Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ou vlag: Hof nie die plek vir dié soort gesprek

Die ou landsvlag is nie deur die hof verbied nie en daarom kon Ernst Roets nie Dinsdag aan minagting van die hof skuldig bevind word nie, skryf Elmien du Plessis.

Ernst Roets het hom nie skuldig gemaak aan minagting van die hof deur ’n afbeelding van die ou landsvlag op Twitter te plaas nie.Foto: Felix Dlangamandla

Die hofsaak oor die ou landsvlag voor regter Colin Lamont het gehandel oor die vraag of Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, ’n hofbevel van adjunk-regter-president Phineas Mojapelo van verlede maand geminag het deur ’n afbeelding van dié vlag op Twitter te plaas.

Dit was nie ’n poging om Roets as verteenwoordiger van AfriForum aanspreeklik te hou omdat hy ’n afbeelding van die vlag geplaas het nie, maar eerder omdat hy volgens die Nelson Mandela-stigting ’n hofbevel geminag het.

Die oortreding waaroor besluit moes word, was minagting van die hof en nie die vertoon van die vlag nie omdat die vertoon van die vlag nie ’n misdaad is nie.

Minagting vereis dat daar ’n hofbevel moet wees wat beveel dat die persoon wat daarvan aangekla word (soos Roets) iets moet doen of nie moet doen nie.

Daar is bevind dat Roets nie skuldig aan minagting van die hof is nie en dat hy eerder ingevolge art. 10 van die Gelykheidswet in die gelykheidshof aangekla kan word vir haatspraak.

Die gelykheidshof sal dan op ’n oorwig van waarskynlikhede en die spesifieke feite moet besluit of dit haatspraak is. Indien die hof bevind dat dit haatspraak is, kan verskeie bevele gegee word – van betaling van vergoeding tot ’n interdik om die gedrag te verhoed.

Enigiemand wat aanvoer dat Mojapelo se uitspraak op ’n verbod van die ou landsvlag neerkom, vertolk dit verkeerd. Ondanks die feit dat dit as ’n verbod in sommige kringe beskou word, is dit juis die feit dat dit nié ’n verbod is nie wat Roets gered het.

Mojapelo het in die vroeëre uitspraak ’n verklarende bevel toegestaan nadat bevind is dat die ongegronde vertoon van die vlag op haatspraak neerkom.

Dit is nie ’n verbod op die vlag nie. Dit maak dit wel moontlik vir mense wat aan die ou vlag blootgestel word om, onder bepaalde omstandighede, die persoon wat dit vertoon, aan te kla van haatspraak ingevolge die Gelykheidswet.

Dit is net soos die uitspraak wat die sing van “Kill the boer” as haatspraak verklaar het.

Die hofbevel het dus nie vereis dat Roets iets moet doen of nie moet doen nie, maar Lamont het bevind dié gedrag kan moontlik neerkom op haatspraak, sou hy gedagvaar word vir ’n oortreding van die Gelykheidswet.

In die woorde van Lamont: die bevel bied ’n morele standaard waaraan die samelewing moet voldoen. As sodanig, bevind Lamont, was die aanvanklike bevel een wat dit duidelik gemaak het dat die woord “woorde” in art. 10 vertolk moet word om ’n “uitdrukking van idees”, soos in dié geval die vlag, in te sluit.

Die Mojapelo-uitspraak was dus nie ’n verbod op die vlag nie. Mojapelo het dit ook in soveel woorde duidelik gemaak in sy uitspraak.

Enigiemand wat aanvoer dat sy uitspraak op ’n verbod neerkom, vertolk dit verkeerd. Ondanks die feit dat dit as ’n verbod in sommige kringe beskou word, is dit juis die feit dat dit nié ’n verbod is nie wat Roets gered het.

Omdat die hof dit nie verbied het nie, het Lamont bevind, is dit nie moontlik vir Roets om die hofbevel te verontagsaam nie.

Plig om kommentaar te lewer

Luzoki Koti van die Nelson Mandela-stigting gesels Dinsdag buite die hof met verslaggewers nadat Ernst Roets van AfriForum onskuldig bevind is aan minagting van die hof.Foto: Felix Dlangamandla

Mojapelo se uitspraak beteken dat die vertoon van die vlag wat die grense van “ongegronde vertoon” oorsteek, kan lei tot ’n saak voor die gelykheidshof waar bepaal kan word of dit in daardie spesifieke omstandighede op haatspraak neerkom of nie.

Dit is dus ’n hof, en nie sosiale media nie, wat sal oordeel of ’n spesifieke vertoon van die vlag haatspraak is of nie.

Die hof het ook bevind dat daar nie genoeg bewyse is dat Roets namens AfriForum, wat ’n party was tot die oorspronklike geding, opgetree het met sy Twitter-plasing nie.

Die Nelson Mandela-stigting het aansoek gedoen om te appelleer, onder meer oor dié punt, maar ook oor die vraag of ’n handeling wat nie respek vir die gesag van die hof toon nie of die waardigheid, reputasie en die gesag van die hof misken, ook op minagting kan neerkom.

As akademici, regsgeleerdes en lede van die samelewing is dit ons plig om kommentaar te lewer op hofuitsprake, om seker te maak dat howe, en regters, aanspreeklik gehou word vir hul uitsprake.

Daar is wel teenstrydighede in die nadraai van die saak.

In sy hofstukke het AfriForum die regspositivistiese argument gestel dat ’n vlag as simbool nie onder die Gelykheidswet val nie, want dit is nie ’n “woord” nie. Roets het wel later op die radio gesê ’n mens moet nie té regspositivisties wees deur te sê “omdat die reg dit sê, moet dit reg wees nie”, want Nelson Mandela het gedoen wat reg was, al was dit destyds onwettig.

“Ons moet nie bloot sê omdat die hof so sê, dat dit die regte ding is om te doen nie.”

Natuurlik is regters net mense en natuurlik kan regters verkeerd wees. Dit is hoekom regters redes moet gee vir hul uitsprake en waarom daar teen uitsprake geappelleer kan word.

As akademici, regsgeleerdes en lede van die samelewing is dit ons plig om kommentaar te lewer op hofuitsprake, om seker te maak dat howe, en regters, aanspreeklik gehou word vir hul uitsprake.

In ’n grondwetlike demokrasie waarvan die regstaat ’n kernaspek is, is daar minder plek vir minagting van die reg en ontkenning van die gesag van die howe as tydens apartheid toe die parlement nié gebonde aan ’n grondwet of onderhewig aan grondwetlike hersiening deur die howe was nie.

Ons almal, insluitende die howe, is aan die Grondwet verbonde, ’n Grondwet waaraan ons inhoud moet gee.

’n Verbondenheid aan geregtigheid vereis konsekwente optrede – ’n mens kan nie die howe nader om oor sake te beslis wat jou regte bevorder of beskerm nie, net om die howe te ondermyn deur ’n hofbevel te verontagsaam as die hof nie in jou guns bevind nie.

En dít is hoe ek die onderliggende argument van die Nelson Mandela-stigting verstaan het.

Wanneer is die vertoon van ’n vlag haatspraak?

Di twiet wat daartoe gelei het dat Ernst Roets voor die hof gedaag is vir minagting van die hof. Foto: Twitter

Op die vraag oor wanneer die vertoon van die ou landsvlag op haatspraak neerkom en wanneer nie, is daar steeds onduidelikheid.

Dit gaan oor die betekenis van “ongegronde vertoon” van die vlag. Kan mense dit byvoorbeeld in hul private sfeer en op sosiale media vertoon?

Soos ek dit in my vorige meningstuk duidelik gemaak het: alles uit Afrikaners se verlede kan nie ongrondwetlik wees nie. Ons Grondwet is ruim genoeg daarvoor om selfs ’n verering van die verlede waarmee ’n mens nie noodwendig saamstem nie, toe te laat. Maar dit moet in die konteks van ander regte – soos gelykheid en menswaardigheid – geskied.

Dit is om dié rede dat die gesprek wat die ou vlag ontlont het, en die hofsake daaroor, as ’n geleentheid gesien moet word vir ons as ’n samelewing om dié kwessies op te klaar.

Ons gee inhoud en betekenis aan die Grondwet en dit is belangrik vir ons demokrasie. ’n Mens kan natuurlik vra of dié gesprekke in howe of eerder in die parlement of elders, moet gebeur.

Wanneer gesprekke gevoer word, vereis dit ook dat mense moet luister, en fyn luister.

Myns insiens behoort die Mojapelo-uitspraak verfyn te word in ooreenstemming met buitelandse reg. Ingevolge buitelandse reg word vryheid van spraak beperk sodra dit oor meer gaan as bloot ’n persoon se persoonlike denke en oorgaan tot die oortreding van bepaalde regsbelange, of as dit ’n bedreiging vir vrede inhou.

Openbare vrede gaan nie net daaroor om nie met uitlokkende menings of ideologieë gekonfronteer te word nie, maar dit word wel in gevaar gestel as beskermde regsbelange bedreig word deur ’n handeling of intimiderende optrede.

Dié hele oefening gebeur met ’n oorkoepelende verstaan van wat die beskerming van betrokke regte, soos vryheid van spraak, beteken vir ’n vrye demokratiese staat.

Só ’n verstaan van die vlag as haatspraak sal meer in ooreenstemming wees met art. 16(2)(c) van die Grondwet, wat vereis dat die verkondiging van haat gegrond moet wees op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens, en dat dit deur aanhitsing leed moet veroorsaak.

Gesprekke moet nie in hof gevoer word nie

Elmie du Plessis

Wanneer gesprekke gevoer word, vereis dit ook dat mense moet luister, en fyn luister. Dit is nie so eenvoudig soos bloot ’n keuse tussen die ongebreidelde vryheid van spraak of ’n oppasserstaat (“nanny state”) nie.

En dit is hoekom die gesprek so moeilik is: Dit vereis ’n balans in ’n samelewing wat verdeeld is en waar mense se menslikheid daagliks ondermyn word deur verdelende uitsprake. In só ’n verdelende omgewing moet veelvuldige sienings en regte opgeweeg word om te voorkom dat ons nie bloot een narratief bo ’n ander stel nie.

Dit help nie as gesprekvoering neerkom op die maak van stellings wat as universele waarhede aangebied word, vry van vooropgestelde idees van wat die samelewing behoort te wees nie.

Iets soos vryheid van spraak word byvoorbeeld as ’n objektiewe waarde voorgehou en enigiemand wat nie saamstem, word as ’n irrasionele persoon met ’n spesifieke agenda afgemaak.

Die fokus moet dus op dié beginsels, eerder as op spesifieke persone, wees.

Net soos wat die versoek vir ’n balansering van regte (soos dié van spraak en menswaardigheid) op ’n agenda berus, het die verabsolutering van vryheid van spraak ook ’n spesifieke agenda.

Albei sienings kan geldig wees na gelang van die resultate wat beoog word.

In dié konteks gaan die saak nie (net) oor die ou vlag nie, maar ook oor ’n stryd ten opsigte van die samelewing wat ons voorsien of die gewenste resultate van vryheid van spraak of die beperking daarvan.

Die fokus moet dus op dié beginsels, eerder as op spesifieke persone, wees.

Dis net jammer dat ons die gesprek in ’n forum soos die howe voer, waar partye ’n daadwerklike belang in ’n spesifieke enkele uitslag het en waar genuanseerde gesprekke dikwels verlore gaan.

Dit is nié die hof se taak om morele standaarde daar te stel nie.

* Du Plessis is mede-professor in die regte aan die Noordwes-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.