Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oor ‘Gatvol’-Kapenaars en die krag van protes-dreigemente

Om met ’n “shutdown” te dreig, soos wat die drukgroep Gatvol Capetonian ook dié week gedoen het, raak nou mode in Suid-Afrika. Maar behoort elke dreigement van dié aard ernstig opgeneem te word? wonder Heindrich Wyngaard.

’n Eenvoudige boodskap. Foto: Argief

Dit moet een van die grootste ironieë van ons tyd wees: Dié dat afstammelinge van Suid-Afrika se oorspronklike Khoisan-bewoners tans proteste in die Kaap van stapel stuur om grond vir huisvesting te bekom – spesifiek vir sogenaamde agterplaasbewoners.

Ook interessant, indien nie kommerwekkend nie, is dat dit ’n veldtog is wat gemik is teen die persepsie (of werklikheid?) dat sogenaamde “inkommers” bevoordeel word in die toekenning van behuisingsgeleenthede in ’n deel van die land waar “inkommers” reeds sedert die koloniale periode ’n tuiste – en ekonomiese geleenthede – kom najaag en gevind (of afgedwing) het.

Maar ten spyte daarvan dat die gebrek aan behuising ’n geldige en geloofwaardighede kwessie is om te opper en oor protes aan te teken, kry die drukgroep Gatvol Capetonian (GC) op die oog af nie veel aftrek nie. Hy lok nie eens tientalle ondersteuners nie.

En terwyl vooraf groot gewag gemaak is van ’n beplande “shutdown” die afgelope Maandag om die Skiereiland tot stilstand te dwing, het dit maar slegs ’n paar brandende buitebande gebaar.

Ten minste het GC hierdie week sy woord gestand gedoen met sy poging tot ’n 'shutdown' – van min of meer dagbreek tot elfuur-teetyd.

Indien dit vergelyk word met openbare proteste in die aanloop tot die nuwe bedeling, dan steek dit behoorlik af by die vermoë van destydse gemeenskapsorganisasies en groeperings soos die United Democratic Front, wat die fakkel vir die verbanne ANC hoog en brandend gehou het. Ook so wat betref die groot skole-boikot in 1980, waartydens leerlinge in veral die Kaap teen “minderwaardige onderwys” in bruin skole in opstand gekom het.

Dié week se GC-protesaksie sou nooit op dieselfde skaal geskied as die voorafgenoemde nie – en gewis ook nie eens op die rug kon ry van ander onlangse dreigemente van grootskaalse ontwrigting in metrogebiede soos dié deur die land se taxibedryf nie.

Ofskoon dit ten sterkste veroordeel moet word, kry die taxibedryf dit wel van tyd tot tyd reg om groot ontwrigting van die verkeer op van Gauteng se belangrikste snelweë te veroorsaak, wat daartoe kan lei dat mense nie by die werk uitkom nie en die plaaslike ekonomie honderdduisende rand verloor.

Omgekeerd wag ons angstig op die studentebeweging Cosas wat ook sedert die onlangse taxibetogings gedreig het met ’n “shutdown” om álle skole toe te dwing indien die regering die skole sou oophou. Noudat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat alle skole vir vier weke (behalwe vir matrieks en gr. 7’s) sluit, dreig Cosas om private skole te ontwrig om te voorkom dat hulle ’n voorsprong bó staatskole sal hê.

’n Poging tot ’n ‘shutdown’

Die griewe van Gatvol Capetonian word op dié plakkaat uiteengesit. Foto: Argief

Ten minste het GC hierdie week sy woord gestand gedoen met sy poging tot ’n “shutdown” – van min of meer dagbreek tot elfuur-teetyd.

Die organisasie het sowat ’n jaar gelede – in Augustus verlede jaar – sy verskyning gemaak. Dit was destyds ook deur proteste waarmee wél noemenswaardige ontwrigting op Kaapse paaie, opvallend hoofsaaklik in bruin gebiede, veroorsaak is.

Maar dit was ook met uitsprake deur die leier, Fadiel Adams, wat nie slegs as politiek kru nie, maar pleinweg as rassisties bestempel kon word: “Hulle” moes terug Oos-Kaap toe; en “hulle” was swart; “hulle” het “ons” huise en “ons” werk kom afvat en “ons” was bruin.

Dit was naïef om te glo dat hierdie soort kragdadige (omstrede, afstootlike) uitsprake vrugte sou dra.

“Oor die afgelope jaar het ons situasie net versleg en ons is steeds nie na aan ’n oplossing nie,” bekla die groep sy lot op Facebook. “Mense word steeds uitgesit en op straat gegooi gedurende hierdie tyd van ’n rampstaat sonder enige omgee vir hul gesondheid en veiligheid.”

En dan: “Ons sal aanhou om hierdie aksies te loods totdat ons gehoor word en aksie geneem word om verligting te bring.”

Het enigiemand ná hierdie uitspraak begin bewe? Onwaarskynlik, want die mag van protes lê óf in geweld óf in getalle, albei afwesig in die GC-konteks. Wat protesteerders in eersgenoemde geval gewoonlik ervaar, is kitsbevrediging wat hulle onder die valse indruk kan bring dat hulle sukses behaal het.

Maar dit kan hulle dikwels die simpatie kos van juis diegene wie se steun hulle probeer wen – én, uiteraard, gaan só ’n ingesteldheid ook gepaard met wat dikwels in bloedige botsings met wetstoepassers kan ontaard.

Die protes van Gatvol Capetonian het Maandag weinig meer as brandende buitebande gebaar. Foto: Jaco Marais

Opvallend is dat die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, en sy burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, JP Smith, albei onomwonde daaroor was dat wetstoepassers die protesaksie die afgelope Maandag behoorlik moes vasvat.

In Plato se opsomming van die situasie was dit ’n aksie wat deur “opportunistiese politieke groeperings” aangeblaas is en onder geen omstandighede sou hy en Smith toelaat dat “wetsgehoorsame inwoners” deur ander “geterroriseer” word of dat hul regte vertrap sou word nie.

Maar dit was, indien jy na Adams se weergawe luister, eerder Gatvol Capetonian-lede wie se regte as “wetsgehoorsame inwoners” vertrap is met dié dat ’n aantal van hulle “vir geen rede nie” in hegtenis geneem is. Klipgooiery is egter ook aangemeld ten tyde van die protesaksie, hoewel sommige glo met onverwante aksies deur ander groepe te doen sou hê, is berig.

Alles hoef nie verlore te wees

Enkele voorvalle van klipgooi het Maandag tydens die betoging van Gatvol Capetonian voorgekom. Foto: Jaco Marais

Hierdie “onverwante aksies” is die afgelope ruk se onbeheerste grondbesettings waarmee die Kaap te doen het en wat waarskynlik tot die “Gatvol”-groepering se opstand aanleiding gegee het. Smith het egter in een asem inwoners se grondwetlike reg om protes aan te teken erken, maar ook uitgevaar oor hoe aksies soos dié deur GC polisiehulpbronne wegneem van onder meer die bestryding van bendegeweld en tot verdere besettings aanleiding kan gee.

Smith en Plato se bekommernis oor voortgesette onwettige besettings bring hulle egter onbedoeld nader aan die Gatvol Capetonian-griewe: Wetgewing bepaal dat as besetters eers “huis opgesit het”, mag hulle nie verwyder word nie. Dit beteken alternatiewe blyplek moet vir hulle gevind word en dié blyplek moet van munisipale dienste soos lopende water, riool en elektrisiteit voorsien word.

In die proses word geld, wat vir die bou van huise bedoel was, noodgedwonge aangewend vir die “noodgeval”, naamlik die onwettige besetters.

Sodoende skuif die behoeftes van die (hoofsaaklik bruin) agterplaasbewoners vir wie Gatvol Capetonian stem dik maak ondertoe op die prioriteitslys – en sommige van dié mense wag al 20, 30 jaar op ’n eie woning.

Heindrich Wyngaard

Neem jy daarby in ag dat die behuisingsagterstand in Maart verlede jaar deur die voormalige provinsiale minister verantwoordelik vir dié portefeulje, Bonginkosi Madikizela, op meer as twee miljoen gestel is, sal dit niks minder nie as ’n wonderwerk kos om werklike verligting te kry.

Madikizela se opvolger, Tertius Simmers, het juis later die kopskuddende uitdagings gelys met betrekking tot behuisingsvoorsiening wat, naas die hengse waglys, onder meer insluit die gesukkel met die hervestiging van begunstigdes, betogings, vandalisme en die aansienlike koste om grond wat vir behuising gekoop word teen besetters te beveilig.

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat Gatvol Capetonian se betogings weinig verandering teweeg gaan bring, maar alles hoef nie verlore te wees nie.

’n Les waarop hy gerus ag kan slaan, word vervat in The Economist se redaksionele kommentaar van 13 Junie 2020 oor die mag van protes. “Protest movements have a habit of antagonising the moderate supporters they need to succeed,” skryf dié publikasie.

Ondersteuning van gematigde Kapenaars is presies wat afwesig was toe die groep Maandag sy protesaksie geloods het.

Gematigde ondersteuners is egter wat nodig is – en nie dreigemente van nog ’n “shutdown” nie – om behuisingsoplossings tot voordeel van sowel die agterplaasbewoners as die “agternakommers” te vind.

* Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en TV-aanbieder. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Cosas  |  Gatvol Capetonian  |  Jp Smith  |  Tertius Simmers  |  Dan Plato  |  Cyril Ramaphosa  |  Heindrich Wyngaard  |  Fadiel Adams  |  Kaapse Skiereiland  |  Behuisng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.