Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oorlogswolke pak saam oor Taiwan

Die donderweer rammel in die Ooste. Waarnemers waarsku oor ’n gewapende konflik tussen China en Taiwan. En Russiese troepe word langs die grens met Oekraïne gekonsentreer. Doem oorlog op die horison op? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.

Taiwannese soldate tydens ’n onlangse militêre oefening. Foto: Getty Images

Die wêreld het onlangs geskrik penregop gesit toe twee hooggeplaaste Amerikaanse offisiere gewaarsku het dat China binne die volgende paar jaar ’n maritieme inval in Taiwan kan uitvoer.

Op ’n verhoor van die senaat het adm. Philip Davidson gesê China se doel is om Amerika teen 2050 as die wêreld se supermoondheid te vervang.

“Taiwan is duidelik een van hul ambisies voor dit. En ek dink die dreiging is duidelik sigbaar gedurende die huidige dekade, om die waarheid te sê, binne ses jaar.”

Hy het bygevoeg dat die enorme versterking van die Chinese weermag ’n “ongunstige” situasie vir Amerika kan skep deurdat dit laasgenoemde se vermoë om ’n geloofwaardige afskrikking te bied kan verminder.

“Ons sien die risiko dat China aangemoedig word om die status quo eensydig te verander voordat ons magte ’n effektiewe antwoord kan lewer,” sê Davidson.

Vir die eerste keer het die Chinese vloot nou meer oorlogskepe as dié van Amerika, en ook sy leër en lugmag nader dié van Amerika.

Of dit nie genoeg was nie, het adm. John Aquilino,die nuwe Amerikaanse bevelvoerder van die land se Indo-Pasifiese kommandement, gesê die inname van Taiwan is China se hoogste prioriteit. Hy het Davidson se voorspelling dat ’n inval oor ses jaar kan gebeur, betwis en gesê dit kan baie gouer die geval wees – selfs aanstaande jaar al.

Wat die twee admiraals se somber siening steun, is inderdaad dat die Chinese die laaste jare hul weermag ingrypend versterk en gemoderniseer het. Vir die eerste keer het die Chinese vloot nou meer oorlogskepe as dié van Amerika, en ook sy leër en lugmag nader dié van Amerika.

Chinese bomwerpers het die laaste weke herhaaldelik byna na willekeur in Taiwan se lugruim ingedring, sogenaamd om daar te oefen. Taiwan is immers in China se oë ’n rebelse wegbreek-provinsie waarvan die onafhanklikheid nie erken word nie, en dus is Chinese vliegtuie geregtig om oor die eiland te vlieg, is dié land se houding.

Dit sal egter nie baat om alte fatalisties of alarmisties oor die saak te wees nie. Daar is verskeie nuanses wat in ag geneem moet word.

Inval hou groot risiko vir China in

Taiwannese soldate op ’n parade verlede jaar in Taipei. Foto: Getty Images

Die eerste is dat die slaankrag van die Chinese weermag, ondanks die versterking en getalle, steeds aansienlik minder as die Amerikaners s’n is. Die gaping is wel deeglik aan die krimp, maar is steeds substansieel.

Ten tweede moet die politieke verhoudinge in die streek ook in ag geneem word. Taiwan staan naamlik verreweg nie alleen nie.

As China tot die daad oorgaan, moet die leiers in Beijing besef dat hulle die risiko van ’n omvattende oorlog loop.

As China Taiwan binneval, móét Amerika – ongeag wie in die Withuis sit – militêr reageer. Die kans is oorweldigend dat Japan en Suid-Korea, albei met beduidende weermagte, daardeur bedreig sal voel en ook militêr reageer.

Met ander woorde, as China tot die daad oorgaan, moet die leiers in Beijing besef dat hulle die risiko van ’n omvattende oorlog loop, een wat in beginsel buite beheer tot ’n kernkonflik kan eskaleer. Pres. Xi Jinping en sy kollegas se strategiese doel is om hul land tot ’n supermoondheid te ontwikkel, nie om dit tot ’n smeulende ruïne te reduseer nie. Sonder om die moontlikheid van ’n inval in Taiwan te ontken, sal hulle sulke idees baie goed en op ’n goudskaaltjie weeg voordat hulle die daad by die woord voeg.

’n Taiwannese eiland in die Suid-Chinese See met die belangrike Chinese hawestad Xiamen in die agtergrond. Foto: Getty Images

Dalk die belangrikste struikelblok is egter Beijing se onvoldoende maritieme vermoë om ’n yslike leër oor die Straat van Taiwan (130 km wyd, oftewel vyf keer wyer as die Engelse kanaal) onder vuur vir só ’n inval te verplaas. In sy jaarlikse verslag het die Pentagon verlede jaar ook gewaarsku dat ’n Chinese amfibiese inval in Taiwan “ ’n beduidende politieke en militêre risiko” vir China sal inhou.

Dis nie dat China self ’n inval uitsluit nie. Maar in die regering se eie publikasies word die tydsaanduiding as “voor 2049” gegee, wat nie dieselfde is as die volgende ses jaar of selfs aanstaande jaar nie.

Oor China en Taiwan kan die wêreld dus hopelik ietwat ontspan, in elk geval op kort termyn.

Dit sluit die gevaar van ’n onbeplande treinontsporing natuurlik nie uit nie. Wanneer groot strydkragte, tot die tande bewapen, in tye van spanning vir mekaar lê en loer, kan ’n ongeluk maklik eskaleer – en dan gaan die poppe dans.

Oor China en Taiwan kan die wêreld dus hopelik ietwat ontspan, in elk geval op kort termyn. Hoe staan dit met Rusland en Oekraïne?

Tweede Koue Oorlog

’n Russiese soldaat tydens ’n militêre oefening vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Twee ontwikkelinge hier word met kommer dopgehou. Die eerste is die konsentrasie van Russiese troepe op die grens; die ander die opvlam van die burgeroorlog in Oos-Oekraïne.

Verlede week het bekend geword dat sowat 15 000 Russiese troepe op die grens met Oekraïne saamgetrek word. ’n Woordvoerder van die Kremlin, Dimitri Peskof, het dit as “oefeninge” verklaar en bygevoeg: “Rusland bedreig niemand nie.”

Dat dit gepaardgaan met hernude gevegte tussen Russies-gesteunde Oekraïense rebelle en regeringstroepe, maak die potensiaal van ’n ongeluk hier groter as normaal. Dié rebelle, oorwegend etniese Russe, het die gebied wat hulle beheer al in 2014 eensydig van Oekraïne afgeskei.

Op sigself staan die Derde Wêreldoorlog nie voor die deur nie, in elk geval nie op kort termyn nie.

Geen wonder nie dat die Weste bekommerd op die situasie gereageer het. Laas Donderdag het die ambassadeurs van Navo se lidlande in Brussel vergader om die situasie te bespreek.

Belangriker nog, Amerika het sy troepemagte in Europa in ’n staat van paraatheid geplaas.

Oekraïne het ook Maandag aangekondig dat duisend troepe uit vyf Navolande binnekort saam met sy weermag aan oefeninge gaan deelneem.

Pres. Joe Biden het sy Oekraïense eweknie, pres. Wolodimir Zelenski, in ’n telefoonoproep verseker van Amerika se “onwankelbare steun” vir dié land.

Russiese troepe wat op die grens met Oekraïne saamtrek, lei tot hernude spanning in dié deel van die wêreld. Die twee soldate op dié foto het in Januarie vanjaar aan ’n militêre oefening naby die Krim deelgeneem. Foto: Getty Images

Daarteenoor het Peskof met “verdere spanning” gedreig as Navo sou besluit om troepe na Oos-Oekraïne te stuur. In só ’n geval sal Rusland “bykomende maatreëls vir sy veiligheid moet neem,” het hy gesê, sonder om egter op besonderhede in te gaan.

Die saak het ook ter sprake gekom in ’n drievoudige telefoongesprek tussen pres. Wladimir Poetin van Rusland, pres. Emmanuel Macron van Frankryk en Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland. Luidens die Russiese weergawe van die gesprek het Poetin die skuld op Oekraïne gepak en gesê dié moet maar met die rebelle onderhandel.

Volgens Westerse regerings gaan dit egter nie slegs om rebelle nie. Hulle sê meer as 20 000 Russiese beroepsoldate veg ook saam met die rebelle.

Leopold Scholtz

As dit korrek is, sou dit ’n bevestiging wees van vermoedens dat Rusland sy beheer oor Oos-Oekraïne stadigaan wil versterk totdat hy die gebied kan inlyf. Dit sou dan ’n verdere stap wees in Poetin se oorkoepelende strategie om die ou Sowjetunie (sy dit as ’n moderne Rusland) soveel moontlik te herstel.

Dit pas ook in by voortdurende Russiese uitdagings in die lug. Volgens Navo moet sy straalvegters soms tot tien keer per dag opstyg om Russiese bomwerpers, blykbaar onderweg na Navo-lugruim, te onderskep. Vermoedelik word dit gedoen om die snelheid van Navo se reaksie te toets.

Op sigself staan die Derde Wêreldoorlog nie voor die deur nie, in elk geval nie op kort termyn nie. Maar selfs al neem ’n mens argumentsonthalwe nie die moontlikheid van ’n ongeluk in ag nie, op lang termyn is die toegenome spanning geen goeie nuus nie. Op die allerminste is hier sprake van ’n Tweede Koue Oorlog – dié keer tussen Amerika, Navo, Japan, Suid-Korea en Taiwan enersyds, en China en Rusland andersyds.

Daar is wel een verskil: Die eerste groep se gesamentlike belange is aansienlik groter as dié van die tweede, wie se los alliansie tans op niks meer as ’n geleentheidshuwelik neerkom nie.

Hoe ook al, die wêreld het politieke – en dus ook ekonomiese – stabiliteit nodig; nie reuse wat al grommend oor visiere na mekaar loer nie.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  Wolodimir Zelenski  |  Xi Jingping  |  Wladimir Poetin  |  Rusland  |  Oekraïne  |  Taiwan  |  China  |  Amerika  |  Japan  |  Suid-Korea  |  Koue Oorlog  |  Kernoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.