Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ooste is nie ’n model vir SA kleinboere

Die idee dat daar ’n reusagtige getal landelike kleinboere in Suid-Afrika is wat smag na grond, is ’n leuen, skryf Peter Delius.

’n Oppervlakkige begrip van die historiese vernederinge van landelike swart mense is een van die groot oorsake van die mislukking van grondhervorming.

’n Belangrike voorbeeld van hierdie tendens is die mistasting dat Suid-Afrika ’n beduidende groep onaktiewe swart kleinboere het wat net wag vir grond om “geheraktiveer” te word.

Dit het bygedra tot die dwase grondhervormingsbeleid van die 1990’s – en is steeds teenwoordig in die huidige debat.

Pres. Cyril Ramaphosa het net onlangs weer verwys na die sluimerende klas kleinboere wat, as hulle net toegang tot grond kan kry, ’n reuse-aanwins vir die ekonomie kan wees.

My generasie geskiedkundiges het die opkoms en verval van mark-gerigte swart kleinboere met groot entoesiasme en selfs ’n bietjie oordrywing beskryf. Welsprekende studies is neergepen oor die vaardighede, indrukwekkende oeste en groot kuddes van swart deelsaaiers.

Koloniale verowerings, grondonteiening, belasting en vele ander faktore het egter ’n proses begin wat uiteindelik gelei het tot die tragiese vernietiging van hierdie potensiaal.

In die 20ste eeu was dit die toenemend aggressiewe stelsel van trekarbeid wat die mees onuitwisbare stempel op die meeste landelike gemeenskappe gelaat het.

Sedert die 1890’s het staatsmag en rassistiese beleid dit vervolmaak om massiewe vloei van goedkoop arbeid na stedelike nywerhede te verseker. Die bykomende doelwit was om die families van hierdie arbeiders te verhoed om ook na die stedelike gebiede te migreer, aan ’n gesamentlike politieke stelsel deel te neem en gelyke grondregte te hê.

Die grootste behoefte aan grond is in stedelike gebiede.

Hierdie prosesse het terselfdertyd die ontwikkeling van swart boere gekniehalter en van die 1890’s af reeds kon die oorgrote meerderheid swart families in landelike gebiede nie eens meer ’n basiese bestaan voer nie.

Hul posisie het sedert die 1950’s nog vinniger agteruitgegaan toe die apartheidstelsel paswette verskerp en miljoene mense van “wit” grond afgesit en hul na die nuutgestigte bantoestans gedwing het.

In hierdie omstandighede het die bietjie wat nog oor was van swart landbou verdere skade gely.

Die oordrag van landbou-vaardighede en hulpbronne tussen generasies het verder gekwyn en teen die 1960’s was die lone wat trekarbeiders huis toe gestuur het die lewensbloed van landelike gemeenskappe.

Die ekonomiese afswaai van die laat 1970’s het egter tot groeiende werkloosheid gelei, en baie gou het staatspensioene en ander maatskaplike toelaes die lone van trekarbeiders verbygesteek as die hoofinkomstebron van landelike gemeenskappe.

Hierdie patroon het sedert die 1990’s net verder vererger. Die verhoogde maatskaplike toelaes het wel die ergste byt uit die ekstreme armoede geneem, maar in ’n ironiese ontwikkeling het die bou van skole in diep landelike gebiede landbou verder gestrem, omdat dit die beskikbaarheid van goedkoop kinderarbeid om landerye te bewerk en beeste op te pas uitgeput het.

En selfs belangriker: Jong mense het nou groter verwagtings en groter ideale begin koester.

Landbou, ’n loopbaan vol risiko en onseker winste, het al hoe minder aantreklik geword. Kuddes het daarom skerp begin afneem en groter stukke grond as ooit tevore in die voormalige bantoestans het begin braak lê.

Ten spyte van hierdie vernietigende faktore is die invloedrykste modelle vir grondhervorming sedert die 1990’s steeds gegrond op die aanname dat ’n kultuur van kleinskaalse landbouers weer kan herleef.

Dit is ’n siening wat destyds sterk gepropageer is deur die Wêreldbank en ander intellektuele – en een wat gegrond is op ontoepaslike vergelykings wat ’n baie beperkte insig toon in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die aannames het goedsmoeds aanvaar dat die lesse van Asiatiese samelewings – met baie ou en steeds goed gevestigde tradisies van familieboerdery op baie vrugbare grond – net so van toepassing gemaak kan word op Suid-Afrika. Die skreiende afwesigheid van bestaande Suid-Afrikaanse kleinboere wat die voedingsbron moet wees van hierdie nuwe klas van bestaansboere is gerieflikheidshalwe geïgnoreer.

Dié misleidende historiese en vergelykende perspektiewe het bygedra tot ’n massiewe onderskatting van die ondersteuning, opleiding en hulpbronne wat nodig is om die relatief klein hoeveelheid mense wat steeds wil boer ’n kans op sukses te gee.

’n Mens sou dink die goed gedokumenteerde mislukking van grondhervorming sedert 1994 het ons politieke leiers die geleentheid gegee om ’n bietjie na te dink oor hierdie vals analogieë.

Tog is die Asiatiese modelle steeds in die mode. Hierdie keer is dit die Asiatiese tiere – Korea, Taiwan en Singapoer – wat voorgehou word as navolgingswaardige voorbeelde.

En weer word die eiesoortige aspekte van hulle en ons geskiedenis geïgnoreer.

Hiermee wil ek nie suggereer dat daar geen kans is om die getal swart kleinboere te vermeerder nie. Maar om bloot grond te gee aan nuwe of hulpbron-arm landelike bewoners sonder ekonomiese ondersteuning, mentorskappe en sosiale infrastruktuur is ’n voorskrif vir mislukking.

Suid-Afrika het besliste stappe gedoen op die pad tot nywerheidsontwikkeling en verstedeliking. Daar is geen volhoubare manier om die oorweldigende meerderheid van die bevolking te laat terugkeer na landbou nie.

Die grootste behoefte aan grond in die toekoms – en die plekke wat die beste hoop bied op werklike geleenthede vir arm Suid-Afrikaners – is in stedelike en buite-stedelike gebiede.

Ons behoort ons blik te verskuif van kleinboere in die 1890’s en Oosterse ryslande in die 1950’s en liewer te fokus op die transformasie van ons eie samelewing die afgelope eeu.

  • En dan moet ons die moontlikhede van grondhervorming in ’n meer gepaste vergelykende raamwerk debatteer. Prof. Peter Delius is die skrywer van die boek The Land Belongs To Us.
Meer oor:  Grond  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.