Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Video: Adam Small lees 1 van sy eie gedigte
Lees die onderhoud met Murray La Vita waarin Adam Small in September 2013 ná dekades sy digterlike swye verbreek het.

Adam Small tydens ’n onderhoud oor sy bundel Klawerjas, wat pas by Tafelberg verskyn het. Foto: Le Roux Schoeman
Adam Small en sy vrou, Rosalie. Foto: LE ROUX SCHOEMAN
Adam Small tydens die Oop Kaarte-onderhoud. Foto: LE ROUX SCHOEMAN

Al het ons hom in soveel jare nêrens gesien nie, is Adam Small dadelik herkenbaar wanneer hy die vertrek binnestap. 

Dit is sy oë wat so bekend is; daardie donkerbruin oë waarmee hy na ons en die wêreld kyk. 

Ons ontmoet mekaar in ’n restaurant in ’n voorstad van die Suid-Skiereiland. Rosalie, sy vrou, is saam met hom. Hulle kom gereeld hierheen en dit is naby hul huis. 

Small tel Klawerjas, sy nuwe bundel, op en kyk daarna. “Die laaste twee reëls van die laaste gedig: deur die lewe goddank uitgewan/ ’n ouer en ’n wyser man...En dan kyk ek en dan glimlag ek wanneer ek die omslagfoto sien. Ek was 33 hier en Rosalie was 22...en...ja, dan dink jy maar...ek sal dit sommer padlangs sê: Jy was maar ’n laaitie gewees.” Hy lag en sê dan: “Jy weet nou meer.” 

Klawerjas is “Opgedra aan Rosalie oftewel Penelope deur hierdie Odysseus”. 

Ja, jy weet, dit was die dae toe ek baie, baie bitter was . . .

Sy onderskraag hom gedurende die onderhoud: ’n Hand op sy arm, ’n sakdoek wat sy aangee. Hy praat stadig en raak dikwels bewoë. “Ja, die tema van reis kom baie sterk deur in die bundel. Die Odysseus-tema. Die lewe is ’n reis.” 

En hy het nou soos ’n Odysseus teruggekeer van ’n lang reis na die land van stilte. Waarom die jare lange stilte; die onttrekking aan die openbare lewe? 

“Ja, jy weet, dit was die dae toe ek baie, baie bitter was...” Hy raak bewoë en bly eers stil. “...’n groot bitterheid gehad het. Oor apartheid natuurlik. En ek het net besluit – wat baat dit tog? Laat alles maar vaar en bly net stil. En dit is natuurlik nie net gewone stilte nie, maar ook digterlike swye. Rosalie het my seker gehelp. Ek het later, soos ek ouer geword het, om die waarheid te sê redelik onlangs, besluit hoekom sal ek myself skade berokken? Ek wil nog graag van my beste werk lewer voordat...en ’n mens moet dit maar op die naam noem: voordat ek sterf... en die dood is ’n werklikheid in my lewe. En ek het vir myself die lig gevínd.

“Dit was eintlik ’n Herkuliaanse werk hierdie. Rosalie het vir my alles getik. Ek tik deesdae nie meer self nie.” 

Sy mooi hande met die slanke vingers lê voor hom op die tafel. Hulle word in Klawerjas deur Rosalie besing in die gedig “Jou Hande”. 

“Sy was ’n soort sekretaresse en stenograaf vir my. Die bundel is ons bundel.” Sy het onlangs afgetree uit haar pos as dosent in die filosofie van opvoedkunde aan die UWK. 

“Ek het maar net besluit dat die bitterheid my nie sal onderkry nie; ek sal daar uitkom. En ek hét daar uitgekom.” 

Hy stoot ’n vel papier oor die tafel. ’n Gedig wat hy ’n paar dae gelede geskryf het. 

“Dit sluit aan daarby. Ek het hierdie gedig “Trap der bruin jeugd”...dis ’n baie bitter gedig, miskien, maar dit vertel eintlik die hele verhaal van die stilswye – hoekom, en hoekom uit die stilswye uit. Ja.” 

Was daar iets spesifieks wat hom laat onttrek het? 

“Ek dink dit was ná die publikasie van Oos wes tuis bes: Distrik Ses (1973) of selfs nog vroeër, miskien ná die publikasie van Sê Sjibbolet (1963).Wanneer jou werk verskyn en al wat mense raaksien, is kleurling, kleurling, kleurling, dan maak dit séér...dit maak seer. In elk geval, later het die mense tog tot beter insigte gekom en daar’s niemand meer wat Kanna hy kô hystoe kan afskryf nie want dit sou dwaas wees. Dis nie goed dat ek dit self sê nie, maar dit is ’n feit. 

Jammer, meneer Small, ek was verkeerd.

“Jy weet, destyds het selfs W.E.G. Louw...en tog was hy die eerste toe hy die kunsredakteur van Die Burger was wat my Kaapse skryfwerk gepubliseer het...Maar selfs hý het gesê toe Kanna hy kô hystoe verskyn: ‘Drama in straattaal van kleurling.’ Kan jy dit glo...W.E.G. Louw? Hy het egter die moed gehad later – dit was op ’n verhoog in Stellenbosch een aand – om te sê: ‘Jammer, meneer Small, ek was verkeerd.’” 

Het hy in verbinding gebly met die literêre wêreld in hierdie tyd van onttrekking? “Ja, dit is een van die dinge wat my aan die gang gehou het – dat ek ingelig gebly het en altyd nog met my skrywersvriende en -kollegas in aanraking was, byvoorbeeld per e-pos soos ons deesdae doen. Ek dink aan Braam de Vries, byvoorbeeld. En aan Antjie Krog...Joan Hambidge.” Hy verwys ook na hulle in ’n gedig in Klawerjas.

*** 

Die Hertzogprys is in 2012 aan Small toegeken vir sy drama-oeuvre. In 2009, tydens die 100ste verjaardagviering van die Akademie, het hulle die Eeufeesmedalje aan hom toegeken in wat in sommige kringe gesien is as ’n poging om sake “reg te stel”; op te maak vir die feit dat hy al die jare oor die hoof gesien is. 

Breyten Breytenbach het, toe hy in 2008 weer die Hertzogprys ontvang het, sy prys aan Small opgedra.

Breytenbach sê in reaksie op Klawerjas: “Ek is daarvan oortuig dat die digters-voorgangers, Leipoldt en oom Wyk en Eybers en Petersen en Piet Philander en Ingrid Jonker en Uys en Pieter Blum...almal met groot waardering net buite die vuurkring se lig sit en luister, net soos die watersoekers wat nog in lewe is mekaar met verbasing sal aankyk en sê: ‘Kan dit waar wees?’” 

Small het sowat anderhalf jaar gelede aan hierdie bundel begin werk.

“Die Hertzogprys was seker ’n belangrike prikkel, ja. Ek glo nie ’n mens moet vir pryse skryf nie, maar erkenning is tóg belangrik. Ja, dit was ’n belangrike prikkel gewees. En, natuurlik, ek is ’n vreeslike verbéte soort mens wanneer ek my wil op iets gesit het dan loop ek daarmee deur. Ek het met hierdie hele ding deurgeloop.” 

In die gedig “My woorde kom weer” skryf Small: Ek was lank stil, maar nou, / waarlik, kom die woorde weer./ Skoorvoetend eers, dan met langer/ hale. Ek het te lank gehiberneer. 

“My woorde kom weer” waarmee ek natuurlik nie wil sê dat die woorde op ’n tyd nie meer daar was nie. Die woorde was altyd daar, maar ek het die woorde agtergehou en net uiteindelik besluit hoekom sal ek? Hoekom sal ek? Laat hulle weer kom. Ek is bly ek het dit gedoen.” 

Small skryf ook in “My woorde kom weer”: Ek hoor ’n stem wat vra: Adam/ wat het van jou Kaaps geword? Hierdie/ nuwe verse klink só anders. Ek dink ná,/antwoord dan: My Kaaps is goeie geskiedenis – /die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die / stemloses. Maar daar kom ’n keer wanneer/ ’n digter ook aan sy eie belang sal dink, / homself as individu op die verhoog moet/ bring. 

Prof. Jakes Gerwel skryf in die stuk “Language and silence: persoonlike herinneringe aan Adam Small, die digter-intellektueel” (Tydskrif vir Letterkunde 49 (1) 2012) die benaming Kaaps is die skepping van Adam Small. 

Die digter Nathan Trantraal het Small en Peter Snyders vroeër vanjaar daarvan beskuldig dat hulle van Kaaps ’n joke-taal sou gemaak het. 

“Ek het vir hom (Nathan) geskryf en hy het baie vriendelik en erkentlik geantwoord. Ek dink...hy’s ’n jong man en hy het nog ’n ver ent, ’n digterlike pad, om te loop, maar hy is welmenend en hy sal sy weg vind. “En daar is natuurlik nou ander jongeres en hulle is die mense wat die letterkundige en digterlike kastaiings vir ons uit die vuur uit moet haal in die toekoms. Ek dink aan Pieter Odendaal; ek dink aan Willem Fransman junior, aan Bibi Slippers – sulke jonges.” 

Van hierdie digters se gedigte is in vi’ Adam Small, ’n digbundel, wat verlede jaar verskyn het, opgeneem. 

“Pieter Odendaal het daardie pragtige gedig geskryf waarin hy teenoor my half verskoning maak vir die feit dat sy pa in die grensoorlog vir die apartheidsregering geveg het. Dit is baie ontroerend dat hy dan skryf ‘maar hy is ’n goeie man, my pa, en ek sal hom onthou as ek by sy graf staan’...Ek het vir hom laat weet: ‘Piéter, jy hoef nie verskoning te maak nie, ons almal is op ’n keer ingesluk deur apartheid, ons almal.’”

*** 

Small praat oor wat hy as die “grootste” gedig in Klawerjas beskou. “Ek dink die grootste gedig in die bundel is die Jesus-gedig. Dit was vir my nog altyd moeilik om die deursnee-kerkganger, Christen-kerkganger, se Drie-enige God: die Vader, Seun en Heilige Gees, te verdiskonteer in my geloof.

Terwyl ons van Jesus praat, moet ek miskien sê, want dit sluit daarby aan, dat ek ’n vegetariër is.

“Ek is ’n Jesus-bewonderaar. Ek aanvaar dat hierdie historiese persoonlikheid onuitspreeklik imponerend sy skadu oor die hele geskiedenis gewerp het. Om ná meer as 2000 jaar onblusbaar te wees is self ewe ’n wonderwerk. En die Heilige Gees – dit spreek vir my maar net van menslike verhoudinge. En met God die Vader het ek nie ’n groot...Ek het nie ’n groot aanvoeling vir die Vader nie. Hy is vir my ’n stróéwe figuur; Hy noem homself ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders tot in die derde en die vierde geslag. Ek kán dit nie verstaan nie. En, soos ek in die bundel skryf: Wanneer Hy klawerjas speel, dan speel Hy dit nórs; Hy hou sy kaarte teen sy bors. 

“Terwyl ons van Jesus praat, moet ek miskien sê, want dit sluit daarby aan, dat ek ’n vegetariër is. Maar dan dink ek ook aan wat hy sou gesê het: Wat maak dit saak wat by die mond ingaan? Wat daar úitkom, is wat belangrik is.” 

Dit nie alles net “diep, donker verse” nie, sê Small. 

“Daardie pous-gedigte wat ek onder die titel ‘Lawwighede’ publiseer, is ligte, satiriese gespot en welmenend. Ekself het báie Rooms grootgeword; ek het Roomse skole bygewoon – St Augustine’s op Wittebome, Immaculata-hoërskool, ook op Wittebome, en ek het báie groot waardering vir die Katolieke.” ’

n Handgeskrewe brief wat N.P. van Wyk Louw op 17 Julie 1961 aan Small geskryf het nadat hy sy boek Die Eerste Steen gelees het, is op die skutblaaie van Klawerjas afgedruk. Die gedig Klawerjas is ook aan hom opgedra. 

“Van Wyk Louw was ’n gróót, gróót denker. Indien hy in enige ander taal geskryf het, sou hy die Nobelprys gekry het. Ek dink hy is een van die grootste denkers ter wêreld. En die nederigheid van die man...In daardie brief vra hy die vraag: ‘Wat kan mense soos ons in hierdie tye doen? Ons kan maar net praat want ons is nie mense van geweld nie. Daar’s niks wat ons met geweld kán of wíl regkry nie. Ja, ek het die grootste waardering en respek vir Van Wyk Louw en sy intellek.”

*** 

Het sy afkeer van geweld die beskouing onder sommige mense laat posvat dat hy nie deel was van die struggle nie? 

“Ja. Bevrydingstryde het my nog nooit geïmponeer nie. Van Wyk Louw sê: ‘Elke keer gaan ons uit om die regverdigheid te vind en dan moet ons maar weer van voor af begin omdat die stryders self uiteindelik maar weer verval.’ 

“Ons sien wat nou gebeur met die ANC. Ek het groot waardering vir wat die ANC vermag het en dis algemeen bekend watter groot bewondering ek vir Mandela het. Ek was gelukkig dat ek met hom kon sit en praat op sy uitnodiging oor die sake van die land. En ek het vir hom gesê: ‘Madiba, jy weet dat ons denke oor hierdie dinge nié altyd saamval nie.’ Die vraag was natuurlik: Hoe hou ons hierdie huis van ons aan die kant? En hy’t dit verstaan. Hy is ’n grasievolle man. Maar natuurlik is hy so vasgevang in Die Organisasie – nét soos De Klerk ...só vasgevang. Maar goddank vir die twee van hulle dat hulle bymekaar kon uitkom.” 

Klawerjas bevat gedigte oor albei van hulle: “Versoeningsgebed vir Nelson Mandela” en “Versoeningsgebed vir FW de Klerk”.

“Mandela was só bewus daarvan dat indien hulle dit nie doen nie dan gaan die land onder in ’n bloedbad. En ek het die hoogste respek vir mense wat besef: Só ver kan ons, maar wragtig, ons kán nie verder nie.

“Daar is natuurlik mense, soos onnadenkende Afrikaners, wat sê De Klerk is ’n uitverkoper – níks van dié aard nie, hy het ’n wýse besluit geneem. En daar was mense – ANC-mense – wat ook gesê het in verband met Mandela dat hý ’n uitverkoper was – níks van dié aard nie.” 

’n Vraag wat Breyten aan Small stel, is: Kan hy hom nog ’n utopie van dinamiese verandering vorentoe verbeel, van vrede en geregtigheid? Is daar ’n gemene deler of ’n gedeelde ruimte (van begrip en van versugting) in ons kollektiewe bewussyn(e) en ons gedragspatrone wat so ’n droom (sommige sou sê ‘noodsaaklikheid’) kan dra? Sien hy elemente daarvan raak? 

“Nee, ek sien nie so iets nie. Soos Van Wyk Louw gesê het: Keer op keer gaan ons uit om die geregtigheid te probeer vind en keer op keer moet ons van voor af begin. En dít is die menslike verhaal. Dit is die lot was ons as méns in die lewe ervaar en dit gaan in elke land ter wêreld so. Van Wyk Louw het gróót insig daar gehad en hy het hom daarmee versoen.” 

Hy praat oor sy verhouding met sy vriend Jakes Gerwel. 

“Na my smaak het hy té na aan die ANC begin beweeg; ’n intellektueel behóórt nie so na aan die politiek te beweeg nie. Daar is daardie reëls in “Vredesgebed vir Jakes Gerwel” (in Klawerjas). Ek het gesê: ‘Is hierdie oordeel van my te kras, vriend? Maak nie saak nie, dit sal in die wind wegwaai met ons as...’ “Gedurende sy laaste jare het ek nie veel kontak met hom gehad nie, maar ons was nooit verwyderd van mekaar nie; ons was groot vriende. Sy dood het my baie diep geraak. Hy is te vroeg dood.”

*** 

Small se toneelstuk The Orange Earth, wat aanvanklik in 1978 opgevoer is, is pas vir die eerste keer gepubliseer. Gelyktydig verskyn daar ook by Tafelberg ’n vertaling in Afrikaans van die stuk deur Daniel Hugo – dit heet Goree. Op die agterplat van Goree is ’n foto van ’n meisie (effens fronsend; moontlik teen die son) in ’n skooljurk. In haar regterhand is ’n tennisraket. Die byskrif lui: “Die dramaturg se moeder as jong meisie, later jong vrou, die meid wat agterom moes gaan.” 

En op die agterplat van The Orange Earth maak ’n mooi jong vrou (’n rooi roos in haar hare en drie in haar regterhand) op ’n luiperdvel ’n kniebuiging. Dit is klaarblyklik in die ateljee van ’n fotograaf. Die byskrif: “The play-wright’s mother as a young woman, the girl who had to go around the back.” 

“Dit is ’n baie bítter byskrif, maar seker ook baie mooi. Dit is die storie van The Orange Earth. Ek het seker daardie mense wat dit gedoen het, teen hierdie tyd vergewe.” 

Small is op Wellington gebore en het grootgeword op Goree, ’n “nedersettinkie net buite Robertson aan die Kaapse kant waar sy pa “’n plaasskooltjie van die NG Sending aan die gang gehou het onder die arbeiders van omringende plase”. 

“Ek was seker vyf, ses jaar oud...My pa het my altyd op sy huisbesoeke saamgeneem en Sondae het hy vir daardie stowwerige mense van die plaas kerk gehou. Ek onthou nog die waenhuis op een van die boere se plaas waar my pa vir hulle gepreek het. En dan het hy my aan die hand gevat en saamgeneem. En dan het hy gesing, vir hulle voorgesing, hulle agterna. Hy het nogal ’n mooi stem gehad op sy dag. 

Wanneer ons alles in ag neem, is daar een enkele tema wat die poësie bind, en dít is intellektualiteit.

“Daar is die woorde in Goree wat Daniel Hugo so prágtig vertaal het in Afrikaans...Daar sê ek: ‘En hy het hulle opgedra aan God en wanneer hy met God vir hulle ingestaan het, het ’n wonderlike ding gebeur...en het hulle dit besef. Dit was nie nodig vir hulle om vir God báás te sê nie.’” Die gesprek keer terug na die bundel wat hier tussen ons op die tafel lê. “Wanneer ons alles in ag neem, is daar een enkele tema wat die poësie bind, en dít is intellektualiteit. Alles kan onder daardie hoof tuiskom. “Ek is reeds byna klaar met ’n opvolg op Klawerjas. Dit sal ’n heelwat korter bundel wees as Klawerjas, Klawerjas is eintlik ’n baie lywige bundel.” 

Hy verduidelik wat klawerjas is. 

“Klawerjas is natuurlik ’n Kaapse woord. Ek het dit leer ken toe ek hier in die Kaap gekom het. Ek het ’n oom en tannie gehad – my pa se oudste broer uncle Piet en sy vrou was auntie Babie. Sý het altyd gepraat van klawerjas. Nou so het ek geleer dis ’n kaartspel en die hoogste troefkaart van klawers in die pak kaarte is die Boer of die Jas van klawers. Ekself weet nie soveel van klawerjas nie, ek kan nie klawerjas speel nie, maar ek het darem die intellektuele kennis van klawerjas.” Hy glimlag. “Soos in daardie gedig wat ek opdra aan Van Wyk Louw.” 

Rosalie voeg by klawerjas is ’n spel wat baie ernstig opgeneem word op die Kaapse Vlakte. “Dit verg dissipline. Dit hou mense bymekaar. Dis ’n groepspel en dit word van een geslag na ’n ander oorgedra. Dis ’n baie belangrike simbool vir die Kaapse Vlakte.” 

In ’n nota aan die einde van die onderhoud met Ronnie Belcher wat opgeneem is in Gesprekke met skrywers 2 (1972) skryf Small: “Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense en dat ek van hulle notisie neem).” 

Ek pols hom daaroor. “Ja, ek ly aan ulseratiewe kolitis (ontsteking van die spysverteringstelsel), só het Rosalie my leer ken. Sy was altyd toe sy ’n jong meisie was so goed om vir my medisyne te gaan afhaal by Groote Schuur-hospitaal. “Dis ’n helse krankheid, ek wens dit nie op my vyand toe nie. Wanneer daai pyn jou vat, dan vát hy vir jou. Soos ek in een van die gedigte sê: Dis ’n fóltering. Dit word deur spanning vererger en dit bring ook ’n sekere soort depressie mee.” 

Ons praat oor angs. 

“Dis nie soseer dat ek angs ervaar nie, maar dat ek my angs kan índink. Ek kan my angs verbeel. Dis wat ’n digter maak – die verbeeldingskrag.” Hy onthou iets wat gebeur het toe hy ’n kind was op Goree en op ’n plaas op die damwal gaan stap het. 

“Daai ding van die sluis. Jy is vyf, ses jaar oud en daai dam lê vol water en hier is ’n sluis...En jy vat ’n kans. Jy is bang, maar kordaat. En jy draai daai wiel...En dan sien jy daai water...totdat jou ouers jou daar wegpluk.” 

Voor ons vertrek lees Adam Small, met ’n stem wat soms breek, vir ons “Trap der bruin jeugd”, wat só eindig: Nou, ná jare en jare, veertig jaar,/ eintlik ’n halwe eeu, het ek/ vir myself die Lig gevind, en daardie/ klein bruin kind se Wil vervul:/ hom ingebind in Afrikaans vir altyd.

..................

Biografiese feite 

  • Adam Small is op 21 Desember 1936 buite Wellington gebore.  
  • Hy het aanvanklik aan die Universiteite van Kaapstad, Londen en Oxford studeer.  
  • Daarna doseer hy aan die destydse Universiteitskollege van Fort Hare voordat hy dosent en later hoof van die departement filosofie aan die Universiteit van Wes-Kaapland word.
  • Hy ontwikkel ’n belangstelling in welsynwerk en verlaat die UWK om sulke werk te doen. Hy keer later terug na dié universiteit as professor in en hoof van die departement maatskaplike werk.Kita
  • Kitaar my kruis (1961), Sê Sjibbolet (1963), Oos wes tuis bes: Distrik Ses (1973), enKanna hy kô hystoe(1965), word as sy belangrikste werke beskou. Bron: Perspektief & Profiel, ’n Afri-kaanse Literatuurgeskiedenis, H. P. van Coller (redakteur).

?

    NETWERK24 Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.