Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Orde in die hof! Die plek is vuil en onnet

'n Hof waar ’n honde- karkas rondlê sê baie van die samelewing waarin ons leef, skryf Jeanette de Klerk-Luttig. Die foto’s van die landdroshof in Pretoria-Noord op Rapport se nuusblaaie twee weke gelede herinner aan flitse uit ’n gruwelfliek of ’n nagmerrie.

Is dié foto ’n nare bevestiging van die feit dat ons kern aan die disintegreer is?

My eerste reaksie was een van ongeloof: Dit kan mos nie waar wees nie? Dit is eenvoudig net nie moontlik dat die karkas van ’n ontbinde hond op ’n uitmekaarvallende stoel kan lê, te midde van ’n deurmekaar chaos van stukkende toerusting – en dít in die binneplein van ’n landdroshof nie?

Geen mens kan tog in so ’n onhigiëniese, vuil, onordelike en lelike omgewing werk van gehalte lewer nie, wat nog van logiese argumente aanvoer en uitnemende hofuitsprake maak?

Ná die lees van die artikel “Hof lyk soos vullishoop, karkas en al”, is my ongeloof vervang met ’n gevoel van diep bekommernis. Dit is byna nog slegter nuus as Eskom se kragonderbrekings, die SAL se leë vliegtuie en Prasa se brandende lokomotiewe, want die foto’s dui op die ineenstorting van reg en orde in ons land. Is die reg, waarop talle Suid-Afrikaners tot nou toe nog hul hoop gevestig het, aan die verkrummel?

Die reg is deur die eeue daar om ’n samelewing te orden en die beskaafde saamleef van mense te verseker. Howe in ons land was nog altyd plekke met blink gange, geoliede houtbanke en netjiese regslui. Die respek vir die reg en die omgewing waarin dit gespreek word, word geïllustreer deur die skynbaar onuitgesproke ooreenkoms tussen talle advokate om die krammetjies van hul hofdokumente toe te plak, sodat dit nie die pragtige houtblaaie van ou hofbanke sal beskadig nie. Die opstaan van almal in die hofsaal wanneer die regter of landdros instap en die hoflike erkenning deur die knik van die kop, is ook sigbare tekens van respek teenoor die gesag van die reg wat hulle verteenwoordig.

Navorsing het getoon dat twee keer meer mense bereid is om ’n koevert met geld in te steel in ’n wanordelike omgewing met slordige graffiti en rommel wat oral rondlê, as in ’n skoon, ordelike omgewing.

Wanneer ’n regskultuur egter nie onderhou word nie en daar nie meer respek vir die reg is nie, rafel ’n samelewing uit en disintegreer dit uiteindelik tot die oorlewing van die sterkstes. Die chaotiese binneplein van die landdroshof in Pretoria-Noord maak ’n bespotting van die gesag van die reg. Hoe op aarde gaan ’n mens vinnig, indien ooit ’n lêer opspoor in dié chaos? Hoe kan orde en reg bevorder word in so ’n wanordelike omgewing?

Die toestand van dié landdroshof is minagtend, nie net teenoor die mense wat daar werk en dit besoek nie, maar ook teenoor die dooie hond. Daar is geen teken dat die kernwaardes van ordelikheid, netheid, verantwoordelikheid, respek en omgee, waarsonder geen beskawing suksesvol kan voortbestaan nie, geleef word nie.

Die binneplein weerspieël die aaklige realiteit van die gevolge van geen onderhoud, beplanning, verantwoordelikheid en werks­trots nie.

Miskien is die ontstellendste aspek van die foto’s die onderliggende feit dat die verval van die infrastruktuur in ons land hand aan hand gaan met die verval van ons innerlike krag. Is die foto’s ’n nare bevestiging van die feit dat ons kern verbrokkel en ons nasionale psige uitmekaarval?

Die virus van wanorde versprei ongelukkig baie vinnig. Die omgewingspsigoloog Kees Keizer van die Rijksuniversiteit van Groningen in Nederland het gevind dat in ’n lelike, vuil, wanordelike omgewing, mense meer geneig is om reëls en wette te oortree en oneties op te tree as in ’n netjiese omgewing.

Sy navorsing het getoon dat twee keer meer mense bereid is om ’n koevert met geld in te steel in ’n wanordelike omgewing met slordige graffiti en rommel wat oral rondlê, as in ’n skoon, ordelike omgewing.

Die netheid en estetika van die omgewing het ’n direkte invloed op mense se morele keuses.

Reeds in die 1980’s het die sosiol­oë James Wilson en George Kelling met die gebreekte-ruit-teorie die krag van konteks op mense se morele besluite onderstreep. Volgens hul teorie word menslike gedrag beïnvloed deur omgewingsfaktore. So is ’n gebreekte ruit ’n uitnodiging om nog ’n paar ruite te breek. Rommel wat rondlê, bevorder verdere rommelstrooiery.

’n Onordelike, vuil omgewing, soos dié van die landdroshof van Pretoria-Noord, is een van onveiligheid en wetteloosheid en dit het ’n direkte negatiewe invloed op mense se gedrag, want hulle voel aan dat in so ’n omgewing niemand omgee nie – en daarom gee hulle ook nie meer om nie.

Gelukkig is orde en respek net so aansteeklik soos wanorde en chaos. Straatveërs se werk is daarom baie belangrik, want hulle skoonvee van strate het nie net tot gevolg dat mense minder rommel rondstrooi en dat vandalisme afneem nie, maar ook dat hulpvaardigheid toeneem.

Keizer pleit daarom dat straatveërs meer sigbaar moet wees en nie net vroegoggend en laatmiddag werk nie, maar juis gedurende tye wanneer ander hulle kan sien werk.

Ons mag nie die vuil chaos van Pretoria-Noord se landdroshof duld nie, want dit ondergrawe nie net die doeltreffendheid van een van die belangrikste pilare van ons demokrasie – die reg – nie, maar dit ondermyn ook die etiese besluite van al die betrokke mense.

Ons durf nie gewoond raak aan verwaarloosde, lelike, vuil en stukkende skoolgeboue en -terreine nie, want dit verniel onderwysers en leerlinge se moed, hoop en moraliteit.

Ons kan nie eenvoudig onhigiëniese en onordelike toestande in ons hospitale aanvaar nie, want dan floreer hospitaalkieme en sepsis wat mense se dood veroorsaak. Kom ons leer by Singapoer en Rwanda en ons maak skoon en heel en mooi waar ons kom. Kom ons plant soveel bome as wat ons kan.

Kom ons begin elkeen om orde en netheid te skep as teenvoeter vir die chaos in ons land.

Bring orde in die hof!

  • Jeanette de Klerk-Luttig is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Morele Leierskap.
Meer oor:  Pretoria-Noord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.