel in die Suid-Vrystaat. Wat gaan die gevolge van die voorgenome wetgewing oor onteiening wees vir boere? Foto: Charles Smith

2020 was ’n onstuimige jaar, en dit is soms amper onmoontlik om die wêreld voor Covid-19 voor te stel. Dit was ’n wêreld waar ons debatte gevoer het oor die wysiging van die Grondwet en die toekoms van grondhervorming in Suid-Afrika.

Maar nou is die parlement aanlyn, en baie van ons vleg naatloos in en uit Zoom- en Teams-vergaderings. Dinge kom weer op dreef, en ook wetgewende prosesse moet voortgaan.

Namate ons uit wetgewende hibernasie kruip, sal ons die wêreld moet herbeoordeel. Watter invloed het en sal Covid-19 op dié landskap hê?

Ons sal ook moet onthou waar ons is in die proses. Dit het begin met ’n mosie in Februarie 2018, wat ’n gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee die opdrag gegee het om vas te stel of die Grondwet verander behoort te word. Die verslag van daardie komitee, wat ook twee weke gelede die onderwerp van ’n hofsaak was, het bevind die Grondwet moet gewysig word om uitdruklik te maak wat implisiet in die bewoording is.

Maar ons is dit nog steeds nie eens oor wat “implisiet” is nie.

Die finale bewoording van artikel 25

In dié tyd is die ietwat gewysigde Onteieningswetsontwerp van 2015 gepubliseer vir kommentaar, dié keer met ’n klousule wat uiteensit onder watter omstandighede (maar nie beperk daartoe nie) die staat eiendom mag (en nie moet nie) sonder vergoeding onteien.

Maar die proses vir die wysiging van die Grondwet het voortgegaan. Die nasionale vergadering het ’n ad hoc-komitee aangestel onder die leiding van Thoko Didiza om wetgewing te inisieer vir die wysiging van artikel 25. Tog, weens die verkiesings en die min tyd, kon dié komitee nie hul werk betyds afhandel nie.

Die nasionale vergadering het ’n ad hoc-komitee aangestel onder die leiding van Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, om wetgewing te inisieer vir die wysiging van artikel 25. Foto: Edrea du Toit

Ná die verkiesing, in Julie 2019, is daar dus ’n ander komitee aangestel, naamlik die ad hoc-komitee om wetgewing wat artikel 25 wysig te inisieer en voor te stel.

Hulle is dus verantwoordelik vir die spesifieke bewoording, welke bewoording hulle ook in Desember 2019 vir openbare insae voorgelê het.

Skriftelike voorleggings moes teen die einde van Januarie ingedien wees. Die komitee het daarna ’n reeks openbare deelnameprosesse in die provinsies gehad waar die spesifieke bewoording bespreek moes word, maar Covid-19 het dié proses onderbreek.

Tydens die inperking, aan die einde van Mei, het die komitee verval. Daar is toe in ’n Sondagkoerant gespekuleer dis ’n teken dat die ANC nie meer aptyt het vir dié proses nie. So is die komitee ’n paar weke later heringestel op dieselfde voorwaardes as die vorige komitee om die werk te voltooi.

Met ’n sperdatum (31 Desember) om met die finale bewoording vir artikel 25 vorendag te kom raak die tyd min . . .

Die vergadering in Mei was die laaste vergadering van die komitee in 2020.

Die herleefde komitee se eerste vergadering was geskeduleer vir September, maar gedurende tyd wat opsy gesit is vir partye om met hulle kiesafdelings te skakel. Die vergadering is gekanselleer.

Met ’n sperdatum (31 Desember) om met die finale bewoording vir artikel 25 vorendag te kom raak die tyd min, veral as die uitdagings van openbare deelname tydens die pandemie in ag geneem moet word.

Wysiging van die Grondwet

Elmien du Plessis Foto: Foto24

Ons wag dus nog. Ons wag ook vir die Onteieningswetsontwerp om eersdaags goedgekeur te word deur die kabinet sodat dit na die nasionale vergadering kan gaan. Dit is ’n baie belangrike wetsontwerp in dié proses, aangesien dit onteiening en die proses met die Grondwet belyn, en die wet wat die staat se magte uiteensit, omskryf en beperk.

Daar was nog altyd onsekerheid oor of die wysiging van die Grondwet die aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp moet voorafgaan of nie, maar indien ’n mens aanvaar dat die Grondwetwysiging eksplisiet maak wat implisiet is, is daar nie ’n verandering aan die regsposisie nie, en is dit om’t ewe wat eerste gebeur.

So, wat gaan gebeur in die volgende jaar of wat op dié terrein? Wel, ’n raaiskoot is presies net dit – ’n raaiskoot.

Die Onteieningswetsontwerp behoort beslis aanvaar te word, wat sekere prosesse gaan belyn. Die wetsontwerp sal waarskynlik getoets word vir grondwetlikheid op ’n hele paar kwessies, soos die definisie van onteiening, die nul-vergoedingsklousule en die feit dat dit nie uitdruklik voorsiening maak vir mense wat inheems-regtelike regte het wat grond betref nie.

Maar sonder ’n spesifieke saak voor die hof sal dié bepalings waarskynlik vir eers staan.

Met die wysiging van die Grondwet kan hoofsaaklik drie goed gebeur: Daar is óf ná die openbare deelname geen of slegs klein veranderinge aan die bewoording, en dit gaan na die nasionale vergadering wat die wetsontwerp aanvaar en daar is ’n minimale wysiging aan die Grondwet.

Die proses vir die wysiging van die Grondwet het voortgegaan, ten spyte van Covid-19. Foto: Nasief Manie

Die tweede opsie is dieselfde as die eerste – behalwe die wetsontwerp word nie aanvaar nie (waarskynlik omdat dit nie radikaal genoeg is vir die EFF nie), en die Grondwet bly soos dit is. Die laaste opsie is dat die bewoording radikaal verander word, in welke geval ons weer deur ’n openbare deelname-proses moet gaan. En dit sal ’n tydjie neem.

Opsie een en twee lyk waarskynliker, veral in die Covid-19-klimaat waar ekonomiese groei deur belegging meer en meer die fokus word.

Wil ons regtig oor twintig jaar nog dié gesprek voer?

In die breër gesprekke oor grondhervorming was daar ’n paar verwikkelinge die afgelope jaar.

Daardie kwessies prut nog die heeltyd onder die oppervlakte, en as dit nie aandag kry nie, sal ons oor twintig jaar wéér dié gesprek hê.

Daar is ’n beleid wat uiteensit hoe begunstigdes gekies moet word wat nog afgehandel moet word. Daar is ook ’n beleid oor donasie van grond. En die Restitusie-kommissie herbesin oor hoe grond toegeken moet word, wat sinvol is. Ander beleide fokus op gemengde finansiële modelle vir mense wat grond vir grondhervormingsprogramme wil aankoop. En daar is sprake daarvan om die grondeisehof te omskep in ’n grondhof met permanente regters. Dit lyk asof daar beweging is.

Of dit alles die morele en die emosionele kwessies voldoende gaan aanpak is ’n ander vraag. Daardie kwessies prut nog die heeltyd onder die oppervlakte, en as dit nie aandag kry nie, sal ons oor twintig jaar wéér dié gesprek hê. Hoe ons dus dié proses aanpak en (vir eers) afhandel, lê sekere spelreëls vir toekomstige gesprekke neer.

*Du Plessis is ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes-Universiteit. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.