Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
ONTLEDING: 'Zuma hét nog opsies'

Die nasionale vervolgingsgesag het eintlik geen ander keuse nie as om pres. Jacob Zuma te vervolg ná Vrydag se uitspraak in die appèlhof, berig Gert van der Westhuizen.

Gaan pres. Jacob Zuma weer laaste lag al het hy Vrydag ook in die appèlhof bloedneus gekry? Foto: Halden Krog

Pres. Jacob Zuma het ná Vrydag se uitspraak in die appèlhof nog enkele regsopsies oor, maar hy bevind hom in ’n doodloopstraat en die kans lyk al hoe skraler dat hy vervolging op aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie, geldwassery en afpersing sal kan vryspring.

Die web wat die burgerlike samelewing om Zuma gespin het, kan ook al hoe nouer getrek word as die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sloer met ’n besluit oor sy vervolging.

Organisasies of politieke partye kan hulle dan na die hof wend om die NVG te dwing om ’n besluit te neem en Zuma kan ook privaat vervolg word.

“Ek dink nie daar is enige regsgronde vir die NVG om die aanklagte teen Zuma terug te trek nie,” sê prof. James Grant, ’n strafregkenner van die Universiteit van die Witwatersrand. “Dit sal inderdaad vreemd wees as dit gebeur.”

As die staat sloer met ’n besluit, soos al in die verlede gebeur het, kan die hof genader word om hom te dwing om ’n besluit te neem

Ulrich Roux, ’n direkteur van BDK-prokureurs en kenner van die strafreg, sê ook die NVG sal Zuma moet vervolg.

“Daar kan nie ’n uitsondering gemaak word net omdat hy die president van die land is nie.”

Die appèlhof het bevind die NVG moet Zuma vervolg met die bewyse tot sy beskikking en dat die aanvanklike besluit om dit nie te doen nie, irrasioneel was, sê Roux.

“Die ondersoek is al reeds ’n hele paar jaar gelede voltooi en daar is niks wat in hul pad behoort te staan nie. Hulle kan die saak al volgende jaar in eerste kwartaal op die hofrol plaas. Al wat nodig is, is om ’n dagvaarding uit te reik en ’n klagstaat te formuleer waarin die klagte behoorlik uiteengesit word.

“As die staat sloer met ’n besluit, soos al in die verlede gebeur het, kan die hof genader word om hom te dwing om ’n besluit te neem,” sê Roux.

Situasie baie soos dié voor Polokwane

Theo Venter, politieke ontleder aan die Universiteit van Noordwes se sakeskool, sê die situasie herinner baie aan dié voor die ANC se leierskapskonferensie van 2007 in Polokwane.

“Toe was die vraag ook of Zuma aangekla moet word of nie. Is die situasie van so ’n aard dat ons dit kan doen? Kan die NVG objektief en onafhanklik optree?” vra Venter.

As die staat Zuma nie vervolg nie, kan organisasies soos AfriForum en Outa volgens Roux wel private vervolging instel.

Die staat sal ’n nolle prosequi-sertifikaat moet uitreik waarin hy duidelik sê vervolging word tersyde gestel. Roux sê adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van die NVG, is die enigste persoon wat só ’n sertifikaat kan uitreik.

Hy verduidelik dat die staat se geriewe en personeel gebruik word in die geval van private vervolging. Die organisasie wat die vervolging doen, verskaf sy eie aanklaer en dit verloop volgens Roux dan soos enige ander strafsaak.

Grant waarsku egter dat mense wat daaraan dink om privaat te vervolg, “oor ’n baie hoë hekkie” sal moet spring.

“Hulle sal moet bewys dat hulle ’n wesenlike en spesifieke belang daarby het en dat hulle die gemeenskap verteenwoordig en dat dit in nasionale belang is.”

Grant en Roux het ook albei daarop gewys dat Zuma se regsopsies nog nie uitgeput is nie.

Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van die nasionale vervolgingsgesag, moet besluit of pres. Jacob Zuma vervolg gaan word op onder meer aanklagte van bedrog en korrupsie. Foto: Felix Dlangamandla

Hy kan nog ’n skriftelike voorlegging aan die NVG doen en redes uiteensit waarom hy nie vervolg moet word nie.

Hy kan hom ook tot die konstitusionele hof wend, maar Roux meen die kans is baie skraal dat dié hof tot ’n ander gevolgtrekking as die hooggeregshof en die appèhof sal kom.

“Hy kan in die konstitusionele hof net op dieselfde regsgronde argumenteer as wat hy in die appèlhof gedoen het,” sê Grant. “Dit sal ’n mors van tyd wees.”

Roux sê dit sal heelwat kritiek uitlok as Zuma hom tot die konstitusionele hof wend, maar dit sal binne sy regte wees. “Ons sal dwaas wees om te dink die president sal nie konstitusionele hof toe gaan nie.”

Manna uit hemel vir Ramaphosa se kamp

Intussen lyk dit nie of Vrydag se uitspraak Zuma se politieke loopbaan sal knou nie. Die ANC sal hom in elk geval nie sommer as president herroep nie, het Lukhona Mnguni, ’n politieke ontleder van die Universiteit van KwaZulu-Natal, gesê.

“Die ANC het voorheen al gewys dat hy Zuma sal beskerm en akkommodeer. Die ANC sal net gedwing word om teen Zuma op te tree die dag as hy in die beskuldigdebank van ’n hof staan.”

Ulrich Roux

Dit sal ook nie strategies sin vir die ANC maak om nou teen Zuma op te tree nie. “Toe hy in 2005 as adjunk-president uitgeskop is, het hy die bohaai rondom hom gebruik om sy presidensiële veldtog te loods.

“Dieselfde sal weer gebeur as hy nou herroep word. Hy sal hom soos destyds na die ANC-takke wend en daar steun mobiliseer. Die ANC sal hom eerder binne wil hou as wat hy los rondloop en mobiliseer,” se Mnguni.

Venter sê Vrydag se uitspraak was ’n klein oorwinning vir Zuma se teenstanders. “Dit is nie die einde van die pad nie. Dit is deel van ’n proses.

“Dit was wel ’n pluspunt vir die DA. Hy het gewys hy kan vasbyt. Hy het bewys hy het uithouvermoë,” sê Venter.

Theo Venter. Foto: Nico Gous

Volgens Mnguni sal dit nie noodwendig meer steun vir die DA by die stembus beteken nie, omdat die string hofsake vir gewone Suid-Afrikaners nie veel doen aan die brood-en-botter-kwessies waarmee hulle worstel nie.

Dit sal ook nie ’n invloed hê op die leierskapskonferensie van Desember nie omdat ander mense betrokke is by die veldtog om as president verkies te word.

Venter glo egter Vrydag se uitspraak sal “soos manna uit die hemel” wees vir die kamp van adj.pres. Cyril Ramaphosa.

“Die waardes en integriteit van die president sal weer ter sprake kom en die Zuma-kamp sal moet walgooi.”

“Maar aan die ander kant het die ANC in die onlangse verlede gewys dat dinge soos waardes en integriteit nie altyd veel punte tel nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.