Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onthou: Dié krisis is een van drie . . .

Is ons op hierdie klein planeet op weg na die einde van alles of na ’n nuwe begin van alles, skryf Amie van Wyk.

Ons is so oorval deur die koronaviruspandemie dat ons nie besef dat daar eintlik drié monsters is wat die mensdom vandag op hierdie klein planeet aarde bedreig nie. Die eerste monster is die genoemde viruspandemie. Hierdie pandemie kan ons lewens dalk vir altyd verander. Ons gesprekke, ons besoeke, ons kuiers, ons winkelbesoeke, ons sport, ons kommunikasie, ons werksomstandighede, ons kerkgang, ja, haas elke faset van ons lewe is aangetas en het verander.

Kenners voorspel dat die lewe hierna nooit weer “normaal” sal wees nie en dat ons sal moet leer om “anders te lewe”. Vanselfsprekend het die mense nuwe maniere van kontak – die internet – ontwikkel soos nog nooit tevore nie, maar die persoonlike aanraking het verdwyn of is verander. Dit is ’n goeie teken dat mense nog graag kontak wil behou en dat hande nog oop is vir diegene wat in nood is, sonder slaapplek en sonder kos.

“Ons kan nie rustig lewe solank daar nog mense is wat honger gaan slaap nie,” het dr. Anton Rupert opgemerk.

Ek hoor ’n stem wat sê: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’

Terwyl alle aandag tans op die viruspandemie gefokus is, het ons byna heeltemal van die ander twee monsters vergeet. Hul omvang en invloed is baie groter as dié van die koronavirus, maar dit is nie so sigbaar en opvallend nie en daarom het dit uit ons gedagtewêreld verdwyn. Dit is daarom belangrik om juis in ’n tyd soos hierdie weer daaraan herinner te word en ons aandag daarop te vestig.

Die tweede (sluipende) monster wat ons ongesiens bekruip, is die ekologiese krisis. Ons beleef dit nog nie sterk genoeg nie, maar dit kruip geleidelik nader.

Ek het ’n paar jaar gelede koerantuitknipsels bymekaargemaak en die opskrifte, wat die hele wêreld betref, het soos volg gelyk:

“Op 9 November 2006 het die mens begin om in die aarde se ‘ekologiese kapitaal’ te delf (in te vreet)”; “teen 2050 sal die mensdom twee planete nodig hê om aan sy behoeftes te voldoen indien sy huidige verbruikerspatrone voortduur”; “wetenskaplikes sê aardverhitting het ’n toenemende uitwerking op die Noordpoolstreek met gletsers wat krimp, watertemperature wat styg en sagter ysgrond”; “die gat in die osoonlaag bo Antarktika is vanjaar (2006) die grootste tot nóg toe” (die osoonlaag, 10-50 km bo die aarde, beskerm die aarde teen skadelike ultravioletstrale); “die yslaag in die Noordpoolsirkel is besig om te smelt en die wêreld moet hom regmaak vir ’n styging van 7 meter in die seevlak”; “teen 2050 sal die Noordpoolsee sonder ys wees en meer as ’n miljoen spesies wêreldwyd uitgewis”; “byna 80% van die wêreld se inheemse woude (ons suurstoffabrieke) is al vernietig”; “verwoestyning bedreig die lewens van byna een miljard mense in 100 lande”; “in 500 jaar het mense 844 spesies uitgewis en die biodiversiteit gaan steeds agteruit”; “binne minder as 50 jaar kan die oseane sonder vis wees”; “72% van die wêreld se voëlspesies kan binne dekades uitgewis word as klimaatsverandering nie vinnig gestuit word nie”; Kilimandjaro het die afgelope 100 jaar 80% van sy sneeuhoed verloor”; “Afrika het die Eerste Wêreld se e-rommelhoop geword” (van ou rekenaars, selfone, TV-stelle, ensovoorts).

Wat Suid-Afrika betref, lyk die prentjie soos volg:

“Suid-Afrika is een van die wêreld se tien grootste besoedelaars”; “Suid-Afrika genereer jaarliks 560 miljoen ton afval – so groot soos ’n rugbyveld wat sowat 3,25 km die lug in strek”; “elke middelklas Suid-Afrikaner genereer jaarliks 480 kg afval per persoon”; “Suid-Afrika se water kan teen 2025 opdroog indien die land hierdie kosbare hulpbron nie reg bestuur nie”; “Suid-Afrika verloor jaarliks ongeveer 300-400 miljoen ton bogrond weens water- en winderosie”; “die meeste van die riviere van Suid-Afrika is (vanweë besoedeling) in groot moeilikheid”; “byna al die riviere het verander in rioolslote”; “toeriste na die Wêreldbeker-sokkertoernooi moet gewaarsku word dat die meeste van die land se riviere (en damme) vol rioolbesoedeling en nywerheidsafval is”; “ ’n groot ramp bedreig die Oos-Rand waar groot hoeveelhede dodelike gifstowwe onbewaak in ’n verlate verwerkingsaanleg vir toksiese mediese afval naby Germiston lê en verrot”; “die munisipaliteite van Johannesburg, Durban en Kaapstad bestee jaarliks R2,5 miljard aan afvalverwydering”.

Wat die probleem nog groter maak, is dat van die supermoondhede in die wêreld hul samewerking weier om omgewingsbesoedeling te bestry. Die VSA (en Australië) weier byvoorbeeld om die Kioto-verdrag te onderteken – ’n verdrag wat deur 34 ander lande aanvaar is en op grond waarvan die vrylating van kweekhuisgasse beperk word. Die prentjie wat hierbo geskets word, lyk nie goed nie. Daarby word Christene nog daarvan beskuldig dat húl werksetiek daartoe bygedra het dat die aarde lyk soos hy lyk.

Hulle werkwoede het die aarde byna verwoes. Meer as ooit tevore sal Christene hul ware rentmeesterskap van die aarde, van Afrika en van Suid-Afrika moet bewys deur omgewingsensitiewe optrede en deur die besoedeling van lug, water en die natuur teen te staan. Ontwikkeling en bewaring sal ’n volhoubare balans moet vind en alle ongebreidelde ontwikkeling sal skerp afgewys moet word.

Die derde (sluimerende) monster is die onophoudelike vervaardiging van kernwapens. Niemand sien dit nie, niemand dink daaraan nie, weinig weet daarvan en weinig hoop dat hierdie diaboliese produksie gestaak en die bomme vernietig sal word. Mense besef nie die waarheid van die woorde van Einstein nie: “The splitting of the atom has changed everything save our modes of thinking and thus we drift toward unparalleled catastrophe.”

Met die koms van die atoom- en waterstofbom het die mensdom vir die eerste keer in sy geskiedenis die mag ontwikkel om alle lewe op aarde binne enkele minute (of is dit sekondes?) te vernietig. Kundiges beweer dat daar reeds sowat 14 000 kernwapens in die kernarsenale van die wêreld geberg lê. Daar is supermoondhede – soos die VSA – wat steeds weier om die Verdrag oor die Verbod op Kernwapens van 2017 te onderteken.

Gelukkig het oudpres. FW de Klerk daartoe bygedra dat Suid-Afrika in 1991 die Kernsperverdrag onderteken het en sodoende is Suid-Afrika ’n kernwapenvrye land – en ons hoop dat dit so sal bly.

Die krag van atoombomme was in 1945 sigbaar toe twee Japanse stede, Hirosjima en Nagasaki, in ’n oogwink met die aarde gelyk gemaak is. Die ramp wat die kernkragontploffing by Tsjernobil in 1986 in die Oekraïne veroorsaak het met die vrystelling van radioaktiwiteit, bly steeds ’n vingerwysing van hoe gevaarlik onbeheerste kernkrag kan wees. Dieselfde geld vir die kernkragramp vroeër in 1979 naby Harrisburg in die VSA. En ’n mens wonder: Is Koeberg op die regte plek opgerig?

Einstein het in hierdie verband opgemerk dat indien die Derde Wêreldoorlog met atoombomme geveg sou word, die vierde met knopkieries geveg sal moet word.

Dit alles bring ons ten slotte by die vraag: Waarheen is hierdie piepklein planeet wat ons “aarde” noem, op pad? Na ’n deeltjie van ’n ewig uitdyende heelal (soos Richard Dawkins dit noem)? Na ’n totale ineenploffing (soos Stephen Hawking voorspel)? Of na ’n nuwe heelal waar alle trane en virusse en bomme en dood wég is? Is ons op weg na die einde van alles of na ’n nuwe begin van alles?

Op hierdie vraag gee Christene ’n hoopvolle antwoord. Ek weet nie van ’n beter antwoord nie. Ek hoor ’n stem wat sê: “Kyk, Ek maak alles nuut”– al is dit deur vuurvlamme heen.

* Amie van Wyk is ’n afgetrede teologieprofessor van Potchefstroom.

Meer oor:  Christene  |  Omgewing  |  Kernkrag  |  Natuurbewaring  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.