Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oorlogsgeluide in VSA voor Biden se inhuldiging

Die beëdiging Woensdag van Joe Biden as Amerika se president word voorafgegaan deur ongekende spanning, veral nadat die kongresgebou twee weke gelede bestorm is. Leopold Scholtz ontleed die spanning teen die historiese agtergrond.

’n Soldaat hou wag in Washington aan die vooraand van Joe Biden se inhuldiging as die Amerikaanse president. Foto: AP

Onder die duisende foto’s en videogrepe van die bestorming van die gebou van die Amerikaanse Kongres op 6 Januarie vanjaar is daar één wat die verhaal die beste vertel.

Die videogreep wys ’n malende menigte op die trappe van die kongresgebou. Tussen hulle sien jy ’n groep mans in kamoefleerdrag en met helms, gewere en militêre kommunikasie-apparate wat soos ’n slang doelgerig vorentoe beur, agter mekaar en elkeen met die hand op die skouer van die persoon voor hom. In die Amerikaanse weermag staan dit as “ranger file” bekend.

Dis mense wat jy later weer binne die gebou sien en wat duidelik rigting en leiding aan die massa gee. Dít is soos revolusie plaasvind.

Gewapende mans in die sogenaamde ‘ranger file’ beweeg op teen die trappe van die kongresgebou. Foto: AP

Die antieke Griekse filosoof Plato het beswaar teen die Atheense demokrasie gehad. Terwyl die staatsman Perikles nog leiding kon verskaf, het dit goed gegaan, maar ná sy dood in 431 v.C. het dit van ’n vólksregering in ’n gepéúpelregering verval.

Plato het dit haarfyn ontleed: Uit die chaos van ’n regering deur die gepeupel kom onvermydelik ’n tiran na vore, het hy gesê.

“Julle, ondersteuners van demokrasie, sien dit graag as die teenoorgestelde van tirannie. Maar julle is verkeerd. Tirannie kom uit demokrasie te voorskyn, omdat hulle op die keper beskou dieselfde soort stelsel is. Die tirannieke persoonlikheid wat absolute mag verkry, verskil nie betekenisvol van wie júlle is of wat jul demokrasie is nie,” het hy geskryf.

En dus was sý ideaal ’n staat wat deur filosowe, wyse manne, gelei word, en waar die gepeupel behoorlik in toom gehou word.

Hierdie mense het opleiding en vermoëns wat ver meer is as wat enige buitelandse terreurgroep kan doen.
Michael German, gewese FBI-agent

Iemand wat dié standpunt, veel later, op sy eie manier in die praktyk gebring het, was die Russiese revolusionêr Wladimir Lenin. Lenin was sterk gekant teen die “spontaneïsme” wat ander Marxistiese filosowe voorgestaan het – die gedagte dat die onderdrukte massa “spontaan” in opstand kom en dan ’n goeie regering skep.

Hy het geen vertroue in die gewone mense gehad nie. Die mense moet deur ’n “voorhoede”, sy Kommunistiese Party, gelei en gerig word.

Týdens die revolusie kan daardie party van die gepeupel se geweld gebruik maak, maar hy moet dit altyd beheer. En uiteindelik, as die ou regime verdryf is, moet die Kommuniste permanent leiding bly gee.

Verdere geweld verwag

Ondersteuners van Donald Trump het op 6 Januarie in Washington saamgetrek omdat hulle vas glo dat hy die verkiesing gewen het en dat hy nog vier jaar as Amerika se president moet dien. Foto: AP

Nou ja, die politieke oortuigings van daardie groep manne in die videogreep wat so gedissiplineerd op die kongresgebou se trappe vorentoe beur, verskil ongetwyfeld ligjare van dié van Lenin, want hulle sou nie daar gewees het as hulle nie regse ekstremiste was nie. Maar al het hulle Plato en Lenin dalk nooit gelees nie, het hulle dié opvattings duidelik gesnap.

Die kommentaar van Michael German, gewese FBI-agent en tans navorsingsgenoot by die Brennan Center for Justice aan die Universiteit van New York, oor die videogreep lui:

“Isis en Al-Kaïda se monde sal water as hulle mense met die opleiding en ervaring van ’n Amerikaanse militêre offisier kan kry. Hierdie mense het opleiding en vermoëns wat ver meer is as wat enige buitelandse terreurgroep kan doen.”

Die bestorming van die kongresgebou, wat op ’n poging van revolusie neerkom, het nie uit die lug geval nie; dit is aangestig en aangemoedig. Die saad is gesaai deur pres. Donald Trump self, wat die gemoedere deur die jare aangehits het met sy dubbelsinnige uitsprake wat deur baie as ’n aanmoediging tot geweld verstaan is.

Doringdraad word buite die Amerikaanse kongresgebou gespan as deel van die veiligheidsmaatreëls rondom die inhuldiging van Joe Biden as Amerika se president. Foto: AP

Maar meer as dit: Op die sosiale media het die storm die laaste weke onkeerbaar aangeswel totdat dit op 6 Januarie ’n voorlopige klimaks bereik het. Voorlopig, want die kans bestaan dat dit vandag nog erger kan word.

Die boodskappe waarin mense mekaar aanmoedig om in opstand te kom is heen en weer gestuur. Verskeie groepe het daarin die leiding geneem.

Die FBI het verskeie mense, meestal militêre veterane, geïdentifiseer wat op 6 Januarie leiding aan die malende, taamlik doellose, massa gegee het.

’n Mens dink aan die sogenaamde Proud Boys, Boogaloo Bois, Three Percenters en Oath Keepers, groepe wat almal in ’n mindere of meerdere mate spog dat hulle gewese of huidige militêre lede in hul geledere het. Een van hulle is Adam Newbold, gewese Seal (spesmag van die Amerikaanse vloot), wat trots aan die nuusagentskap AP verklaar het: “Ons is eenvoudig baie voorberei, baie bekwaam en baie vaardige patriotte wat reg vir ’n geveg is.”

Die FBI het verskeie mense, meestal militêre veterane, geïdentifiseer wat op 6 Januarie leiding aan die malende, taamlik doellose, massa gegee het. Brian Harrell, gewese onderminister van binnelandse veiligheid, sê reguit:

“Baie het gespesialiseerde opleiding, sommige het geveg, en byna almal is disinformasie en propaganda uit ongeoorloofde oorde gevoer. Hulle word aangedryf deur samesweringsteorieë, hulle dink dat iets van hulle gesteel is, en hulle stel nie in debat belang nie. Dis ’n mengsel plofstof wat vir ’n vonk wag.”

‘Bereid jou voor vir oorlog’

Donald Trump se termyn as Amerikaanse president kom Woensdag tot ’n einde. Foto: AP

Lede van die Boogaloo Bois is in hegtenis geneem omdat hulle glo die Demokratiese goewerneur van Michigan, Gretchen Whitmer, ’n paar maande gelede wou ontvoer. Hulle het teen haar inperkingsmaatreëls teen die verspreiding van die koronavirus beswaar gemaak.

Die FBI het onlangs gewaarsku dat die Boogaloo Bois Woensdag moontlik in die frontlinie van grootskaalse onluste kan staan.

Die ondersoekende joernalis Michael Mooney skryf in The Atlantic: “Dit lyk nie of die Boogaloos juis vir Donald Trump wil veg nie – hulle verag hom, hoofsaaklik omdat hulle meen hy is aan die polisie se kant. Maar in die laaste jaar het Boogaloo Bois oor die hele Verenigde State oor die ineenstorting van die land gejuig, wagtend op die oomblik wanneer hul nihilistiese meme lewend kon word en die land in ’n bloedige chaos sou wegsink.”

Verlede jaar se Amerikaanse presidentsverkiesing was inderdaad ’n stryd om die siel van die nasie, maar versoening wat verdere geweld in die kiem kan smoor, sal een van Joe Biden se belangrikste prioriteite as president wees. Foto: AP

Alle beskouings is dit eens dat die Boogaloo Bois nie soseer rassisties is nie. Hulle is wel regs-ekstremisties, soek ’n chaos sodat hulle die mag kan gryp en ’n fascistoïde diktatuur kan vestig.

Intussen het die FBI lede van die Kongres gewaarsku dat Woensdag se opstand – in Washington en ander deelstaat-hoofstede – gewapen sou wees, en dat die doel is om te voorkom dat Biden beëdig word, selfs al gaan dit met moord op Demokrate gepaard.

Leopold Scholtz

Luidens ’n FBI-verslag, waaroor in die Amsterdamse koerant De Volkskrant berig word, lui een van die tekste wat onder regse ekstremiste op sosiale media gedeel word: “Staan gereed om te veg. Die Kongres moet hoor hoe glas breek, hoe deure ingetrap word, sien hoe die bloed van hul BLM- en Antifa-slaafsoldate vloei. Hou op om dit ’n mars te noem, of ’n betoging, of ’n protes. Berei jou voor vir oorlog. Ons kry ons president of sterf.”

Waar die owerhede twee weke gelede onverhoeds betrap is, is ’n oorweldigende kragvertoning vir Woensdag voorberei. In Washington word minstens 25 000 troepe en verskeie duisende polisiebeamptes ontplooi om teen ’n herhaling van die gebeure van 6 Januarie op te tree.

Iets soortgelyks geld in ’n mindere of meerdere mate in al 50 deelstaat-hoofstede.

Indien regse ekstremiste nie Woensdag in hul doel slaag nie, sal dit nie die einde van die storie wees nie. Eers wanneer – en indién – Biden daarin slaag om die ergste regse woede te ontlont sal die bedreiging afneem.

Tot dan sal die polarisasie ’n deel van die Amerikaanse samelewing bly.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.