Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Op 20 Januarie kom Trump se termyn by stopstraat

Pres. Trump se termyn sal om twaalfuur die middag op 20 Januarie 2021 verstryk, of hy nou die verkiesingsuitslae aanvaar of nie, skryf Donald Nieman.

Pres. Donald Trump se huidige termyn as president het op 20 Januarie 2017 begin en dit sal op 20 Januarie 2021 eindig met die begin van ’n nuwe termyn vir hom of vir iemand anders. Foto: Matt Rourke

Met soveel wat onduidelik is oor die komende presidensiële verkiesing is dit lekker om te weet dat daar een absolute sekerheid is.

Posstemme kan lank neem om te tel. Baie deelstate sal hertellings hê – óf oor die hele deelstaat, óf in spesifieke gebiede. Pres. Donald Trump het aangedui dat hy dalk nie van die uitslae gaan hou nie – en ons sal moet sien of hy en ander die uitslag gaan aanvaar.

As ’n historikus wat nou al vir meer as 40 jaar oor die grondwet skryf en mense daaroor opvoed, weet ek egter een ding is seker. Pres. Trump se termyn sal om twaalfuur die middag op 20 Januarie 2021 verstryk. Op daardie oomblik sal hy óf met ’n tweede termyn begin óf die land sal ’n nuwe hoof- uitvoerende beampte hê.

Dié vaders van die grondwet het nie ’n spesifieke dag vasgestel waarop ’n presidensiële termyn eindig nie, maar hulle was baie duidelik daaroor dat die president “sy amp vir ’n termyn van vier jaar sal beklee”. Nie vier jaar en ’n dag nie. Nie drie jaar en 364 dae nie. Vier jaar.

Hoe lank moet ’n president dien?

Sen. George W. Norris van Nebraska wat gesorg het dat Inhuldigingsdag na Januarie geskuif is. Foto: Wikimedia Commons

Daar is niks magies aan daardie syfer nie. Die vaders van die grondwet het daaroor gedebatteer of die president se termyn vier, ses of sewe jaar moet wees, en of hy net vir een termyn moet dien – of lewenslank. Uiteindelik het hulle besluit op vier jaar en besluit om herverkiesings toe te laat.

Hulle was egter nadruklik daaroor dat die president slegs vir ’n bepaalde tydperk sou dien. Hoekom? Omdat konings dit nie doen nie. Hulle het ’n republiek geskep waar die mense soewerein is en nie hulle óf die mense van Amerika wou ’n monarg hê nie.

In September 1788, toe die grondwet bekragtig is, het die konfederale kongres besluit dat die nuwe regering sou begin op 4 Maart 1789. Hulle het gevoel dis genoeg tyd om verkiesings te hou vir verteenwoordigers, senatore, ’n president en ’n vise-president – en vir hulle om te reis na New York, die setel van die nuwe regering.

Verkiesingskrisisse het nie gekeer dat een termyn eindig en die volgende begin op 4 Maart nie.

Dit was nie. Die huis van verteenwoordigers het op 1 April ’n kworum behaal, die senaat op 6 April en George Washington het sy eed as president afgelê op 30 April.

Desnieteenstaande het presidente elke vier jaar daarna, vir meer as 140 jaar, hul termyn – of dit nou die eerste of die tweede was – op 4 Maart begin omdat die kongres dit as Inhuldigingsdag gevestig het in 1792 en dit nooit verander het nie.

Verkiesingskrisisse – soos die gelykop uitslag tussen Thomas Jefferson en Aaron Burr in 1800, die afstigtings-krisis in 1860 tot 1861 en die bestrede verkiesing tussen Rutherford B. Hayes en Samuel J. Tilden in 1876 – het nie gekeer dat een termyn eindig en die volgende begin op 4 Maart nie.

Het magsoordrag te lank geneem?

Die twintigste amendement, wat in 1933 aangeneem is, het die dag en die tyd van presidensiële inhuldigings geskuif na twaalfuur die middag op 20 Januarie.

Dié wysiging was die gevolg van ’n 16 jaar lange kruistog deur sen. George W. Norris van Nebraska. Norris het geglo dat kongresse van diegene wat die amp binnekort moet ontruim wat vergader het tussen November en Maart ná die verkiesings nie ’n refleksie is van die wil van die mense nie en dat hulle nie wetgewing moet uitvaardig nie. Dit is veral waar, het hy gesê, indien die party wat daardie sessie beheer in die November-verkiesings verloor het.

Indien die nuutverkose president sou sterf tussen die verkiesing en 20 Januarie, sou die verkose visepresident die nuwe president word.

Presidente wat vir maande dien nadat hulle by die stembus verslaan is was ook ’n probleem. In ’n krisis soos die afstigtingskrisis het die vier maande pouse tussen die verkiesing en die inhuldiging van die nuwe president ’n besliste respons oor afskeiding uitgestel.

Die grondwet het die lengte van die termyn vir presidente, senatore en verteenwoordigers bepaal. Om die datum waarop dit begin en geëindig het te verander, sou die grondwet uitdaag, so dit kon slegs deur ’n amendement verander word. Vanaf 1934 sou die kongres vergader met sy nuut verkose lede in die huis en die senaat op 3 Januarie – en vanaf 1937 sou die president sy ampseed aflê om twaalfuur op 20 Januarie.

Wat as daar ander probleme is?

George Washington se eerste presidensiële termyn het op 4 Maart 1789 begin, al het hy eers 30 April die ampseed afgelê. Foto: Wikimedia Commons

Die twintigste amendement het ook die weg gebaan vir indien dinge nie glad verloop in die aanloop tot Inhuldigingsdag nie.

Indien die nuutverkose president sou sterf tussen die verkiesing en 20 Januarie, sou die verkose visepresident die nuwe president word. Die amendement het ook bepaal wat sou gebeur indien die kongres nie saamstem oor wie die presidensiële verkiesing gewen het nie – óf weens ’n vasvalpunt oor die tel van stembriewe of die huis se versuim om ’n wenner aan te wys indien geen kandidaat ’n volstrekte meerderheid behaal het nie.

Indien dit gebeur, of indien die verkose kandidaat nie minstens 35 jaar oud is en volgens die grondwet ’n “natuurlik gebore burger” van die land is nie, sou die verkose visepresident slegs dien totdat die kongres iemand anders gekies het. Indien daar nie ’n verkose visepresident is nie of indien dié persoon nie aan die konstitusionele kriteria voldoen nie, dan sou die kongres bepaal wie moes dien as waarnemende president totdat hulle besluit het hoe ’n nuwe president verkies sou word.

Een ding is egter seker. Die twintigste amendement is ’n duidelike stopteken.

Gelukkig vir die nasie is hierdie voorwaardes nooit getoets nie. Party is eenvoudig, soos om ’n verkose visepresident toe te laat om die amp van ’n afgestorwe verkose president te neem. Maar indien ’n wenner nie aangewys is teen 20 Januarie nie, is onenigheid tussen volgelinge waarskynlik deel van die probleem en dit beteken konsensus ná 20 Januarie is dalk nie moontlik nie.

Een ding is egter seker. Die twintigste amendement is ’n duidelike stopteken. Die sittende president se termyn eindig twaalfuur op 20 Januarie. Indien die kongres nie kan besluit op ’n wenner nie, sal die Wet op Presidensiële Opvolging wat in 1947 aangeneem is, die speaker van die huis van verteenwoordigers die nuwe grootbaas maak – minstens vir ’n rukkie.

Of hy nou daarvan hou of nie, en of hy nou die verkiesing wen of nie, Trump se huidige termyn as president sal op 20 Januarie eindig. Wat volgende gebeur is nog onbekend, maar ten minste dít is seker.

* Nieman is die visepresident vir akademiese sake en hoof van die universiteit by Binghampton-Universiteit in New York. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.