Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oop grense gaan so bly...

Die vlugtelingkwessie illustreer ’n belangrike aspek van globalisering. Dit gebéúr eenvoudig, of ’n mens dit goed vind of nie, skryf Leopold Scholtz.

Toe pres. Donald Trump van Amerika twee weke gelede opgedaag het in die Switserse dorp Davos – by uitstek ’n versinnebeelding van die geglobaliseerde wêreld – het hy hom as die uiterste anti-globalis voorgehou.

En inderdaad, wêreldwyd tref jy ’n groeiende gevoel teen globalisering aan – ironies genoeg, eweseer van links as van regs.

Volgens die Londense Financial Times kan globalisering beskryf word as “ ’n proses waardeur nasionale en streeksekonomieë, gemeenskappe en kulture geïntegreer word deur die globale netwerk van handel, kommunikasie, immigrasie en vervoer”. Dit hou in dat grense langsaam vervaag.

Afhangende vanuit welke hoek jy dit bekyk, het globalisering voor- en nadele.

As jy tot ’n minderheidsgroep en -kultuur behoort, sal jy bekommerd wees dat die toenemende globalisering die sterkste tale en kulture bevoordeel en meebring dat jou eie langsaam verstik word. As jy ’n arm mens in die Derde Wêreld is, sal jy bekommerd wees dat globalisering die rykes van die aarde nóg ryker maak en jou agterlaat.

Een belangrike aspek van globalisering is die verlaging of selfs afskaffing van invoertariewe, waardeur internasionale handel gestimuleer word. So het internasionale handel sedert 1955 100 maal vermenigvuldig.

Dis soos om die see met ’n besem terug te vee. Ook die Latyns-Amerikaners kóm, en Trump se muur sal dié migrasie bloot kan verminder, nie keer nie.

Ekonome is dit oorwegend eens dat globalisering die wêreldwye ekonomiese groei deur die toename van internasionale handel bevorder het, al wissel die syfers wat hulle produseer na gelang van die statistiese model wat hulle gebruik.

Oor die vraag of globalisering ook die armes bevoordeel, is ekonome verdeeld. Sommige meen dit is slegs goed vir die rykes; ander betwis dit.

Daar word ook verskil oor of globalisering goed is vir ’n land soos Amerika. Trump het byvoorbeeld sy verkiesingsoorwinning minstens deels te danke aan groot ontevredenheid oor die beweerde negatiewe uitwerking wat globalisering op dié land het.

Dit is hoekom hy pas invoertariewe van 30% en 50% op sekere produkte uit China en Suid-Korea ingestel het. Dié lande, sê hy, subsidieer hul uitvoere na Amerika en maak dit kunsmatig goedkoop, wat sy land benadeel.

Maar globalisering geld nie net vir die ekonomie nie; ook vir die migrasie van mense. Sowel Europa as Amerika het te make met ’n stroom ekonomiese immigrante wat die uitsiglose situasie in hul tuislande ontvlug na die spreekwoordelike vleispotte van Egipte.

Histories het immigrasie meestal ’n positiewe uitwerking op die ontvangende lande gehad, uiteraard mits die immigrante redelik geabsorbeer kon word. Juis dáároor is daar, reg of verkeerd, tans twyfel in Europa en Amerika.

In Amerika is 13% van sy bevolking buite sy grense gebore. (Terloops, Trump se stelling – wat hy pas weer in sy staatsrede herhaal het – dat die immigrante vir misdaad verantwoordelik is, word nie deur amptelike syfers bevestig nie, maar dit daar gelaat.)

In 2015 het die Europese Unie (EU) altesame 35 miljoen mense wat buite sy grense gebore is, gehuisves. Dit kom neer op 4% van die totale bevolking van die 28 lidlande.

Nie almal is ekonomiese vlugtelinge nie. In 2015-’16 het sowat 1,3 miljoen mense, dikwels goed opgelei, die burgeroorlog in Sirië ontvlug, en ’n taamlike politieke krisis in Europa veroorsaak. Op kort termyn is hulle taamlik goed gehuisves – niemand slaap op straat of sterf van die honger nie. Maar op langer termyn veroorsaak hulle ’n taamlike spysverteringsprobleem vir EU-gemeenskappe.

Maar die vlugtelingkwessie illustreer terselfdertyd ’n belangrike aspek van globalisering. Dit gebéúr eenvoudig, of ’n mens dit goed vind of nie.

Die Siriese vlugtelinge het in hul honderdduisende oor die grense gespoel. Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland moes klappe kry omdat sy hulle toegelaat het, maar selfs die mees regsgesinde populis sou daardie tsoenami nie kon keer nie. Dit was soos om die see met ’n besem terug te vee.

Dieselfde geld vir Amerika. Die Latyns-Amerikaners kóm, en Trump se muur sal dié migrasie bloot kan verminder, nie keer nie.

Die moderne wêreld is geïntegreer. Die wêreldekonomie is verweef, en moderne verkeer en kommunikasie bevorder migrasie dramaties.

As jy baie moeite doen, kan jy dit seker keer. Maar wat gaan die prys wees wat betaal word?

Dis die tweede keer dat die wêreld so geglobaliseer word, en die geskiedenis hou nogal ’n les in. In die jare 1860-1914 het sowat 60 miljoen mense Europa vir die Nuwe Wêreld verlaat. Namate die grense minder belangrik geword het, het internasionale handel met 40% gegroei .

Maar toe kom die Eerste Wêreldoorlog en dwarsboom alles. In die nasleep het regerings proteksionisties geword, internasionale handel het in duie gestort – en die Groot Depressie was die gevolg.

Dit het ook implikasies vir Suid-Afrika, wat immers deel van die wêreld vorm. Sowat 60c van elke rand wat by ons verdien word, hang saam met ons internasionale handel.

Globalisering het sekerlik bepaalde nadele wat bestry moet word.

Maar wees versigtig om die baba met die badwater uit te gooi.

Meer oor:  Donald Trump  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.