Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Onthul: Drama van laaste apartheidsdae

Die VSA en Brittanje se rol in die doodsnikke van apartheid het aan die lig gekom in dokumente wat pas uit ’n argief vrygestel is, skryf Sue Onslow en Martin Plaut.

Drie van die hoofspelers in die Suid-Afrikaanse politieke drama van die vroeë 1990’s: Mangosuthu Buthelezi (links), leier van die IVP, FW de Klerk, destydse staatspresident, en Nelson Mandela, eerste demokraties verkose president van Suid-Afrika. Foto: Argief

’n Kwarteeu het verloop sedert die einde van apartheid, maar dit is maklik om te vergeet hoe kompleks, moeilik en gewelddadig die geboorte van volwaardige demokrasie werklik was.

Dít was veral die geval in KwaZulu-Natal waar gevegte tussen die ANC en die Inkatha-Vryheidsparty tussen 1984 en 1994 die lewe van meer as 20 000 mense geëis het.

In die drie maande voor die eerste demokratiese verkiesing in April 1994 het ’n geskatte 1 000 mense gesterf. Die Britte en Amerikaners het al hoe onrustiger geraak. Die konflik tussen die IVP en die ANC was maar een krisis; nog ’n krisis was aan die ontwikkel, naamlik verregse ekstremiste wat met geweld gedreig het.

Die CIA het ook in ’n verslag gewaarsku oor die bedreiging van ’n regse staatsgreep.

Volgens die Amerikaanse CIA was die kans 8 uit 10 dat geweld net voor en gedurende die verkiesing sou toeneem wanneer emosies veral hoog geloop het.

Dié intelligensieagentskap het ook in ’n verslag gewaarsku oor die bedreiging van ’n regse staatsgreep, hoewel hy dit as “onwaarskynlik” beskou het.

Soos wat die situasie al meer gespanne geraak het, het Brittanje se premier, John Major, en pres. Bill Clinton van die VSA persoonlik betrokke geraak. Hul ingrype kom aan die lig in dokumente wat pas deur die Britse nasionale argief vrygestel is.

Die dokumente onthul tot welke mate die verkiesing op ’n mespunt was en hoeveel tyd en inspanning Brittanje en die VSA daaraan bestee het om seker te maak dat dit voortgaan.

Desperate tye

Oudpres. Nelson Mandela saam met John Major, destydse premier van Brittanje. Foto: Argief

Major het op 22 Februarie ’n oproep van Nelson Mandela ontvang waarin die ANC-leier die situasie as “baie moeilik” beskryf het. Major het Mandela in dié gesprek ingelig oor ’n ontmoeting tussen die Britse ambassadeur en Mangosuthu Buthelezi, die IVP-leier. Hy het aan Mandela ’n volledige verslag van daardie gesprek gegee en Mandela het dit hoog op prys gestel.

Op 24 Februarie is daar die eerste aanduiding van ’n gesamentlike Anglo-Amerikaanse poging om die krisis die hoof te bied. Dié geleentheid het sigself voorgedoen gedurende die beplanning vir ’n besoek van Major aan Washington drie dae later.

Ons vertrekpunt is dat die situasie teen daardie tyd versleg het tot by die punt waar dit onwaarskynlik gelyk het dat Suid-Afrikaners op hul eie ’n ooreenkoms sou bereik wat ’n verkiesing moontlik sou maak. Die gevolge sou na alle waarskynlikheid baie ernstig wees.

Ek dink hierdie reaksies gee ons die jawoord om die Amerikaners te raadpleeg oor die fyner besonderhede van ons aanslag.
Anthony Reeve

Die Britte het voorgestel dat Major en Clinton “hul gesamentlike bystand in die oorgangsproses lewer”. Nadat sir Anthony Reeve, die Britse ambassadeur in Suid-Afrika, met Mandela, Buthelezi en pres. F.W. de Klerk samesprekings gevoer het, kon hy laat weet dat al drie bereid was om met die Anglo-Amerikaanse inisiatief akkoord te gaan, maar dat daar voorbehoude was.

Reeve se gevolgtrekking was: “Ek dink hierdie reaksies gee ons die jawoord om die Amerikaners te raadpleeg oor die fyner besonderhede van ons aanslag.”

Die voorstel is op ’n ontmoeting op 1 Maart deur Mandela en Buthelezi bespreek en albei leiers het ingestem om die moontlikheid van internasionale bemiddeling te “verken”. Lord Carrington, wat in 1980 die oorgang van Rhodesië na Zimbabwe bemiddel het, was op ’n lesingtoer in Suid-Afrika en hy is deur Thabo Mbeki genader en gevra om as een van die bemiddelaars op te tree. Ander voorstelle was Henry Kissinger, voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, en Julius Nyerere, voormalige Tanzaniese staatshoof.

Wat toe gevolg het, was intensiewe gesprekke tussen Londen en Washington oor hoe só ’n bemiddelingsproses sou kon werk.

Plan gekelder

Oudpres. Bill Clinton van die VSA het ook ’n belangrike rol in Suid-Afrika se oorgang na ’n demokrasie gespeel. Foto: Argief

Carrington en Kissinger het na Suid-Afrika gereis. Uiteindelik het die onvermoë om oor die bemiddelaars se opdrag konsensus te bereik, en die Suid-Afrikaanse regering se vrese dat die verkiesing vertraag sou word, die plan gekelder.

Daar is al beweer die krisis – veral Buthelezi se dreigement om die verkiesing te boikot – is opgelos deur die verrassende bemiddeling op die nippertjie deur die Keniaan prof. John Okumu. Ander Statebondsgesante wat uitstekende verhoudings met sowel die ANC-leierskap as met Buthelezi gehad het – onder andere die Ghanese diplomaat wyle Moses Anafu – het hul bedenkinge hieroor gehad. Volgens hulle was die magte wat Buthelezi oorgehaal het om aan die verkiesing deel te neem, veel groter.

Buthelezi se hardekwashouding het inderdaad tot belangrike grondwetlike toegewings gelei. Dit lyk egter of Okumu se toetrede daarop gemik was om te sorg dat die IVP-leier nie in die verleentheid gestel word nie. Mandela, Buthelezi en De Klerk het op 19 April oor ’n gesamentlike verklaring ooreengekom, en dít het die weg gebaan vir die verkiesing ’n week later.

Goldstone se bevindings

’n Foto wat verlede jaar van regter Richard Goldstone geneem is. Sy kommissie wat onder meer ondersoek ingestel het na geweld in townships, het ’n belangrike rol gespeel voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Foto: Gallo

Daar was egter nog twee moontlike struikelblokke. In die gespanne aanloop tot die verkiesing is ’n verslag gepubliseer oor die rol wat die apartheidstaat gespeel het in die aanblaas van interne spanning en geweld.

Die kommissie van ondersoek oor die voorkoming van openbare geweld en intimidasie, onder leiding van regter Richard Goldstone, is in 1991 tot stand gebring en sy verslag is op 21 April 1994 gepubliseer.

Goldstone se ondersoek het aan die lig gebring dat dele van die Suid-Afrikaanse Polisie Inkatha van wapens voorsien het, en dat senior polisieoffisiere probeer het om die kommissie se werk te ondermyn.

Die aantygings was kragtig en Goldstone en sy gesin was ’n ruk lank klaarblyklik blootgestel aan gevaar uit wit ekstremistiese oorde. Met die hulp van De Klerk, en Mandela se medewete, het Goldstone, sy vrou en ’n “sleutel-getuie” (’n voormalige Suid-Afrikaanse polisieoffisier, waarskynlik oudkaptein Dirk Coetzee), Brittanje genader met die versoek om daarheen te gaan. Major het ingestem en tydelike asiel en ’n plek van veiligheid is aan hulle verleen.

Vanuit ’n tegniese oogpunt beskou, was die verkiesing ’n fiasko, maar dit was ’n politieke triomf.
Carl Dundass

Die tweede struikelblok was die Suid-Afrikaanse regering se geheime program vir chemiese en biologiese wapens bekend as Project Coast. Douglas Hurd, Britse minister van buitelandse sake, het Washington gekontak oor die moontlikheid om formele beswaar aan te teken as De Klerk nie in die openbaar sy regering se betrokkenheid by die gebruik van die wapens teen die ANC en Namibiese gevangenes erken nie.

Die Britte het klaarblyklik ingegryp om te verhinder dat hierdie wapens nie in die hande van ander skurkstate of terroristegroepe val nie.

Op 11 April het die Amerikaanse en Britse ambassadeurs hul beswaar aan De Klerk oorgedra – dit het die gewenste uitwerking gehad. Daar is ooreengekom dat alle chemiese en biologiese wapenstelsels verwoes sou word en Wouter Basson, een van die land se kundiges op dié gebied, is vervolg.

Politieke triomf

Uiteindelik, stemdag! Oudpres. Nelson Mandela bring sy stem in 1994 se algemene verkiesing uit. Foto: Argief

Die verkiesing van April 1994 was ’n waterskeiding in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Vanuit ’n tegniese oogpunt beskou, was die verkiesing ’n fiasko, maar dit was ’n politieke triomf, aldus Carl Dundass, die Statebond se hoof verkiesingsamptenaar.

Inkatha se verrassende oorwinning in KwaZulu-Natal het sterk gedui op ’n gekonkel om ’n ANC-oorwinning in dié provinsie te fnuik ten einde verwagte geweldpleging ná die verkiesing te temper.

Ondanks al die geweld, spanning en drama, het die verkiesing ’n einde aan apartheid gebring en aan Major die geleentheid gegee om Mandela te bel en hom geluk te wens. Dit was die hoogs suksesvolle uitkoms van ’n tydperk van intense internasionale diplomasie.

* Onslow is adjunk-direkteur van die Institute of Commonwealth Studies en Plaut is ’n senior navorsingsgenoot aan die instituut.

* Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Mangosuthu Buthelezi  |  Fw De Klerk  |  Bill Clinton  |  Amerika  |  Brittanje  |  Apartheid  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.