Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Op die spoor van ’n stuk vergete geskiedenis

Dié keer het Fred Khumalo nie net ’n boek geskryf om ’n stuk geskiedenis aan die vergetelheid te ontruk nie. Hy gaan ook van Johannesburg na Ladysmith stap om ’n gebeurtenis van 120 jaar gelede met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog te herdenk. Gert van der Westhuizen het met hom gesels.

Fred Khumalo sê hy wil ’n bydrae lewer met sy boeke wat weer ’n stem gee aan dié wat lank deur die geskiedenis vergeet is. Foto: Gert van der Westhuizen

’n Mens kan jou vandag kwalik die gesig voorstel van tussen 7 000 en 8 000 Zoeloe-mynwerkers en hul metgeselle wat al die pad van Johannesburg na Ladysmith gestap het aan die vooraand van die Anglo-Boereoorlog. Hulle het, soos baie ander, die Stad van Goud ontruim in ’n tyd van ongekende onsekerheid en vrees.

Daar was egter nie meer treine oor om hulle na KwaZulu-Natal te vervoer nie en hulle moes noodgedwonge stap.

“Hulle stap van dagbreek tot skemer en van skemer tot dagbreek. Vir ewig. Hulle stap totdat hulle nie meer hul dagbreek van hul skemer kan onderskei nie. Is hulle mal, dié vroue wat kreun onder die gewig van Singer-naaimasjiene en rolle materiaal en badskottels van sink en lewendige hoenders, met honde wat blaffend op hul hakke volg?”

Dié vryelik vertaalde paragraaf uit Khumalo se The Longest March (Umuzi) skets ’n beeld van die uitmergelende tog. Dan was daar ook die stof. Dit het soos ’n wolk oor die stappers gehang en hul vordering stadig en folterend gemaak, verbeel Khumalo hom die toestande êrens anders in sy boek. Dit het om hul ooglede en mondhoeke saamgepak en as jy dit durf waag het om jou mond oop te maak, was dit gou vol sandkorrels.

Khumalo se roete

7 Oktober: Johannesburg na Heidelberg (51,5 km)

8 Oktober: Heidelberg na Balfour (35,4 km)

9 Oktober: Balfour na Greylingstad (20,6 km)

10 Oktober: Greylingstad na Standerton (55,2 km)

11 Oktober: Standerton na Perdekop (49,7 km)

12 Oktober: Perdekop na Volksrust (36 km)

13 Oktober: Volksrust na Laingsnek (12,2 km)

14 Oktober: Laingsnek na Newcastle (36,7 km)

15 Oktober: Newcastle na Dannhauser (42,4 km)

16 Oktober: Dannhauser na Hattingspruit (11,9 km)

Khumalo, skrywer en ook joernalis en storieverteller soos hy na homself verwys, het die stappers se roete al per motor gevolg omdat hy ’n idee wou kry wat hulle moes deurmaak. Dit het hom ses uur lank geneem.

Dié keer sal dit hom tien dae te voet neem. Hy val Maandagoggend in die pad na Ladysmith om in die voetspore van destyds se desperate stappers te volg.

Hy beplan om op die eerste dag van Johannesburg na Heidelberg te stap, ’n afstand van 51,5 km.

Die hele tog is volgens sy berekeninge 351,6 km lank. Die langste skof is dié tussen Greylingstad en Standerton (55,2 km) en die kortste dié op die laaste dag tussen Dannhauser en Hattingspruit (’n skrale 11,9 km).

Die 54-jarige Khumalo lag lekker as hy sê hy gaan beslis nie so swaar dra soos die stappers van 120 jaar gelede wat al hul aardse besittings saam met hulle gedra het nie. Hy gaan ook nie soos hulle in die veld slaap nie, maar sal snags die gerief van hotelle of gastehuise opsoek.

Hy dink hy is gereed daarvoor. “Ek het hel hard geoefen,” lag Khumalo waar ons op die stoep van sy huis in Johannesburg gesels met koffiekoppies wat regstaan en hadedas wat kort-kort al krassend oor ons koppe vlieg.

“Ek draf vier keer ’n week 10 km ver. Ek het nou die dag van Konstitusieheuwel tot by my huis gestap in 2 uur en 49 minute.”

Dis glad nie sleg nie, kom ek later agter toe ek op Google gaan loer. Dit is ’n afstand van 17 km en volgens Google sal dit jou 3 uur en 26 minute neem om dit te voet af te lê.

’n Joernalis en ’n storieverteller

Waarom wil hy dit doen? wil ek by die innemende Khumalo weet.

“Ek wil die tog van destyds weer onder mense se aandag bring,” antwoord hy.

Dit is belangrik vir Khumalo om stories te vertel waarvan mense nie langer weet nie. Hy het dit met Dancing the Death Drill gedoen waarin hy die verhaal vertel van die meer as 600 swart soldate wat in 1917 dood is toe die SS Mendi in die Engelse kanaal gesink het.

“Dit is interessant dat akademici ook oor die Mendi begin skryf het ná die publikasie van Dancing the Death Drill. Ek dink daar het nou al vier boeke daaroor verskyn,” sê Khumalo.

“Miskien lewer ek op dié manier ’n bydrae. Miskien begin ek ’n debat. Ek is nie ’n akademikus nie, ek het nie die gereedskap wat hulle het nie. Ek is net ’n joernalis en ’n storieverteller.”

Anders as met die Mendi, is daar nie veel bekend oor die tog van die mynwerkers in 1899 nie. Daar was ’n paragraaf of twee daaroor in Thomas Pakenham se The Boer War en prof. Charles van Onselen het dit ook vermeld in sy monumentale New Babylon New Nineveh. Elsabé Brink het akademiese navorsing daaroor gedoen en in 1999 het haar boek van net meer as 100 bladsye daaroor verskyn.

Khumalo het ook in koerante van destyds daaroor gaan nalees en was verstom dat alle berigte gehandel het oor J.S. (Sid) Marwick, die wit mynwerker-agent wat die tog gelei het. Die name van sy ses swart assistente word nie eens genoem nie.

Daarom het Khumalo die karakter Nduku geskep wat as een van Marwick se helpers in die roman optree. Hy plaas juis in ’n stadium die volgende woorde in Nduku se mond: “ ’n Wyse man het op ’n keer vir my gesê as jy nie jou eie storie vertel nie, gaan iemand anders dit vir jou doen. En hulle sal dit dalk net opmors. Dit is presies wat gebeur het. Die storie wat hulle vertel het is een van boys wat geen breinkrag het nie, geen inisiatief nie . . . Ons storie is deur die geskiedenis opgeëet.”

Khumalo sê hy wil met sy roman ’n stem gee aan dié mense wie se verhale nie in die geskiedenis opgeteken is nie.

Karakters moet vrae beantwoord

Fred Khumalo sê hy is ’n skrywer en storieverteller wat daarvan hou om mense bewus te maak van stories wat lankal vergete is.

“Ek het so baie vrae gehad wat niemand kon antwoord nie en daarom het ek karakters geskep wat die vrae op ’n manier vir my beantwoord. Ek het my vryheid as ’n kreatiewe skrywer daarvoor gebruik.”

Hy moes uiteraard karakters fabriseer, soos die man met die manjifieke naam Xhawulengweni (dit beteken skud hand met die luiperd). Deur hulle probeer Khumalo ’n tydsgees weergee kort voor die ergste oorlog in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar ’n verslaande en verstrooide Zoeloevolk se mans ’n heenkome op die myne aan die Witwatersrand gaan soek.

“Ek wou ’n karakter skep wat die woede van swart mynwerkers versinnebeeld. Daar was baie woede en ook heelwat seksuele frustrasie met mans wat ’n heenkome by ander mans gaan soek het omdat daar te min vrouens was.”

Daarom het hy Xhawulengweni met opset gay en baie gewelddadig gemaak. Hy is ook lid van ’n geheime organisasie genaamd die “Regiment van die Heuwels” wat deur misdaad ’n bestaan maak en regverdigheid probeer bewerkstellig.

Fred Khumalo sê hy is gereed om die uitmergelende staptog van Johannesburg na Ladysmith aan te pak.

Die invloed van Christenskap, kapitalisme en kolonialisme op die tradisionele kultuur van die Zoeloes is ander aspekte wat Khumalo in sy boek aanraak. Uiteraard kom rassisme ook aan die beurt; ook die gevoel onder sommige swartmense wat wou hê mense van gemengde afkoms met ligte velle moet eerder wit as swart probeer wees.

Saam stap karakters wat al dié strominge verteenwoordig die onsekere toekoms binne.

En in die agtergrond is daar deurentyd die stryd tussen Boer en Brit. Die stappers bespreek byvoorbeeld die Britse spoke by Majuba wat nooit sal rus alvorens hulle wraak op die Boere geneem het nie.

Boonop breek nog ’n stryd tussen Boer en Brit uit terwyl die staptog aan die gang is; een wat swart mense nie onaangeraak sal laat nie.

Khumalo sê juis een van die stories wat nog behoorlik uit ’n swart oogpunt vertel moet word, is dié van Zoeloes wat langs Afrikaners in konsentrasiekampe geplaas is.

Die Anglo-Boereoorlog, wat aanstaande week 120 jaar gelede uitgebreek het, se gevolge is steeds met ons. Miskien is dit goed dat Khumalo ons weer daaraan herinner.

Soos een van sy karakters opmerk nadat sy sê die Britte gaan die tweede stryd wen (en dié keer moet ’n mens dalk nie probeer vertaal nie): “We don’t know what British rule is going to bring, what it is going to do to race relations. … It is going to be the longest march ever.”

Meer oor:  Fred Khumalo  |  Ladysmith  |  Majuba  |  Johannesburg  |  Boere  |  Anglo-Boereoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.