Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Op ’n nuwe Groot Trek

Ons is geneig om te dink die ‘ware Afrika’ is dieper die kontinent in, maar Afrika het ons ingehaal, hier en ook by die huis. Op Ventersdorp, Springfontein en Ceres, besef Dana Snyman in Maputo.

Die gedenktuin vir Louis Trichardt in Maputo. Foto’s: Dana Snyman

Aan die Suid-Afrikaanse kant van die Ressano Garcia-grenspos by Komatipoort gaan dit gou. Jy klim uit jou bakkie. Sluit. Gaan wag in die ry in die doeanekantoor en laat jou hekpas en paspoort stempel. Klaar.

Aan die Mosambiekse kant werk dit anders. Nog voordat ek uit die bakkie is, verskyn drie of vier manne by my venster.

Almal praat gelyktydig: “You need insurance, Boss . . . Bananas only ten rand.”

’n Ander een wil my paspoort hê. “I let them stamp it for you, Boss . . .”

“No, no, no,” keer ek. “I’ll do it myself.”

Wat van die res van die R650 geword het, vra ek liewer nie. Dit is Afrika. Ek is net te bly ek het my goed terug.

Ek druk tussen hulle deur en stap na die doeanekantoor. Die ry is lank. ’n Mens moet inderdaad bykomende versekering vir jou voertuig hê, vind ek uit.

Die kêrel wat versekering aan my wou verkoop, staan buite vir my en wag, asof hy my verwag het. “I told you, Boss. Come.”

Hy lei my na ’n kantoortjie waarop staan: “Indico Seguros.” Binne sit sy makker in ’n Arsenal-ondersteunerstrui agter ’n lessenaartjie. Hy vra my bakkie se dokumente en begin ’n vorm invul. “We do everything for you, Boss. Insurance, pass­port – everything. For only six fifty,” begin die eerste een my weer bearbei. “Give me your passport, Boss.” Dit voel of hy jou spot met hierdie ge-Boss van hom.

Dit is warm, my T-hemp klou natgesweet aan my lyf was, en die kêrel hou nie op nie: “Only six fifty, Boss . . .” Ek dink aan die lang ry in die doeanekantoor en voel hoe ek my beursie uit my sak haal, R650 aftel, en dit saam met my paspoort vir hulle gee om te laat stempel. Net so. Maklik.

’n Handelaar by sy aartappel-stalletjie in Maputo.

Dit is korrupsie, dring dit tot my deur toe die twee met my paspoort en bakkie se dokumente tussen die mense verdwyn. Iemand gaan nou omgekoop word. Dis nou as hulle ooit terugkom met my goed. Hoe kon ek so simpel wees? Afrika. Bliksemse Afrika. Rondom my mense wat ’n taal met mekaar praat wat ek nie verstaan nie.

“Bulalani abathagathi!” kom die woorde skielik by my op. Dit gebeur net. Ek kan dit nie keer nie. Dis net daar: “Bulalani abathagathi! Maak dood die towenaars!” Die woorde wat Dingaan se krygers glo geroep het voordat hulle Piet Retief en sy manne in Februarie 1838 in Dingaan se vesting by uMgungundlovu vermoor het, nadat Dingaan in ’n oënskynlik goeie gees ingestem het om grond aan die Trekkers af te staan.

Woorde wat ek op laerskool al geleer het, en hoeveel keer daarna in NP-kultuurmanne se toesprake gehoor het – altyd met die ongesegde boodskap daarby: Jy kan swart mense nie vertrou nie. Woorde wat diep in my sit.

Ek draf in die doeanekantoor se koers, paniekbevange. Die ry is nou nóg langer as vroeër. Die twee met my paspoort en bakkie se dokumente is nêrens te sien nie. By die hek is ’n wag met ’n AK47. Musiek vol oerritmes pomp uit ’n Quantum-bussie. Dit voel of ek nie hier hoort nie.

“We’re looking for you, Boss,” sê ’n stem agter my. Ek swaai om. Dit is die een in die Arsenal-trui. Met ’n wye glimlag wys hy die vars stempel in my paspoort vir my. Ek kry selfs ’n kwitansie vir die R280 wat die bakkie se versekering gekos het. Wat van die res van die R650 geword het, vra ek liewer nie. Dit is Afrika. Ek is net te bly ek het my goed terug.

Was daar al ’n enkele groot tragedie in Afrikaner-geskiedenis waarby swart en bruin mense nie ook saam met ons gely of swaar gekry het nie?

Ek bedank hulle oorvriendelik en gaan klim terug in die bakkie.

“It was the meeting of people who are such utter strangers to each other that the one side sees a ghost and the other side suspects an opportunity,” skryf Paul Theroux iewers oor ’n ontmoeting wat hy in Afrika gehad het.

Is dít wat pas tussen my en daardie twee gebeur het? wonder ek terwyl ek in Maputo se rigting begin ry.

Langs my op die sitplek lê ’n gepubliseerde uitgawe van die Voortrekkerleier Louis Trichardt se dagboek wat ek in ’n tweedehandse boekwinkel op Nelspruit gekoop het. Trichardt en sy mense het in April 1838 hierdie wêreld ingetrek op soek na ’n hawe by die see.

Oor RSG saai Martelize Brink ’n vredige boodskappie uit vir ouma Mollie Nel van Germiston . . . Dan gaan die radio ontroosbaar aan die suis. Die Lebomboberge lê bleekblou in die verte. Aan die oorkant van die pad is ’n man met ’n pak van tien toiletrolle agterop sy trapfiets.

“Nou is ek in die ware Afrika,” wil iets in my sê.

Dit is vreemd, hierdie neiging van ons Suid-Afrikaners – is dit slegs ons wittes? – om eers wanneer ons in ’n ander Afrika-land is, te wil sê nou is ons in Afrika. Asof Ventersdorp, Springfontein en Ceres nie in Afrika is nie.

Is dit omdat soveel van ons grootgeword het oortuig daarvan ons is Euro­peërs wat die suidpunt van Afrika met die Bybel en apartheid kom kersten het? Dat Afrika elders is, weg van ons spierwit, geordende dorpe en stede. Afrika is in die lokasie agter die heuwel. Afrika is in die ou tuislande.

Hoeveel van ons ry sedert die koms van die nuwe Suid-Afrika met ons bakkies Afrika in asof ons seker wil gaan maak ons is wel deel van Afrika.

In die buitewyke van Maputo lyk dit nie veel anders as tussen Vanderbijlpark en Sebokeng nie. Die sypaadjies een groot vlooimark.

Afrika laatmiddag met ’n Laurentina langs ’n onrustige see.

Ek kruie rustig teen 50 km/h agter ’n rokende Corolla aan, en voel soos Louis Trichardt dalk moes gevoel het toe hy op 7 April 1838, nadat hy die Lebomboberge oor is, in sy dagboek geskryf het: “De captijn . . . versoek mijn aan alle witte menschen te zeggen dat zijn hem geen kwad mog doen als zij in zijn land kom. Hij beloof aan alle witte menschen goed te doen.”

Trichardt-hulle het op 13 April 1838 aangekom in Delagoabaai, wat later Lourenço Marques geword het, en nou Maputo is.

Maputo raak weer die moderne stad wat dit eens was. Oral sien jy hyskrane. Oral word gebou. Ek mik met Avenida Joaquim Chissano die ou middestad in – GPS-loos. Om te gaan soek na die gedenktuin wat vir Louis Trichardt en sy mense hier opgerig is. Die eintlike rede hoekom ek hier is.

Daardie bulalani-abathagathi-gevoel begin weer in my roer – dieselfde gevoel wat ek deesdae op soveel plekke in Suid-Afrika kry. Hier is dit gevaarlik, voel jy. Hier is dit Afrika. Nêrens ’n wit gesig te sien nie.

Ek parkeer so na as moontlik aan ’n hoë gebou waarop McDonald’s se rooi-en-geel M groot pryk. Steek my beursie onder die sitplek weg. Net my selfoon gaan saam. Klim uit. Maak drie keer seker die bakkie is gesluit.

Dit word ’n hewige soektog. Elkeen wat ek oor die Trichardt-gedenktuin vra, weet glad nie waarvan ek praat nie. Ek klou aan my foon en bakkie se sleutels asof dit ’n voorlaaier en al 66 boeke van die Bybel is, en stap dieper die stad in.

By die Kulungwana-kunsgalery kry ek uiteindelik ’n man wat van die gedenktuin weet. Dit is in Avenida Josina Machel, beduie hy. So tien minute se stap hiervandaan. Die een oomblik is jy tussen hoë geboue en smouse wat goed op die sypaadjie verkoop: piesangs, onderbroeke, donkerbrille . . . Dan is daar ’n oopte waarop nie ’n gebou is nie – ’n langwerpige stuk grond, met op die verste punt ’n gedenksuil waarop Trekker-figure, ’n wa en ’n span osse uitgebeeld word, met dié woorde bokant dit: “Louis Treghardt en sy mense – die temmers van die bos.” Alles agter vier stewige, wit mure.

Dr. Willem Punt, ’n geskiedkundige en bewaringsman, het hierdie plek – die presiese plek waar Trichardt-hulle uitgespan het – in 1944 opgespoor en hom begin beywer vir die bou van ’n gedenktuin. In 1968 is dit geopen. Die Erfenisstigting is steeds verantwoordelik vir die instandhouding van die tuin, met die hulp van Maputo se munisipaliteit.

By die ingang is ’n swaar ysterhek. Gesluit. Nêrens ’n opsigter of ’n kantoortjie nie. Ek stap aan die buitekant van die wit muur langs na die voorkant van die tuin. Uit die woonstelgebou aan die oorkant kom lawaai. Stemme. Musiek. Afrika.

Op die gedenkmuur word die Trichardt-trek se geskiedenis kortliks vertel: Hoe hulle – nes Piet Retief-hulle – in die vroeë 1800’s uit die Oos-Kaap weg is op soek na ’n land der ruste.

Trichardt se geselskap het uit 53 siele bestaan, en almal was nie wit nie – iets wat ons nie op skool geleer het nie. Een van sy mense, Hans Albach, was met ’n bruin vrou getroud. “De vier bastaard kinders van Albag,” noem Trichardt hul vier kinders in die dagboek.

In die geselskap was ook drie Boesmans en drie wat Trichardt noem “heidenin”. Hul name word nie saam met die res van die geselskap s’n op die gedenkmuur genoem nie.

Beide Trichardt en sy vrou, Martha, en 19 van sy mense is hier dood. Malaria. “De Heer . . . troost mijn, maar voor mijn is geen troos op aarde,” skryf Trichardt ná tannie Martha se dood in sy voorlaaste dagboekinskrywing. ’n Teleurgestelde man, ’n Sweedse afstammeling, wat ingehaal is deur Afrika.

Soms moet ’n mens weggaan van jou huis af om te besef wat regtig by jou huis gebeur. Ek stap terug na die gedenktuin se hek. Die breë, wit muur. Die skoon, netjiese tuin. Alles presies afgemeet en simmetries. ’n Laer van sement omring deur die luidrugtigheid en onvoorspelbaarheid van Afrika.

Afrika het ons ingehaal, hier en ook by die huis, tref dit jou skielik. Op Ventersdorp, Springfontein en Ceres. Jy sien dit oral. Afrika.

Soms maak dit my bang, want oor die jare heen het Afrika ook vir my ’n ander woord geword vir dit wat nie werk of wat jy nie verstaan nie. Afrika is slaggate. Afrika is beurtkrag. Afrika is onteiening sonder vergoeding. Afrika is Julius Malema en Andile Mngxitama oor die agtuurnuus.

Afrika is ’n skaap wat op Clifton se strand geslag word.

Afrika is ek wat omkoopgeld by die Ressano Garcia-grenspos betaal.

Ek draai weer aan die hek se knop. Dit is steeds gesluit. Maar dit voel of dit presies is soos dit moet wees. Hierdie keer gaan dit ons nie help om in ’n wit laer in te vlug nie. Ons is nou op ’n nuwe Groot Trek deur die ruimtes tussen mense.

Was daar al ’n enkele groot tragedie in Afrikaner-geskiedenis waarby swart en bruin mense nie ook saam met ons met ons bleek velle gely of swaar gekry het nie? Van Piet Retief se knegte is ook by uMgungundlovu vermoor.

Op pad terug na my bakkie trek iets my oog: “Gewaste aartappels,” staan daar op die sakkies aartappels wat ’n outjie op ’n mark verkoop. Aartappels gekweek op ’n plaas in Limpopo. Ek neem ’n foto daarvan, asof dit een of ander versoeningsmonument is.

Ek klim in my bakkie en ry na Maputo se seekant waar die hotelle en die Marés-inkopiesentrum is. Afrika is ook nuwe eiendomsontwikkelings en vindingrykheid en entrepreneurskap. “God’s Image Barber Shop,” flits die naam by my verby. Afrika is mense wat laatmiddag getrou in ’n ry staan en wag op taxi’s en busse om hulle te kom oplaai ná ’n lang dag by die werk.

“My hart wil Afrika,” kom die titel van Tienie Swanepoel se 1997-boek by my op. ’n Boek wat weer uitgegee behoort te word.

By die Clube Maritimo in Avenida Marginal hou ek stil en klim uit. Die seiljagklub.

“As ons tog net wou erken dat Suid-Afrika meer drasties verander het as wat ons tot nou toe wou aanvaar,” skryf Tienie Swanepoel in sy boek. “Dat daar vir ons nou géén ander toekoms as deur die diepere Afrika is nie, dán eers sal die positiewe verandering in ons posvat.”

In die Clube Maritimo bestel ek ’n bier. Afrika is laatmiddag met ’n Laurentina langs ’n onrustige see, met die reuk in die lug van garnale wat iewers gebraai word.

Later begin ek met ’n Belg en sy vrou by die tafeltjie langs myne gesels. “From where are you?” vra hulle.

“I’m an African.” Ek lig my glas in hul rigting. “Ek is ’n Afrikaner.”

Meer oor:  Afrika  |  Mosambiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.