Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oorlog nie net met wapens gevoer
Die omslag van Lucia Prinsloo se boek, Vegters wat deur Wenkbrou-uitgewers uitgegee is.Foto: Verskaf

Die meeste Afrikaanse lesers is meer vertroud daarmee dat mans oorlogsverhale skryf, maar die Oos-Kaapse skrywer Lucia Prinsloo sal met Vegters, haar roman wat onlangs vrygestel is, die persepsie verander. Willemien Green het met haar oor dié werk gesels.

Jonk en voortvarend het Regardt en Markus hulle grootwordplek, die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap, verlaat op soek na avontuur. Hulle wou soldate wees. En nie enige soldate nie. Nee, net die Britse Valskermregiment was goed genoeg vir hulle.

Oorlog is ’n ietwat ongewone onderwerp vir vroueskrywers, veral in Afrikaans. Hoe het jy dit reggekry om die storie geloofbaar oor te dra?

Ek en my man, Dappie, het die voorreg gehad om tussen 2003 en 2009 in Engeland te woon en te werk.

Dit is waar ek die idee gekry het om ’n storie te skryf met die oorlog in Afghanistan as agtergrond.

Dit was maar ’n bietjie meer as ’n jaar ná die terreuraanval op die Twin Towers in Amerika. Die hele wêreld was in rep en roer en Afghanistan was ’n brandpunt.

Die Britse weermag was natuurlik voluit betrokke by die NAVO-offensief wat in Desember 2001 ’n aanvang geneem het, en ek kon my hande op letterlik elke nuusberig lê.

Elke koerantberig oor die wêreld heen was en is op die internet beskikbaar.

Verder was daar joernaliste, soos die Britse joernalis Patrick Bishop, wat lang tye saam met die Valskermregiment in Afghanistan deurgebring het, en twee boeke oor die offensief in 2006 en 2008 geskryf het. Dit was van onskatbare waarde vir my navorsing.

Ek het egter eers ná ons terugkeer na Suid-Afrika in 2010 aan Vegters begin skryf.

Hier kon ek, omdat daar so baie Suid-Afrikaners in die Britse mag was, baie stories eerstehands by hulle aanhoor.

Lucia Prinsloo, die Oos-Kaapse skrywer van die roman Vegters wat onlangs bekendgestel is.Foto: verskaf

Waarom die naam en is dit net ’n oorlogstorie?

Vegters ontsluit die komplekse dinamika tussen twee avontuurlustige vriende, Markus Meyer en Regardt Mulder, wat ná matriek by die Britse weermag aansluit en as lede van die gerespekteerde 3-Valskermregiment in Afghanistan diens doen.

Afghanistan verander hulle persepsie dat oorlog nie kinderspeletjies is nie.

Maar die boek is nie net ’n oorlogsverhaal nie, dié twee jong soldate word gekonfronteer met die realiteit waarmee ons almal in ons lewens gekonfronteer word: dat die ware vegters eintlik na vore tree wanneer die stilte oor die slagveld neerdaal en die gevolge van konflik beredder moet word.

Daardie slagveld is nie ook noodwendig in ’n oorloggeteisterde gebied waar mense op mekaar skiet met gesofistikeerde wapens nie.

Dit lê soms tussen vriende, kamerade, huweliksmaats, gesinne en veral midde-in die liefde: selfs ’n soen is met tye ’n landmyn wat afgetrap word.

Jou seun was ook in die Britse valskermregiment, het sy ondervinding ook ’n bydrae kon bied?

My seun, Thinus, het al reeds op hoërskool begin navorsing doen oor die Britse valskermregiment, want die gedagte om ’n valskermsoldaat te wees was vir hom uiters aanloklik!

Hy is ná matriek Engeland toe en is toegelaat tot dié regiment.

Ná die strawwe opleiding van ses maande, is 3-PARA, soos hulle bekend staan, in 2006 in Afghanistan ontplooi.

Sonder Thinus en die ander Suid-Afrikaners in Afganistan met wie hy hegte vriendskapsbande gesmee het se insette sou Vegters nie moontlik gewees het nie.

Hulle kon die rou emosie beskryf, die harde realiteit, die taal van die voetsoldaat, die hopeloosheid van die mense van Afghanistan.

Nadat hy sy vier jaar in die weermag voltooi het, het Thinus, na Suid-Afrika teruggekeer om te kom studeer.

Hy is vandag getroud met Lizna, ’n veearts, en boer saam met ons dogter, Aniena, en haar man, Jannes, in Noordwes.

Daar is drie valleie in die boek ter sprake, maar net een daarvan is in Afghanistan?

Daar is die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap, waar die hoofkarakters grootgeword het.

In skrille kontras daarmee, die Helmandvallei in Afghanistan wat omraam word met ’n gevaarlike en verraderlike woestyn en waar jou lewe baie vinnig en onomkeerbaar kan verander.

Laastens die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal, waar die Dusi-kanomarathon, een van die veeleisendste roei-marathons in die wêreld, jaarliks in Februarie aangebied word.

In al drie hierdie valleie kom Markus en Regardt voor geweldige uitdagings te staan en moet hulle besluit of hulle gaan oorgee en bly lê, en of hulle gaan opstaan en as ware vegters na vore tree.

Behalwe die oorlog figureer roeisport ook sterk in jou boek, waarom die belangstelling?

My man was sy lewe lank (en is nog steeds) ’n roeier, en het so baie riviere in ons land reeds geroei.

Ons kinders, veral my seun, het ook van vroeg of geroei – die sport is ’n leefwyse vir ons gesin, en ek is dus baie vertroud met die sportterminologie.

Desnieteenstaande moes ek maar diep gaan grawe om ’n uitmergelende marathon oortuigend te kon beskryf – ek het natuurlik self die Vallei van ’n Duisend Heuwels gaan fynkam tydens ’n Dusi-marathon om te kon sien en te kon ervaar wat daar gebeur.

Daar is dus ’n sterk Oos-Kaapse verbintenis?

Dappie is ’n tandarts en ons twee woon in Jeffreysbaai en werk saam in sy tandartspraktyk. (Ek is die praktykbestuurder en ontvangsdame.)

Jeffreysbaai is ’n wonderlike plek, veral as jy kreatief is en lief vir sport en die buitelewe is. Die onvoorspelbare weer, die elemente en die voorreg om lang ente langs die see te kan stap stimuleer definitief my skrywery!

Ek het ook Vegters hier geskryf. Vir my was die skryfproses van dag een af self inspirerend, omdat my karakters uit hierdie wêreld kom. Dele van die boek speel hier in Jeffreysbaai af, en natuurlik ook in die Gamtoosvallei waarmee ek goed bekend is.

Die Gamtoosmond, met sy sandduine en daarnaas die onstuimige oseaan, is ’n magiese plek.

Hoeveel boeke het jy al geskryf?

Vegters is my tweede boek.

Kwaheri , my geliefde, was my eerste boek wat in 2012 gepubliseer is.

Wie gee die boek uit?

Vegters word uitgegee deur Wenkbrou, wat ’n druknaam van LAPA-uitgewers is.

Soos my uitgewer, Johan Jack Smith, dit stel: “Ons het besluit die mark is reg vir aweregse stories – stories wat nie noodwendig genre-gerig is nie. Die gravitas van ’n storie moet publikasie bepaal – nie of dit in ’n seker genre pas nie.”

Wenkbrou-uitgewers wil dus so ’n bietjie die wenkbroue laat lig!

Louis Esterhuizen, ’n uitstekende tekspraktisyn, was die redigeerder van Vegters.

Ek is baie bly dat Vegters uitgegee is, omdat die verhaal eg en eerlik is en oor onderwerpe handel wat dalk nog nie in Afrikaans aangeraak is nie, soos die oorlog in Afghanistan en ’n roeimarathon soos die Dusi.

Wat kan lesers volgende van jou te wagte wees?

Dis eintlik op die oomblik nog ’n baie groot geheim, maar daar is ’n volgende storie wat aandring om geskryf te word, ek werk so stilletjies daaraan.

  • Vegters kos R295.00 en is by die meeste boekwinkels en ook aanlyn en as e-boek beskikbaar.
Meer oor:  Lucia Prinsloo  |  Wapens  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.