Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Orania ingesluit by EFF-kandidaat se groot planne
Carel Boshoff, president van die Orania-beweging, en Danny Jonas, EFF-kandidaat en burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit, gesels oor die ekonomiese ontwikkelingsplan van Orania en die moontlike voordelige gevolge daarvan vir Hopetown. Foto: Emile Hendricks

Orania. – Met die munisipale verkiesing net om die draai gooi Danny Jonas, EFF-kandidaat op Hopetown, sy flikkers by Orania.

Die winterbries pluk aan sy lang swart jas wat hy alte spoggerig met ’n rooi das en ’n serp in die helder kleure van die landsvlag opgetooi het.

Jonas, ook burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit, het vroeër ’n koeldrank vir Carel Boshoff, president van die Orania-beweging, op Hopetown gekoop.

Nou stap hulle ewe geselserig langs mekaar voor die Stokkiesdraai-sakesentrum op Orania.

Orania lê sowat 50 km suidoos van Hopetown en val binne sy munisipale gebied. Met sowat 400 stemgeregtigdes is dit nie te versmaai nie.

Boshoff durf die ysige Karoo-wind met ’n lang jas aan. ’n Dik oranje woltrui en ’n serp met ’n stemmige ruitpatroon steek onder sy jaskraag uit.

Op Hopetown het Jonas in ’n klein raadsaal in ’n stokou gebou voor ’n ongebruikte kaggel sy uitdagings aan die stuur van ’n koalisieregering aan Boshoff geskets.

Daarom skimp hy vir stemme. As sy EFF-party die raad heeltemal kan oorneem, kan hy gestalte aan sy planne gee.

Hy sal meer mag in ’n ANC-beheerde provinsie kry.

Ons sal net so goed met ’n EFF-raad as met ’n DA-, ANC- of Cope-raad werk. Ons neem die werklikheid en bou ’n konstruktiewe verhouding en ruimte waarbinne Orania kan floreer.
Carel Boshoff

Hy hoop op die steun van Oraniërs in die komende verkiesing.

Jonas glimlag soet.

Boshoff skalks.

Dié is soos ’n onwillige minnaar.

“Danny, maar ’n mens sien net rooi as julle aankom. Skrik julle nie kiesers af met jul veglustige aanslag en gebruik van woorde soos oorlogsraad, vegters en kommizar nie?”

Jonas lag ontkennend. Hy sê hulle is nie veglustig nie. Hulle werk net baie hard.

Volgens hom is geen revolusie op ’n bed van rose gebou nie. Hy wil mense leer om selfstandig van die regering te leef en verantwoordelik te oorleef.

Oraniërs stem gewoonlik vir die distriksmunisipaliteit en die provinsiale en nasionale verkiesing, sê Boshoff.

“Hier is wel politieke partye wat op Orania werksaam is.

“Orania raak nie by politiek betrokke nie, hoewel politieke partye in die gemeenskap betrokke is. Ons verhouding met die nasionale, provinsiale en munisipale regering is nie op politiek geskoei nie. Ons het ’n goeie verhouding met die munisipaliteit danksy Danny.”

Die twee is gemaklik met mekaar. Hulle het mekaar vier jaar gelede leer ken toe Jonas as onafhanklike kandidaat burgemeester geword het.

Dit is onwaar dat hier hekke en wagte is wat buitestanders weghou. Ons is baie vriendelik ontvang. Ek dink nie Orania is ’n Boerestaat nie. Suid-Afrika het in ieder geval nie plek vir Boerestate nie.
Danny Jonas

“Ons sal net so goed met ’n EFF-raad as met ’n DA-, ANC- of Cope-raad werk. Ons neem die werklikheid en bou ’n konstruktiewe verhouding en ruimte waarbinne Orania kan floreer.”

Jonas en ’n provinsiale en nasionale EFF-afvaardiging het ’n maand gelede ’n verrassingsbesoek aan Orania gebring.

“My partylede was wantrouig oor Orania. Ek moes hulle al voorheen gerusstel dat ons goed saamwerk. Ek wou hulle graag bring sodat hulle self kan sien wat hier aangaan.

“Dit is onwaar dat hier hekke en wagte is wat buitestanders weghou. Ons is baie vriendelik ontvang. Ek dink nie Orania is ’n Boerestaat nie. Suid-Afrika het in ieder geval nie plek vir Boerestate nie.

“Ons het lekker gesels. Ons kan beslis saamwerk om ekonomiese geleenthede in toerisme en die landboubedryf te ontsluit,” verduidelik die burgemeester.

Boshoff sê Orania se selfstandigheid moenie mense pla nie.

“Ons het energie wat saad maak, blom en uitkring. Dit het ’n positiewe invloed op Hopetown. Daarom is dit goed dat Hopetown vir Orania oppas. Dit het leierskap van Danny geverg om sy hand na ons uit te steek.”

Jonas stap saam met Boshoff na die winkels in die Stokkiesdraai-sakesentrum.

Twee jaar gelede was hier net kaal veld en groot planne. Nou huisves die sentrum ’n spreekkamer, restaurante en geskenkwinkels.

Hulle is op pad na Boshoff se “deurmekaar” kantoor, waar soet koeksisters en stomende moerkoffie wag.

Boshoff sê hul beplande ontwikkeling van R180 miljoen kan voordelige gevolge vir Hopetown inhou. Orania wil ’n stad met 10 000 inwoners word.

Agter Boshoff hang ’n portret van sy oupa Hendrik Verwoerd. Boeke en boekrakke omgeef hom. Hy lyk tuis met die ingeleefde reuk van papier en ink.

Sy pa, prof. Carel Boshoff, was die grondlegger van Orania en het ook ’n groot rol in die Noord-Kaapse politiek op wetgewervlak gespeel.

Boshoff sê Orania het baie in sy bestaan van 25 jaar vermag. Dit was ’n ou perseel van die departement van water en sanitasie met ’n basiese infrastruktuur.

“Die nuwe infrastruktuur wat Orania intussen opgebou het, word jaloers bewaar. Ons het ook ’n selfonderhoudende ekonomie geword.”

Hy vertel Jonas hoe die Orania Spaar en Krediet (OSK)- koöperatiewe bank destyds as ’n kredietunie ontstaan het.

Nou is dit ’n bank wat bankvas in die gemeenskap staan en die lojaliteit van sy kliënte geniet.

“Ons het min slegte skuld.”

Jonas vra uit oor die oproepsentrum wat die meeste werknemers op Orania het en met kliënte van oor Suid-Afrika heen spog.

“Die eienaar het haar besigheid in haar sitkamer met ’n telefoon en lessenaar begin. Sy het nou 45 werknemers en wil haar eie gebou koop.

“ ’n Koöperatiewe bank en oproepsentrum sal net so goed op Hopetown kan werk. Ons sal graag die wenresepte, en foute wat ons geleer het, deel.”

Jonas wil toeristebestemmings saam met Orania bemark en oorweeg ’n weegbrug op die pad tussen Hopetown en Petrusville wat verby Orania loop.

Hy wil Orania ook by projekte van die departement van landbou en van arbeid betrek.

Vir eers moet hy aandag aan sy werwingsveldtog vir die verkiesing gee. Boonop wil die “hoof-kommissar”, Julius Malema, ook besoek aflê.

En miskien, as Jonas genoeg flikflooi en sy sjarme slaag, sal hy genoeg stemme trek om die leisels stywer te trek.

Meer oor:  Orania  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.