Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Oscar-vonnis te lig of te swaar? Regsbeginsels rig die straf

Regstelling: Hierby word verkeerdelik na senior advokaat Hans de Bruin as ‘n oudregter van Bloemfontein verwys. Hy is nie ‘n oudregter nie, maar wel ‘n senior advokaat wat steeds privaat praktiseer. Volksblad het die fout begaan, vra om verskoning daarvoor en stel dit graag reg.



 Mense sê maklik te lig of te swaar oor ’n vonnis, maar bepaalde regsbeginsels geld. Die besluite oor straf word hierdeur gerig, skryf JP de Bruin, SC.

Oscar Pistorius eergister ná sy vonnisoplegging. Foto: reuters

Dit is in besonder so wanneer iemand aangekla word omdat ’n ander se lewe geneem is en die betrokkenes vir watter rede ook al baie in die openbare oog is.

Die emosie het dan ook duidelik geblyk uit boodskappe aan die SAUK en ander televisiekanale en ook uit Volksblad (07/07) se berigte oor Oscar Pistorius se vonnis.

Vir party is die vonnis te lig, vir ander is dit te swaar en vir sommiges is dit net reg. Omdat ek gewonder het watter norm elkeen gebruik om tot ’n slotsom te kom probeer ek hier om die publiek in te lig oor wat die onderliggende beginsels is wat by straftoemeting geld.

Dit gaan nie oor die Pistorius-saak nie, maar oor strafoplegging in die algemeen. Waar ek van regters praat, sluit ek in enige voorsittende beampte wat beklee is met die bevoegdheid om te straf vir watter groot of klein misdade ook al.

Die neiging is om meer klem te lê op voorkoming en rehabilitasie as op vergelding.

Daar is min regters wat nie sal vertel hoe daar somtyds gewroeg word om tot die regte gevolgtrekking te kom nie. Dit is nie ’n geval waar ’n muntstuk in ’n gleufie ingegooi word met ’n bietjie feite en dan kom ’n “gepaste” vonnis uit nie.

Die wetenskap van vonnisoplegging kom gelukkig deesdae ál sterker na vore en tereg kry vonnisoplegging dieselfde toegewyde aandag as skuldigbevinding.

Ná skuldigbevinding bevind die regter hom in ’n totaal ander sfeer en moet hy sy plig ten opsigte van die opgelegde taak nougeset nakom.

Ek haal nie sake aan om dit wat ek hier sê te staaf nie. Regsgeleerdes sal weet watter sake ter sprake is, terwyl ek helaas moet opmerk dat min lede van die publiek die moeite sal doen om van die sake te lees. Dit is in sommige gevalle maar taamlik vervelig.

Nogtans kan ek nie anders as om uit sekere sake aan te haal nie omdat dit uitsprake is van drie en somtyds vyf regters van die appèlhof in Suid-Afrika (en die voormalige appèl-afdeling) en die beginsels juridies suiwer geformuleer word.

Selfs Cicero het oor straftoemeting geskryf. Hy het onder meer gesê: “ . . . Anger should be especially kept down in pu­nishing, because he who comes to punishment in wrath will never hold that middle course which lies between the too much and the too little. It is also true that it would be desirable that they who hold the office of Judges should be like the Laws, which approach punishment not in a spirit of anger but in one of equity . . .

Algemeen gesproke maak ’n regter in ’n saak ’n feite- en regsbevinding, byvoorbeeld dat iemand skuldig is aan strafbare manslag of dat ’n kontrak gesluit is of dat ’n onregmatige daad gepleeg is.

In die geval van vonnisoplegging word die regter beklee met ’n diskresie wat hy regterlik moet uitoefen.

Dit is met ander woorde die prerogatief van die verhoorhof om ’n gepaste vonnis toe te meet en die hoër howe sal nie met die uitoefening van die diskresie inmeng nie, behalwe as die toegemete vonnis besmet is met on­reëlmatigheid of wanvoorligting of skokkend onvanpas is. Of ’n vonnis skokkend onvanpas is, hang af van die appèlregter(s) se oordeel dat ’n redelike regter wat sy diskresie korrek uitoefen, ’n ander vonnis sou oplê wat so drasties verskil van die vonnis waaroor beslis word dat dit as skokkend onvanpas aangemerk word.

Te midde van dit alles moet ’n appèlhof versigtig wees om nie die uitoefening van die diskresie wat regterlik en behoorlik uitgeoefen is te erodeer nie.

Waarna moet die verhoorhof streef wanneer die diskresie uitgeoefen word? Die algemene beginsel is dat ’n vonnis opgelê moet word wat in alle omstandighede gepas is vir die oortreder, oortreding en belange van die gemeenskap. “Then there is the approach of mercy or compassion or plain humanity. It has nothing in common with maudlin sympathy for the accused. While recognising that fair punishment may sometimes have to be robust mercy is a balanced and humane quality of thought which tempers one’s approach when considering the basic factors­ of suiting the criminal as well as the crime and being fair to society.”

Kenmerkend wat die howe se houding is, is geleë in die volgende sin: “Justice must be done but mercy, not a sledge hammer, is its concomitant.”

Die hoofdoel van straftoemeting is afskrikking, voorkoming, hervorming en vergelding. Die neiging is om meer klem te lê op voorkoming en rehabilitasie as op vergelding.

Regter Neville Holmes het op sy kenmerkende manier die volgende te sê gehad oor genadebetoning: “It eschews insensitive, censoriousness in sentencing a fellow mortal and to avoid severity in anger.”

Dan die volgende aanhaling uit ’n uitspraak in 1979 geskryf deur die voormalige (formidabele) hoofregter F. Rumpff: “Wanneer die aard van die misdaad en die belang van die gemeenskap oorweeg word, is die beskuldigde eintlik nog op die agtergrond, maar wanneer hy as strafwaardige mens vir oorweging aan die beurt kom, moet die volle soeklig op sy persoon as geheel, met al sy fasette, gewerp word. Sy ouderdom, sy geslag, sy agtergrond, sy geestestoestand toe hy die misdaad gepleeg het, sy motief, sy vatbaar-heid vir beïnvloeding en alle relevante faktore moet ondersoek en oorweeg word, en hy word nie met primitiewe wraaksug beskou nie, maar met menslikheid en dit is hierdie menslikheid wat in elke geval, hoe erg ook al, vereis dat versagtende omstandighede ondersoek moet word.

“Hierdie versagtende omstandighede, indien daar is, skep die genadefaktor waarna in hierdie hof vantevore verwys is en wat dan ná oorweging van die ander relevante omstandighede tot ’n gepaste vonnis moet lei.”

Mense sê te maklik, te lig of te swaar. Hoe gaan u die volgende keer u besluit neem?

* Hans de Bruin is ’n oudregter van Bloemfontein.

Meer oor:  Oscar Pistorius  |  Vonnis  |  Moord  |  Hofsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.