Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Allister Sparks: Oortjies van die seekoei
Pres. Jacob Zuma kyk saam met Atul Gupta na ’n T20-krieketwedstryd. Op die agtergrond is een van die president se vroue, MaNtuli Zuma. Foto: GCIS

Wat tot dusver oor die Guptas se invloed op Suid-Afrika se regeringsake bekend is, is net die oortjies van die seekoei, skryf Allister Sparks.

Dit is tog eienaardig hoe een oordeelsfout blitsig in ’n hoop probleme kan ontaard.

In my vorige rubriek het ek aangevoer die ANC se besluit om by pres. Jacob Zuma te staan ná die konstitusionele hof se verdoemende uitspraak oor die Nkandla-kwessie is ’n strategiese fout wat beslis ernstige gevolge sal hê.

Daardeur, het ek gesê, het die ANC hom as instelling in wese vereenselwig met gedrag wat die hof as ’n skending van die Grondwet bestempel.

Daar is reeds ’n kragtige teenreaksie in die party hieroor. Talle belangrike partylede, onder wie van die mees gerespekteerde ringkoppe, eis dat Zuma bedank.

Soos ek opgemerk het, hou dit alles met net een skandaal verband. Daar is ander wat steeds smeul, soos die wapentransaksie, die ­spioenasiebandopnames en die ­president se verhouding met die Gupta-familie, wat bewyse kan oplewer wat hom verder in die verleentheid kan stel.

Nou het die Gupta-kwessie binne dae in die ANC se gesig ontplof.

Met die skryf hiervan is dit nog nie duidelik hoekom die Guptas na Dubai gevlug het nie. Het hulle die land verlaat weens probleme met hul onderneming Oakbay Resources and Energy Ltd?

Ons weet nie, maar wees verseker dat die feite wat hul uittog meegebring het, gou genoeg onthul sal word – en die ANC kan hom dan in die grootste verknorsing tot nog toe bevind.

Gebeure op hierdie gebied het vinnig beweeg. Verlede week het al vier groot banke Oakbay se rekeninge gesluit.

KPMG het aangekondig hy gaan nie meer die maatskappye se boeke ouditeer nie, en die familielede se aandelebeursborg het hulle versaak.

Hierna het Atul en Varun Gupta as direkteure van Oakbay en Duduzane Zuma, die president se seun, as nie-uitvoerende voorsitter van Shiva Uranium, ’n Oakbay-filiaal, bedank.

Nie alles is pluis nie. Die deurslaggewende faktor is dat Oakbay, en veral Shiva, ’n uraanmyn in Noordwes, die kern is van Zuma se gretigheid om ’n transaksie met Rusland te beklink om ’n reeks kernaanlegte te bou wat Eskom van 9 600 MW elektrisiteit kan voorsien.

Nou is die Guptas weg. Dit is moeilik om te voorspel of hulle ooit sal terugkeer.

Dit is ’n transaksie wat die Guptas en die Zuma-familie ’n fortuin in die sak kan bring, want Duduzane Zuma besit ’n gros Shiva-aandele.

Dit is ook ’n transaksie waarvoor twee agtereenvolgende ministers van finansies, Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene, ’n stokkie gesteek het omdat hulle dit as onbekostigbaar beskou.

Dit is hoekom Zuma hulle opsy geskuif en “Des” van Rooyen, ’n Gupta-bondgenoot, as hoof van die tesourie probeer aanstel het.

Toe dít die rand laat tuimel, het die “topses” van die ANC se nasionale uitvoerende komitee gelukkig ingegryp en Zuma gedwing om Gordhan terug te bring. Laasgenoemde blokkeer steeds die Russiese transaksie.

Nou is die Guptas weg. Dit is moeilik om te voorspel of hulle ooit sal terugkeer.

Ek vermoed hulle wil ontsnap aan die nadraai van wat die Vesuvius van alle Zupta-uit­bars­tings kan wees.

Die storie van die Gupta-familie se betrokkenheid by uraanmynbou in Suid-Afrika is saamgestel deur ’n navorser, Lily Gosam, wat ek nie ken nie, maar op wie se gedetailleerde werk ek op die Rand Daily Mail se webwerf afgekom het en wat gehelp het om die leemtes te vul wat betref my begrip van die belangrikheid hiervan vir hierdie ontluikende gebeure.

Die storie begin in 2010 toe die Guptas se maatskappy, Oakbay Resources, Shiva Uranium gekoop het. Dit was destyds ’n sukkelende onderneming, en die afslag-aankoopprys was R250 miljoen – sowat 14% van sy destydse verklaarde waarde.

Daar word beweer pres. Zuma het hom ingemeng om die Onafhanklike Ontwikkelingskorporasie te oortuig om die geld aan Oakbay te leen nadat die Openbare Beleggingskorporasie, wat gewoonlik met so ’n transaksie behulpsaam sou wees, dit as ’n swak transaksie afgekeur het.

Teen daardie prys was dit egter ’n winskopie as dinge gunstig vir die Zuptas sou verloop.

Die transaksie het ’n paar SEB-vennote ingesluit, waaronder die ANC se MK-veteranevereniging, sy vroueliga en ’n groep bekend as Mabengela Investments, waarvan Duduzane Zuma 45% besit het.

Dit vraag is hoekom die Guptas so gretig was om by die destydse flou uraanmynboubedryf betrokke te raak.

Dit blyk dat Eskom in sy
beplanning om sy kraguitset te
verhoog om in Suid-Afrika se behoeftes te voorsien, ’n plan saamgestel het om 12 kernkragstasies te bou.

Die wêreldwye resessie in 2008 het die tesourie egter genoop om hierdie ontsaglik duur projek as onbekostigbaar te verwerp.

Pres. Zuma, vergesel van ’n afvaardiging van ministers en sakelui, het egter in 2010 op ’n besoek aan Rusland die destydse Russiese president, Dmitri Med­wedef, ontmoet.

Laasgenoemde het Zuma aan Rusland se staatsatoomenergiekorporasie, Rosatom, bekend gestel. Dit is ’n reuse-organisasie, die grootste in sy soort ter wêreld, wat nie net krag aan die hele Russiese Federasie verskaf nie, maar tans sewe kernaanlegte in Rusland en nog 34 in die buiteland bou.

Zuma is klaarblyklik beïndruk deur wat hy van Rosatom gehoor het. Op etlike daaropvolgende besoeke aan Moskou het hy ooglopend ’n band met pres. Wladimir Poetin, Medwedef se opvolger (én voorganger), gesmee.

Die betrokke vergaderings het, na berig word, die ondertekening van twee ooreenkomste meegebring, ingevolge waarvan Rosatom ses tot agt kernaanlegte met ’n vermoë om 9 600 MW elektrisiteit te genereer in Suid-Afrika sou bou.

Die besonderhede van hierdie ooreenkomste, as dit wel onderteken is, is nie in die openbaar bekend gemaak nie.

Dit is ook nie vir parlementêre kontrole voorgelê soos die wet vereis nie.

Die koste is die uitklophou. Dit word glo op tussen R800 miljard en R1 600 miljard geraam – en dit sluit die koste in van vertragings, inflasie, die waardevermindering van die rand en ’n klomp ander kostes wat met kernbrandstofverryking en die wegdoen van afval verband hou.

Dit is hoekom Gordhan én Nene vasgeskop het en volhou dat die projek onbekostigbaar is.

Zuma se reaksie in albei gevalle was om hulle af te dank. Gordhan is na ’n mindere portefeulje geskuif en deur Nene vervang.

Dié het dieselfde oorgekom die aand wat nou as ons “9/12” bekend staan.

Interessant genoeg het Zuma enkele ure voordat hy Nene daardie aand die trekpas gegee het, die kabinet oortuig om die 9 600 MW-transaksie goed te keur. Dit is ’n aanduiding van hoe die president sy regering met witvoetjiesoekers gevul het.

Hy moet woedend gewees het toe Nene geweier het om dit goed te keur en daardeur sy grootste plan gekelder het.

Daardie plan verklaar hoekom die Zuma-Gupta-alliansie so gretig was om by uraanmynbou betrokke te raak.

Kernkragstasies het verrykte uraan nodig, en danksy voorafkennis van die president se voornemens (Duduzane het sy vennote tog sekerlik oor sy pa se planne ingelig), sou die Guptas ’n groot slag geslaan het.

Hulle het die Shiva-uraanmyn vir ’n appel en ’n ei aangeskaf. As die Rosatom-aanlegte eers in werking was, of selfs as die transaksie beklink is waarvolgens Rosatom dit sou bou, sou Oakbay se aandele jare lank hemelhoog gewees het.

Die Guptas, asook Duduzane Zuma en sy pappa, sou sonder twyfel skatryk geword het.

Sparks is ’n politieke kommentator. Sy nuwe boek, The Sword and the Pen – Six Decades on the Political Frontier, is nou beskikbaar

Meer oor:  Zuma  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.