Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Onthou-lekkerte’ van 70 j. se nuus op ‘Volksblad’ se reünie

Sewentig jaar se nuus, stories en staaltjies het herleef op die reünie van oudredaksielede van Volksblad in Bloemfontein. Hulle het ook die koerant besoek, berig Marietjie Gericke. Foto’s deur Mlungisi Louw.

Voormalige en dienende redaksielede het hulle onlangs verkneukel in mekaar se kwinkslae en die “onthou-jy-nog”-stories wat tot 70 jaar gelede gaan haal is. Onder hulle was sewe redakteurs – die ses vorige redakteurs sedert 1980 en die huidige redakteur.

Toe oom Gert Terblanche (95), oud-nuusredakteur, steunend op sy kierie oor die goue jare by Die Volksblad vertel, was dit asof meer as ’n halfeeu se weergalose joernalistiek weer aan die bod kom.

Gesondheid. Reüniegangers lig ’n glasie op die reünie wat verlede Vrydag en Saterdag in Bloemfontein gehou is. Van links is Daan Nortier, Philip van Rensburg, Emile Terblanche, Jo van Eeden, Ainsley Moos, en Jeanine van Zyl.

“Min beroepe is so interessant en opwindend soos dié van ’n joernalis. Min dinge kan jou adrenalien só laat vloei, maar ook min dinge kan jou stresvlakke so opjaag. Tog sal ek my 24 jaar op die redaksie van Die Volksblad nie verruil vir my 16 jaar in die parlement en vyf jaar as ambassadeur met drie staatsgrepe in Transkei nie,” het hy gesê.

Terblanche het in 1946 “in die maer jare” by Die Volksblad begin werk toe die rieme só dun gesny moes word dat hulle soms moes voetslaan om ’n storie te gaan haal. Tot die telefoon moes suinig gebruik word.

“Ons nuusredakteur was die nimlike oom Skakel Kriek, wie se nuusneus en werkywer geen gelyke gehad het nie.” Die rekordtal stories wat in daardie tyd op een voorblad gedra is, was 28.

Oom Gert onthou hoe Kriek hom en kollega Willie Grobler in 1947 met die besoek van koning George VI en die Britse koningsgesin na die koninklike bal in die Bloemfonteinse stadsaal gestuur het.

Pa en seun, albei deurwinterde koerantmanne, kuier saam. Gert Terblanche (95) en sy seun, Emile Terblanche, kuier by Volksblad. Gert was op sy dag nuusredakteur en Emile baie jare later senior verslaggewer. As kind het Emile dikwels op veral Sondae saam met sy pa kom “werk” en sy eie stories op ’n tikmasjien getik. Foto’: Mlungisi Louw

“Daardie aand haal ek en Willie ons beste Engels uit en gesels met die twee fraai prinsesse, Elizabeth (tóé toekomstige koningin) en haar suster, Margaret.

“Willie skraap al sy moed bymekaar en vra Elizabeth om te dans, maar ek deins terug omdat ek bang was dat ek op Margaret se tone sou trap!”

Gert Coetzee, huidige redakteur (en volgens oom Gert “die ander Gert”) het ’n gesprek oor die gedeelde liefde vir joernalistiek ingelui.

Twee “stories” uit sy verslaggewerdae val hom by. Die een is oor die seun sonder oë wat op ’n plaas by Ritchie die kombuis ingeskaats gekom het. Die ander is oor die pad wat Volksblad gestap het met dr. Hanjé Pistorius en haar mense – nadat haar been as eerstejaarstudent deur ’n voertuig afgeruk is terwyl sy Ritsems verkoop het.

Vir Hennie van Deventer (redakteur:1980-’92) was die reünie soos ’n tuiskoms.

Goue oomblikke word vasgevang. Paul Marais (regs), een van ses oud-redakteurs, neem ’n foto van twee oud-Volksbladders. Hulle is Dorothea Krige, destydse vroueredaktrise, en Daan Nortier, wat in die vroeë 60’s ’n verslaggewer en later ’n prokureur was.

’n Geskiedkundige nuusgebeurtenis in sy tyd as hoofsubredakteur was toe dr. Hendrik Verwoerd vermoor is. Hy onthou hy was so emosioneel hy het sommer sy sigaret agterstevoor in sy mond gesit – die kooltjie eerste.

Van Deventer was hierna ’n stigterslid van Beeld voordat hy “in die vroeë tagtigerjare met sy onstuimige oorgangsjare in die politiek” as redakteur na Bloemfontein teruggekeer het. As koerantman laat Die Volksblad sy hart se vreugdevlag as ’n “simbool van trots” wapper.

Johan de Wet (redakteur 1992-’94) het gesê van al die koerante waar hy gewerk het, was Die Volksblad die heel lekkerste.

Paul Marais (redakteur: 1994-’99) dink Volksblad lyk deesdae minder formeel en meer menslik en hou tred met die veranderende wêreld. “Ek is regtig trots. Doe so voort.”

Daar is ook onthou hoe Marais (met ’n M-graad in Engels) ’n hoofartikel in Engels geskryf het toe die destydse The Friend in Bloemfontein toegemaak het. “We are now your friend,” was die opskrif.

Gert Coetzee, redakteur, stel ’n heildronk in.

Jonathan Crowther (redakteur: 1999-2009) het vertel sy koms na die Rosestad om tien jaar lank Volksblad se redakteur te word, het sy loopbaan op ’n hoë noot laat afsluit. “Dit was die beste van tye, maar ook die slegste van tye.” (Laasgenoemde met verwysing na twee herstrukturerings.)

Ainsley Moos (redakteur: 2010-2012) het onthou hoe hy en die vorige rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) vasgesit is; hoe die beste voorblaaie bedink is, en die goeie nuusaanbieding toe Eugène Terre’Blanche dood is.

Van Eeden (redakteur: 2012-2015) is deesdae uitgewer van Netwerk24. Sy onthou Volksblad as die koerant wat innoverend is en nie skroom om “dapper anders” te wees nie. Sy het kollegas bedank wat in haar tyd “gebriek het” toe sy wou vet gee, vet gegee het toe sy wou “briek”.

“Dankie ook vir die voortreflike geskiedkundige nalatenskappe waarop ons kan voortbou.”

Gesellig byeen. Die oud-Volksbladders is van links Petro Jordaan, huidige sekretaresse wat met reëlings gehelp het, Charl de Klerk wat vir Volksblad veral in Kimberley gewerk het, Herman le Roux, destydse sportredakteur, Hennie van Deventer, oudredakteur wat met die gedagte vir ’n reünie gekom het, en Sarel Venter, voormalige senior assistent-redakteur wat die meeste reëlings vir die reünie getref het.

Van die ander oudredaksielede het ook hul tyd en belewenisse by Volksblad beskryf. Onder hulle was sport- en ander skrywers, ’n prokureur, ’n voormalige militêre offisier, sakelui, ’n reklameman en afgetredenes.

Die volgende dag is die Vrouemonument en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke besoek, waar in die restaurant saamgeëet is.

Van hulle het saam met Marlene Scholtz, vrou van wyle Jan Scholtz, ’n destydse hoofredaksielid en kranige skrynwerker, gaan stil raak by die vaderlandswilg wat hier vir hom geplant is en waar sy as gestrooi is.

*Die oud-Volksbladders het ook onder redaksie van Peet Simonis en Herman le Roux ’n tydskrif Volksblad-familie. Hulle het besluit om die skenkings vir die produksiekoste aan Volksblad se Ons Gee Om-fonds oor te betaal – ’n allemintige R7 000.

Twee oud-redakteurs en 'n oud-nuusredakteur aan die saamkuier op die Volksblad-reünie. Van links is Johan de Wet, oud-redakteur, Philip van Rensburg, oud-nuusredakteur, en Jo van Eeden, oud-redakteur.
Die oud-Volksbladders word op 'n besigtigingstoer deur Volksblad vergesel deur Annalize Dedekind, assistent-redakteur. Voor sit Lientjie Barnard, subredakteur. Agter is Piet Theron, voormalige assistent-redakteur, Dedekind, Charl de Klerk, wat vir Volksblad in Kimberley gewerk het, en Dorothea Krige, oud-vroueredaktrise.
Van links is Charl de Klerk, Noord-Kaapse redaksielid van Volksblad, wat veral in die Kimberley-kantoor gewerk het, Tobie Wiese, oud-senior verslaggewer, wat later onder meer redakteur van Huisgenoot was, en Jonathan Crowther, oud-Volksblad-redakteur.
Van links is Constant Steyn, eindredakteur van Volksblad, en die oud-joernalis, Emile Terblanche.
Trots op Volksblad. Van links is Sarel Venter, oud-assistent-redakteur, Piet Theron, ook ’n oud-assistent-redakteur, Tobie Wiese, wat lank op senior vlak vir Volksblad verslag gedoen het, en Peet Simonis, oud-redaksielid, wat ’n plan gekry het vir ’n boekie, Volksblad-familie, wat by die fees beskikbaar was.
By wyle Jan Scholtz, oud-assistent-redakteur van Volksblad se boom, ’n vaderlandswilg wat sy vrou en kinders vir hom ná sy dood by die Vrouemonument gaan plant het, is Tobie Wiese, Dorothea Krige, Len Botha, Alta Wessels, prof. Hester Steyn, Tokkie van Deventer, Hennie van Deventer, Marlene Scholtz, Laetitia Pienaar, Paul Marais, Philip van Rensburg en Sarel Venter. Foto: Verskaf
By die ete is van links Philip van Rensburg, voormalige nuusredakteur, en sy vrou, Nancé, Tobie Wiese, voormalige kerksakeverslaggewer en sy vrou, Carin, en Jurie Wessels, oud-verslaggewer.Foto: Verskaf

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Joernalis  |  Nuus  |  Bloemfontein  |  Volksblad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.