Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oos-Londen se Mercs – ’n stad en sy motors

’n Veteraanmotorskou het Andries Bezuidenhout oor Oos-Londen se verhouding met motors laat terugdink.

Metcedes-Benz-sedans, netjies geparkeer op die motorskou. Foto: Andries Bezuidenhout

Hoe hard mag jy ’n veteraanmotor se deur toeslaan? Ek kan nie help om te wonder nie.

My kollega Sampie Terreblanche, wat filosofie aan die Universiteit van Fort Hare doseer, het my genooi om saam met hom op ’n jaarlikse motorskou by die Hoër Tegniese Skool Port Rex in Oos-Londen te kom rondloop.

Die skou word aangebied om geld vir die skool in te samel.

By talle van die motors maak Sampie ’n deur oop, voel aan die leersitplekke, slaan die deur weer toe.

“Ek hou van die klank van ’n ou motor se deur as jy dit toemaak,” verduidelik hy. Heel filosofies, as ek mag byvoeg.

'n Veteraan-Dodge. Foto: Andries Bezuidenhout

Ek begin oplet. Sowaar, elke motor se deur klink effens anders – die 30’s-Mercedes, die 50’s-DKW Schnellaster, die 60’s-Ford Fairlane. Dit klink ook nie soos moderne motors se deure nie. Dis ’n skerper klank, minder gedemp en meer beslis.

Hierdie veterane rúík ook anders as moderne motorkarre. Ek probeer uitpluis waarom. Waarskynlik ’n kombinasie van leersitplekke en die feit dat jy enjinolie in die kajuit kan ruik. Nietemin, dis ’n reuk wat my in ’n ernstige damp van nostalgie dompel.

Ek onthou my pa se ou Renault 6, waarmee ons altyd vakansies Oos-Londen toe gery het. Uiteindelik het ’n silwer eikeboom in ’n Pretoriase donderstorm op die Franse kar se neus geval.

Ek onthou die vinne aan weerskante van die kattebak van my oupa se Peugeot 404, die een waarmee hy ons grondpad langs by Dover-stasie kom oplaai het.

My oom Nick se swart Mercedes-Benz uit die laat-60’s het ook sulke stertvinne gehad – soos dit ’n respektabele NG dominee betaam. Dis steeds my droom om eendag met só ’n Benz tussen Somerset-Oos en Graaff-Reinet te ry – ’n dubbeldoormotor vir dubbelnaam-dorpe.

Nostalgie. Dís seker waaroor veteraanmotorskoue gaan.

Karre en krieket tel in Oos-Londen

Pa en seun. ’n Foto van vorige geslagte se rytuie. Foto: Andries Bezuidenhout

’n Ry veteraan-bloekoms se skaduwees word al hoe korter en die dag al hoe warmer. Op die krieketveld langsaan die rugbyveld vol motors is ’n spel aan die gang.

Oos-Londenaars is ernstig oor karre en krieket. Die renjaer Jody Scheckter en die krieketspeler Makhaya Ntini kom van hierdie wêreld.

Sampie stel voor ons gaan soek skaduwee in die Mercedes-Benz-klub se tent. Hy sou graag by die klub wou aansluit, sê hy, maar ’n mens moet ongelukkig eers ’n Benz besit voordat jy aansoek kan doen.

Ons gaan sit by ’n tafel in die tent. Ek voel so half selfbewus, maar Sampie blyk nie geïntimideer te wees nie. Hy ken ’n paar van die mense en weet wie baie van die motors besit. ’n Aantal is ernstige versamelaars. Ons raak aan die gesels.

Nog lank voordat daar enige motoraanlegte was, was Oos-Londen se motorklubs al behep met motorsport.

Waar kom Oos-Londen se verhouding met Mercedes-Benz vandaan?

Onthou, die fabriek hier is ’n massiewe uitvoerder van die maatskappy se C-klas-sedans. Hier word linker- en regterhandstuurmodelle en sedert 2016 ook petrol-battery- hibriede modelle vervaardig.

Mercedes-Benz se moedermaatskappy het onlangs ’n massiewe uitbreiding van die aanleg – van bykans R10 miljard – aangekondig.

Nog lank voordat daar enige motoraanlegte was, was Oos-Londen se motorklubs al behep met motorsport.

Onder aanvoering van ene Bud Bishop het Oos-Londen reeds in die 30’s ’n renbaan genaamd die Prince George Circuit gebou. Die stad het vier Grands Prix van 1936 tot 1939 aangebied. Die Tweede Wêreldoorlog het egter die wiele tot stilstand gedwing.

Ná die oorlog het plaaslike sakemense begin om motors in Oos-Londen te vervaardig en die renbaan moes vir die fabrieke plek maak. Aanvanklik is Renaults vervaardig en ek besef nou dat my pa se destydse Renault waarskynlik hier uit Oos-Londen gekom het.

Die uitsig vanuit die Mercedes-Benz-motorklub se tent. Foto: Andries Bezuidenhout

Later, soos die fabrieke meer gesofistikeerd geword het en vakmanne opgelei is, het Alfa Romeos en Jaguars bygekom. Dit was destyds goedkoper om veral luukse motors plaaslik te vervaardig as om dit in te voer. In 1958 is ook die eerste Mercedes-Benz-motors onder lisensie in Oos-Londen vervaardig.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het motorsport in Oos-Londen ’n tipe renaissance beleef. Die gewilde Winter Handicap is op die Monaco Grand Prix geskoei en renjaers het deur die Esplanade se strate teen mekaar gejaag.

In die somer, met Kersfees, was daar weer ’n wedren vir Vespa-bromponies.

In 1990 het werkers in die fabriek ’n rooi Mercedes S500 vir Nelson Mandela vervaardig.

’n Renjaer het in 1957 in die Winter Handicap gesterf en die stadsraad het besluit om weer ’n renbaan te bou. Vanaf 1960 tot en met 1968, toe Johannesburg dit “gesteel” het, is Suid-Afrika se enigste Grand Prix in Oos-Londen aangebied.

Tewens, in die 60’s is drie groot motorsport-wedrenne in Oos-Londen aangebied, naamlik die Grand Prix, die Caltex Amatola Rally en die Winter Handicap, wat na die Wesbank-renbaan verskuif is.

Waar Mercedes-Benz-motors aanvanklik onder lisensie vervaardig is, het Daimler-Benz mettertyd aandele in die plaaslike aanleg gekoop. Sedert 1984, toe die Duitse moedermaatskappy net meer as die helfte van die aandele bekom het, staan dit as Mercedes-Benz van Suid-Afrika (MBSA) bekend.

In 1990 het werkers in die fabriek ’n rooi Mercedes S500 vir Nelson Mandela vervaardig.

Skou net so belangrik soos Grand Prix

Die Hoër Tegniese Skool Port Rex in Oos-Londen. Foto: Andries Bezuidenhout

Mercedes-Benz het dus nie toevallig in Oos-Londen beland nie. Hier was reeds ’n gevestigde kultuur rondom motors – klubs vir entoesiaste, handelaars, vervaardigers. Jody Scheckter se ouers was immers plaaslike motorhandelaars.

HTS Port Rex as skool is óók belangrik vir die bedryf. Die skool se geskiedenis loop al die pad terug tot by 1928 toe die Oos-Londense Tegniese Kollege gestig is.

In 1968 het dit as hoërskool afgestig en in 1974 is die naam na Port Rex verander, wat na Oos-Londen se aanvanklike naam uit die middel-1800’s verwys.

In 1982 het die skool na ’n nuwe terrein geskuif en is tans een van die min tegniese skole in die land wat byvoorbeeld rekenaargedrewe ontwerp (computer aided design of CAD) aanbied.

Dit is steeds ’n staatskool wat soos baie ander die sogenaamde Model C-roete gevolg het. Dit beteken dat die staat dit finansier, terwyl die skool se beheerliggaam bykomende geld mag insamel om die kwaliteit van die onderrig te ondersteun en te verbeter.

’n Dag soos die motorskoudag is dus so belangrik vir die skool soos wat die Grand Prix in die 30’s en die 60’s vir Oos-Londen as stad was.

‘Edugration’ deesdae ’n trekpleister

Die Britse kontingent: ’n Bentley, Jaguar en Rolls-Royce. In die 50’s is Jaguars in Oos-Londen vervaardig. Foto: Andries Bezuidenhout

Daar is ’n interessante fenomeen hier in Oos-Londen. Plaaslike eiendomsagente verwys daarna as “edugration” – ’n neologisme as sameflansing van “education” en “emigration”.

’n Stad soos Oos-Londen het uitstekende skole – private en staatskole. Dit wil voorkom asof daar ’n hele klomp mense is wat besluit het om hierheen te migreer omdat die skole meer bekostigbaar as byvoorbeeld in Kaapstad of Johannesburg is en hier minder misdaad is.

Eiendomsagente beweer – en ’n mens moet die bemarkingspraatjies van eiendomsagente en tweedehandse motorhandelaars seker met ’n knippie sout neem – dat die woonbuurte waarin goeie skole geleë is veral gewild is.

Oos-Londen het ’n ander voordeel en dit is die feit dat integrasie tussen “rasse” in openbare ruimtes soos skole veel verder as in ander dele van die land gevorder het.

Menseverhoudinge is meer gemaklik, deels omdat die swart middelklas meer gevestig is en ’n veel ouer geskiedenis as elders in Suid-Afrika het.

Hulle verlang na ’n tyd toe hulle minder onseker was.

Miskien kyk ek na Oos-Londen deur die rooskleurige lense van ’n nuwe aankomeling, of dalk met ’n nostalgiese terugblik na die vakansietye van my jeug.

Ek onthou Sunrise-on-Sea toe dit nog ’n kampeerplek naby ’n strandmeer was, my eerste bestuurslesse en botsings op Oos-Londen se go-kart-baan, my oupa en ouma se opvoustoele op Orient-strand.

Sampie merk op dat ’n hele paar van die eienaars van veteraan-Mercedes-Benz-karre dominees is. Ek dink aan my oom Nick. Sy kinders neem hom nou nog kwalik vir die verkoop van daardie swart een met die vinne. Ek ook. “Wat is dit met dominees en ’n Mercedes?” wonder Sampie hardop.

“Nostalgie,” waag ek ’n antwoord. “Hulle verlang na ’n tyd toe hulle minder onseker was.”

* Erkenning aan Leslie Bank, voorheen ook van Fort Hare, vir ’n artikel oor die geskiedenis van Mercedes-Benz in Oos-Londen.

* Bezuidenhout is professor in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Fort Hare.

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Andries Bezuidenhout  |  Oos-Londen  |  Oos-Kaap Naweek  |  Motors  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.