Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oor knope, strooipoppe en menseregte as goeie Christelikheid

Die idee van menseregte is nie ’n moderne “uitvindsel” nie, maar is al met ons sedert die dae van die Ou Testament, skryf Christo Lombaard.

Die bekende entomoloog en rubriekskrywer prof. Erik Holm. Foto: Lisa Hnatowicz

Ek skryf in reaksie op Dinsdag se Netwerk24-rubriek, “Leef met bietjie beskeidenheid, minder eie-reg”, deur die gerespekteerde entomoloog-mediastem prof. Erik Holm. (Lees dit hier.)

Ek lees prof. Holm se artikels graag, al weet ek van insekte nagenoeg niks nie. Behalwe: Ek kan oor die nat gogga op my motorvoorruit met stelligheid sê wat die laaste ding is wat deur sy kop gegaan het. Sy alie.

Ek het ook ’n sterk vermoede dat muskiete die hel se agente is, wat nes jy op ’n somersnag insluimer ongenooid met ’n bzzzt! in jou oor in kamikaze om jou drome en jou woordeskat te kom besoedel.

Soos ek sê, “nagenoeg niks nie”.

Prof. Holm skryf gereeld oor hoe die natuurwetenskap allerlei goeie goed vir die mensdom kan beteken. Of hoe die mensdom soms domastrant skop teen tegnologiese vooruitgang, soos die Ludiete in 19de-eeuse Engeland wat weefmasjinerie gaan stukkend slaan het om hul werk te beskerm (soos die domme geweld teen Uber- en Bolt-huurmotors in Suid-Afrika tans).

Of oor interessante dieregewoontes wat ’n mens blý verbaas. Só vervul prof. Holm ’n rol wat min spesialiste regkry, om buite die binnekring van vakspesialiste te skryf op ’n manier wat almal kan verstaan.

Dit is ook duidelik uit prof. Holm se skryfwerk dat hy ’n lewende geloofslewe het, wat hy hier en daar slim laat deurskemer sonder om dweperig te raak. Daarvoor het ek as teoloog baie tyd.

Die allerbelangrike fyn verskille tussen wetenskappe kan ’n mens maklik ontglip, en dan sê jy goed wat niemand in jou tweede veld só sou stel nie. Óf want omtrent niemand het ooit so gedink nie, óf want die wetenskap het gegroei.

Maar ek moet erken, as prof. Holm as entomoloog oor teologie skryf, is daar iets wat beginne kriewel.

Natuurlik mag elke mens ’n mening lug oor enige saak. Eweneens is gelowiges geroepe om op grond van besonder sterk punte (in kerktaal: talente of gawes) die saak van die koninkryk te bevorder. Hoe dan nie?

Die Bybel is vol daarvan, van die vroegste geskrifte (sommige van die wysheidspreuke in die Ou Testament, in Hebreeus) tot die jongste (die Openbaring-boek in die Nuwe Testament, in Grieks).

Die kerkgeskiedenis is gemáák deur mense en gebeure wat die Christelike geloofswaarhede op kernmomente in die openbaar verwoord het, in Latyn en mettertyd in al hoe meer tale. Die openbare gesprek oor geloofsake is belangrik júis omdat dit so ’n lewensaar is, vir sowel die individu as die breër samelewing.

Wanneer ’n mens buite jou spesialisveld skryf, is daar ’n paar dinge wat bykomend gebeur. Soos my voormalige kollega Celia Kourie dit stel, kruis-dissiplinêre werk bring die verantwoordelikheid mee dat jy so goed ingegrawe sal raak op jou tweede veld as wat jy is op jou primêre spesialisgebied.

Anders mis ’n mens standaardinsigte in jou tweede veld, asof jy snoekerreëls op biljart toepas. Die allerbelangrike fyn verskille tussen wetenskappe kan ’n mens maklik ontglip, en dan sê jy goed wat niemand in jou tweede veld só sou stel nie. Óf want omtrent niemand het ooit so gedink nie, óf want die wetenskap het gegroei.

Dán is dit ’n bietjie soos knope vooraan ’n denimbroek: Jy staan verstom hoedat klerewinkels aan tieners probeer smous wat jou oupa al as outyds beleef het. Ritssluiters is van álkant af beskou net béter.

Idee van menseregte kom uit Ou Testament

Die ingang tot Suid-Afrika se konstitusionele hof wat dui op die belangrike plek van menseregte in die samelewing. Foto: Getty Images

Prof. Holm het in sy artikel van Dinsdag ’n paar sulke knope vasgemaak. Ek ontknoop hulle hieronder maar so een-een.

As prof. Holm skryf dat universele menseregte ’n kwessie is, is hy reg, maar nie op die manier waarop hy dit stel nie. Die kwessie is naamlik of menseregte soos verstaan in meer individualisties-georiënteerde wêrelddele (soos Wes-Europa) sommerso toegepas kan word op meer gemeenskapsgeoriënteerde wêrelddele (soos Afrika of China).

Maar prof. Holm stel die probleem anders: deur ons groeiende ekologiese ramp om die nek van menseregte te hang. So ’n aanklag is egter ewe eenkantig as dieselfde beskuldiging teen die Christendom, as sou spesifiek kerkmense die idee van Genesis 1:28 van onderwerp-en-heers tot die uiterste toe voer, totdat die natuur in duie stort.

Iewers sal jy wel “hierdie mal idee” (Holm se woorde) teëkom, maar jy gaan sukkel om dit onder denkende mense op te spoor. Om daardie rare enkelinge dan voor te hou as rede om ’n hele groot saak af te maak, is darem onregverdig, sowel teenoor die saak as jou lesers, prof. Holm.

Hy trek die beginpunt van menseregte na tot by die Franse Revolusie en die VSA-grondwet (nie heeltemal akkuraat geformuleer nie, maar idiomaties gesproke naby genoeg) en hy “vind niks daarvan” by Jesus se formulering van naasteliefde nie.

Ons sien presies daardie been van die menseregte baie duidelik aan die werk in die openbare gesprek in Suid-Afrika die afgelope weke. Dit is dáárdie idee waarop mense staatmaak, wanneer hulle protes aanteken teen die magsvergrype van staatsmasjinerie soos die polisie en weermag wat mense te na kom.

Hier, is ek bevrees, wys dit duidelik dat prof. Holm buite sy spesialisgebied skryf.

Jesus se naasteliefdewoorde, wat aan die hart van die Christendom lê, is opsigself verwoord uit die Ou Testament (Deuteronomium 6:5 en Levitikus 19:17-18). Dit is ook daar, in die Ou Testament, waar die gronde van die menseregte lê.

Dit is al ’n wyd-bekende saak onder Bybelwetenskaplikes. Naamlik, in Deuteronomium 13, een van die wreedste hoofstukke in die Bybel (maar om vir nou die tegniese argumente eers daar te laat), word vir die eerste keer in die geskiedenis die mag wat ’n heerser oor die lewe en dood van onderdane het, ingeperk. Daardie magsinperking gebeur juis weens teologiese redes: Geen owerheid is god nie; God beskerm die burgery teen die staat.

Daardie aspek van menseregte, uit antieke Jerusalem van die 7de eeu v.C., is een van die twee bene van ons moderne menseregtekultuur. (Die ander is die reg om politieke verteenwoordiging te kies, wat uit antieke Atene stam.)

Ons sien presies daardie been van die menseregte baie duidelik aan die werk in die openbare gesprek in Suid-Afrika die afgelope weke. Dit is dáárdie idee waarop mense staatmaak, wanneer hulle protes aanteken teen die magsvergrype van staatsmasjinerie soos die polisie en weermag wat mense te na kom.

Wie van ons wil nou sónder hierdie menseregte-idee lewe, dat ons as burgers regte het teenoor die regering? ’n Idee wat direk uit die Ou Testament stam.

Al het dit maar met lang draaie deur die geskiedenis geloop:

* Deur Handelinge 5:29 se Petrus-woorde: “ ’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense”),

* Die vryheidswoorde aan Martin Luther toegeskryf: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie. God help my, amen”,

* En die 1948 Universele Handves vir Menseregte van die Verenigde Nasies, ná die onmenslike gru-tragedies van die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is maar enkele punte, met reuse-treë deur die geskiedenis heen, van hoe hierdie basis-idee van regverdige menswees ’n weg gebaan het tot by ons.

Vryheid het oorwin

Die staatsmasjinerie hét naamlik geen reg om sommerso ons as mense dinge aan te doen nie. Selfs al sou die staat die mag gryp, soos prof. Holm tereg uitwys tans gebeur, is dit ’n vergryp.

Die staat hét nie daardie reg nie, en niemand behalwe outokrate sal die staat dit gun nie. Nóg die Grondwet van Suid-Afrika nóg die howe en allermins ons as burgers van hierdie land sal gelate ’n magstaat aanvaar.

Die idee van vryheid teenoor die staat staan so sterk dat toe die magtigste totalitêre staat van die vorige eeu, die Sowjetunie, in duie gestort het, dit deur die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama in die VSA beskryf is as “die einde van die geskiedenis”: Vryheid hét oorwin teenoor onderdrukking.

Die idee kom al 27 eeue, onder meer deur die geloofsaar van die Bybel. Menseregte staan nie teenoor die Christendom nie, maar vind sy gronde breedweg daarin.

Die “humanisme” wat prof. Holm daarmee saam so stewig bykom, bestaan ook net in strooipop-vorm: ’n karikatuur wat niemand verteenwoordig nie, en wat dus maklik belaglik gemaak kan word. Wat óók onregverdig is, “teenoor die saak en jou lesers”.

Oor daardie strooipop is al in my tienerjare, in die 1970’s, bepreek. Dit was tóé al oud, en dit het tóé al ’n klompie goed skeef-skeef deurmekaar gekry.

Die humanisme het in sy wese min te make met menslike vergoddeliking, beregtiging sonder teenprestasie of bose vernietiging. Eerder is die humanisme ’n ná-Middeleeuse kultuurverandering wat ons gehelp het om ons Godgegewe talente en wêreld na te speur.

Daardie soort humanisme pas baie goed by menseregte; menseregte wat dus nie veel anders is as naasteliefde nie: dat jy, in die Jesus-idioom, om Gods wil jou naaste sal liefhê en dien, insluitend – die gelykenis van die barmhartige Samaritaan – jou vyande.

Daarsonder het ons die Bybel nie in die oorspronklike Hebreeus of Grieks bestudeer nie, maar in Latynse vertaling.

Daarsonder het ons die Bybel nie in onder meer Afrikaanse vertaling self gelees nie, maar is dit vir ons voorgelees, eweneens in Latyn.

Sonder die gepaardgaande opbloei in wetenskappe, was byvoorbeeld entomologie nooit ’n selfstandige navorsingsveld nie.

Al die ander natuurwetenskappe, waarvan prof. Holm ons so interessant vertel, sou nooit ontwikkel het nie.

Die tegnologie wat die druk van die Bybel en die ontwikkeling van die pers moontlik gemaak het, sou nie bestaan het nie.

Was dit nie vir die humanisme nie, het niks bestaan wat hierdie gesprek tussen my en prof. Holm moontlik maak nie: nóg die spesialisvelde, nóg die kommunikasietegnologie, nóg die idee van openbare gesprek.

Niemand sou hierdie woorde hier lees nie. Ja, daar is wel die stroming wat sigself die naam Humanistiese Beweging toeëien, wat probeer ontslae raak van alle godsdiens, maar dis tog nie oor húlle wat ons nou praat nie. (En tussen ons gesê: Hulle is meer kerkerig as wat hulle bereid is om te erken, maar dit vir nou daar gelaat.)

Ons praat oor die opbloei van die teologiese, natuur-, mens- en sosiale wetenskappe waaruit ons álmal voordeel trek, daagliks, aanhoudend – in dankbaarheid.

Daardie soort humanisme pas baie goed by menseregte; menseregte wat dus nie veel anders is as naasteliefde nie: dat jy, in die Jesus-idioom, om Gods wil jou naaste sal liefhê en dien, insluitend – die gelykenis van die barmhartige Samaritaan – jou vyande.

Dit vra dus selfs meer as wat dikwels beskryf word as die “goue reël”: Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê. Naamlik: Ek ag ander bó myself. Ek ag ook God bó myself.

En dit is op dié punt wat ek weer positief by prof. Holm aansluit. Dit lyk vir my of dit éintlik vir hom daarom gaan dat die eer aan God belangriker is as die eer aan mense. In dié rubriek van hom, eksplisiet (maar soos ek hierbo reken, half ongemaklik), en in die slim deurskemeringe wat ek so waardeer in van sy ander media-bydraes.

Met so ’n geloofshouding voel ek my een. Dit is ook geestesgesond: Behalwe in die perverse voorspoedteologie, gaan geloof nie in die eerste plek oor die myle wat ék daaruit kry nie, maar oor God, voor wie ek in erkentlikheid en dankbaarheid lewe.

Nie een van ons minder as die ander werd

Christo Lombaard

Nederigheid voor God is ’n kerngeloofshouding, wat in alle opsigte pas by die Christendom. Dit is ’n flou ou grappie onder spiritualiteitskundiges, “Kom ons kyk wie van ons is die nederigste . . .”

Waarmee eintlik slim gespot word dat elke poging om nederigheid vergelykend te meet, dadelik nederigheid vernietig.

Dit is in dié gees dat ek my bydrae hier lewer: as kollegas op ’n manier, wat vanuit ons navorsing die samelewing probeer help om altyd beter te wees.

In daardie selfde gees, twee verdere opmerkings:

* Om die voorspelde hoër geboortesyfers nege maande of wat ná ons Covid-19-toesluitperiode as iets te make met menseregtevergrype te skets, soos dit lyk of prof. Holm in sy artikel wil skimp, is darem bitter na aan die seks-as-sonde-drogbeeld.

Dat meer vrye tyd tot meer vrytyd en tot meer babatjies sal lei, is iets heel mensliks. Dat die aarde tans te veel mense moet dra, is ewe waar. Om hierdie twee sake negatief aan menseregte te verbind, werk darem nie lekker nie.

Of was dit dalk een van prof. Holm se slim grappies wat my verbygegaan het?

’n Mens moenie gelykheid (equality) verwar met eenvormigheid (sameness) nie.

* Prof. Holm begaan ook die maklike glips om die gelykgeborenheid van alle mense af te maak aan die hand van die verskillende vermoëns van mense, en dit nogal half triomfantelik (en deur die gelykenis oor die genade van die talente te verdraai asof dit oor kapitalistiese prestasie sou gaan).

Soos my een student, Annelise Erasmus, dit gestel het: ’n Mens moenie gelykheid (equality) verwar met eenvormigheid (sameness) nie. Gelykheid voor God en die reg beteken nie ons almal speel eenvormig goed rugby, of kan kinders baar, of hou van blomme plant nie.

Maar nie een van ons is minder as die ander een werd in God se oë of voor die regbank nie. Om hierdie onderskeid tussen gelykheid en eenvormigheid mis te kyk, en dan nog met ’n gelykenis te probeer blink poets, is ek bevrees is ook onregverdig “teenoor die saak en jou lesers”.

* Vir verdere leeswerk, kyk gerus hier na my artikel “Biblical Spirituality and human rights”, in die vaktydskrif Old Testament Essays, 24/1 (2011), pp. 74-93.

* Christo Lombaard is navorsingsprofessor: Christelike spiritualiteit, aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy het doktorsgrade in kommunikasiekunde en teologie. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Martin Luther  |  Erik Holm  |  Menseregte  |  Covid-19-Pandemie  |  Oorbevolking  |  Christenskap  |  Bybel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.